HOOFSTUK 9

Vlooi sit langs my. Sy maak ’n waslappie nat en vee die sweet van my voorkop af. Sy maak die waslap weer nat, maar die keer met asyn en strooi fyn kaneel oor. Dan drapeer sy die lappie oor my voorkop.

“Wat gaan aan?” vra ek. Die omgewing is onbekend . Ek neem aan dis Vlooi se slaapkamer.

Wie sou nou ooit kon raai dat ek in ’n heks se kamer sou wakker word?

“Dis die maanverduistering wat kom en jy is onder die donkermaan gebore, Helena. Die maan is ’n simbool van die menslike siel,” antwoord Vlooi. “Wat?” vra ek. Ek is effens deurmekaar … probeer sin maak van alles om, en in my.

“Jy het ’n blackout gehad. ’n Verduistering van die siel,” sê Vlooi. “Watse goed?” vra ek.

“Die onderbewuste het die bewuste oorwin. Alles wat jy op onderbewuste vlak opgehoop het, het losgebreek,” verduidelik Vlooi dinge wat ek nie verstaan nie.

“Hoe weet jy hierdie goed? Vlooi, wat is jy?” vra ek versigtig. “Ek is ’n mens nes jy,” sê Vlooi. Haar oë lag. “Waarin glo jy?” vra ek.

“Ek glo in God, maar ek glo ook in die krag van die natuur. Die voorvaders wys my dikwels die pad, maar waarsku my ook voor iets verskriklik gaan gebeur. God is die Gewer van reën en gesondheid. En die natuur gee my krag en wysheid,” sê sy.

“Watse geloof is dit?” wil ek weet. Nie dat geloof al ooit ’n groot deel van my lewe was nie.

Maar daar is iets omtrent hierdie donkerte wat my aantrek … wat my innooi.

“Dis ’n geloof van onderdrukkende en bevrydende lyding. God het die ervaring van lyding verander tot ’n instrument van bevryding. My geloof is op die geskiedenis van die lydende Christus gegrond. Hy het egter Sy lyding oorwin en maak aan ons, sy volgelinge, dieselfde mag beskikbaar,” sê Vlooi.

“So, ons moet eers ly?” vra ek. Vlooi se oë begin blink, verander dan weer vinnig van kleur.

Die keer is haar oë nie donker nie, dis blouer as blou.

“Daar is krake in ons almal. Die duisternis wag vir ons. Dis immers al wanneer ons God se lig deur ons krake kan sien skyn … in die ligloosheid van onsekerheid. In die onheilspellende aand,” gaan sy voort.

Vlooi glimlag soos die maan. Ek voel nie meer so bang nie, maar tog steeds onseker. Ek glimlag half skaam terug vir Vlooi se ou plooigesig. Vlooi knyp haar oë styf toe en begin dan uitbundig lag. “Jy moet die Here dank hiervoor!” sê sy.

Ewe skielik borrel gemengde emosies deur my gemoed. Moet ek die Here dank vir die

duisternis? Vir die bitter smaak van eensaamheid?

Wie is haar Here? Is dit Oupa se Here? Die Een vir wie ek so bang is. Die Een vir wie ek so kwaad is. Is dit dan dieselfde Here wat kleintyd my hand vasgehou het? Vir wie ek elke aand gevra het om my te beskerm? Jesus was soos sagte kerslig, maar die lewe het daardie liggie doodgeblaas.

“Waarvoor moet ek die Here dank?” vra ek half bitter. “Verstaan jy dan nie? Die grootste probleem in jou lewe is dat jy nie kan laat gaan nie. Danie het ’n doel in jou lewe gehad. Sy ma het ook ’n doel gehad. Elke mens wat in jou lewe opdaag, het ’n spesifieke doel,” verduidelik sy.

“Danie se ma moes jou skud, jou uitmekaarskeur, jou wys waar jou swakhede lê. Jou hart moes oopbreek sodat die nuwe lig kon inkom,” sê Vlooi. Ek weet nie wat om te sê nie. Hoe weet sy al hierdie goed?

“Jou meisiekind se selfdoodpoging was net nog ’n poging van God om jou reg te ruk sodat jy desperaat en buite beheer voel. Dat jy nie meer ’n ander keuse het as om by Sy voete te gaan kniel nie.”

“Nee! As God lief was vir my, sou hy nie toegelaat het dat al hierdie dinge gebeur nie!”

“Helena, jý het dit toegelaat omdat jy Hom nie in jou lewe toegelaat het nie,” sê Vlooi.

