HOOFSTUK 5

Die pyl en boog is regdeur my hart. Gisteraand se droom het my gewaarsku, maar hoe moes ek weet? Dis koud as ek inloop. Dis koud as ek uitloop.

Die braaksel in haar pyp is groen … groener as Sunlight Liquid. ’n Swart pypie loop in by haar keel. Haar hartklop klop-klop, klop-klop op die monitor langs die bed. Die

suurstofmasker oor haar mond en neus is iets wat geen ma wil sien nie.

Dis so seer. Te seer om te verstaan. Hoe meer ek voel, hoe minder kan ek praat.

Jess … my Jess lê bewegingloos op die hospitaalbed. Haar gesig is perfek – soos ’n pop s’n.

Haar oë gaan stadig oop en dop dan om. Ek vryf oor haar ooglede. “Maak toe jou oë,” fluister ek sag. Dis lelik as haar oë so omdop.

Ek wil skree. Die son het vandag al weer vergeet om te skyn. Die wind het gelag. Jess se deur het toegeklap. Sy het na pille gegryp en probeer om vir ewig toe te gaan. Maar ek verstaan nie! Sy het soveel om na uit te sien.

Ek probeer soek na ’n gelukkige herinnering. Na die lig se gesig. Na Donderdaan. Danie. Ag, ek moes hom eintlik net moer toe gestuur het. Hy wou my net uittrek. Danie wou my in sy liefde doop. Danie wou my red. Ek is kwaad.

Danie was beslis lief vir my, dink ek. Maar hy kon nooit “nee” vir ’n antwoord vat nie. Ek wou ook nooit nee sê nie. Seks. Ek haat seks. As dit nie vir seks was nie, het my blom nie vandag in hierdie koue kamer gelê nie. Jess was nie gereed vir dit nie.

Of is dit my skuld? Het ek haar dan tot pille gedryf? Weereens het die onverwagse my getref.

Nes Danie, die paleis, die royal family en Klaskat, Danie se styfgesnaarde ma. Sy het haar bek mos so gerek oor alles … oor my.

Ou miesies classy poustert het eers gestaar, gedink en haar woorde gekou. Gesluk. Dan het sy tot in my siel gestaar en vir my verduidelik hoekom ek ’n kansgryper is, ’n slet, ’n myner wat nooit ’n kans met haar seun sou kry nie. Nooit. Sy sou seker maak daarvan.

Sy het my gedryf … weg van God tot in ’n plek waar pyn sy blyplek soek. Dis stupid om selfdood te probeer pleeg terwyl jy nog kind is. Terwyl jy nog nie regtig worries het nie. Jess het nie worries nie.

“Dagsê,” groet die dokter met die lang gesig, soos ’n bok wat afdraand eet. “Dokter,” knik ek net my kop.

“Jessica gaan binnekort weer self moet begin asemhaal. Ons gaan die suurstof begin minder maak. Die goeie nuus is dat haar lewerfunksie baie goed lyk. Jou dogter is sterker as wat jy dink. Maar ons gaan nog ’n paar keer moet bloed trek om die lewer-en-nierfunksie te toets,” verduidelik hy.

“Dankie, dokter.” Die nuus oorweldig my. Die huil brand agter my oë. Jess se sagte hand is toegevou in myne.

“Aai, Jess. Ek weet nie of jy Mamma kan hoor nie. Maar as jy my kan hoor, belowe my jy sal altyd onthou: Jy’s dapperder as wat jy glo, sterker as wat jy lyk en slimmer as wat jy dink.”

Haar oë bly steeds toe.

“Mevrou, besoektyd is eintlik al verby,” sê die verpleegster. Ek gee Jess ’n soen op die wang en skuif die masker weer reg. “Mamma kom nou-nou weer.”

Ek loop die lang hospitaalgang af. Dieselfde gang waarin ek sestien jaar gelede ’n streep bloed geloop het. Ek kon nie staan nie, nie lê nie, nie sit nie, net loop. Die ander swanger vroue se ruggies is gevryf … Hulle het mans gehad.

“Jy moet blaas, Helena,” het die dokter verduidelik. Ná veertien uur se kraampyne het haar koppie uitgesteek. Sy het gehuil. Ek het gehuil.

Ou dokter Van der Westhuizen het my hand vasgehou en my gevra wat ek haar gaan noem.

“Jessica,” het ek trots gesê. “Hoekom Jessica?” wou die dokter weet. “Want sy gaan ryk wees, Dokter. Beter af as ek. Jessica beteken ryk,” was my naïewe antwoord.

