HOOFSTUK 1

Onder my eerste donkermaan, onder die lyf van Donderdaan …

Danie … Daan. Vir hom was dit ’n free ride. But hell, it just couldn’t go on.  Maar ons het aangegaan en aangegaan. Ons lywe wou nie stop nie. Hoe vinniger die ride, hoe moeiliker om my naam vas te hou.

My liefde het gebrand soos ’n vuur – die ewige vlam teen Alexanderbaai se graffiti-muur.

Nes die seraf – die brandende een … die heilige engel se gloeiende kool. Die liefde het ook gegloei, maar dit was nie heilig nie – nie veilig nie … dink ek terwyl ek na die soenerige paartjie oorkant my in die ouwêreldse restaurant staar.

Geen fênsie binnehuise versiering in die restaurant nie. Dis net netjies, skoon – ’n eenvoud wat my troos wanneer onthou my weer die berge wil laat inhol. Wanneer die magiese

roepstem van die kokerboomwoud my roep. En wanneer my gedagtes nie op dieselfde ritme as die res van die mense hier in Namakwaland dans nie.

Vandag verlang ek na Oupa … na Pa. Die enigste twee betroubare lede van die Adamsgeslag in my lewe. Maar hulle is uiteengeskeur en losgeruk – hulle lewenseenheid van siel en liggaam is verbreek. Die engele het hulle weggesleep. My hoop het verteer. Die waarheid is koud, godsdiens oud. Vandag voel ek bitter.

Ek staar weer skaamteloos na die paartjie wat intiem in mekaar se oë kyk. Die vryerige man is ouerig, definitief nie meer in sy prime nie. Sy gesig diep ingesonke met hoë wangbene. Hy pak tande uit. Sy lag skril. Haar wipneus wip. Sy is ’n rooi lipstick-mystic kraaierige gedaante.

Mense is snaakse goed – eintlik ’n vertraagde spesie as hulle verlief is. Ek is te geklip om romanse te waardeer. Of kies ek eerder om te vergeet?

Mense is net lywe en koppe. Lywe wat siek word, lywe wat pyn, lywe wat baklei en lywe wat smag na ander lywe. Koppe wat vrae vra, antwoorde soek, koppe wat dink, koppe wat raas.

Koppe vol herinneringe …

“Die usual?” vra die kelnerin met ’n glimlag. “Asseblief ja,” antwoord ek honger. Die kerrie-afval bly my gunsteling. Die murg is die geheime bestanddeel. Daai twee warm lovers kan nou maar gaan. Ek kan nie eet wanneer mense so aan mekaar suig nie.

Springbok is vandag weer vir die eerste keer in ’n lang tyd toegetrek onder die wolke. Dit reën saggies. Vanaand sal die sterre ook slaap. Dis net die donkermaan wat gaan praat, gaan waarsku …

As die donkermaan praat, kom die engele uit. Hulle verskyning is dikwels onverwags, maar verwonderend. Die mense hier dink ek is mal, maar ek weet mos wat ek sien. Of is ek mal?

Die jare se sukkel kan mos jou kop laat raas.

My oë vang weer die twee koerduifies. Ek probeer nie meer staar nie. Die bitterheid hou aan opstoot. Dit walg my, wurg my.

Ek wens ek kan net ’n bietjie joy bestel. Ja, ek sal dit koop. Maar die stem in die maan sê mos die joy is klaar, it’s out of stock,  dis duur, dis raar.

Het hulle dan geen skaamte nie? ’n Mens vry mos nie so in die openbaar nie? Dalk is hulle dronk. Ek nie. Alhoewel ek nie sal omgee om nou te wees nie. Hulle oë is net op mekaar.

Seker toeriste.

Onse mense is nie so skaamteloos nie. Hier lewe ons ’n eie lewe, weg van die stad se besoedeling en verleiding. Mense van die wêreld skarrel rond soos visse in ’n net. Ons nie.

Ons pak alles met groot rustigheid en geduld aan.

Die vreemde binnehuise skemer in die restaurant maak my rustig. Ek wonder vir ’n oomblik oor hierdie jaar se toeriste. Ons het hulle nodig. Hierdie hand-tot-mond bestaan maak ’n mens gedaan.

