HOOFSTUK 2

Ek sluit die kêffie sommer vroeg vandag. Vir ’n oomblik staar ek na die verbleikte

winkelnaam bo die blikdeur – my arm maar eerlike bestaan. Die locals ken die naam, Koep en Koep. Amper soos Pick n Pay, maar die meeste mense vat en betaal eers einde van die maand.

Ons ken mekaar se swaarkry. Auntie Koekie kom aangedraf met ’n krat vol mosbolletjies. Ek het nie nou lus vir haar nie. “Dagsê, kind. Ek gaan môre vroeg dokter toe, toe bring ek sommer nou die mosbolle vir jou,” sê sy uitasem.

“Dankie, Auntie,” sê ek en sluit die winkeldeur weer oop. Haar verwronge hande krul soos boomwortels om die krat vol mosbolbeskuit. Sy sit dit op die toonbank en plak neer op die stoel agter die kasregister.

“Ek wil net ’n bietjie sit,” sê sy moedeloos. “Wil Auntie iets drink?” vra ek half teensinnig, want as dié mens eers begin praat, raak jou ore seer. “Dankie, Skat. Jy weet, my dogter, haar man en twee kinders het mos nou daar onder my dak kom afpak,” begin sy. “Hoe so?” vra ek.

“Mannetjies, haar man, is sy jop kwyt. Hy het goeie geld gemaak. Hulle het nie gesukkel nie.

Die geld het na hulle koppe gegaan. Wanneer ’n krummel ’n Woolies-brood word en geld jou menswees verander, is dit nooit ’n goeie ding nie. Maar nou ja, noudat die geld klaar is, ken sy weer haar ma,” sê auntie Koekie hartseer.

“Aai, Auntie. Dis ook nie fair nie,” probeer ek simpatiseer. “Ek geniet die kinders se twak praat. Ek dra vir hulle mince en wors aan. Maar ek is mos eintlik ’n alleenmens,” vertel sy verder.

“’n Alleenmens?” vra ek. “Jy weet, Helena, almal is soms alleenmense. Ek dink so. Ek weet nie van jou nie, maar ek wil soms net alleen wees,” sê sy. “Maar hoekom, Auntie?” vra ek weer.

“Om te broei. Ek dink ek broei dalk te veel. Dalk is ek te veel alleen. Die nuwe lewe in my huis is seker ’n goeie ding. Jy weet daardie Mannetjies. Alles draai om Mannetjies.

As Mannetjies sê die hemel gaan val en almal moet blou hoedjies dra, sal almal iets oor hulle koppe trek,” stuur auntie Koekie verbitterd die onderwerp sommer in ’n heel ander rigting.

Ek frons. “Mannetjies is negatief oor alles. Mannetjies is die begin en einde. Maar nie myne nie. Weet jy hoekom nie? Want ek het my eie brein,” sê sy driftig.

“Nee, maar dis goed so. Ek wil nou nie ongeskik wees nie, maar ek het ’n afspraak by Shandy,” sê ek. “Ons praat weer, my kind,” sê sy. Haar mondhoeke trek afwaarts. En ek besef weereens elke huis het sy kruis.

“Sterkte met alles by die huis,” probeer ek haar aanmoedig. Sy glimlag ongelukkig, tel dan haar skouers op en loop met haar gewone moedswillige stappie die deur uit. Daar is min mense wat hulleself net so kan optel soos auntie Koekie.

Ek gaan ’n bietjie my hare doen vandag. Deesdae het ek nie meer krag vir maskara aansit en nice wees nie. Toe dink ek dalk sal ’n nuwe hairdo my beter laat voel.

Die reëns is weg. Die stofwind is terug … waai my kop sommer weer na gister toe. Die hartseer sit kruisbeen op die krop van my maag. Dis die wind wat dit bring. Die singende seer ruk-ruk aan my binnegoed terwyl ek vir ’n rukkie te lank bly staar en weer na Danie verlang.

Dit voel soos gister wat Danie my sy dagligkind … sy meisiekind genoem het. “Dagligkind, ek gaan jou mis,” het Danie gesê net voordat hy weer na sy lanie skool op Wynberg vertrek het. “Ek gaan jou net so mis,” het ek met ’n ongemaklike krap in my keel gesê.

