HOOFSTUK 6

Die sementbankie onder my boude is koud. Buite die hospitaal sit ek steeds en wag. Jess slaap ’n diep slaap. Vir die eerste keer in twee jaar steek ek weer ’n sigaret aan. Die rook brand my oë. Ek trek dit diep in my longe in. Die hoes breek los in my.

’n Ouerige bruin vrou kom sit langs my op die sementbankie. Ek hoop nie sy is een van daai oumense wat ’n mens uitvra oor jou lewe nie. “Die dokter het gesê ek gaan my gat sien as ek aanhou rook,” sê die ou vroutjie. Ek hoes steeds.

“Jy kan nie so aanhou blaf nie, nonnatjie. Toe, vat hier, drink,” gee sy haar waterbottel vir my. Ek neem die waterbottel. Skepties, maar dankbaar. “Moenie worry nie. Ek is nie HIV

positive nie,” sê die vroutjie.

Ek vat ’n groot sluk. “Dankie, en jy kan nie die virus optel deur uit dieselfde bottel te drink nie,” verduidelik ek vir haar.

“’n Mens weet nooit. Dalk jok die dokters vir ons. Jy weet die wêreld is oorbevolk en ons het lanklaas oorlog gehad. Hulle moet die mense op ’n manier minder maak. Hier is horde mense hier wat HIV positive is. Hulle loop die wêreld en verpes. Hulle is ’n lopende ramp,” sê die tannie.

Ek knik maar net, asof ek saamstem. Die laaste ding wat ek nou nodig het, is bekommernisse oor sekssiektes. Noudat ek daaraan dink … ek wonder of Hano en Jess ooit iets gebruik het.

Die vroutjie hou aan babbel, my gedagtes hou aan borrel. Hier en daar vang ek ’n sin. Die auntie is verseker uitgehonger vir geselskap. Dalk is sy familie van auntie Koekie, maar sy was nie nou die aand by die party nie. Ek sou haar gesig onthou het. Dalk ook nie.

“Ná drie maande kan ek weer vanaand in my eie bed slaap. Dis nou vir my so lekker om te weet ek gaan huis toe,” sê die vroutjie opgewonde. Haar oë glinster sommer. “Dis goed. Drie maande is baie lank,” probeer ek die gesprek kortknip. Ek is nie lus vir praat nie.

“Ek hou van die dokters. Hulle maak jou lewe weer reg. Soos Liewe Jesus,” begin sy preek.

Agge nee, ek sien nie nou kans vir Jesuspraatjies nie. Nie nou nie. “Liewe Jesus het dan nog nie my lewe reggemaak nie,” sê ek tog.

“Dalk is dit omdat jy ook self probeer. Ek het eers self probeer. Lank my voorskrif oordryf.

Sommer vier pille gesluk. Maar ’n mens kan nie so baie pille en poeiers eet nie. Dit voel later soos vuur in jou maag,” verduidelik sy en vryf oor haar maag.

“Hoekom het Tannie so baie pyn gehad?” vra ek. “Dit was my rug. ’n Rugwerwelprobleem.

My rug wou sommer uitspring of iets,” sê sy. “Is dit darem nou beter?” vra ek. Ek geniet die vroutjie se beskrywings. Haar storie van pyn help my so ’n bietjie vergeet van my eie pyn.

Maar mý pyn kom uit my hart …

“Ag, nonnatjie, dis beter. Dit was darem nie een van daardie fifty-fifty chance operasies nie.

Die dokter het ’n goeie job gedoen. Dis nou maar net my blaasgoed wat so ’n bietjie

skeeftrek. En my stert raak seer as ek goed moet optel,” sê sy effens moedeloos.

“Hoe oud is Tannie dan?” wil ek weet. “Te oud om te onthou hoe oud ek is,” lag sy. “Hier kom my lift.” Die vroutjie staan sukkel-sukkel, maar baie gretig op. Ek dra haar tassie vir haar tot by die geroeste Volkswagen.

“Totsiens, nonnatjie,” roep sy. Ek waai vir haar. Dankbaar sy’t net oor haarself gepraat.

