HOOFSTUK 23

Die oggendlug is vars. Jess se scooter brom al sagter soos sy skool toe ry. Ek trek die gordyne oop. Ek het nodig om te dink en perspektief te kry. Maar eers moet ek winkel toe.

“Môre, Auntie,” groet ek auntie Koekie wat nou permanent by die winkel werk.

Sy werk nou mooier met die kliënte, maar praat dalk steeds te veel. Maar dit is hoe ons haar ken. Auntie Koekie wat nie kan stilsit nie, auntie Koekie wat nie kan ophou praat nie, auntie Koekie wat my met haar engelvlerke toevou.

“Ja, Mevroutjie, het jy nog ’n winkel? En aai, kyk hoe mooi lyk jou hare nou!” roep sy uit.

“Dankie vir die hair dye, Auntie,” sê ek en draai in die rondte met my koperbruin hare.

“Auntie, het ons nog genoeg voorraad?” vra ek. “Ja, kind. Jy kan mos sien die rakke is vol.

Solank as wat dié mý winkel is, hoef jy nie te worry nie,” sê sy. “O, regtig? Auntie moenie vergeet wie se winkel dit eintlik is nie,” terg ek. “Beslis nie meer joune nie,” lag sy.

“Auntie, my kop is baie deurmekaar. Ek het nodig om te dink en gaan vandag bietjie van die huis af werk,” sê ek. “Voor jy gaan, moet ons gou oor Jess praat,” sê sy ernstig. “Wat van Jess?” vra ek.

“Jong, haar idee van ’n matriekafskeidrok en jou idee bots heeltemal. Sy sê die lap is te grênd. Ek het vir haar verduidelik dat dit nou vir ’n grênd affêre is, maar sy soek iets … iets anders,” praat sy in sirkels.

“Maak vir haar wat sy wil hê,” gee ek in. “Sy soek ’n rok met skulpies en klokkies,” sê auntie Koekie vinnig. “Nou maak vir haar asseblief ’n rok met skulpies en klokkies,” sê ek.

“Maar gee jy nie om nie?” vra auntie Koekie verbaas. “Nee, Auntie. Sy is nou haar eie mens.

Sy wil ook nie meer volgende jaar verder gaan studeer nie,” sê ek. “Nou watse geite is dit? Sy is dan mos ’n slim kind. Nee, Helena, jy gaan jou voet moet neersit,” sê auntie Koekie.

“Ek het probeer, Auntie. Maar hoe stry ek nou verder met haar rede vir haar bestaan? Of met die passie wat in haar groei, hoe vreemd dit nou ook al is?” vra ek.

“Helena, jy het ’n kopprobleem. Die Here weet, jy moet ’n kopdokter gaan sien,” sê auntie Koekie. Sy vat ’n groot sluk water en gaan aan. “Ek sê jou Helena, dis daai mannetjie wat in onse Jess se kop geklim het en haar oorreed het om net hier te bly. Hy is agter haar aan soos ’n hoender agter ’n mieliepit,” sê sy.

“Sy is lief vir hom, Auntie,” sê ek. “Oe nee, daar is nie pille vir stupid wees nie. Hoor jy wat jy sê, Helena?” vra sy en gooi haar arms in die lug. “Verdomp!” skree sy toe sy die glas water per ongeluk omstamp.

Ek buk om die stukkies glas op te tel. “Pasop, Auntie gaan gly,” beduie ek vir haar om te bly waar sy is. Sy gee die mop aan en kyk my in die oë. “Jy het jou hele lewe lank hard gewerk om daardie kind university toe te stuur, en nou … en nou?” wil auntie Koekie weet.

“Dit is wat dit is. Die siel is ’n slagveld. Daar word gedurig oorlog gevoer tussen rede en passie. Wat is Jess se rede vir haar bestaan? Wat is die passie wat haar laat dans? Ek kan mos nie besluit wat my kind gelukkig gaan maak nie? Sy weet wat haar gelukkig gaan maak. En as ’n skulpies-en-klokkies-rok haar gelukkig gaan maak, maak asseblief vir haar een,” hoor ek iemand anders se woorde uit my mond kom.

