HOOFSTUK 8

“Mamma?” vra Jess deurmekaar. “Hier’s Mamma,” antwoord ek. My kind is wakker. Haar oë sukkel om te fokus. “Hoe voel my kind?” vra ek. “Moeg,” blaas sy die woorde uit. Haar oë val weer toe. “Slaap, my skat, jy moet nou net rus,” sê ek met ’n enkele traan wat oor my wang rol.

“Mamma?” vra sy weer. “Ja, my liefie. Wat is fout?” vra ek. “Hoekom is Mamma so kwaad vir die lewe?” vra sy. “Aai, Jess, Mamma is nie kwaad vir die lewe nie. Mamma is kwaad vir die mense. Maar nie vir jou nie. Ek is nie kwaad vir jou nie. Mamma is hier vir jou,” oortuig ek haar.

Jess se groen sonneblom-ogies vind myne. Sy kyk vir ’n oomblik ernstig na my en glimlag dan skaam. “Ek weet. Mamma was nog altyd daar vir my. Ek is jammer. Ek … ” Jess se oë blink tranerig. “Jy hoef nie te wees nie. Moet nou nie worry nie. Asseblief,” sê ek sag.

Jess se oë val weer toe. Vandag is beter. Nie maklik nie, maar beter. Jess weet ek was nog altyd daar vir haar. Sy hoef nooit te weet hoe dit regtig was nie. Vir my kind sal ek dit weer en weer doen. Sy is myne. Ek is jammer oor baie dinge, maar nie oor Jess nie.

Ek wonder of daardie ongeskikte dik suster nog hier in die hospitaal werk. Die een wat sewentien jaar terug nie kon wag om vir Danie se ma, die dorp se Klaskat, van my swangerskap te vertel nie.

Klaskat het die volgende dag vir my buite die skoolhek in haar Merc gesit en wag. Daardie dag was die eerste tree nader aan die waarheid. Nie net my eie nie, maar Oupa en Ouma s’n, veral Oupa s’n, ook.

“Klim in,” het haar oë my beveel. “Hallo, Tannie,” het ek gegroet. “Dagsê, Helena. Ek en jy moet praat,” het sy streng gesê. Ek het onseker in die Merc geklim en na haar oorbelle gestaar.

Nog nooit in my lewe het ek sulke groot diamantoorbelle gesien nie. Dit het haar vir ’n oomblik meer na ’n Krismiskat laat lyk as na die opgestopte Klaskat wat altyd deur die venster na my en Danie gestaar het.

Ons het in stilte gery. Ongemaklik. ’n Atmosfeer om in te versuip. Waaroor wou sy praat, het ek gewonder … Maar toe neem haar Merc blatant dieselfde pad wat Oupa my met sy bakkie geneem het.

Ons het Port Nolloth se kant toe gery. Eers die bekende paar slap draaie links. Ná die laaste slap draai regs, het ons met dieselfde naar kronkeldraaie verder en verder van Springbok af beweeg.

My kop het begin draai. Die tweespoorpad tussen die plase deur was platter as wat ek kon onthou. Ek moes uitklim om die hekke oop en toe te maak. En, wragtig, toe klim ons op Oupa se tweespoorplaaspad na sy droomplaas.

Sy ry oor dieselfde heuweltjie waar ek styf onder Oupa se arm gestaan het. Meteens het ek besef Danie, my Danie se ouers, is die skurke wat Oupa se droom gesteel het. Die lang rye ronde siwwe was vervang met klein matjieshuisies vir die werkers om in te slaap.

Waskomme en skottels het langs die huisies gelê. Toe ons by die laaste hek stop, het ek vir ’n ruk bly staan en na Ouma en Oupa se ou plaashuisie gestaar. Toe weer in haar kar geklim, my oë nat gehuil. Sy het nie eers gevra wat fout is nie.

Ek het besluit om vir eers niks oor Oupa te sê nie. My kop het bly tuimel. Ons het ’n entjie verder aanhou ry … tot voor die paleishuis.

Met die instap het ek dadelik besef hoekom Danie my nooit na sy huis toe wou nooi nie.

Oregon-houtvloere, lig en rooskleurig. Okkerneutmeubels. Ingewikkelde houtwerk. Die reuk van houtpolitoer het by my neus ingekruip. Alles blinkgevryf. Die styl warm, die kleure tog koud.