Maar daar is nie blomme nie, net ’n dors droogte. Net so dors soos ons siele. Dis net donkerte wat gewoonlik hier reën. Vandag se paar druppeltjies is soos piepie teen ’n brander, maar elke druppeltjie word dankbaar deur ons blommetjies ontvang.

Die toeriste is minder – elke jaar al hoe minder. Hulle jaag net deur berge en dale sonder om stil te hou. Min mense oorweeg dit om Namakwaland te besoek vir enige iets anders as die jaarlikse ontploffing van blomme. Toeriste raak nou nie juis opgewonde oor vlaktes en bosse nie.

Tog is daar ’n paar mense wat die misterie van die landskap waardeer. Daar is iets omtrent die belyning van die Tafelbergsandklipberge, die ronde koepelvormige koppe wat soos gode op jou neerkyk. As die toeriste net ’n bietjie langer wou bly, sal hulle, hulle menslikheid weer hier kry. Daar is baie hier wat nie op die toeristepamfletjie is nie.

Die twee lovebirds  lyk te oud om so te vry. Ek sidder. Die liefde is gulsig, vreterig … ’n blerrie vraat. Verskeur jou. Op en af. Links en regs.

“Die liefde is soos tyd wat ’n diep skeur deur die kliprante vreet. Die liefde vreet net vinniger,” het oupa Pyp altyd gesê. Dan het ek gelag, want hoe kan tyd nou vreet? “Wind, water en erosie. Dis die natuur se wellus, ontrouheid en gulsigheid,” het Oupa dan verduidelik.

Dit voel soos gister wat Oupa en Ouma gestry het. Ouma het ’n gawe baksel skons uit die oond gehaal en haar kop vir Oupa geskud. “Helena, jou oupa praat strooi. Hy’t nou weer te veel Vaal Japie gesuip,” het Ouma by die gesprek ingespring.

“Die huwelik, die liefde is vir ewig,” het sy met groot oortuiging gesê. “Nee, Helenatjie, jou ouma lieg vir jou. Niks is vir ewig nie. Net die dood is,” het Oupa hartseer gesê.

Ouma het blinkoog na Oupa gestaar, asof sy wou hê Oupa moes saam met haar huil. Waarom wou sy huil? Omdat hulle vir ewig bymekaar moes bly? Of omdat Oupa nie in ewige liefde geglo het nie? Daaroor het ek gewonder …

Dis eers heelwat later, te laat, dat ’n waarheid sy kop soos ’n Kaapse kobra opgelig het, gepik en my van binne af vergiftig het. Die waarheid is giftig. Daar in Ouma se sonneblomkombuis het ek reeds begin bewus raak van die waarheid in ’n onbekende êrens. Buite om my, oral binne my.

Mense trou, al is hulle nie troubaar nie. Hulle bly ongelukkig saam, opgeskeep met mekaar.

Oupa en Ouma. Pa en Ma. Niemand het regtig die guts gehad om te skei nie. Iemand moes dit vir my verduidelik. Ek wou weet. Toe vra ek maar vir Ma.

“Hoekom trou mense?” het ek gevra. “Ag Helena, gaan vra jou Pa,” het Ma moedeloos

geantwoord. “Maar Mamma en Pappa het dan getrou?” het ek weer gevra.

“Kom sit, Helena. Nou kyk my in die oë. Mense weet nie regtig altyd wat hulle wil hê nie. En dié wat weet wat hulle wil hê, kry dit juis nie,” het Ma afgestomp gesê. “Maar hoekom?

Hoekom kry hulle nie wat hulle wil hê nie?” het ek nuuskierig gevra.

Die irritasie het tussen die plooie op Ma se voorkop geswem. Haar mond het skeefgetrek en sy het gedink … “Dis ’n show, my kind. ’n Sad, sad storie. Die lovers meet, die lovers trou.

Forever afters is ’n leuen,” het sy kort en koud geantwoord.