“Dis darem net ’n week. Die naweek is jy myne. Vra jou ma of jy die naweek kan afkry by die winkel. Toe man, ek het ’n surprise vir jou,” het Danie met blink oë gesê. “Jy weet ek like nie van surprises nie,” het ek doodernstig gesê.

“Jy gaan van hierdie een hou, glo my,” het hy gesê voor hy op die bus geklim het. “Ek is lief vir jou my daglig-meisiekind,” het hy by die bus se venster uitgeskree. “En ek vir jou!” het ek geroep.

Ek het vir hom gewaai nes ek vir Pa gewaai het. Maar vir Pa was ek meer as genoeg … vir Danie, het ek nie geweet nie. Alhoewel hy my altyd spesiaal laat voel het, kon ek nie help om te wonder waarom die ryk seunskind nou sy liking in my sou kry nie.

Ek hou my hare vas. Dit voel of die wind my kop wil wegwaai na gister toe. In die kêffie se vensterbank staan die wollerige rooi teddiebeertjie met die swart neusie. Danie het dit vir my gegee voordat ons paaie moes skei.

Danie, die matriekseun, se beeld begin al hoe meer vervaag. Ek kan sy oë onthou … hoe dan anders? Daai lewendige oë kyk elke dag vir my as Jess met my stry of baklei. As ons saam lag of net ’n oomblik deel.

Die dag wat ek en Danie ontmoet het, was ’n omgekrapte een. My ma het in die stoortjie gesit en huil … sy het heeltyd gehuil. In die stort, in die kerk, in die kar en by die werk. Pa se dood was ’n omgekrapte warrelwind. Nie Ma, Ouma, Oupa of ek was ooit weer dieselfde nie.

Danie het soos ’n ligte briesie deur my gemoed kom waai. My laat vergeet van die vretende seer. Ek het die rakke reggepak. Die nuwe voorraad geprys. Steeds in my skoolklere en blerrie oorgroot skoolskoene wat ek by die skool se klerebank gekry het.

“Goeie dag, iemand hier?” het die diep seunstem geroep. Ek het om die rakke geloer en die aantreklike seunskind voor die kasregister sien staan en wag. “Middag, kan ek help?” het ek beleefd gevra.

Danie het vir ’n oomblik stilgestaan en toe geglimlag. “Ek wil net betaal, asseblief,” het hy gesê. Die kuiltjies langs sy mondhoeke het my dadelik selfbewus laat voel.

“Seker, ek kom,” het ek die onsekerheid in my stem gehoor. My oorgroot skoene was moeilik om op te tel, maar sonder skoene kon ek nie gesien word nie. My voete is misvorm. As baba het my ma, my dronk ma, my per ongeluk in ’n bad kokende water getel. My tone het so erg gebrand dat die dokters twee toontjies moes afsit.

Ek het geval … nie op die grond nie, maar in Danie se arms. “Sjoe, ek het nog nooit ’n meisie se voete letterlik onder haar uitgeslaan nie,” het hy gesê. Ek het dadelik in sy aksent gehoor hy is nie oorspronklik van Namakwaland nie.

“Demmit! Hierdie verdomde groot skoene,” het ek hard gesê. Die lag het in sy oë gespeel. Ek het stupid  gevoel. “Sal dit al wees?” het ek gevra. Ek het gewens die aarde kon my net insluk.

“Ek weet nie,” het hy ewe skielik baie ernstig gesê en my lank in die oë gekyk.

Toe het hy weer geglimlag. “Hoekom dra jy sulke groot skoene?” wou hy weet. Sy vraag het my net verder omgekrap. “Omdat groot skoene my ding is,” het ek gesê sonder om regtig te dink.

Maar wat moes ek tog sê? Ek sou so pateties klink as ek sou sê dat my ma nie geld het om vir my nuwe skoolskoene te koop nie. Nou dra ek maar ander grootvoet mense se ou skoene. Dit sou ek nooit sê nie.

Danie het gelag en sy Fanta Orange en Chappies gevat. “Sien jou weer, Grootvoet-

meisiekind,” het hy gesê en uitgeloop. Ek het nuuskierig deur die venster geloer. Hy het saam met ’n ander klomp seuns in ’n bus geklim.

Ewe skielik was my dag meer omgekrap as ooit. Ek kon nie ophou dink aan die seun met die tergende oë nie. Die son hang in vrede. Ek dwing my gedagtes terug na die hede. Die

herinneringe krap my net om.