Daar was geen tekort aan duursaamheid en sjarme nie. ’n Skrille teenstelling met waar ek vandaan kom … Die kontras het my dadelik laat dink aan ons ryk landskap en die arm bevolking.

Oupa en Ouma se gesprekke lê soos boeke in my kop. Hoe ouer ek word, hoe meer maak

hulle gesprekke sin. Al lê hulle al twee nou ses meter onder die grond …

“Geld sal nie al jou probleme oplos nie,” het Oupa vir Ouma gesê. “Dit sal negentig persent van ons blerrie probleme oplos. Dis beter om in ’n Ferrari te sit en huil as in ’n matjieshuisie,” het Ouma teruggehap.

“Gaan bly tog net by Johan. As jy dink sy geld kan jou gelukkig maak, moet jy maar gaan.

Die Here weet ek kan nie meer elke dag na jou verwyte en gekla luister nie,” het Oupa moeg gesê. Hy was moeg geluister na Ouma se gekerm. Ek was ook moeg daarvoor.

In Klaskat se huis het ek gewonder wat Ouma van dié grêndgeit sou sê. Die langhaarmatte was vir my mooi. Vandag weet ek mens noem dit klassieke Persiese matte. Klaskat het ’n ongesonde obsessie met mooi matte gehad.

’n Sisalmat in die ingangsportaal, ’n akrielmat in die kombuis, ’n polipropileenmat in die gang en ’n wolmat voor die vuurherd. Dié name het ek eers later leer ken. My ma het niks van matte geweet nie. Die naaste wat ons aan ’n mat gekom het, was die ou handdoek voor die wasbak in die kombuis.

Klaskat se rykdom en sjarme het my betower. Maar sy het my gewalg. Die wete dat Danie se familie my Oupa vir ’n fool gevat het, het my tot in my siel bly vreet. Ek het kwaad, maar stil op haar bank gesit.

Dit was Augustusmaand. Die waarheenwinde het om die huis gehuil. Om en om … Wanneer waarheenwinde waai, draai my kop.

Sy het oorkant my kom sit. Klaskat het lank na my gekyk en toe begin praat. Sy het snaaks gepraat. Haar woorde mos gekou en dan haar mond getrek, amper soos ’n perd se bek.

Sy was nie regtig mooi nie, maar het geskitter met haar diamantoorbelle en -ringe. Haar naels lank en rooi. Haar oë het my banggemaak. Nadat sy vir ’n rukkie na my gestaar het, het sy kliphard aan my siel begin ruk … my begin plat druk.

“Hoe ver is jy?” het sy ongeskik gevra. “Ek weet nie presies nie, Tannie, ek skat so 50

kilometer van hier,” het ek geantwoord en gewonder waarom sy dit nou wou weet. “Nee, hoeveel maande is jy dragtig?” het sy gevra. Haar stem was soos donderweer.

Ek het gevries. Ek was so koud soos die blou in haar oë. Die braaksel het in my keel opgestoot. My binnegoed het geknoop. Ek het verstik. “Drie maande,” het ek koponderstebo gefluister.

Ek het nie besef dat sy reeds weet nie. Ek het dan vir niemand vertel nie. Dit was dan wragtig net ek en die suster van die apteek wat weet. Eers later het ek besef dat Klaskat en die einste hoogheilige suster, katte van dieselfde ma is. “Jy wys dan nie eers nie,” het sy mislik gesê.

Ek was stil. Daardie dag het my ingesluk en nooit weer uitgespoeg nie. Klaskat het my menswees verwoes, my oopgeskeur soos ’n maagd … soos ’n openbaring se kraak. Die fancy auntie, my kamstige heldin, was toe al die tyd ’n draak.

Raulene, die huishulp, het versigtig ingeloop. “Goeie middag, kan ek vir jou iets bring om te drink?” het sy met ’n vriendelike glimlag gevra. “Water, asseblief,” het ek gevra. Sy het die goue skinkbord met die enkele antieke koppie voor madam Klaskat neergesit.

“Is jy seker jy wil water hê en nie tee nie?” het Klaskat gevra. Die wilde kyk was steeds in haar oë. “Nee, dankie, water is reg,” het ek geantwoord. “Dis seker al wat jy ken … al wat julle myners kan bekostig,” het sy bitsig gehap.