Ek het na haar gestaar. My oë was skrefies getrek teen die waarheid wat skerp tot in my kinderhart geskyn het. Ek het jammer gevoel vir haar, maar vir myself ook. ’n Mens voel mos maar sorry vir jouself as jy na iets uitsien en besef daar is eintlik niks om na uit te sien nie.

Die op pad wees na ’n sonligdag was net ’n droom. ’n Voltooide skoolloopbaan, ’n troue, ’n ander tyd en plek. Die onbekende êrens het Oupa en Ouma geneem tot by ’n bleek dag … ’n bleek lewe. Tot op die voorstoep van vir ewig.

Vir Pa ook. Hy was ’n goeie mens – te goed vir hierdie wêreld. Seker maar goed dat die engele hom kom haal het. Soms wens ek hulle wil my ook kom haal …

Niemand kon regtig ooit iets goeds oor die liefde kwytraak nie. Ma en Pa, Ouma en Oupa – almal ewe ongelukkig, bitter en droomloos.

“Lekker eet,” sê die kelnerin toe sy die kerrie voor my neersit. Ek ruk myself terug na die hier en nou. Die kerrie ruik nie soos die waarheid nie. Dit ruik soos die vinnige gryp na verligting.

Die waarheid stink mos.

Oupa het my geleer dat ander se waarheid nie my waarheid hoef te wees nie. Ek moes my eie waarheid in die lewe vind. Vandag weet ek my waarheid lê in die stilte van ’n gebreekte TV.

In die armoede van tien rand te min. In die koue van ’n alleenlêbed. In gister se valse versekering.

My waarheid lê in die oneerlikheid van ’n plastiekblom. In die doofheid van hierdie stilte, hierdie stil misterie van Namakwaland … My waarheid lê in die bang onder die donkermaan.

Ouma en Oupa het die meeste van die tyd gestry. Juis omdat die een se waarheid die ander een se leuen was. Ek hoor steeds hulle hardkoppigheid in my kop. “Gaan speel ’n bietjie buite,” het Ouma kwaai gesê. Hulle het weer iets gehad om oor te praat. Ek het mos geweet, as die grootmense die kinders wegjaag, wou hulle hartsake praat.

Van buite kon ek net Ouma en Oupa se lyftaal lees. Ouma het die swaar gordyne toegetrek.

Die son kon net sowel nooit weer geskyn het nie. Die oumense was nes die mense van vandag. Die tien gebooie, die ring, die nou, vir ewig en altyd … Dis dood!

Kort voor Oupa se laaste dag in hierdie wêreld, het hy in ’n flat agter in bruinmense se erf ingetrek. Die dorpie het gepraat, maar ek het nie geluister nie. Ek wou nie ander se stories hoor nie. Oupa se waarheid was genoeg vir my.

Maar hoe ouer ek geword het, hoe meer wou ek weet. “Die lewe is nie fair nie, my kind,” was Oupa se laaste woorde aan my. Dit weet ek vandag. Die liefde is ook nie fair nie. Ek was lief, maar het meestal gehaat. Soms gelukkig, maar meestal kwaad.

Daar was tog ’n oomblik so vol soos die maan. ’n Oomblik waar ek in sterbelaaide hemele kon dans. Maar die liefde is ’n madrigaal … kort, tydelik en verganklik van aard. Dis eintlik

’n jammerte. Die vlugtigheid van bevrediging sal nooit die langdurigheid daarna oortref nie.

In Danie se arms was die geboorte van my verlede. Nou net ’n komma voor die hede … nie ’n punt nie. Want hoe stop jy en gaan net aan … onder die volgende donkermaan?

My gedagtes sit vandag ’n bietjie vas in memory lane. Dis daai vryers se skuld. Gelukkig het hulle nou geloop. Dankie tog. Ek wonder of die twee lovebirds al ooit die suur nasmaak van liefde geproe het. Seker nie, anders sou hulle seker nie so gesit en koer het nie.

“Nog een?” vra die kelnerin. ’n Regte waspoppie met haar klassieke skoonheid. “Ja wat, gooi maar. Ek’s leeggetap, julle kan my maar net sowel vol maak,” antwoord ek.