Ek wou nie vir haar ’n flippen common naam soos June of April gee nie. Daai is mos die maande van die jaar se name. Jessica gaan anders wees.

Daar was niemand daar om saam met ons te huil nie. Niemand het blomme aangedra of foto’s geneem nie. Dit was net ek en sy teen die wêreld. Danie was weg, maar dít was hy eintlik al lankal.

Ek wou hom so graag by my gehad het … die oomblik met hom, net met hom, gedeel het.

Maar my Danie het nie eers geweet hy het pa geword nie. Ou Klaskat het buite in haar Merc gesit en wag. Pa en Oupa was reeds vir ewig toe. Ma was dronk en Ouma te deurmekaar van Alzheimer.

My liefde vir Jess is al wat ek gehad het. Vandag voel dit of daardie liefde haar versmoor het.

Dis dalk hoekom sy die slaappille gedrink het net nadat ek haar saam met daai mannetjie in haar bed gekry het. Dis dalk hoekom sy so vir my gelieg het.

Ek het ook gelieg. Veral oor Danie, Jess se pa. Al wat Jess weet, is dat haar pa dood is. En dat Klaskat net ’n tannie was by wie ons gebly het.

Selfs Jess se verjaarsdagpartytjies was ’n leuen. Foto’s en prentjies wat ek uit Klaskat se tydskrifte geknip het. Dit was Jess se opgemaakte classy parties. Jess se springkasteel. Jess se prinseskoek. Jess se maatjies. Alles ’n opgemaakte fabelagtige fantasie.

Ons jok onsself beter. Almal lieg. Ons sê ons is oukei. Jess is nie oukei nie. Ek is nie oukei nie. Niks is meer oukei nie.

Aai, Jess. Sy is nes ek. Anders. Baie anders as die res. Fyngevoelig. Opmerksaam. Beleefd.

Soos ’n krimpvarkie. Ons twee sukkel in hierdie immerveranderende wêreld. Wanneer daar te veel gebeur, voel ons oorweldig. Gespanne. Benoud. Dan onttrek ons onsself van die situasie.

Jess wou haarself van my onttrek … van die lewe. Ek wou ook al. My karakter was ook al in swart ingekleur en my naam amper op ’n grafsteen gegraveer. Klaskat het my gemerk, my gemeet … my amper lewendig opgevreet.

Ek wou ook hartseer verdwyn. Al wat ek kon bekostig was miergif. Maar ek het geweet dat dit Jess sou … Ek wou net my eie lewe neem, nie Jess s’n nie, maar wat sou dan van haar word?

In ’n waas van teerheid was ek oorweldig deur die drang om te vlug. Op vyf maande se swangerskap het my pens soos ’n potbrood gestaan. Maar ek het gehol. Vandag wil ek weer die berge inhol. Die oop vlaktes sal my troos.

Dit was stil. Ek kon die aarde hoor asemhaal. Vir drie uur het ek aangehou hardloop. Totdat die dors my begin wurg het. Ek sou aanhou hardloop tot in vir ewig se arms. Toe voel ek Jess. Die eerste keer. Die definitiewe skop. Asof sy my wou keer.

Die ligte fladdering in my maag was vir die eerste keer ’n geslaan en ’n geskop. Die son was besig om te sak. Die laaste diepgeel sonstrepe het op die kronkelpad teen die berg geskaats.

Die harde blou lug het stadig na ’n sagte pienkpers verander.

My trane … die smaak van grond en suringpap. Geswelde voete en rugpyn het my op die

aarde neergegooi. Jess het weer geskop. Dringender.

Op daardie dag het ek geweet dat ek vir Jess gaan leef. Dat ek alles in my vermoë gaan doen om haar te beskerm teen die wreedheid, die gulsigheid, die wolf in skaapklere wat homself Liefde noem.

Daisy is reg. Liefde is gevaarlik. Danie was gevaarlik. My swaar lyf het opgestaan en terug begin loop tot by die breë grondpad. Springbok het soos nog ’n bonkige litteken op die vlaktes gelê.

“Die liefde is ’n verhaal met ’n begin, ’n middel en ’n einde,” het oupa Pyp altyd gesê. Dit was die einde van my en Danie se hygroman. Die begin van my en Jess se ware liefdesverhaal.

Ek moes terug na Klaskat se paleis. Terug na Danie se gesig waarna ek nooit weer mag kyk nie. Ek kan nie meer alles onthou nie, maar ek onthou die seer. Geen dop of kapsule kan jou van daardie koorsagtige pyn genees nie.

Ek gaan nie toelaat dat Jess dieselfde foute maak nie. Niemand gaan haar vlak kyk nie. Sy is mooi. Slim. Slimmer as ek.