“Ons is nie myners nie. My ma het ’n kêffie op die dorp en my pa het by De Beers gewerk,”

het ek teruggekap. “Die delwers en die myners van die kopermyn is presies dieselfde klas mense. Nie ons klas mense nie,” het sy voortgegaan.

“Danie is ’n slim kind. My kind het ’n blink toekoms. Ek kan nie toelaat dat jy alles kom opneuk nie,” was haar woorde. Haar oë het swaarder as haar woorde geweeg. Haar oë was 80

donker … so donker dat ek nie mooi kon sien waar die bruin eindig en die wit begin nie. Ek het net stilgebly.

“Wat sê jou ma?” wou sy weet. “Sy weet nog nie,” het ek net gesê. Maar sy sou tien teen een vir my ’n breinaald gee … die kleintjie wou afbring. Die gedagte maak my naar. Vandat Ma met daardie regte myner getrou het, is sy mislik en die meeste van die tyd dronk. Ek wou haar nie vertel nie.

“Ek wil jou graag ’n aanbod maak. Indien jy nie my aanbod aanvaar nie, sal Danie nie volgende jaar kan gaan leer nie. Hy sal op Sandveld gaan werk. Soos jou myner-pa. Hy sal nooit beter wees nie. Hy sal net soos jy en jou ouers wees.” Klaskat se oë was kwaad.

In my lewe was ek nog nooit so verneder soos op daardie dag nie. “Ek dink my kind verdien beter as dit. En as jy regtig lief is vir hom, sal jy my aanbod aanvaar,” het sy die woorde uitgespel. As ek regtig lief is vir hom? Natuurlik is ek lief vir hom!

“Wat is dit?” het ek onseker gevra. “Jy sê vir Danie dat jy swanger is, maar dat dit nie sy kind is nie. Jy sê vir hom dat jy hom nie meer liefhet nie. Dan kom bly jy en die baba hier nadat hy vir universiteit vertrek het,” praat sy vinnig.

“Ek sal die woonstel in die agterplaas vir jou en die kleintjie regkry. Maar jy mag nooit weer kontak met my seun maak nie.” Klaskat se woorde was nie net woorde nie, dit was ’n bose kontrak.

Ouma Katryn se swaar gordyne het oor my toegetrek. Die liefde self was ’n vloek. My pad was ewe skielik ’n alleenpad. Opgefrommel soos briefie-liefde. Dit was ’n seerlooppad – ’n doodlooppad wat vir my gewag het.

Ek het haar aanbod aanvaar. Ter wille van my baba. Onder die volgende donkermaan op trok 709 het Danie Donderdaan my die laaste keer syne gemaak. My laaste kaal dwaal, stil en stout. Ek was nog nooit so dors soos daardie aand nie.

Ons asems was wasems teen die koue lug. Ek wou nie ophou drink nie. Ek kon nie ophou dink aan wat ek moes doen nie … wat Klaskat van my verwag nie. Sy lyf was my

hartseerwyn. ’n Oomblik. ’n Waarheid wat in ’n leuen moes verdwyn.

Ek het gehuil. “Wat’s fout, Meisiekind?” het hy saggies gevra. Ek kon nie praat nie. Ek het net hartseer in sy oë gestaar. “Het ek iets verkeerd gedoen?” het hy onseker gevra. “Nee, jy doen alles reg,” het ek gehuil. “Dis ek, ek is … ” “Wat is jy?” het hy met ’n frons gevra.

Hy was bang. Hy kon voel my lyf wou nie saamwerk nie … nie die oomblik regtig geniet nie.

“Het jou stiefpa weer moeilikheid gemaak? Ek kan nie wag om jou vir ewig myne te maak nie. Ek wil jou net uit hierdie shithole red. Jy is soveel beter as hierdie plek,” het hy gesê.

“Nee, Danie. Ek is net so sleg soos hierdie plek,” het ek gehuil. “Hoe kan jy dit sê? Wat is fout met jou, Helena?” het hy dringend gevra. “Danie, ek is so jammer. Ek is swanger,” het ek sag gesê. Danie het geskrik, maar dan onseker geglimlag.