Shandy se salon is outyds, maar verwelkomend. “Happy days, happy days,” groet Shandy vrolik. Sy frons ’n oomblik. “Nou vir wat lyk jou hare soos jou gemoed?” vra sy. Shandy is nie soos Daisy se gestereotipeerde bruin vrou nie. Sy is eerder ’n inbetweener … êrens vasgevang tussen laer- en middelklasmense.

“Dis plat. Dalk kan jy dit ’n bietjie perm?” vra ek onseker. “Over my dead body. Jy’s te mooi vir ’n ouma-skaapkop,” sê Shandy. “Nou wat dink jy?” vra ek terwyl ek na haar pasgetroude seun se foto wat teen die spieël geplak is, kyk.

Shandy dink. Glimlag dan. Sy kyk vir haarself in die dowwe spieël en trek haar rooi

langhaarpruik reg. “Pixie, pers en pragtig,” sê sy dramaties oordrewe. “Pers?” vra ek. “Nie pérs pers nie, so ’n rooierige pers, en kort soos ’n pixie. Trust my,” oorreed sy my.

Ek haal diep asem en probeer haar vertrou. Ek kan net nie sommer vertrou nie. Vir Danie het ek mos vertrou, want ek kon. Dit was nie alles sy skuld nie. Hy het my baie rustig laat voel, alhoewel sy oë soms ’n wildheid in my wakker gemaak het. Ek het veilig by hom gevoel … broos en weerloos.

’n Week nadat hy daardie Fanta Orange en menthol  Chappies gekoop het, het hy weer probeer om my voete onder my uit te slaan. “Dagsê, Grootvoet-meisiekind,” het ek die bekende stem gehoor.

Ek het vinnig omgedraai en die mooi seun met sy menthol  Chappies en Fanta Orange voor my sien staan. “Goeie dag,” het ek formeel gegroet. Danie het op en af deur die winkelrakke geloop. Sy lyftaal het onseker gelyk. “Is daar iets spesifiek waarna jy soek?” het ek gevra.

“Ek het gewonder of jy nie dalk saam met my roomys wil gaan eet nie,” het hy half huiwerig gevra. “Ek hou nie van roomys nie,” het ek dadelik geantwoord. Die omgekraptheid was terug.

Ek het bly wonder hoe die rykmanseun se kop dan werk … vas oortuig dat hy ’n bespotting van my wou maak. Sy glimlag het dadelik verdwyn. “Nou waarvan hou jy?” het hy gevra.

“Beslis nie van seuns wat net hier inkom en dink dat hulle my voete onder my gaan uitslaan nie,” het die hardkoppigheid harder gepraat as die wonder hoe dit dalk sal wees as ek tog saam met hom gaan roomys eet.

“Tegnies was dit daai groot plattrappers van jou wat jou laat val het. Ek was net hier om jou te vang,” het hy gelag. Ek het skaam saamgelag. “Mag ek weet wat jou naam is?” het hy gevra. “Grootvoet-meisiekind,” het ek my seer weg gespot.

“Jy’s ’n moeilike een. Wel, aangename kennis, Grootvoet-meisiekind. In watter skool is jy?”

“Hoërskool Namakwaland,” het ek trots geantwoord. “En jy?” het ek gevra. “Wynberg Boys High,” het hy trotser geantwoord. “Is jy dan ’n Soutie?” het ek half voorbarig gevra.

Danie het gelag. “My naam is Danie. Klink Danie vir jou soos ’n Soutie-naam?” het hy weer met die verleidelike terg in sy oë gevra. “Nou vir wat gaan jy dan na ’n Soutie-skool toe?” het ek gevra.

“Dis my ma’le se keuse. As ek kon, sou ek sommer net hier in Namakwaland wou skoolgaan.

Die op en af elke naweek is ook maar net lekker in die begin.” Hy het afgekyk, sy oor gevryf en toe weer stadig opgekyk.

“Jy weet nou wat my naam is. Gaan jy nou jou naam vir my gee?” het hy versigtig gevra. “Ek het mos vir jou gesê,” het ek weer geterg. Danie het half bekommerd by die venster uitgekyk.

Daar het ’n silwer Mercedes tot voor die busstop gery.

“Dis my ma. Ek moet gaan,” het hy gesê. “Totsiens Grootvoet-meisiekind,” het hy ’n laaste keer geterg. “My naam is Helena, en ek hou so ’n bietjie van roomys!” het ek agterna geroep.