“Jy is ’n heks! Jy kan nie kom praat van God nie!” skree ek. “Ek het vir jou gesê ek is geen heks nie. Weet net, as jy nie vandag die besluit gaan maak om ten minste te probeer verander nie, jou lewe ellendig sal wees,” sê Vlooi.

“My lewe is nog altyd ellendig,” sê ek en dink ’n oomblik. “Ek is so bitter alleen. Ek mis hom,” sê ek en kyk af na my voete wat onder die verekombers uitsteek.

“Mis hom! Stuur vir hom jou liefde saam met die wind. Maar laat hom dan gaan. Laat hom uit jou kop gaan. Sodat jy regtig alleen kan wees. Sodat jy die gedagtes van hom kan vul met gedagtes van Hom,” wys Vlooi met haar verwronge vinger na die hemele buite die venster.

Ek kyk op na die wolke en dan weer na Vlooi. Trane stroom oor haar gesig. “Ek wens jy kan net na my luister en ophou om so hardkoppig te wees. Mense dink die perfekte sielsgenoot is iemand wat perfek by hulle pas. En dit is wat die meeste vroue wil hê. Maar ’n ware

sielsgenoot is soos ’n spieël. Dis iemand wat jou wys wat jy in staat is om te doen,” sê sy hartseer.

“Ek wens …” sê ek sarkasties. “Jy is reg. Jy wens nog jou hele lewe lank,” sê Vlooi. “Draai om!” beveel sy. “Hoe nou?” vra ek. “Lê op jou maag,” wys Vlooi met haar vinger in draaiende beweginkies.

Ek draai om en voel dadelik Vlooi se skurwe hand om my nek vou. Sy lig my hemp op en beweeg al met my ruggraat af. “Wat is hierdie?” vra Vlooi, terwyl sy haar hand op en af teen my ruggraat beweeg. Ek frons.

“Is dit jou ruggraat of jou wensbeen? Jy wil te veel dinge in hierdie lewe net hê, Helena,” sê Vlooi. “Jy het nie ’n idee waarvan jy praat nie,” begin ek weer huil.

“Helena, ek weet genoeg. Ek ken die mensdom. Wat ’n lang pad moes die mensdom kom om met genade na skuldiges te kyk. Om sagmoedig teenoor kwaadwilliges en menslik teenoor onmenslikes op te tree. Dis wat die mensdom en my geloof my geleer het,” sê Vlooi.

Ek sug … Vir ’n oomblik blyk dit asof ek die skuldige is. “Ek weet genoeg van jou, Helena.

Voordat jy die eerste keer voor my deur kom staan het, het ek geweet dat jy ’n uitdaging gaan 89

wees. God haal reën uit die groot waters uit. Hy versprei die weerlig deur die lug. Hy vertel die winde hoe om te dans, maar Hy sukkel met jou,” gaan sy voort.

“En ek sukkel met Hom. Hoe kan jy sê jy weet genoeg van my? Jy weet niks,” baklei ek.

Vlooi se gesig sak, nes ’n sonneblomgesig in die nag. Dan kyk sy stadig op. Haar oë sê sag dat nag weer dag sal word. Ek wens ek kon die taal van haar oë verstaan.

“Ek weet dat ’n sielsgenoot soms net vir ’n rukkie in jou lewe bly. Maar wanneer hy besluit of forseer word om te gaan, altyd iets agterlaat. Dis pynlik, maar die liefde van ’n ware sielsgenoot ruk jou oop. Dit skeur jou laag vir laag oop totdat jy so rou en seer is dat jy dele van jouself sien wat jy nog nooit gesien het nie. Jou ware self word openbaar wanneer jy op jou rouste is. Ek weet dit maak seer, maar dis nodig,” sê Vlooi.

Ek begin lag, dan huil. “Wat laat jou dink dat jy my seerkry ken?” vra ek. “Ek het gekruip, die insekte se spoor gevat tot onder die kokerboom. Daar was ’n hartseer boom … Pietertjie se boom. Op die harde grond het ek met ’n klip gekap, totdat die toktokkie my met sy agterlyf teruggeroep het. Hy het my gewys waar jou pa lê – bloeddiamante in sy hand,” praat Vlooi.