“Dis oukei. Ons gaan mos in elk geval trou … ek en jy,” het hy gesê. “Nee, jy verstaan nie.

Dis nie jou kind nie,” het ek die seer gelieg. ’n Stilte het Danie oorval. “Jy is reg, ek verstaan nie,” het hy rou begin snik.

Sy oë was op skrefies, asof hy probeer sin maak van die oomblik. Ek het vir Danie nog nooit so deurmekaar gesien nie. Hy het opgespring, sy broek aangetrek en my rokkie na my kant toe gegooi.

“Jy is dan myne. Ons is dan vir ewig,” het hy verward gepraat. “Niks is vir ewig nie, Danie.

Net die dood is vir ewig,” het die sinisme van Oupa se wyshede weer binne my lewendig begin word.

“Hoekom, Helena? Hoekom?” het hy begin skree. “Ek is nie meer lief vir jou nie.” Dit was die enigste leuen wat my nie beter laat voel het nie. Die seerste leuen ooit.

Danie het twee maande later universiteit toe vertrek, Stellenbosch toe. Daar waar die studente baljaar. Ek wou nie daaraan dink nie. Hy was ’n mooi man, my man. Maar hy het sy hele toekoms voor hom gehad. ’n Blink toekoms. Een wat hy verdien het.

Jess verdien ook wragtig beter, dink ek terwyl ek na my beeldskone dogter op die hospitaalbed kyk.

“Mevrou, besoektyd is eers weer vieruur,” sê die suster. Ek sien hoe die mense een vir een die saal verlaat. Ek soen Jess saggies op haar voorkop en loop sleepvoet uit.

’n Blombedding pietsnot staan dofgeel by die uitgang van die hospitaal. Ek het nog altyd gewonder hoe hulle dié naam vir ’n blom gekry het. ’n Blom is mos ’n mooi ding. Iemand praat eerder pietsnot as hulle nonsens in jou kop wil praat.

Soos Shandy pietsnot in my kop gepraat het toe sy vertel het hoe wonderlik auntie Vlooi is.

Dalk het sy my getoor? Ek wens Oupa was nou hier – om al die duiwels uit my lewe te bid. Ek bid nie regtig nie.

My Nissantjie ry nie winkel toe soos hy moet nie, hy ry reguit Fonteintjie toe. Daai auntie gaan moet regmaak. Ek is besig om van my kop af te raak, veral ná gisteraand se besoek van Pietertjie se spook.

Ek ry verby rooivyebos en rotsbarste wat nou eers Maartblom en bokhoring stoot. ’n Klomp Nama-vroutjies loop al geselsend en vrolik in Vlooi se straat, met kleurvolle lang rokke en elkeen met die bekende sonbestande Nama-hoed.

Ek draai stadig in by Vlooi se laslappiehuis se grond. My wiele gly in die sand. Ek skop my skoene sommer reeds in die kar uit. “Hallo! Vlooi!” roep ek by die veiligheidsdeur in. Ek hoor haar voete sleperig aankom.

“Haai, Helena,” soek sy na die sleutels. “Jy het my getoor!” Ek kan dit nie meer inhou nie.

Vlooi se hemelblou oë verander in donker diep poele vol geheime. “Wat het jy in daardie konkoksie gegooi?” vra ek terwyl sy bewerig sukkel om die sleutel in die sleutelgat te druk.

“Vervlaks!” gooi Vlooi die sleutel neer. Sy gryp met al twee hande aan die veiligheidsdeur se tralies. Vir ’n oomblik lyk sy soos ’n gevangene. “Jy drink elke dag jou eie konkoksie van vrees en haat. Jy moet jouself uitsorteer.

Ek weet nie wat Shandy jou loop vertel het van my nie, maar ek is geen heks se kind nie!” sê Vlooi in ’n boosaardige stem.

“Ek sien spoke. Hulle praat met my, vertel vir my stories en bring vir my boodskappe. En dit alles nadat ek jou kom sien het! Dit voel asof ek mal word,” huil ek. Ek sak neer voor Vlooi se hek en huil myself tot in ’n pikstikdonker plek.

Vlooi tel die sleutels op en gee dit bewerig deur die tralies vir my aan. Ons oë ontmoet. Ons staar soos gevangenes uit ons eie wêrelde vir mekaar. Dan versag Vlooi se oë … Haar oë probeer my iets vertel – my waarsku.