“Die petrol is duur, Helena,” sê Daisy en kom sit langs my in die skemer van die restaurant.

Sy is steeds in haar uniform. Sy is altyd in haar uniform. Soms wonder ek of sy ooit ander klere besit. Haar stywe bolla sit presies in die middel van haar kroon.

Sy sal mooi lyk as sy haar hare bietjie losmaak. Maar sy sal nie los hare dra nie. Sy is ’n stywe-bolla-mens. Nie beeldskoon nie, maar netjies. En Daisy ruik nie soos ’n daisy moet ruik nie. Haar reuk herinner my altyd aan oupa Pyp se pyp.

“’n Halfskoppie whiskey en ’n bier, dankie Skattebol,” bestel Daisy haar daaglikse troos.

Haar soete uurtjie voor sy weer na lyke moet gaan kyk en skelms moet vang. “Die liefde ook, die liefde is ook duur,” sê ek sonder om my oë te knip.

“Nee, my skat, die liefde is gevaarlik. Ek sien dit elke dag. Man laat vrou vermoor; vrou hang haarself nadat sy man saam met skelmpie betrap; man begin drink weens skuldgevoelens; en so gaan dit maar aan,” sê Daisy.

Sy is ’n sterk vrou … wat hou van ander sterk vroue. Seker die enigste lesbiër op die dorpie.

Hier kan jy mos nie anders wees nie. Maar Daisy voel ’n veer. Sy is wie sy is.

Daisy laat my altyd aan ’n geverfde portretskets dink, met die verf wat afgedop het. Maar sy bly hang. Niemand haal haar af nie. Sy maak saak.

Daisy werk hard. Veral onder die bruinmense. Partykeer dink ek sy ken bruinmense beter as wat sy haarself ken. Sy noem hulle “die Escapers”. Die ghetto-kultuur wat leef vir vandag.

Wat ontsnap van die harde werklikheid deur drank en dwelms. Wat swanger raak op skool.

Daisy sê mos hulle dink ’n gesonde leefstyl is net vir die whities,  en dat sy hulle sal oorreed dat bruinbrood net so lekker soos witbrood smaak …

“Baie gevaarlik, vriendin. Maar dit weet jy mos,” sê Daisy weer. “Hoekom is jy so byterig?”

vra ek versigtig. “’n Mens kan nie so saggies deur die lewe gaan nie, Helena. Jy moet nou begin balls kry. Die vader alleen weet hoekom jy soms so pateties is. Dis hoekom jy is waar jy is, want jy is ’n jelly baby,” spoeg sy woorde uit.

Sy vat ’n groot sluk bier en praat verder. “Ek is ’n soldaat. Dis al hoe ek as polisie-kolonel in hierdie dorpie gaan survive.” Daisy lig haar glas. “Nou sluk dit af.” Sy kan mos nie fluister of sag praat nie. Die hele blerrie restaurant weet nou ek is saggies, pateties en ’n jelly baby.

“’n Jelly baby?” vra ek ontsteld. “Ja, ek kan nie aan iets anders dink om jou mee te vergelyk nie,” antwoord sy en vat weer ’n groot sluk, gooi dit rond in haar mond soos ’n mondspoelmiddel, sluk en sug dan diep.

“’n Chappie, definitief ’n Chappie, dis wat jy eerder is,” sê Daisy hopeloos te seker van haarself. Ek begin lag. As ek uitbundig begin lag, wil ek eintlik huil. ’n Chappie?

“Wil jy nie weet hoekom ek jou met ’n Chappie vergelyk nie?” vra Daisy met erdwurm-plooie op haar voorkop. Ek skud my kop. Ek weet nie of ek reg is vir haar waarheid-inspuiting nie. Die waarheid spring in elk geval die meeste van die tyd rond soos ’n twaalfsnaarakkoord.

Daisy trek haar oë so groot soos iemand wat sukkel om te sien. “Ek gaan vir jou sê, of jy nou wil weet of nie. Jy is ’n Chappie omdat jy ’n Chappie wil wees. Jy word deur ander opgekou en dan in ’n badkamerhoek ingedruk,” sê Daisy, sonder om te besef dat ek eerder leuens as die waarheid verkies.