Dankbaar vir haar lift. Sy sal ’n mens sommer deurmekaar praat. Ek het ook pyn, maar ek praat eerder nie met ander daaroor nie.

Die pyn bly in elk geval myne, al praat ek met ander daaroor. My pyn is my eie skuld. My ma het my gewaarsku. Maar die liefde maak jou nie net blind nie, dit maak jou doof ook. “Die mannetjie gaan net jou hart breek, Helena. Ons beweeg nie in hulle kringe nie.”

Pa sou seker dieselfde gesê het. Maar hy het geen sê gehad nie. Hy was reeds onder die grond toe ek vir Danie ontmoet het.

Voordat ek besef het die liefde is ’n donkermaan-besigheid, wou ek nie hoor of sien nie, net voel. Ek wou Danie se liefde voel. Al het dit beteken dat ek hom moes toelaat om met sy lyf te sê wat woorde nooit kon sê nie.

Ek was so lief vir Danie. Jess het uit ons liefde gekom. Daardie nag op trok 709 het ons hartstogtelik liefde gemaak terwyl die water op die treintrok se dak geraas het.

Vir die eerste keer in ’n baie lang tyd het dit weer water gereën, nie net donkerte nie.

Hemelwater. “As die reëns geval het, het die nuwe lewe ook gekom,” het Oupa altyd gesê.

En hy was reg. Oupa was altyd reg.

Die melkbos, die knolbos en die stemokriet het begin uitloop. Plate fyn blommetjies het die wêreld in reënboogkleure geverf. Tot die varkblomme het geblom. Maar daar was ook nuwe lewe in my. Ek was meer lief as ooit.

Ek kon nie wag om ná skool saam met Danie stad toe te gaan nie. Maar dit was net ’n droom, want nege maande later het Jess se lyfie snoesig teen my bors gelê.

My liefde vir Jess is anders as my liefde vir Danie. Dis ’n liefde wat jou mal maak. ’n Liefde wat jou in konstante bekommernis dompel. Dis nagte se wakker lê en wonder …

Ek wil net die beste vir haar hê. En Hanco, Hano, ag, wat ook al sy naam is, is nie goed vir haar nie. Ek weet mos.

Ag nee, vader, help my. Auntie Koekie se lyf kom haastig aangestap. Ek is nie nou lus vir haar nie. Sy het ’n piekniekmandjie by haar. “Aai, my kind,” is al wat sy sê.

“Haai Auntie. Hoe gaan dit by die winkel?” vra ek. “Moet jy nie worry nie. Alles by die winkel is honky dory. Hoe gaan dit met Jess?” vra sy. “Ek weet nie regtig nie. Die dokter sê sy moet vandag begin om self asem te haal. Sy het nie breinskade nie,” sê ek.

“Prys die Here. Nou vir wat vang sy sulke nonsens aan?” vra sy. “Ag, Auntie, ek is nie lus vir praat nie.” Die auntie maak die mandjie oop. Sy haal ’n lappieskombers uit en gooi dit oor my bene. Dan druk sy ’n warmwatersak op my skoot. “Vir jou koue hande, kind,” verduidelik sy.

Sy haal ’n fles met boeretroos uit en gooi vir ons elkeen ’n plastiekbekertjie vol. “Jy weet, Helena, as ek jou sien, sien ek vir kind 33 van kinderlê,” sug auntie Koekie. “Watse goed?” vra ek.

“Aai, nee, Helena. Ken jy dan nie kinderlê se storie nie?” vra sy. “Twee-en-dertig Nama-kindertjies is vermoor terwyl die oumense kerkgehou het. Maar die drie-en-dertigste kind het alles gesien. Beleef hoe die ander kindertjies se koppies een vir een oopgekap word. Hy’t toe flou geval.”

“Sjoe, Auntie, dis verskriklik. Maar hoekom?” wil ek weet. “Die Boesmans wou wraak neem.

Hulle het die kindertjies aan die hande en pootjies gevat. Hulle het hulle koppies teen die bankie gestamp tot die koppie oopgebars het en die harsinkies op die grond gelê het.