Ek sou altyd vir haar besluit het. Vir haar gesê het wat om te doen, wat om aan te trek, wat om te studeer. Dit was nie reg nie. Sy moet self besluit.

“Ek dink jy dink te veel deesdae, Helena. Jy praat anders. Jy dink soos daai New Age-mense wat hulle kinders met sielkunde grootmaak,” sê auntie Koekie. “En ek het nog verskriklik baie dinkwerk om te doen,” groet ek haar in ’n eentonige, maar donker stem.

Die grondpad in Fonteintjie kronkel tot voor Vlooi se huis. Oupa se sonde bly my pla. Vlooi se buurvrou lyk befoeterd. Sy maak haar tuintjie nat – sommer die pavement ook. Sy spuit die hondemis oor die pavement tot in Vlooi se die tuin. Honde tjank verlangend.

’n Groepie seunskinders, regte moeilikheidmakers, loop en vloek. “Sies, man!” skel sy en spuit hulle nat. ’n Jakkalsvoël klou aan die punt van ’n tak. Onder lae wolke vol beloftes van reën parkeer ek onder die jakkalsvoël se boom.

Terwyl ek uit my motortjie klim, ruk die wind aan my rok se soom. Die wind verloor sy geduld … ek ook. Ek kom vra vandag vir ’n laaste keer dat Vlooi met my praat, my raadgee, my vertel waarom Raulene so lank gevat het om my die waarheid te vertel.

Ek is so confused oor Oupa se sonde – oor die vloek wat op die droomplaas begin het. “Wat soek jy?” vra die buurvrou met die tuinslang. Ek ignoreer haar – netnou spuit sy my ook nat.

Ek stoot die ogiesdraadhekkie oop en gaan staan voor Vlooi se huisie.

“Dis private property!” skree die vroutjie. Ek voel aan die voordeur. Dis gesluit. “Jy kan nie net so in dooie mense se huise instap nie!” skree die buurvrou arms in die lug. “Sy is nog nie weg nie!” skree ek terug en loop om die huisie.

Vlooi se kamervenster is effens oop. Ek dwing die venster verder oop en klim deur. Die huisie ruik benoud. My kop voel dof. Ek gaan sit by die klein plastiektafeltjie in die kombuis.

“Ag, Vlooi, praat met my,” sug ek.

My oog vang ’n foto bo Vlooi se yskas. ’n Wit en swart foto van ’n jong man kyk vir my. Die man lyk dan nes Oupa. Ek gaan staan voor die ou foto. Sonder om te huiwer trek ek die houtstoel nader, klim op en haal die foto van die muur af.

Hoekom het ek nie voorheen die foto gesien nie? My hande begin bewe soos ek dieper in die foto-man se oë staar. Dit is Oupa! Dit is mý Oupa! Heel onder in die hoek staan “Ons is vir altyd.”

Ek hang die foto weer terug en gaan sit op die vloer met my rug teen die staalkas. Iets in my begin brand, sweer en jeuk. Dis asof ’n seer binne-in my wil oopbars.

Ek begin verwoed in Vlooi se laaie krap. Laaie vol resepte, saadjies, poeiertjies, verkrummelde blaartjies, ou koerante en nog foto’s – foto’s van Oupa … van Oupa en Vlooi.

Foto’s van my.

Ek laat val die foto’s op die grond en gaan sit tussen die gemors wat ek uit die laaie gegooi het. Elke foto het ’n briefie agter op.

“My liefste Vlooi. My hart is seer. Ek wens jy kon deel van my en Helena se lewe wees. Sy word mooi groot en begin al hoe meer soos jy lyk,” lees ek die woorde oor en oor.