Danie het teruggekyk en gelag. “Sien jou weer, Helena.”

My hart was opgevlam. Ek kon hom van toe af nooit weer uit my kop kry nie. “Jy mors jou tyd en energie. Daai tipe seuns soek net een ding. Ons is nie deel van hulle klas nie, Helena,”

het Ma morbied van agter uit die winkel gesê. Ek kon die drank aan haar ruik.

“Hoe lank staan Ma al daar?” het ek gevra. Half skaam en vernederd. “Lank genoeg om te weet dat jou hakskene heeltemal te rooi is,” het sy bitsig geantwoord.

Ten spyte van my ma se waarskuwing, wou ek hom weer sien. Ek het vir Vrydagmiddae

begin leef. Elke Vrydag het sy Fanta en Chappies vir hom gewag. En dan het ons gelag en gekuier.

Ma het aanhou waarsku. Ek het aanhou verdrink in die gedagtes van Danie se kaal lyf teen myne. Ons het mekaar vinnig leer ken, dalk te vinnig …

“Helena. Helena! Waar is jou kop?” vra Shandy. Ek kyk op en sien die pérs pers op my kop.

Ek skrik. “En … hoe hou jy van die kleur?” vra Shandy.

“Ek weet nie. Dis vreemd. Iets om aan gewoond te raak,” antwoord ek terwyl ek na die wulpse pers wat vir my baie meer pers as rooi lyk, staar. Dis definitief pérs pers. Maar ek kan dit seker maak werk. “Ek hoop Jess hou daarvan,” sê ek. “Jess gaan dit love,” sê Shandy.

“Ek hoop so,” twyfel ek steeds. “Dogters hou van funky mammas,” sê Shandy terwyl sy weer vir haarself in die spieël kyk. “Jess is mos anders. Sy is soos ek. Sy hou van die norm … die gewone goed,” klink ek vir myself soos ’n regte ou bloomer- boud.

“Nee, Helena, só kan jy nie aangaan nie. Die lewe is te kort om outyds te wees. Dalk moet jy

’n draai by auntie Vlooi gaan maak. Haar veldmedisyne werk. Ek jok nie vir jou nie. Jy sê net vir haar wat jou probleem is en sy maak vir jou ’n konkoksie,” moedig Shandy aan.

“Dankie, Shandy, maar ek glo mos nie in toordokters nie,” sê ek. “Helena, hoor nou my lied.

As jy in spoke glo, moet jy in toordokters ook glo. Almal weet jy sien spoke,” sê Shandy.

Ek sug. “Nie spoke nie, engele. Ek glo in engele,” verduidelik ek.

“Dieselfde ding. Die een is net swart en die ander een wit,” spot Shandy. “Nee, dis glad nie dieselfde nie,” sê ek geskok. “Aai, vroumens. Ek spot net. Don’t be so serious,” terg Shandy.

Ek glimlag en kyk met ’n knop in my keel hoe my hare op die grond val.

Die pers word al hoe korter … en korter. Maar ek hou van die kort hare. My gesig lyk verbasend jonger. Vir ’n oomblik lyk ek vir myself soos ’n moderne vrou. Die fyn plooitjies om my mond en oë vertel ’n storie.

My ore is steeds effens bak, my neus klein en plat, maar die haarstyl lyk goed, dink ek. Ek sal wel iets omtrent die sakke onder my oë moet doen. “I like, I like. Hou jy daarvan?” vra Shandy. “Ek doen, dankie Shandy,” sê ek.

“Nou moet ons net jou hart uitsort. Wanneer gaan jy na auntie Vlooi toe? Ek sê jou, Terry, the love of my life, wat nou mos ook ’n spook is, het ’n klein probleempie daaronder gehad.

Toe, nadat hy daai mixture van auntie Vlooi gedown het, was daai probleempie gone with the wind, en net ’n groot lekkerte vir ons al twee,” sê Shandy skaamteloos.

“’n Spook?” vra ek nuuskierig. “Ag, dame. Haak jy nou weer vas by die spoke? Het jy dan niks gehoor wat ek te sê het nie? Maar ja, hy is vyf jaar terug getref en getrap op die pad buite Kleinzee. My hart is steeds rou. Ek wil nie nou sad goeters praat nie,” skud sy haar kop en knip haar trane weg.