“Toe die drie-en-dertigste kindjie flou val, gooi die Boesmans al die lyke bo-op hom. Dit was verskriklik, maar hy het dit oorleef. Nadat die Boesmans die pad gevat het, het die kind na die kerk gehardloop en vir die oumense gaan wys wat gebeur het.”

Ek word naar terwyl ek na auntie Koekie se vertelling luister. “Nou hoekom laat ek Auntie aan daardie kind dink?” wil ek weet. “Want jy het al te veel lelike goeters gesien en beleef, maar jy leef steeds. Jy hou net aan en aan,” antwoord sy.

Die trane begin oor my wange rol. Ek kan dit nie stop nie. “Ek wil net by my kind wees, maar ek mag nie,” snik ek. “Dis beter so. Onthou, sy moet nou gesond word. Sy gaan nie gesond word as jy daar langs haar bed sit en huil nie,” sê auntie Koekie.

“Ek verstaan nie hoekom sy dit gedoen het nie. Hoekom praat sy nie meer met my nie? Ek en sy was dan nog altyd ’n team. Nou groei sy weg van my af,” verduidelik ek in trane.

“Die kinders word groot, Helena. Jess is al ’n groot meisie. Toe jy haar ouderdom was, het jou maag al ver gestaan,” herinner sy my wragtig. Ek kyk elke vyf minute angstig na my 55

horlosie. “Hoe laat kan jy weer ingaan?” vra auntie Koekie. “Eers vieruur, Auntie,” antwoord ek.

My gedagtes spring weer terug na die twee hopies sand langs my bed. “Auntie, my droom het my gewaarsku. Ouma Katryn en oupa Pyp het gisteraand op my bed kom sit en my vertel van die afkopman wat op die verkeerde plek was,” begin ek vertel.

“Dalk was ek ook op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Dalk moes ek net geklop het.

Ek moes nie in daardie kamer ingegaan het nie. Ek moes my kind nie so saam met ’n seun gesien het nie.” Vir die eerste keer sê auntie Koekie niks, juis noudat ek wil hê sy moet iets sê.

“Auntie, ek is bang,” sê ek. Sy sit haar arm om my. Ek lê my kop neer op haar skouer en laat myself toe om te huil totdat ek nie meer kan nie. Vir ’n oomblik voel dit asof auntie Koekie my soos ’n moeder met haar liefde omvou.

Haar warmwatersak lê strelend op my koue hande. Onder haar kombersie kruip my bene weg vir die wind. Ek maak my oë toe. Vir ’n oomblik voel ek veilig.

“Huil maar, my kind. Jy is net lief vir daardie meisiekind. Dis ’n liefde wat nie kan verander of beëindig word nie. Dis soos die lug wat ons inasem,” sê auntie Koekie en vryf oor my rug.

“Gister was sy nog my sorgelose kind,” sê ek en dink aan Jess se gister-oë, haar helder onskuld in haar bloed en maagdelikheid.

Vandag is sy deel van die bitter mensdom. Sy gaan nooit weer die mens van gister wees nie.

Dan bestaan daar niks meer as dit nie. Selfs die Bybel sê hartstog is magtiger as die doderyk.

Strome water kan die liefde nie blus nie. Riviere kan dit nie afkoel nie. Dit omsluit die liggaam, die gees, die lewe … jou hele ganse wese. As sy net weet daar is soveel meer in die lewe as liefde.

Danie het my van dié tipe liefde geleer … van hartstog. Hartstog is wild, bang en hartseer.

Hartstog is ’n kop wat in kussings gedruk word en snik. Hartstog is onbestendig. Hartstog is die maanlig wat op twee lywe speel.

Danie se ouers was die naweek weg, maar hy’t steeds huis toe gekom – steeds na my toe gekom. Terwyl Ma en Myner dronk baklei het, het ek uitgeglip.

Die stormwind … fluitend tussen die wiele van die treinwaens en om die hoeke van trok 709.

