HOOFSTUK 26

Ek hoor Jess nog voordat ek haar sien. Die klokkies op haar rok sing ’n liedjie saam met die windjie wat om die huis waai. Ek ruik die gras in die wind. Ek ruik Jess se sagte reukwater – soetryp.

Dis ’n reuk wat my laat verlang na my onskuld. Na die opwinding van ’n moontlikheid.

Sodra die moontlikheid ’n werklikheid word, verdwyn die opwinding … die onskuld. En die reuk van vars gras en reukwater verander in die reuk van musk – die nasmaak van hartstog.

Jess se skulpies-en-klokkies-rok lyk soos iets uit ’n feëverhaal. Auntie Koekie klap hande en wys vir Jess om in die rondte te draai. “Goeie werk, Auntie. Sus, jy lyk pragtig,” klap ek saam met auntie Koekie hande.

“Dankie, dis presies wat ek wou gehad het,” sê Jess en haar arms val om auntie Koekie se nek. “Jy gaan sowaar vanaand anders as die res lyk,” sê auntie Koekie.

Jess draai weer in die rondte en maak ’n elegante buiging voor ons. Haar hare is los en hang sag en natuurlik op haar skouers. Die kleur op haar lippies laat my aan perskes dink.

“Meisiekind, jy is sowaar ’n kunsstuk. Ek gaan kyk mos elke jaar na die meisies se rokke as hulle so aangeloop kom. En ek het wragtig nog nooit so ’n rok gesien nie. Al moet ek dit nou self sê,” sê auntie Koekie trots.

“Ons moet amper begin met die foto’s,” sê ek. Ek voel kinderlik opgewonde saam met my dogter. Ek het nooit ’n matriekafskeid gehad nie.

“Ek kan elke jaar die meisiekinders in ’n sekere klas indeel. En jy, Sussie, val nou wragtig nie in een van daardie klasse nie. Daar is altyd die koningin met haar Gert Johan Coetzee-rok.

Dan kry ’n mens die lemoene, daai arme bleeksiel-dogters wat net voor die matriekafskeid ’n paar skakerings donkerder probeer wees met daai aansprei-goeters. Maar dan lyk hulle eerder of hulle intiem met ’n sitrusvrug verkeer het. En die prinses met die vyf lae blink pofmateriaal en blommekrans op die kop. En dan die kaalgatkind met die stel vals naels wat sy by Clicks gekoop het en o, Here help my, daai ge-teasde hare,” sê auntie Koekie.

Ek en Jess lê soos ons lag vir auntie Koekie se beskrywings. Sy kom nie eers agter dat haar sêgoed so komieklik is nie. As die mense om haar begin lag, kyk sy net met ’n frons en geplooide mond ’n mens aan asof jý die mal een is.

“Watse tipe meisies is daar nog, Auntie?” moedig Jess haar aan. “Jong, laat ek dink … Die boeremeisie. Sy gaan daar opdaag met haar vellies en vadoekrok. En laat ek nou net nie vergeet van die satynsuster nie, altyd ’n cerise pienk of vieslike giggelgeel,” knip auntie Koekie oog vir my.

“Nou in watter klas is ek, Auntie?” vra Jess en tuit haar perske-mondjie soos ’n roosknoppie.

“Jy is in ’n klas van jou eie, my kind. Ek sal jou die magiese feëprinses van Vrolike Vinkie-vallei noem,” spot auntie Koekie.

Jess glimlag skaam. Die oomblik is kosbaar. Jess lyk so gelukkig en auntie Koekie is vol grappies. Daar is niks wat hierdie oomblik kan spoil nie. Ek wens ek kon oomblikke soos hierdie in ’n album bêre.

“Jess, Mamma het vir jou ’n briefie geskryf,” sê ek en gee vir haar die stukkie papier.