Leuens troos. Leuens gee hoop. Leuens laat jou oor die algemeen beter oor jouself voel. Die waarheid maak jou net siek.

“Ek moet gaan. Jess is seker al by die huis,” verduidelik ek terwyl ek my rekening betaal. “Ek is jammer, Helena. Maar jy hoef nie meer ’n Chappie te wees nie, of ’n jelly baby nie,” sê Daisy.

“Gelukkig word Chappies hard ná ’n ruk,” probeer ek die Chappies van die wêreld verdedig

… myself verdedig. “Maar hulle bly steeds Chappies,” skiet Daisy terug. “Bye, Daisy,” groet ek kort-af. “Bye-bye, Butterfly,” groet Daisy en bestel nog ’n bier.

Alhoewel die naam “Daisy” nie by haar geaardheid pas nie, kom daar tog nou en dan ’n sagtheid uit. Ek geniet haar geselskap. Maar vandag was sy te veel.

Die vogtigheid van die sagte reën glinster op die modderdam voor die afdraai na my en Jess se huisie. Die bekende stem van die radio-rolstoelman gesels ferm, maar rustig. Dit voel altyd asof ons mense op mekaar se besigheid inluister. Seker maar so. Die radioman praat darem sense.

Daisy sê hy is so slim, want hy sien dinge anders. “Wanneer jou lyf nie in lyn met jou volmaakte gees is nie, kyk mens noodgedwonge na die lewe uit ’n ander perspektief,” het Daisy eendag gesê terwyl ons na sy ware wyshede geluister het.

“Goeie middag, mense. Die reëns val sommer heerlik vandag. Ons sê dankie vir die hemele.

Dinge is besig om groot te raak hier in Namakwaland, my dankbaarheid ook,” praat die radioman.

Ek verstaan nie waarvan hy praat nie. Watter groot dinge? “Daar gaan baie meer werksgeleenthede geskep word by Kleinzee en Port Nolloth,” sê hy asof hy my vraag beantwoord.

Wel, dis great, dink ek. Ons mense kry almal swaar … ons whities ook. Ons sukkel net so om gesond te leef. Maar ons bly nederig, nes die veldvygies wat deur die kraakgrond grou. Ons wêreld is lui, maar ons mense werk hard. Stadig, maar hard.

Hier kry jy tyd om in die tydtonnel te stap … terug te droom. Ons droom ook vorentoe, maar die Here weet, ons kan nie te groot droom nie. Teleurstelling het ons al genoeg aan die keel gegryp. Maar my Jess moet groot droom.

Sy is ’n goeie kind en gaan nog bo uitkom. Ek weet. Die engele het my gewys. ’n Mens moet jouself maar laat glo in goeters soos engele, want die Here Jesus het my en Jess 16 jaar terug verlaat. Die dag toe Jess begin skree het en die sukkeljare begin het.

Gedurende die alleenjare was daar maar min troos. Tot een aand … Dit was nogal in Klaskat se huis. Daar was ’n geruis van vlerke … tóé die stadige, spookagtige gedaante voor my. Hy’t nie gepraat nie. Ek het geskrik, maar was nie bang nie.

Ek wonder tot vandag toe wie daai dag se engel … of dalk spook was? Pa se spook? Oupa Pyp se spook? Maar dat daar baie engele hier ronddwaal, is vir seker. Ook gevalle engele. Dit voel jy sommer in hulle teenwoordigheid aan.

Daai vreemde gevoel het my net ná Pa se dood kom vasdruk. Dit was aardig. Daai donker goeters moet nou net nie vir Jess kom pla nie. Die vloek oor onse mense gee klaar genoeg worries.

Ek sal my eerste kennismaking met die donker bonatuurlike nooit vergeet nie. Sy hande … sy hande het oor my hart beweeg – die onsienlike met die yskoue hande. Dit was asof hy my hart wou kom steel.

Ek het wakker geskrik en net sy vlerke in die wind hoor fladder. Ek moes met iemand praat… iemand wat my nie in ’n malhuis gaan wou gooi nie. Met Oupa kon ek oor enige iets praat.

