HOOFSTUK 27

Dis al baie laat. My kind is nog nie terug van die matriekafskeid af nie. Die ou gloeilamp in die kombuis sing ’n hoë noot en flikker ’n paar keer voor dit skerp begin skyn. Nee, iets is fout. Ek gaan vir Danie bel.

“Helena?” antwoord hy. “Jess is nog nie terug nie. Ek weet nie wat om te doen nie, Danie,” probeer ek die huil beheer. “Ek sal haar gaan soek. Jy kan nie in so ’n toestand ry nie,” sê hy en sit die foon neer.

Die minute voel soos ure, ek kan nie net hier sit nie. Ek voel bewerig, mal van bekommernis.

Die foon lui. Ek kan nie vinnig genoeg antwoord nie. “Het jy haar gekry?” hoor ek die bekommernis in my stem.

“Ontspan, Helena. Sy is by my. Ons is op pad,” sê Danie. Hy klink kalm. “Dankie,” sê ek en probeer kalm word. Danie se voorligte skyn by die sitkamer in, ek hoor ’n braakgeluid. Jess sit langs die kar en opgooi. Danie hou haar hare uit haar gesig.

“Dis oukei, Meisiekind. Jy moet nou net iets in jou lyf kry en baie water drink,” sê hy vir haar en bring haar in. Jess loop dronk verby my. Sy sê niks, kyk nie eers na my nie. “Sy het so ’n bietjie te veel gedrink,” fluister Danie.

“Dankie,” sê ek. Danie loop tot voor my en omhels my. Sy greep is liefdevol en kalmerend.

“Ek sou alles vir julle opgegee het, vir jou en ons kind,” sê Danie. “Ek weet,” kruip ek stywer onder sy arms in.

“Kan ek môre-oggend hiernatoe kom?” vra Danie. “Ja, natuurlik,” sê ek. “Jy moet slaap inkry, Helena,” sê Danie soos hy sy arms ontspan. “Hou my net nog ’n bietjie vas, asseblief,” vra ek en staar diep in sy oë. Sy arms vou weer om my.

Sy asemhaling in my nek klink diep … hartseer. “Sal jy my ooit kan vergewe?” vra ek teen sy bors. “Kom ons praat môre-oggend. Dit was ’n lang dag vol emosies. Môre is ’n nuwe dag,” sê hy.

Ek huil teen sy bors en hou hom al hoe stywer vas. “Ek moet gaan,” sê hy saggies. Soos Danie se kar in die nag in ry, voel ek lam. My hande pyn. Ek is moeg.

Jess se kamerdeur is oop. Ek waag dit om agter haar rug te gaan inkruip. Jess draai om en hou my vas. Sy ruik soos braaksel en rook. My kind, my meisiekind se hart is gebreek. Ek is veronderstel om haar te beskerm, haar te troos.

Sy moet my vertrou, maar hoe gaan sy? Hoe gaan sy my ooit weer vertrou? “Mamma is so jammer,” fluister ek in haar oor voor ek aan die slaap raak.

Die oggend is vars. Jess slaap steeds. Ek weet nie wat vandag gaan gebeur nie. Wat gaan Danie sê? Hoe gaan Jess na my kyk as sy wakker word? Die son se eerste strale gooi geel strepe oor my bene. Die reuk van die sterk koffie maak my skielik naar.

“Wanneer die hede, die verlede en die toekoms mekaar ontmoet, is dit ’n geleentheid om te vier,” sê Pietertjie en kom sit langs my op die stoepbankie. “Hier is niks om te vier nie, Pietertjie,” sê ek.

“Verstaan jy dan nog steeds nie die tydloosheid van hierdie wêreld nie? Gister is vandag se geheue en môre tog maar net ’n droom. En is tyd nie maar net soos die liefde nie? Verganklik en selfsugtig. Maar nie Sy liefde nie. Helena, het jy Hom ontmoet?” vra Pietertjie baie ernstig.