“Dankie, Mamma,” sê sy en gee my ’n soen op my wang. Sy vou die briefie oop. “Jy hoef dit nie nou te lees nie,” probeer ek keer. “Ek wil dit nou lees,” sê Jess met haar liefdevolle ogies.

“My liefste Jessie-baby. Vandag het jy ’n besondere mylpaal bereik. Ek kan nie glo dat jy al so groot is nie. Jou toekoms lê voor jou en hiervandaan gaan jy sommer diep spore trap. Jy is die grootste geskenk wat ek al ooit gekry het. Mamma wil hê jy moet altyd groot droom, want hoe ouer ’n mens word, hoe minder droom ’n mens. Jy moet altyd glo en droom soos ’n kind. Jy is kosbaar en uniek op jou eie manier. Moet nooit verander nie. My wens vir jou is om geseën te word met ’n loopbaan wat jou elke dag met ’n glimlag gaan laat slaap en ’n lewensmaat wat jou sal ondersteun en jou vrouwees sal respekteer. Mamma het jou liewer as die lewe self,” lees Jess.

“Dankie, Mamma. Ek is so lief vir Mamma,” sê sy en sit haar arms om my en hou my styf vas. Auntie Koekie staan soos ’n toeskouer en glimlag tevrede.

“Kan ek maar inkom?” hoor ek Danie se stem by die voordeur wat oopstaan. “Wie is dit, Mamma?” vra Jess. “Dis, uhm … dis iemand wat … dis Danie,” sê ek. “Middag, Tannie.

Middag, Helena. Julle kan nie die deure so oop los nie,” sê hy.

Auntie Koekie knik net haar kop en loop kombuis toe. Jess staan steeds in die sitkamer.

Danie se oë val ’n splitsekonde lank op my en dan staar hy stip na Jess. “Danie, dit is my dogter, Jessica,” huiwer ek.

“Aangename kennis,” sê hy. Hy lyk nie meer soos die vriendelike gesig wat ’n paar sekondes terug by die voordeur ingestap het nie. Hy lyk geskok. “Hallo,” sê Jess en kyk hom ewe vreemd aan.

“Jy lyk pragtig,” sê hy. “Dankie, Oom, dis vanaand my matriekafskeid,” sê Jess. “Wat maak jy hier?” vra ek. “Ek wou net kom groet,” sê Danie. Jess lyk ongemaklik. “Ek gaan gou vir Hano bel dat ons met die foto’s kan begin,” sê Jess en knik onseker vir Danie.

Jess draai om. Terwyl sy wegloop, kyk sy weer vir Danie. Sy laat sak haar kop eenkant toe asof sy Danie probeer plaas en verlaat dan die sitkamer.

“Sy is ’n pragtige kind,” sê Danie. “Dankie,” is al wat ek sê. ’n Ongemaklike stilte hang in die lug. “My pa het die plaas verkoop. Ek gaan môre weer terug Kaap toe. Ek sal eerder môre kom groet,” sê hy en draai om.

“Wag, ek moet jou iets vertel,” keer ek hom. Danie gaan staan in die deurkosyn. Hy draai om.

Trane loop oor sy wang. “Sy het jou glimlag,” sê ek. “Ek weet. Ek het myself dadelik in haar gesien. Hoekom, Helena?” vra Danie.

“Ek moes, al wou ek nie. Danie, dis nie so eenvoudig nie,” sê ek. “Nee, niks is eenvoudig met jou nie. Ek wil nie haar aand bederf nie. Ek weet nie wat om nou te sê nie,” sê Danie, draai om en loop uit. “Ek moes ’n kontrak teken!” roep ek agterna. Danie draai om en frons.

“Ek moes jou ma belowe dat ek jou nooit die waarheid sal vertel nie. Sy het gesê dat indien ek jou van ons babatjie vertel, jy nie meer kan gaan leer nie. Dat jy op die myn sal moet gaan werk, soos my pa. Ek het jou van die vloek gered, Danie. Ek was jonk en dom. En so lief vir jou,” huil ek.