Ons lywe het op die ritme van die storm beweeg. Een oomblik het die storm bedaar. Dan het Danie my saggies in my nek en oor my borste gesoen … net om die volgende oomblik weer beheer te verloor het.

’n Wind het teen die ysters op die stasie gehamer, geruk-ruk aan die trok. Ek het die vars reuk van die reën diep ingeasem. Danie het sy hand voor my mond gesit terwyl ek die storm binne my nie meer stil kon maak nie.

Ek het my lyf uitgestrek. Ek was soos die Magriet-blom wat haarself wawyd oopgemaak het met die koms van die nag. Só is die hartstog … een lyf word ’n ons lyf. Ons voel dit soos ons die warmte van die bloed voel.

“Sjoe, Helena, jy is warm,” maak auntie Koekie my wakker. Ek voel haar skerp skouerbeen steeds onder my kop. Ek skrik wakker. “Hoe laat is dit?” vra ek deurmekaar. “Dis amper tyd.

Wat droom jy so lekker op my skouer?” vra auntie Koekie.

“Nee, niks, Auntie. Ek is net so moeg,” sê ek selfbewus. “Jy moenie so in jou slaap praat nie, jy gaan al jou geheime verklap,” spot sy. Ek kyk skaam af. “Dankie dat Auntie uithelp by die winkel. Ek sal môre bietjie daar kom inloer.

“Moet jy nou oor niks worry nie. Jou kind het jou nodig en die winkel is fine,” stel sy my gerus. Auntie Koekie se teenwoordigheid was vandag vir my ’n diep vertroosting. Dis ’n rustigheid wat my eie ma nooit in my gemoed kon saai nie.

Vir haar was ek bang. Vir Myner nog banger. “Helena, dis jou nuwe pappa,” het Ma gesê.

“Wat?” Ek was geskok. “Hy gaan hier by ons kom bly en jy kan hom maar pappa noem,” het Ma in gister se blik gesê.

“Hy sal nooit my pa wees nie, en ek nog minder sy kind!” het ek uitgeroep. My oë het gebrand. Myner het tot in my siel gestaar – bitter min met my gepraat. Net gekyk en gesug.

“Los die kind,” het Piet van Staden gesê – die myner wat overtime gewerk het om my laaste bietjie hoop uit te grou. Die myner wat ná twee maande se gekuier, by ons kom intrek het.

Die myner met die een liter brandewyn, twee liter Coke en drie liter Ford.

Pa was dan nog nie eers behoorlik weg nie. Pa se reuk het nog in die huis gehang. Sy overalls was nog in die opvoumandjie, sy glimlag nog in die fotoraam teen die muur langs die

gehekelde kruis. Sy voetkombersie was nog langs die gehekelde doilies op die bank.

Ma se huis was vol gehekelde goeters. Gehekelde katjies wat boos met glasoë na my staar.

Ma was so befoeterd soos ’n Augustuswind. Haar rus op haar gebalde vuis het skielik verdwyn.

Sy het opgespring, haar ingevoude rokspante tussen haar bene platgevryf. Haar mondplooie mislik en rou in my gesig gevou. Haar hand het deur my gesig gebrand. “Ek is jou ma en jy doen wat ek vir jou sê! Hoor jy my?” het sy dronk gesê.

Ek het geknik en uitgehardloop, neergesak onder die boog wasgoed aan die draad onder die rof van die lewe. In die stof van die verlede.

Ma moes nooit so gou deurmekaar geraak het met hierdie man nie. Drie weke later is Pieter Dolf Jan deur nog ’n befoeterde vrou met skrefiesoë voor ons huis afgelaai. Ek het die wasgoed afgehaal. Daar was groot straatmoles!

Myner was kwaad. Hy wou die kind nie gehad het nie. Pieter Dolf Jan was net tien jaar oud.

Maer en bleek. Sy dun haartjies het in sy hartseer ogies gehang. Hy het net bly staan terwyl sy ma weggery het. Ma en Myner het in die kombuis baklei.

“Hallo, ek is Helena. Wat is jou naam?” het ek gevra met die wasgoedmandjie op my heup.