Ek kan die honger in mans se oë sien as hulle na my dogter kyk. Ek kan die honger in Danie se oë sien … dit weer in my eie lyf voel. Die honger was dik. Die seël was gebreek. Die donkermaan het geskyn en die duiwel het my verneuk.

Net ’n hond keer terug na sy eie braaksel. Maar ek moes terugkeer. Ek het nie ’n keuse gehad nie. Klaskat het my ’n teef genoem – die vroumens wat haar seun wou steel. Maar ’n brak was ek tog nie. Dalk? ’n Straatbrak, dragtig en sonder skuiling.

Ek wou Jess nooit tot selfdood dryf nie. Ek wou haar net beskerm teen seerkry … teen ’n potbroodpens en teen die nasmaak van seks.

Die seun met die lang arms en puberteitsdrange het klaar my dogter se onskuld gesteel. Hy gaan haar nie verder met wellus en skuldgevoelens besoedel nie … haar rooi wangetjies laat opvlam nie. Die koue hitte sal nie nou al deur haar lyfie spoel nie. Nie nou al nie! Sy is nog nie reg daarvoor nie. Sy moet nog droom … haar eie droom. Vir solank as wat sy kan.

Realiteit is ’n bliksem. ’n Teleurstelling. Maar as daar nou een ding is wat ons

Namakwalanders goed kan doen, is dit droom. Dis eintlik al wat ons oorhet. Ons drome.

Die Jappies wat hier deurjaag met hulle fancy brekerbakkies en Kalahari-ferrari’s sê mos ons is agterlik en naïef. Hulle sien niks, want hulle kyk nie regtig nie. Hulle verstaan nie ons swaarkry nie. Kom kyk net blomme, en neer op ons.

“Ons bly op die rykste landskap, maar ons is die armste bevolking,” het Oupa baie keer gesê.

Dan het hy sy pyp weer volgestop. Ek het net geluister.

“Die Jappies wil ook vlug van die geraas, soos ons soms wil vlug van die stilte. Die stilte kan ook raas. Maar die stad se geraas is common. Die geraas in ons stilte is geheimsinnig. En as jy mooi luister, sal jy hoor hoe die aarde met jou praat,” het hy aangehou praat.

Wanneer Oupa só begin praat het, het Ouma altyd sy Vaal Japie uitgegooi en vir hom soet bessietee gemaak.

“Jy weet, Helenatjie. Niemand praat regtig daaroor nie, maar daar is ’n vloek oor hierdie plek. Die hele veld is vervloek,” het hy aangehou praat. “Maar ons gaan dan elke Sondag kerk toe, Oupa?” het ek kinderlik gesê-vra. Asof die kerk ons teen die vloek kon beskerm.

Elkeen se huis in die plek het ’n Bybel. Elkeen gaan kerkgebou toe, al het hulle die vorige aand in Vaal Japie se rivier verdrink. Hulle staan op en loop ver, want kerk toe sal jy gaan.

Elkeen klou krampagtig vas aan hulle Bybel, vas aan hulle droom vir Namakwaland.

“Het Oupa dan ook ’n droom?” het ek gevra. Oupa se oë het begin glinster. “Ja, Helenatjie.

Elke mens het mos ’n droom,” het hy gesê. Ouma het die skottelgoed verwoed begin wegpak.

Asof sy baie kwaad is. Kwaad vir Oupa se droom.

“Nee, man, moenie die glasgoed so gooi nie,” het Oupa met Ouma geraas. “Vertel ’n bietjie vir Helena van ons droom en hoe jy ons droom vir ’n paar pennies verkoop het,” het Ouma gehap. Haar tande verbitterd gekners. Haar oë was verwilderd.

Oupa het afgekyk en sy kop moedeloos geskud. Dan het hy sy sakdoek uitgehaal en die sweet van sy voorkop afgevee. “Aai, Katryn. Gaan jy my nooit vergewe nie?” het Oupa hartseer gevra. “Het jy jouself dan al vergewe, Hendrik?” het sy bo-oor haar dik bril gevra.

Oupa het opgestaan en uitgeloop. Ek het net bly sit. Probeer sin maak van wat aangaan.

“Kom, Helena, ek wil vir jou iets gaan wys,” het Oupa teruggekom met sy bakkie se sleutels in sy hand.

Ons het Port Nolloth se kant toe gery. Eers ’n paar slap draaie links en toe ’n slap draai regs.

Met naar kronkeldraaie verder en verder van Springbok af. Ons het ver gery. Tot voor ’n groot plaashek.