“Ek wou jou nie terughou nie. Jou ma het gesê as ek lief is vir jou, moet ek jou laat gaan. Ek sou jou teruggehou het. Jou ma het belowe om na my en Jess te kyk as ek jou nooit die waarheid vertel nie. Sê my! Wat moes ek doen?” snik ek.

“Mamma?” vra Jess agter my. Sy staan in die deur. Haar oë lyk donker en kwaad. “Jess … ” sê ek terwyl ons oë in mekaar s’n brand. “Waarvan praat Mamma?” vra sy met oë wat waterig word.

“Sussa, kom ons los jou ma’le dat hulle kan praat,” sê auntie Koekie. “Mamma, is hierdie man my pa?” snik Jess. Ek kan nie praat nie. Die oomblik wat ek my hele lewe lank al vrees speel voor my af.

Jess skud haar kop en staar na Danie. Danie kyk na Jess en dan weer na my. Dit voel asof alles al stadiger en stadiger om my gebeur. Auntie Koekie staan net daar.

“Ek … ek … ek het nooit geweet hoe om … ” snik ek. “Sê dit net! Wat gaan aan, Mamma?” vra Jess weer. Ek loop tot voor haar en vat haar handjies in myne. “Ek wou jou nie vertel nie.

Ek het geweet dit gaan jou seermaak,” huil ek.

“Ek glo dit nie!” roep Jess uit terwyl trane oor haar gesig loop. Haar skouertjies sak. Dit lyk of my fyn porseleinkind breek.

“Ek het gejok. Ek het alles in my vermoë gedoen om die waarheid van jou weg te hou,” sê ek.

Jess se handjies is steeds in myne. Ek hou dit stywer en stywer vas. Ek voel hoe sy wil losbreek.

“Los my!” skree sy en ruk haar hande uit my greep. Ek probeer haar vashou, maar sy stoot my weg. “Ek kan nie meer hierdie geheim dra nie. Ek is te moeg … te swak,” sê ek en probeer weer aan Jess raak.

“Moenie aan my raak nie. Jy is ’n vreemdeling,” sê Jess. “Sussa, luister asseblief net,” probeer ek. “Ek ken jou nie,” sê Jess woedend en hardloop terug in die huis in. Auntie Koekie hardloop agter haar aan.

Danie draai om en klim in sy kar. Hy ry weg. My lyf voel te swaar om op te tel. Ek is naar.

“Jy het die waarheid in die donkerte gaan haal, maar nou moet jy uitkom uit die donker gat waarin dit jou laat. Daarom het jy vlerke gekry, jy kan hieruit vlieg,” hoor ek Pietertjie se stem. Sy beeld verdwyn weer in die stofwolk agter Danie se kar.

“Tyd, sal jy my bevry? Tyd, kan jy my hoor?” vra ek en sak op my knieë neer. Hano se kar kom aangery. Ek het nie eers krag om op te staan nie. Soos hy stop kyk hy na my. “En nou, Auntie?” vra hy en hou sy hand uit om my op te help.

“Ek dink nie Jess gaan meer saamkom vanaand nie,” sê ek. “Wat gaan aan, Auntie?” vra hy.

Jess kom uitgeloop, haar oë steeds dik en rooi. “Dankie tog jy’s hier. Laat ons gaan,” sê Jess en loop verby my asof sy my nie eers sien nie.

Hano maak vir haar die kar se deur oop. “Jess, asseblief. Kan ons nie net praat nie?” vra ek en gaan staan langs die kar. “Ry net,” sê Jess vir Hano. My kind ry weg … net so … weg.

Auntie Koekie kom staan langs my en sit haar hand op my skouer.

“Aai, my kind,” sê sy met ’n sug. “Ek gaan ’n draai ry,” sê ek en gaan haal my sleutels.

Dis al weer die veld waar ek gaan huil. Waar ek gaan skuil en probeer antwoorde soek.