Die verwarde kind het net vir my gekyk. “Oukei … is Piet jou pa?” het ek gewaag. Hy het sy vingertjie na die wolke toe gewys.

Ek het nie verstaan nie, totdat ek op ’n later tyd ’n prentjie van hom en ’n man op die wolke gesien het. “Jesus is my pappa,” het hy bo die prentjie geskryf. Dit het my hart gebreek. Ek het hom sommer Pietertjie genoem.

Hy was nie dom nie, maar daar was tog iets fout met sy kop. Hy kon nooit in woorde praat nie, wel in prente. Hy het die mooiste stories in prentjies vertel, altyd met ’n kokerboom in die agtergrond. Die kokerboom in sy agterkop.

Pieter Dolf Jan wou saam met die drome aan die kokerbome hang … totdat sy pappa in die wolke hom kom haal.

Jess … my Jess wou ook weggaan. My Jess is al wat ek het, dink ek terwyl ek in die

hospitaalgang afstap. Jess lê steeds en slaap. Ek vryf oor my arms, asof ek koud kry.

Die mense in die waakeenheid word aan die lewe gehou met pype en goeters in hulle neus.

Die doodsengel kom maak gereeld ’n draai in hierdie saal. Hy mag dit nie waag om op Jess se bed te kom sit nie.

In die hoek huil ’n jong vroutjie langs bed nommer drie. Die suster gooi die laken oor die lyk.

Twee mans stoot die lykbed uit. Almal kyk. Die vrou bly wanhopig haar onderlip suig. Ek raak yskoud. Vryf dan oor Jess se voorkop. Jess is warm. Sy voel lewendig. Haar kleur lyk effens beter as gister. As sy net kan wakker word.

Monitors raas, my gedagtes raas meer. Iemand roggel en hoes. Jess se masker druk styf teen haar gesig. Haar neusvel is rooi gedruk. ’n Vriendelike suster groet en haal dan die groot omblaaivelle uit. Sy loer oor haar bril na die monitor en skryf … en skryf … en skryf.

“Wat is fout? Wat skryf Suster?” vra ek angstig. Die suster stoot haar bril op, skryf nog iets en glimlag dan vir my. “Haar asemhaling lyk goed, Mevrou. Haar bloeddruk ook. Ons behoort vandag die suurstof te verminder. Dokter wou eintlik gister al,” antwoord sy.

Jess se oë probeer weer oopgaan, maar val dan weer toe. “Jess, jy moet wakker word. Ek het jou nodig,” begin ek huil. “Mevrou gaan haar ontstel. Sy kan jou hoor,” sê die suster half ongeduldig.

Ek vee die trane oor my gesig. “Maar wanneer gaan sy wakker word?” wil ek weet. Dis onmoontlik om nie angstig te bly wonder nie. Die bokkop-gesig dokter kom ingeloop.

“Dagsê, Mevrou. Jess doen baie goed. Haar bloeddruk en asemhaling lyk sommer baie beter as gister,” sê hy. “Ag, kan ek asseblief hier langs my kind se bed bly, asseblief Dokter?” vra ek.

“Jou dogter moet nou net rus. Niemand word buite besoekure in die waakeenheid toegelaat nie.” Die kalmte in die dokter se stem help nie. Trane van hulpeloosheid begin weer agter my ooglede brand. Die dokter maak weer ’n paar notas. Dan trek hy haar ooglede oop en lig beurtelings by haar omgedopte ogies in.

“Gaan rus ’n bietjie. Onthou, jy moet nou sterk bly ter wille van jou kind. Dis nou ’n lang pad vorentoe. Ons moet die wortel van die probleem vind,” sê die dokter sy woorde soos ’n vooraf geoefende rympie. “Mamma het jou liewer as die lewe self, Jess,” groet ek en soen haar saggies langs die masker.

In my kar draai ek die sluise oop. Ek huil dat my gesig skeef trek … dat my binnegoed ruk.

Ek forseer my kar in eerste rat en neem die sandpad na die kokerboomwoud.