Die tweespoorpad tussen die plase deur was plat. Baie hekke moes oop- en toegemaak word.

In ’n stadium was ek so benoud dat ons dalk ’n hek met ’n slot of in ’n grensdraad gaan vasry. Maar uiteindelik het die tweespoorplaaspad ons na Oupa se verlede geneem.

Ek het onseker na Oupa gestaar. Sy oë was tranerig. Hy het uitgeklim en voor die bakkie gaan staan. My klein skouertjies het perfek onder Oupa se arm ingepas. Ek het veilig gevoel.

“Oupa, ek kan die see sien,” het ek opgewonde na die rustige water gewys. “Hierdie plek was my droom. Eintlik my én Ouma se droom,” het Oupa gesê. “Maar wat het gebeur, Oupa?” het ek gevra.

“Jy weet, Helenatjie, ’n mens moenie in die verlede leef nie. Dit maak ’n mens siek. Maar jy kan uit jou foute leer,” het Oupa gesê. Sy oë was spyt en donker. “Het Oupa uit Oupa se foute geleer?” het ek versigtig gevra. “Ek hoop so,” het hy geantwoord.

“Het Ouma en Oupa hier gebly?” het ek gevra. “Dit was my plaas,” het Oupa geantwoord en na die grond aan die regterkant gewys.

“Ek en jou ouma het vir tien jaar hier gebly voordat jou pa gebore is. Ons was gelukkig …

het vir tien jaar fluks geboer, maar toe kom die droogte. Die vloek. Die vee het gevrek. Ons moes orals heen loop. Die perde was te maer om die perdekar te trek,” het Oupa stil gesê.

“Ek is so jammer, Oupa. Maar die droogte was mos nie Oupa se skuld nie,” het ek gesê.

“Dit was die vloek se skuld, Helena. Ek het die plaas verkoop. Ek moes. Ongelukkig net vir

’n paar pennies. ’n Jaar later het ek uitgevind dat ek al die tyd bo-op ’n fortuin gesit het. ’n Hoed vol diamante onder ons huisie, suikersakke vol diamante langs die boord,” het Oupa vertel.

“Aai, Oupa. Hoe moes Oupa dit nou weet?” het ek gevra. “Vra dit vir jou ouma. Sy gaan my nooit vergewe nie,” het hy moeg geantwoord. Maar sy móét. Oupa is dan haar man, het ek kinderlik gedink. Oupa het diep gesug.

“Die oorspronklike bevolking van Namakwaland het nie ’n aandeel in die diamante gekry nie. Maatskappye het betyds opsies op die plase gekry – maatskappye wat aan die staat behoort. Nou sit die oorspronklike eienaars as huurders of dagloners op hulle eie grond,” het hy gesê.

Ek was dronkgeslaan oor hoe unfair hierdie lewe is. “Verstaan jy nou hoekom Oupa altyd vir my kind sê dat Namakwaland vervloek is,” het hy gesê en met sy hande na die sandveld beduie. “Dat die lewe unfair is,” het ek bygevoeg.

Saam met die dansende middaghitte het ek en Oupa die sandpad afgeloop. Oupa het met sy vinger gewys. Lang rye ronde siwwe het boosaardig geglimlag … halfpad begrawe. Hulle swart geroeste voorkante lag oopmond vir Oupa, voordat die sand hulle stadig maar seker versmoor.

Ek kon nie help om te wonder oor die uiterste waartoe die mens se gierigheid in staat is nie.

Sommige mense doen enige iets om te kry wat hulle wil hê. Klaskat het baklei vir wat sy wou kry. Al het sy my teen die steiltes van Kamieshoogte uitgedryf … my menswees soos hierdie rykdom van die sandveld gestroop.

Ek en Oupa het mekaar verstaan, al was ek net tien jaar oud – onskuldig, onbewus van wat my ses jaar later sou tref. Ons het hartseer voor Oupa se dooie droom gestaan. Ek het besef dat drome soms net drome bly. Gister se oop sluit toe, en se toe sluit oop … en dan staan ’n mens net en kyk na gister se drome.

Auntie Koekie het gaan uithelp by die winkel. Ek sit in die gang. Ek sit in my kar. Op die sementbankie voor die hospitaal. En wag … Ek wil langs Jess wees as sy haar oë oopmaak.

Ouma en Oupa het gewaarsku. Die twee sandhopies was vanoggend nog langs my bed. Vlooi het my getoor, ek sweer. “Luister maar na jou drome … drome … drome …” eggo Vlooi se boosaardige stemmetjie in my kop. En ek het nog nie eers haar konkoksie gedrink nie …