“Leuens se oorsprong lê by die duiwel, Sussa,” sê Pietertjie. “Ek wou nooit jok nie. Ek wou dit nooit van Danie of Jess weggesteek het nie. Ek is gedwing,” sê ek vir Pietertjie.

Pietertjie is besig om die gekleurde vere in sy hoed te rangskik. “Hy is die vader van leuens.

Sy eerste leuen aan die mens was dat dit wat God sê, nie waar is nie. Dat God nie is soos wat Hy mense laat verstaan nie. Dit bring die oordeel van God oor die duiwel en die hele mensdom,” sê Pietertjie in ’n baie ernstige toon.

“Soms is dit so moeilik om tussen die leuens en die waarheid te onderskei. Ek het so lank vir almal om my gejok, dat ek self daardie leuens begin glo het. Die waarheid het weggeraak. Ek kon self nie meer onderskei nie,” sê ek.

My oë brand. Ek voel steeds naar. Dit voel of daar vlermuise in my maag rondvlieg. “Jou waarheid is ’n nagemaakte diamant. Dis vals,” sê Pietertjie. “Jy help nie regtig nie,” sê ek en pluk een van Pietertjie se vere uit sy hoed. “Gee terug,” gryp hy die veer uit my hand.

“Wat is dit met jou en hierdie belaglike vere in jou hoed,” vra ek. “Dis hoe die engele my gaan sien as dit tyd is,” sê hy. “Wanneer is dit tyd?” vra ek. “Wanneer my besigheid klaar gedoen is,” sug hy weer nes ’n ou man. “Besigheid?” vra ek.

“Dit is aanvanklik nie maklik nie, maar een van die grootste geskenke wat jy ooit vir iemand kan gee is die vryheid om hulle eie lesse op hulle eie tempo te leer. Die mees uitdagende deel van die lewe is om te verstaan dat jy nie uit ander se foute kan leer nie, maar net uit jou eie.

Jy moet die seer self proe om te weet dat jy nooit eers weer daaraan wil ruik nie,” sê Pietertjie en sit sy hoed weer terug op sy klein koppie.

“Ek verstaan nie hoekom ’n mens altyd eers moet seerkry nie,” skud ek my kop. “As jy geweet het dat daar bo-op ’n berg ’n onbeskryflike plek was, ’n plek waar jy in liefde kan bad, waar jy saam die engele kan dans en saam met die gode kan partytjie hou, sal jy elke stap boontoe vervloek of elke stap nader aan jou eindbestemming vier? Elke les wat jy leer, is

’n stap nader aan die mens wat jy moet word. ’n Stap nader aan jou eindbestemming,” glimlag Pietertjie.

“Jy laat dit so maklik klink,” sê ek. “Nee, dis nie maklik nie. Dit word eers maklik as jy jou perspektief oor die lewe verander. Jy gaan maar bietjie moeite moet doen om weer balans in jou lewe te skep. Ek moes self oor ’n paar pieke klim, deur donker valleie loop. Glo dit of nie, maar daar was plekke so hoog soos die maan. So gevaarlik soos die see en so misleidend soos towerkrag. Daar, en slegs daar, is waar ek gedink het dis die einde van my. Maar ek het uitgevind hoe rats, dapper en slim ek eintlik is,” sê Pietertjie terwyl hy voor hom uit staar.

“Gaan Jessica my vergewe?” vra ek. “Ek weet nie. Maar God sal,” sê hy. “Ek moet gaan kyk waar’s my kind,” sê ek, staan op en skud die stuifmeel van my boude af. Pietertjie loop saam met my tot by my kar.

“Sien jou weer,” sê Pietertjie. “Dankie. Dankie dat jy elke keer opdaag as ek alleen voel,” sê ek en wens ek kon sy spooklyfie ’n drukkie gee. Pietertjie glimlag net skaam en loop weg.