“Eendag sal ons saam wees. Ek, jy en ons pragtige meisiekind. My hart kry swaar. Ek is verskriklik jammer. Ek weet jy het gesê ek moenie meer kontak maak nie. Wou net vir jou ’n foto van ons nonnatjie stuur. Ek sien jou elke dag in haar,” lees ek. My trane val op Oupa en Vlooi se glimlag-foto’s. Oupa? Vlooi? Is ek julle kind?

Vandag gaan ek ry tot die pad eindig. Daar moet ’n nuwe pad begin – een van wraak of een van vergifnis. Ek kan nie die gevoel in my binneste beskryf nie. As ’n mens doodgaan, gaan jy vir ewig toe. Maar as jy steeds bly lewe, maar net in jou binneste doodgaan … waarheen dan?

Ek dink terwyl die pad al nouer raak. Ek dink myself moeg. Meteens voel my binneste swaarder. Die seer stoot weer op, dan ontsnap dit in rukkerige snikke.

“Jy moet huil om plek te maak vir vreugde,” dink ek aan Oupa se trooswoorde ná Pa se dood.

“Aai, Oupa … ” snik ek terwyl ek afdraai na Oupa se droomplaas. Minute later staan ek voor Oupa en Ouma se huisie. Daar doer staan Klaskat en Herman se paleis.

Danie se kar is nie hier nie. Ek vee my trane af, sug diep en stoot die krakerige deur oop.

Reën begin neerdaal. Die belofte van reën val al hoe harder. Dit maak musiek op die sinkdak terwyl huilwater deur my gemoed spoel.

Ek loop versigtig deur die kombuis. ’n Spinnerak hang in die hoek van die kombuis. Vir ’n oomblik bewonder ek die skoonheid van die spinnerak. Dis so artisties perfek. Die bloed op die muur bly vir my kyk. Ek sak neer op my knieë.

Is dit waarlik bloed of is dit in my verbeelding? “Oupa, het jy dit gedoen? Jy wat altyd so mooi gepraat het … Was jy regtig in staat om iemand te vermoor?” vra ek. “Oupa, hoe kon jy vir my gejok het oor alles?” huil ek.

My gedagtes vlieg terug na ’n mooi dag op Oupa se stoep. “Dink Oupa ook Pappa is op ’n baie beter plek as ons?” het ek gevra terwyl ek die lietsjies se harde doppies afskeer. “Hoe sal ons nou regtig weet, my kind?” het Oupa gevra, maar sy oë het geweet.

“Ek weet my pappa is in die hemel,” het ek met oortuiging gesê. “Almal sondig en ontbreek van die heerlikheid van God, maar gaan ons almal hel toe?” het Oupa gevra. “Nie almal nie, Oupa,” het ek gesê.

“Ek glo ook jou pa is op ’n beter plek,” het Oupa gesê en ’n sakkie saad uit sy broeksak gehaal. “Wat’s dit, Oupa?” het ek nuuskierig gevra en na die sakkie gekyk. “Dis wortelsaad,” het Oupa gesê en die klein saadjies uitgehaal.

Dit was so groot soos ’n graan peper. Oupa het ’n paar saadjies in sy hand gegooi en toe een op die tafel langs die bak vol kaal en glibberige lietsjies geplaas. “Wat sien jy, Helena?” het hy gevra en na die saad gewys. “Ek sien baie klein saadjies,” het ek geantwoord. Oupa het geglimlag.

“As ek die saad in my hand hou of op die tafel los, sal dit altyd net saad bly. Maar wanneer ek dit in die grond druk en dit natmaak, sal die ou dop agtergelaat word. ’n Nuwe plant sal deur die grond breek. Nes ’n nuwe lewe nadat iemand se dooie liggaam in die grond begrawe word,” het Oupa verduidelik.