“Ek is jammer,” sê ek. “Naai, daai is mos nou nie jou skuld nie. Maar ek wil regtig hê jy moet laat auntie Vlooi ook vir jou ’n mixture maak.” Shandy praat vinniger, asof sy van haar seer gedagtes wil weghol. Sy haal asem en praat dan weer. Sy hou baie van praat.

“Jy weet mos ek is nie eintlik vet nie, net lank met groot borste. Ek wou sommer hê die dokter moes my borste afsny, want ’n mens se rug raak seer gedra. My rug was ellendig. Ek het gevoel soos ’n waslap wat uitgedraai is. Toe gaan ek na die auntie toe. Sy het vir my genees van alle pyne,” probeer sy my steeds oorreed.

“Sjoe, sy klink wonderlik,” sê ek. “En sy help ook met ander pyn, nie net lyfpyn nie,” sê sy terwyl sy in haar handsak krap. Sy haal ’n kaartjie uit en gee dit vir my. “Bel haar. Sy bly in Fonteintjie. En sê vir haar ek het jou vertel van haar,” sê sy.

’n Ou foto van Shandy se seun in sy rugbyklere is ook langs sy troufoto. “Hulle word so gou groot. Jy weet, sy vroutjie is nou ses maande pregnant. Ek gaan nou ouma Shandy wees,” sê Shandy met ’n sagtheid in haar oë.

“Baie geluk,” sê ek. Ek dink al weer aan Danie … Danie se rugbybroekie en sterk bo-bene.

Daai broekie was styf en het alles gewys. Hy het net van sy rugbytoer af gekom. Ek het opgewonde gestaan en wag vir sy bus – in ’n los rokkie sonder onderklere.

Daai aand was ons eerste keer. Ek het seks nooit as ’n sonde gesien nie. Dit was ’n

uitdrukking van ons liefde vir mekaar. Maar vandag weet ek die tyd was seker nie reg nie.

Ons was beste pelle. My gedagtes hardloop ver paaie terug na my en Danie se hoofstuk.

“Jy weet ek moet volgende jaar universiteit toe gaan?” het hy hartseer gesê. “Ek weet, maar ek gaan jou seker steeds naweke sien?” het ek bekommerd gevra. “Wil jy nie saam met my kom nie?” het Danie onverwags gevra. “Ek kan nie, Danie. Jy weet my ma het nie geld vir my om verder te studeer nie,” het ek gesê.

“Dalk kan jy aansoek doen vir ’n beurs,” het hy opgewonde voorgestel. “Ek kan, ja,” het ek ewe opgewonde gesê. “Jy is nie net my meisie nie, Meisiekind, jy’s my beste pel,” het hy gesê.

Ons het op die sypaadjie voor Ma se kêffie gesit en vars dadelbrood en kondensmelk eet. Sy ma se Merc het stadig aangery gekom, asof sy sit en gluur terwyl sy aankom. Klaskat het my nooit gegroet nie. Net so bo-oor haar sonbril my koud aangekyk.

Die koue katkyk het my warm lyf gevries. Die hitte wat deur my lyf gekook het, die passie van Danie se warm hande wat vroeër onder my rokkie verdwaal het, het skielik in ’n

kouekoors verander. Maankoors.

Ek het gesug terwyl hy wegry. Sy lippe het “sorry  gesê. Hy het altyd om verskoning gevra oor sy ma se manier om my bestaan te ignoreer.

“Ek weet nie waar jou kop vandag is nie, Helenatjie,” ruk Shandy my weer terug. “Dankie vir my nuwe look, Shandy. Sien jou dan weer volgende maand,” probeer ek my ry kry. Ek het tyd alleen met my gedagtes nodig.

“Wag gou,” sê Shandy en hardloop terug by die salon in. Sy kom sommer gou weer uit met

’n klein botteltjie. “Moenie jou hare met ander goeters was nie. Hierdie sal jou kleur laat last,” sê sy ernstig.

Ek is nie seker of ek die kleur wil laat last nie, maar vat die botteltjie. “Dankie, ek maak so.

Lekker naweek,” groet ek uiteindelik. My hare laat my effens onseker voel. Deesdae voel ek onseker oor baie goeters.

By Danie het ek seker gevoel. Die vader alleen weet hoekom, want hy het soveel meer klas as ek gehad. Ek hoop regtig nie my Jess gaan staan en maak haar ma se simpel foute nie. Nie dat Jess ooit ’n fout was nie. Die tyd en omstandighede was net nie great nie.