“Wie?” vra ek. “Jou God. Ons God,” antwoord hy. “Ek het. Ek het Hom in auntie Koekie ontmoet. In die waterstroom by Gifberg, in die grootheid van die berge en in die rustigheid van die blommeveld. Ek het hom in die vergifnis van my sonde ontmoet,” sê ek.

“Sy liefde is hoër as die hoop wat jy jou hele lewe lank al saam met jou dra,” sê Pietertjie en vat aan my hand. My kop begin klop, my sig verdof. Die aantrekkingskrag van die aarde voel swaar soos ek op die grond neerval.

Ek gryp na die pyn in my bors wat tot in my kakebeen skiet. “Mamma?” hoor ek Jess se soet stemmetjie. “Ek is so lief vir jou,” probeer ek, maar ek sukkel om te praat. “Mamma, het jy geval?” sien ek die skrik in haar oë.

Daar is soveel dinge wat ek nog vir my kind wou sê. Volg die liefde as hy jou roep, alhoewel sy weë steil is. Laat sy vlerke jou omvou, maar pasop vir die swaard wat hy onder sy vlerke wegsteek, dit mag jou dalk seermaak.

En as hy met jou praat, glo in hom, alhoewel sy stem die stem van jou drome kan versmoor.

Die liefde kan ’n kroon op jou kop wees, maar dit kan jou ook kruisig.

“Mamma?” vra Jess weer. “Jess, my liefde vir jou is eg. Ek het jou waarlik lief,” probeer ek.

“Ek weet,” sê sy. ’n Traan loop oor haar sagte wangetjie. Meteens word dit stil in my hart en

’n koue gevoel kom sit soos ’n groot voël op my skouers.

“Ek gaan vir auntie Koekie bel!” skree sy en hardloop terug by die huis in. “Jess!” roep ek.

“Jy moet Hom vind. Soek Hom in die wolke. Kyk hoe Hy sy arms in die weerlig uitsteek en neerdaal in die reën. Jy gaan Hom sien glimlag in die blomme,” blaas ek my laaste asemteug uit.

“Mamma, nee! Auntie Koekie gaan nou hier wees. Danie ook!” skree Jess. “Wat is dit om op te hou asemhaal, maar om die asem te bevry en self vry te voel?” sê Pietertjie langs my.

“Helena, ons moet gaan,” hou hy sy hand uit en trek my op.

My liggaam lê steeds op die stoep se vloer terwyl ek langs Pietertjie staan. “Wat van my Jess?” vra ek bekommerd. “Haar wêreld is vol seisoene. Sy gaan lag, maar nie die heeltyd nie. Sy gaan treur, maar nie elke dag nie,” sê Pietertjie.

Ek voel ’n vreemde kalmte oor my spoel. Vandag besef ek dat daar ’n ander soort liefde is.

Een wat ons op reistogte neem waarop ons nie wil gaan nie, ons op paaie laat loop wat ons nie gekies het nie. Juis om ons te neem na plekke wat ons nooit wil verlaat nie.

Ek is nie meer bang vir die liefde nie. Dis ’n nuwe liefde wat my omring, ’n gevoel van verlossing. “Is dit hoe Sy liefde voel?” vra ek vir Pietertjie. “Inderdaad,” glimlag Pietertjie en haal sy verehoed van sy kop af en gee dit vir my.

“Nou kan die engele jou ook sien,” glimlag hy. “Hoekom nou? Hoekom is my tyd nou?” vra ek terwyl ons by die voorstoep se trappies afloop.

“Die hele lewe word gesien as ’n tyd om die waarheid te ontdek, om jouself voor te berei vir die ewigheid,” sê Pietertjie. Rustigheid lê op sy gesiggie soos hy vir my kyk. Jess sit steeds langs my emosielose liggaam. Auntie Koekie en Danie hardloop verby my.

“Kan ons maar gaan?” vra Pietertjie. Ek knik en sit die verehoed op my kop. Terwyl die son helder skyn, loop ons twee deur die blommeveld. “Helena, dis nie die einde nie, maar die begin,” sê Pietertjie soos ons in die sonstrale verdwyn.