“Dis mooi, Oupa,” het ek gesê. Ek het Oupa se woorde wat soos musiek klink, altyd bewonder. “As jy die dood wil verstaan, moet jy dit in die wese en diep in die hart van die lewe gaan soek. Dis nou as my kind die dood beter wil verstaan?” het Oupa gesê terwyl hy sy ken gelig het asof hy vir my antwoord gewag het.

“Ek wil, ja,” het ek gesê. “Die lewe en die dood is een ding. Net soos die Oranjerivier, die Olifantsrivier en die oseaan een ding is. Die een spoel oor na die ander een,” het Oupa voortgegaan.

“Maar dit maak mos nou glad nie sin nie, Oupa,” het ek gestry en nog ’n geklede lietsjie uit die sakkie gehaal. “Hoekom maak dit nie vir jou sin nie?” wou Oupa weet. “Die seelewe kan nie in soutwaterriviere swem nie. En varswatervisse nie in die see nie,” het ek geantwoord.

“Jy is reg, my kind. Elkeen hoort op sy plek, maar dis steeds een ding. Jy gaan nooit regtig dood nie, net na ’n ander plek,” het Oupa gesê. Dit het al donkerder om Oupa geword, al hoe meer somber in my gemoed … totdat ek net die bloedvlek weer teen die muur sien terwyl Oupa se woorde steeds in my kop bly raas.

Ek wonder of Oupa geweet het Pa is eintlik vermoor. Hoekom het hy nie polisiekantoor toe gegaan nie? Die hele ding maak glad nie sin nie. “Het jy dan die vloek begin?” vra ek hardop en vee my hand oor die bloedkol op die muur.

“Dream a little dream of me … ” begin ’n ou jazz-liedjie in die spookhuisie speel. Ek raak yskoud, maar volg die musiek tot in die hoofslaapkamer. Op ’n bankie voor ’n venster wat op die berge uitkyk sit Vlooi en Oupa … hulle omhels mekaar. “Oupa? Vlooi?” vra ek.

“Hulle hoor jou nie,” hoor ek Pietertjie se stem langs my. “Ek is hulle kind, het jy dit geweet?” vra ek vir hom. “Jou ma en pa het ingestem om jou groot te maak sodat die

gemeenskap jou oupa nie uitgooi nie. Vlooi sou ook verban word. Vlooi het geboorte aan jou gegee en jou vir jou ma gegee,” sê Pietertjie.

“Hoekom het jy my nie vertel nie?” vra ek. Pietertjie draai om en loop by die vertrek uit.

“Antwoord my!” skree ek agterna. “Dit was nie my plek nie. Ek is after all net ’n … ” antwoord Pietertjie sag en kyk af.

“Jou pa was baie lief vir jou. Waarlik lief. So lief dat hy jou nooit met die waarheid wou seermaak nie – die waarheid wat hom en Vlooi sou vrymaak. Ter wille van jou hart het hulle gekies om dit saam graf toe te vat,” sê Pietertjie.

“Ek weet ek wou die waarheid gehad het, maar ek wil nie meer nie. Dit gooi my in ’n tronk vol gisters. En ek verstaan nie. Oupa het dan so baie Bybel gelees. Hy het geweet wat die regte ding was om te doen,” sê ek.

“Hy het dalk geweet wat om te doen sodat hy homself kan red, maar hy het geglo hy sou jou in die proses verloor. Hy was bang jy verloor jouself in die waarheid. Baie mense maak hulleself vry deur die waarheid te praat, juis omdat hulle nie meer kans sien om saam met die geheim te leef nie. Maar hulle vergeet die Bybel se grootste opdrag is om jou naaste lief te hê.

Mense gebruik die Bybel soos dit hulle pas. Daardie man het jou so lief gehad dat hy jou die vernedering van sy sonde wou spaar,” sê Pietertjie.

“Sy woorde het my altyd genees,” sê ek. “Sy woorde het, maar sou sy waarheid?” vra Pietertjie. “Die waarheid bring nie altyd vrede nie, maar eerder ’n swaard. Sou jy hom kon vergewe – sou jy hom kon vryspreek?” vra hy.