Op skool, by Ma en Myner, was my sinne lank en hakkelrig. By Danie kon ek kort en

hardkoppige sinne gebruik. Hy het my laat glo in myself.

Soms het ek gewens Danie was ook in Hoërskool Namakwaland. Sodat ons pouses soos die matrieks agter die paviljoene kon vry. Maar ander dae was ek net te dankbaar dat hy my nooit in my skoolomgewing gesien het nie.

Hy mag nooit die Helena met die klerebankklere; Helena wat pouses broodjies by die kantoor gaan haal; Helena, die skaam kind met die misvormde voete, geken het nie. En toe Myner se seuntjie by ons kom bly het, was ek Helena met die dom boetie.

Danie het van die bitsige Helena gehou. Ek het ook van daardie mens gehou. Maar daai mens is dood. Ag verdomp, vandag voel ek wragtig soos ’n jellybaby of Chappie. Maar vandag verlang ek … My hande draai die stuurwiel in die rigting van Danie se busstop.

Dit voel nogal waansinnig om op die ouderdom van drie-en-dertig na ’n matriekseun se beeld te verlang. Oupa het altyd baie oor verlange te sê gehad. Nadat Pa nie meer met ons was nie, het ons baie oor verlange gepraat …

“Mamma en Pappa het so baie baklei. Noudat Pappa weg van die huis werk, is Mamma baie liewer vir Pappa. En as Pappa naweke huis toe kom, lê hulle sommer ure agter ’n toe deur en vry,” het ek onskuldig gesê.

Oupa het gelag en toe het ’n baie ernstiger emosie op sy gesig kom sit. “Sonder sien, bloei die liefde, Helenatjie. Sonder sien, pols die drange. Afwesigheid bring nabyheid,” het Oupa verduidelik.

Dit het ek verstaan elke keer wat ek by hierdie busstop van verlange gestaan en wag het. Ná my jare se struggle was daar ander mans, maar na hulle verlang ek nie. My oë kyk ver, my siel kyk terug.

Ek het Danie se regop kaartlyfie aangedraf sien kom. Hy het sy tasse neergegooi. My omhels.

“Ek gaan met jou trou, Helena,” het hy ernstig gesê terwyl hy my gesig in sy hande geneem het.

“Sjoe, maar jy het omtrent verlang,” het ek gesê. “Ek maak nie grappies nie. Ek wil nie sonder jou wees nie. Ons gaan saam universiteit toe, saam leef, kinders kry en saam

doodgaan,” het hy kinderlik en dringend gesê.

“Jy weet ek wil nooit trou nie. Huwelike maak die liefde dood,” het ek gesê. “Nie óns liefde nie. Nie my en jou liefde nie,” het Danie hartseer gesê. Ek het hom net omhels … sy hart teen myne voel klop.

“Jou hart klop so vinnig,” het ek met my hand op sy bors gesê. “Vir jou, Helena. Vir jou klop my hart vinnig. Ek het jou verskriklik gemis,” het hy amper uit-asem gesê. Daardie dag kon ek sy liefde voel. Ons het sy tasse in die winkel gebêre en veld toe gestap.

“Hoe laat kom jou ma jou optel,” het ek bekommerd gevra. “Eers later. Ek het haar laat weet die bus is vyf uur laat,” het hy met die bekende terg terug in sy oë gesê. Maar dié keer word ek nie geterg nie, maar eerder die noodlot.

Ek het gesidder om te dink wat sy ma sou doen as sy uitvind. “Sies, jy kan nie so vir daai kwaai auntie lieg nie,” het ek doodernstig gesê. Danie het my hand gevat. Ons het met die wandelpad uit die dorp gestap. Ek het in die rondte gedraai, asof ek wou dans.

“Hoekom wil jy nie trou nie?” het Danie my speelse bui gebreek. “Danie, ek het jou

onbegryplik lief, maar die huwelik brand die liefde droog,” het ek ernstig gesê. Danie het gefrons en my hand gevat. Ons het vir ’n rukkie in stilte deur die blommeveld geloop.

Ek wou nie ’n liefde so droog soos Namakwaland se aardkors hê nie. Ek wou nie ’n huwelik so ongesellig soos Oupa en Ouma s’n hê nie. Dit wat ek en Danie gehad het, was so special.  