“Oupa?” het ek sy aandag probeer kry terwyl hy hout gekap het. “Ja, Helenatjie,” het hy belangstellend gesê, asof hy geweet het hier kom nou ’n ding. “Glo Oupa in spoke?” het ek sonder skroom gevra. “Ja, definitief. Maar ek glo nie dat hulle ons leed kan aandoen nie,” het Oupa gesê en nog ’n hou gekap.

“Oupa, kan ’n spook aan ’n mens vat?” het ek bekommerd gevra. Oupa het die byl neergesit en fronsend na my gekyk. “Hoe nou, my nonnatjie?” het hy gevra. Ek kon nooit regtig vir Oupa sê wat gebeur het nie … hoe dit gevoel het nie. Maar dat ek van baie jongs af dié magiese wêreld leer ken het, was ’n feit.

Daardie dag het Oupa my van die engele begin vertel, alhoewel hy meer klem op God gelê het as op die engele. “Dis belangrik dat jy na hulle kyk in Bybelse verband, as God se dienende geeste,” het Oupa begin. “Vertel my nog,” het ek nuuskierig gesê.

“Engele is nie kragte of magte of idees nie. Dis geestelike wesens,” het hy voortgegaan. Ek het aandagtig geluister en saam geknik. Oupa het sommer baie diep gedink en toe verder gepraat.

“Dinge is nie altyd soos wat dit lyk of voel nie. Soms verstaan ’n mens eers ná die tyd dat daar maar net dinge in jou onderbrein is. Mense se drome voel soms so werklik dat dit moeilik is om te onderskei tussen wat is, en wat nie is nie,” het Oupa verduidelik.

“Oupa is reg. Ek het seker maar net gedroom,” het ek teleurgesteld gesê. Oupa het vreemd na my gekyk, asof hy gehuiwer het … ampertjies bang was hy sê die verkeerde goed.

“Daar is beslis engele. Beskermengele, maar ook wraak- of doodsengele. God alleen besluit wanneer ’n engel jou moet beskerm,” het Oupa versigtig gesê. “Maar hoekom het God dan nie besluit om vir Pappa ’n beskermengel te stuur nie?” het ek seer gevra.

Ek het aangevoel dat my en Oupa se geselsies baie vinnig in ’n ernstige en sensitiewe gesprek ontaard het. Oupa het nooit enige kwaad in sy oë gehad nie, maar daardie dag was daar tog iets donker wat in sy oë gesit het.

Oupa het weer gesug. “Aai Nonnatjie, jou pa was besig met die verkeerde dinge. Mense is as verantwoordelike wesens geskape. Hulle maak besluite en moet verantwoordelikheid daarvoor neem,” het Oupa seer gesê. Ek het nie verder vrae gevra nie.

Ons het huis toe gestap en nooit weer oor Pappa gepraat nie, maar wel oor engele … Ek moes net wag vir die regte tyd om Oupa weer te vra. Vandag, twintig jaar later, verstaan ek steeds nie alles wat Oupa gesê het nie. Soms maak dit sin, soms glad nie.

Verby die wilde wit blomme lê my en Jess se huisie. Dis een van daardie huise waar mense verbyry en wonder of daar ooit iemand bly. Ek wonder altyd wat die wyse Salomo van my en Jess se huisie sou sê.

Hy sê mos hy het verby die huis van ’n luiaard geloop. Alles was so verwaarloos. Niks word in stand gehou nie. Die gras is lank. Dis pretty much my en Jess se huis wat in Spreuke beskryf word. Ek sien Jess se scooter voor die agterdeur.

“Jess … Sussa?” roep ek. Haar maer lyfie lê op die bruin bank. Ek maak haar kos warm.

“Sus, jy moet gou eet. Mamma het jou favourite kerrie gebring,” probeer ek haar wakker maak. “Ek wil slaap. Ek het klaar geëet,” sê sy slaperig.

My mooiste meisiekind. Ek besef elke dag net meer en meer hoe beeldskoon sy is. Dit maak my bang. Ek gooi die lappieskombers oor haar lyfie en plak ’n sagte soen op haar voorkop.