Ek sluit haar veiligheidsdeur oop. ’n Deur binne-in my skuif stadig oop. Die donker het my gekry. Of het ek die donker gekry? Dit voel of alles om my begin draai soos nog deure binne in my oopmaak. ’n Wit flits skyn tot in my hart.

Vlooi is nie ’n heks nie, Vlooi is ’n heks. Ek is nie mal nie, ek is mal. Die sand brand my voete. My lyf raak yskoud. Beelde begin deur my kop hardloop. Dit brand my oë, dit breek my hart.

Danie kyk vir my. Sy oë sonder terg, net seer … Dis ’n maan, ’n afkopman … Pieter se kokerboom … Jess se omgedopte oë … Kind 33 probeer deur die hoop lyke stoei … Danie

pluk ’n blinksoet bottergousblom. My klere is vol stuifmeel, oranje gevlek … Die skape lê dood … Oupa roep die wolkies nader en hou wag oor hulle … Klaskat se hare verander in slange … Die sirkus se liggies raak al hoe dowwer op die platteland … ’n Jong Danie lê saam met sy verloofde op die gras in die agterplaas. Hulle soen onder die maan. Sy lê op sy bors en hy hou haar styf teen hom vas … Ek en baba Jess mag nie die kamer verlaat nie. Jess lê styf teen my bors …

My gedagtes begin by jou en eindig weer by jou, Danie. Elke. Blerrie. Keer. My gedagtes vlieg terug na plekke waarheen ek nie wil gaan nie.

Ek hoor vlerke wat klap, Pietertjie se geneurie, Klaskat se stem: “Danie kom die naweek huis toe. Hy bring ’n meisie saam. Ek sal vir jou en die baba genoeg kos gee om die hele naweek in die kamer te bly. Julle kom nie uit daardie kamer nie! Hoor jy my?”

Dit was my uitklophou. Danie se lyf langs die pragtige blonde meisie. Die droogte het Namakwaland gevang. Die lewe het my gevang. Niks het verander nie. Nie die weerpatrone nie. Nie die sterwende diere nie. Niks.

Niemand was daar vir my nie. Behalwe Jess. Met Danie se tergende ogies het sy na my

gekyk. Vir haar het ek aangehou en aangehou. Vir haar sal ek steeds aanhou. Ek het Danie van die vloek gered. Ek kan vir Jess ook red.

Ek was regtig lief vir Danie. So lief dat ek hom ’n lewe gegun het wat ek myself nooit gegun het nie. Nog nooit het ek so alleen soos nou gevoel nie. Die gedagte dat Jess my sou verlaat vir die ewigheid, is die seerste seer.

Dit voel nie soos my lewe nie. Is dit waarvoor God my gemaak het? Om seer te kry? Ek mis nie my ou lewe nie. Ek mis die drome wat ek gehad het. Ek treur oor my drome en nie oor wat was nie.

Is dit dan hoe die liefde is? Net ’n droom? Jy gee daardie persoon jou alles. Jy gee tot jou eie drome op. Om Danie te red, moes ek myself verloor. Nou soek ek antwoorde op donker

plekke.

Ek onderdruk Oupa se woorde. Oupa se woorde raas in my kop. Sy woorde jaag my en probeer my vang … probeer my keer. Die donker wil my insluk. Die donker wil my iets lee… Oupa het altyd Bybel gelees. “Hoekom lees Oupa so baie Bybel?” het ek met groot onskuldige ogies gevra.

“Die vernaamste raaisel in hierdie lewe is die lewe self, Helenatjie-kind. Die geheim is in die Bybel opgeteken. Die Bybel is ’n legkaart. Duisende stukkies wat saamgevoeg moet word.

Eers dán word die prentjie helder. Verstaan my kind nou hoekom ek so baie Bybel lees?” het Oupa gevra.

Ek het geknik, sonder om regtig te verstaan wat Oupa gesê het. “Oupa, is daar goeters soos hekse?” het ek hom een middag gevra. Oupa het nie geantwoord nie, net aangehou hout kap.

Vandag weet ek steeds nie wat die antwoord is nie. Ek weet steeds nie wat Vlooi is nie. Dit word pikdonker om my …