Ek kyk af en dink aan Vlooi. “Hoekom het Vlooi my nie kom red nie? Hoe het Shandy geweet om my na haar huis toe te stuur?” rol die vrae oor my lippe. “Dit weet ek nie,” sê Pietertjie.

“Vlooi was dood toe ek haar die eerste keer ontmoet het. Ek het met haar spook gepraat, en Oupa? Oupa?” vra ek na hom terwyl hy steeds in Vlooi se oë staar. “Oupa!” skree ek en gaan staan voor hulle. “Sien my! Praat met my!” skree ek, maar hulle reageer nie.

“Ek het nog nooit so alleen soos nou gevoel nie. Die waarheid maak ’n mens nie vry nie,”

snik ek. “In die waarheid lê die sterkste kloue, maar ook die sterkste verlossing. Die waarheid word Vryheid genoem. Maar wie het dit besluit?” vra Pietertjie.

“Die Here sê dan self julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak. Ek voel nie vry nie,” frons ek.

“Aai, Helena, dit maak die een vry wat die waarheid vertel, nie juis die een wat dit ontvang nie … oftewel nie dadelik nie. Dit maak die draer van die geheim vry van die geheim wat hom of haar van binne af opvreet. Maar jou oupa en Vlooi sal nooit vry wees nie. Hulle is graf toe met hulle geheime en jy sit nou stoksielalleen hier. Gewond deur jou eie begrip van Vryheid. Maar jy was nog altyd nuuskierig. Jy wou altyd net te veel weet,” sê Pietertjie en kyk af.

“Jy’t dan ook gesê dat die waarheid my gaan vrymaak. Jy het op daardie verdomde prentjie met die bloedoorbelle geteken!” skree ek.

“Ek was net ’n kind, ’n kind wat niks geweet het van die wêreld om my nie, maar tog alles van gister en môre se wêreld. Dit het my so bang gemaak, daarom het ek geteken. Dis al hoe ek dit uit my kop kon kry. Ek is jammer. Ek kon te veel sien. Dwarsdeur almal se lewens,” snik Pietertjie.

“Ek was Oupa en Vlooi se geheim. Wat is jou geheim? Hoekom is jy nog hier? Hierdie is nie jou plek nie, wel, nie meer nie. Wat gaan jou vrymaak?” vra ek. “Helena, verstaan jy nie?

Almal kan nie vry wees nie,” sê hy en loop terug na die kombuis toe.

Ek volg sy voetstappe tot dit stop. “Waar’s jy?” soek ek deur die huis. Ek loop uit, die son verblind my. Die lug ruik vars nadat die reën bedaar het. Die wolke skuif weg sodat die son weer sy plek kan inneem. Daar is iets magies in die wind.

“Pietertjie!” roep ek al weer na ’n dooie. Ek voel mal. Die waarheid maak my mal. “Helena!”

hoor ek my naam in die wind. Pietertjie staan teen die koppie en wys dat ek moet kom.

“Ek wens so dat jy na my wou luister. My tyd is verby. Ek kan nie meer vrygemaak word nie, maar jy kan nog loskom. Vertel vir Danie die waarheid. Vertel vir Jess die waarheid. Maar verwerk eers die seer van jou eie waarheid. Dan sal jy weet dat die waarheid soos ’n operasie is. Dit maak seer, maar dit word weer gesond. En leuens is soos pynpille. Dit gee pynverligting, maar newe-effekte wat ’n leeftyd hou. Vertel die waarheid terwyl jy nog kan.

Dit sal jou vrymaak. Dís jou waarheid,” sê Pietertjie en raak dan net weg.

“Jy weet, Pietertjie, jy is ’n blerrie ongeskikte spook, want jy groet nooit!” roep ek. Dan besef ek dis dalk nog nie sy tyd om te groet nie.