Hoekom dit nou kompliseer met papierwerk en beloftes – beloftes wat ons lywe in elk geval reeds aan mekaar gemaak het.

Die wind was sag en lui. My hare kon los op my skouers hang sonder om in my oë te waai.

Die hele Namakwaland was lui. Die wind wou nie eers met my praat nie. Selfs die

donkermaan later die aand kon my vir die eerste keer nie verstaan nie.

Vandag is net so lui. Die dae is lank, die jare kort. Tyd het vir niemand gewag nie. Met my pixie  pers kop staan ek by die busstop en staar … wonder of my en Danie se liefde ooit regtig the real thing was.

Hoe sou dit gewees het as ons saam universiteit toe gegaan het? Saam geleef het? Vir Jess saam grootgemaak het? En dan saam oudgeword het?

“Helena, ek wil jou net altyd by my hê,” het Danie gesê. Ek het ongeduldig begin raak met sy onsekerheid. “So seker soos die groen belofte van die reën, so seker wil ek jou ook altyd by my hê,” het ek sy onsekerheid probeer stilmaak.

“Jy weet die natuur is onvoorspelbaar,” het hy gesê. “Die liefde ongelukkig ook. Maar die blomme moet groei, blom en sade produseer vir die oorlewing van die spesie. So moet die liefde ook groei en blom, of wat dink jy?” het ek gevra. Danie het geglimlag.

“Dink jy ons het liefde nodig vir oorlewing?” het Danie gevra. “Beslis. Ek het jou liefde nodig,” het ek half broos gesê. Danie moes verstaan dat ek nooit sonder hom wou wees nie, maar dat ek ook genoeg dinge in hierdie lewe gesien het wat my wou voorberei vir moontlike seerkry.

Maar niks kon my voorberei vir die seer wat ’n paar maande later vir my gesit en wag het nie

… “Jy is reg, my meisiekind. Ek en jy is soos die blomme. Hulle word nie deur grense en drade ingeperk nie. Hulle is net. Kom ons wees net,” het Danie opgewonde gesê.

Ons het kinderlik paadjies deur die blommeland, my hartvreetland, gehardloop. Ons het gelag vir die dassies wat op rotsbanke sit en lyk of hulle bid. Ons het vir die bontkopbokkies wat rustig vreet, gekyk.

“My liefde vir jou blom meer as al die blomme saam,” het Danie uiteindelik kortasem gesê.

Ek het my vinger op sy mond gesit. “Sjt, jy moenie so baie praat nie,” het ek geterg. Danie het my nadergetrek, lank en sag gesoen.

Die reuk van soet viooltjies en die kleur van ons liefde het geel geblom. Danie het my stywer en stywer teen hom getrek. Ek het my arms opgelig sodat hy my rokkie oor my kop kon trek.

Ek het sy belt stadig losgemaak.

Sy hande het oor my hele lyfie verdwaal. Tussen bessiebos, botterblom en wag-’n-bietjie en karmedik kon ons lywe nie meer ’n oomblik langer wag nie. Ons was twee honger blomme wat net nie versadig kon raak nie.

“O vrek, jou ma wag seker al!” het ek ure later gesê terwyl ons op die blommebed gelê het.

Ons het vinnig aangetrek en terug dorp toe gehol. Gelukkig betyds vir Klaskat se Merc.

“Sien jou môre, my meisiekind,” het hy ’n soen op my voorkop geplak voor ek in die kêffie ingestap het.

Die volgende oggend het my liefde nie meer geel gebloei nie. Die wegwaaiwind het aan my venster kom klop. Die wegwaaisand het teen my bene gebrand. Ek was bang … bang vir die sleepmis wat soos lakens oor die blomme gehang het.

Bang vir oorlede Oupa se wyse woorde … vir die gil in die kokerboomwoud … die koue

hande wat my hart wou steel … die seer in die bitterbos … en die verdomde vloek wat nie weet hoe om my uit te los nie. Trane van verlange rol oor my gesig … soet herinneringe nou sout in my mond.

Ek mis jou, Danie. Danie met die tergende oë. Danie met die netjiese skooluniform. Danie van die busstop. Danie wat sy tasse neergooi om my te omhels. Danie wat my witbrood en kondensmelk voer. Danie met die kaartlyf. Danie van trok 709. Danie wat vir my skoene koop. Aai, Danie, dis ’n verlange wat slegs die donkermaan verstaan.