“Bloeddiamante?” vra ek. Ek is geskok. Hoe kan Vlooi al hierdie dinge weet? Sy reageer nie op my vraag nie. “Helena, ek het my versigtigheid agtergelaat. Die natuur se asem het gesug, geblaas en my gewaai tot by jou seerste seer. Danie – jou sielsgenoot. Danie se ma het jou baie seergemaak. Elke aand trek jy jou vingers deur die sterre. Jy huil elke aand saam met die donkermaan. Ek het alles gesien,” sê sy.

Ek draai om en sit regop. “Jy het alles gesien? Hoe kan jy net alles sien?” vra ek. Vlooi staan op en kyk vir ’n oomblik kwaai af op my. “Kom!” is al wat sy sê. Dan loop sy by die kamer uit.

Ek soek my skoene, maar onthou dan dat ek my skoene in die kar gelos het. Versigtig loop ek deur die huisie tot in die kombuis. “Kom sit, Helena,” wys Vlooi na die blok hooi in hoek van die kombuis.

“Wie se spoke sien jy?” vra sy. “Oupa en Ouma s’n … en Pietertjie s’n,” antwoord ek. “En watter boodskappe bring hulle?” vra sy en lig haar een wenkbrou. “Jy weet mos alles. Gaan vra die toktokkie,” sê ek. Ek hoor die sarkasme in my stem.

Vlooi lig haar een wenkbrou en kyk moedeloos na my. Ek sug … gee in. Ek wil weet wat die boodskappe beteken. “Dis wat ek nie verstaan nie. Ek verstaan nie die boodskappe nie.

Goeters van blomme en geure. Pietertjie het gesê blomme laat hulle geur na op die hand wat hulle gee,” sê ek.

“Pietertjie se woorde is so waar. Het jy geweet Namakwaland is die tuin van die engele? En engele hou van die waarheid,” sê sy. Ek raak yskoud.

“Jou reis is inwaarts, Helena. Wanneer ’n mens nie meer jou omstandighede kan verander nie, moet jý verander,” sê sy rustig terwyl sy bossietee maak. “Maar wat beteken die boodskap?” wil ek weet.

“Dit wat jy vir Jess leer, oftewel die voorbeeld wat jy vir haar stel, los iets agter in haar gemoed … in haar waardestelsel en in haar menswees. Jou bitterheid maak haar bitter,” sê Vlooi.

Sy sit die koppie bossietee voor my neer. Die muurhorlosie in haar kombuis herinner my aan die volgende besoektyd. Ek sluk. “Ek moet gaan,” groet ek half ongemaklik.

“Totsiens, kind. En gaan maak bietjie jou tuin skoon, jong. Maak daardie kikoejoegras vroeg in die oggend nat sodat die gras voor die aand droog is. Dit verminder die gevaar van fade out, ’n swamsiekte wat jou kikoejoegrasperke aanval. Snoei jou bougainvillea’s teen die einde van die maand deur die blomme af te sny nadat hulle klaar geblom het,” sê Vlooi.

“Wat?” vra ek voor ek by die voordeur uitloop. “Kyk mooi na jou hart, want die hart dink soms te veel, maar God besluit,” sê sy.

Die lig is skerp. Ek klim in my kar sonder om vir Vlooi te waai. Ek draai uit en sit die radio aan. Die radioman se stem is vandag nie so rustig soos gewoonlik nie. “Is jou blom oop?” vra die radioman.

“Namakwaland is die Here se blommetuin. Elke jaar kom mense van ver om na die Here se blommetuin te kom kyk. Maar as dit bewolk is, sien ons nie die blomme nie, dan kruip hulle mos weg. Tog is hulle daar, maar het sonlig nodig om hul gekleurde blare te ontbloot.”

Ek draai die radio sagter soos wat ek by die hospitaal se parkeerterrein inry. Maar die radioman se stem is steeds hoorbaar.

“Ons het ook die mooiste blommetuine in onsself, maar nogtans maak ons liewers nie oop nie. Die rede is dat jou omstandighede, jou stres of dalk die mense om jou, die lig van God toemaak. Dis net te donker om ons en daarom wil ons blomme nie oopgaan nie,” verduidelik hy.

Ek skakel die motor af … blaas ’n sug uit, maar draai dan tog die radioman se stem harder.

“Jy is dalk so ’n bitter mens dat jy nie jou blomme wil kans gee om oop te gaan nie. Vra God, wat die lig van die wêreld is, om jou weer te laat blom,” sê hy.

Ek skakel die radio af en klim onseker uit die motor. Ek hoef seker nie meer te wonder nie.

Ek is ’n bitterblom. Ek laat ’n bitter reuk agter. Ek wil nie meer ’n bitterblom wees nie.