Die alleenlewende bome staar eensaam na die son. Die blare is tipies van ’n vetplant. Vlesig en sag, maar die klein geelbruin tandjies op die blaarrande waarsku ’n mens teen die oneerlikheid van die lewe se sagter kant.

Pietertjie se boom dra heldergeel blomme. Ek sien steeds sy maer lyfie in die wind hang –

wind se lint om sy slap nekkie en mense wat teen die rotsagtige hange afgehardloop kom.

“Dis te laat, dis te laat!” Pietertjie is by sy pappa tussen die wolke. Dis waar hy wou wees.

Vandag wonder ek steeds hoekom Pietertjie die vrugbaarste boom gekies het om homself aan op te hang. Die ander kokerbome het suurlemoengeel blomritse, maar Pietertjie se boom dra kanariegeel blomme en vrugte wat soos kapsules hang.

Geel was nooit weer vir my mooi nie, maak nie saak of dit lemoengeel, groengeel of

kanariegeel was nie. Geel is die kleur van Pietertjie se stil geskree. Dis die kleur van begrafnisblomme en hartstogtelike verlange.

Ek neem my sitplek langs ’n donker gleuf tussen twee rotse in. Die rotse is warm onder my vingerpunte. Ek skrik. Dassies hardloop daar uit soos miere uit ’n miernes. Ek skree myself terug na die verlede.

Ma en Myner baklei. “Wat is fout met die kind?” het Ma gevra. “Pieter Dolf Jan is maar anders as ander kinders,” het Myner gesê. “Jy moet hom terugvat na sy ma. Die dorp praat en wil weet wie se vertraagde kind dit is,” het Ma geskel.

Pietertjie het in sy kamer gesit en teken. Elke woord van verwerping het hom laat dink. “Dis genoeg!” het ek dit gewaag. Maar Ma se seermaakwoorde was klaar gehoor. “Ek sal na

Pietertjie kyk. Ek kry nie skaam vir hom nie,” het ek gesê.

“Helena, jy beter jou mond hou. Hierdie is ’n gesprek vir grootmense. Kinders moet gesien word en nie gehoor word nie,” het Ma gesê. Haar oë was boser as die skadu’s onder die klowe.

“Hy kan dalk nie praat nie, maar hy kan elke woord hoor wat julle sê,” het ’n fontein van woede uit my oorgeborrel. “Loop! Vat jou goed. Uit my huis uit!” het Ma my soos ’n sleg hond weggejaag.

Ek het verby Pietertjie se kamer geloop. Die deur was oop, die kamer leeg. Sy laaste prentjie het eensaam op sy bed gelê. ’n Lyf wat hang aan ’n kokerboom. Ek het begin hardloop. My bloed was yskoud.

Danie het voor die winkel staan en wag. Hy was lief vir Pietertjie. Hy het altyd met groot verwondering na Pietertjie se prentjies gekyk. “Wat is fout, Meisiekind?” het Danie gevra.

“Daar is groot fout. Die grootmense gaan moet leer om hulle woorde te tel. Ek dink Pietertjie is na die bome,” het ek uitasem geantwoord. “Spring!” het Danie dringend gesê. Ek het agter op sy fiets gespring.

Die wind wou ons keer. Danie se trap was moeilik teen die bult op. Ek het afgespring en begin hardloop. Ons was te laat. Almal was te laat. Vergifnis, mooi woorde, aanvaarding –

alles te laat. Pietertjie was koud. Danie het terug dorp toe gejaag om hulp te kry.

“Kom! Kom!” het Danie vir Ma … vir Myner geroep. Sy stem het oor die klippe geklim.

Sweet het oor my wang tot in my nek gegly. My lyf het gesak. Ek het gesluk. Myner en Ma het geskree.

Pietertjie was die dom kind van die dorp. Pietertjie se ma wou hom nie meer hê nie. Ma het hom gevloek en vertraag genoem. Ek verstaan dat hy na sy pappa wou gaan. Ek verstaan.

Maar Jess … my kind. Ek het haar so lief. Ek sal my lewe vir haar gee. Ek verstaan nie hoekom sy dit gedoen het nie. Ons kon tog daaroor gepraat het …