HOOFSTUK 25

Ek staan kaal voor die spieël en staar na my ouderdom. My skouers hang. Die rekmerke oor my maag getuig van die voorreg wat ek gehad het om ’n kind in die wêreld te bring. My bene lyk bak.

Ek lyk nie beseer nie, tog voel ek gewond … asof my siel se nate besig is om los te skeur.

Kon Oupa my nie net gegroet het nie? Kon Vlooi nie net vir my die waarheid vertel het nie?

Sy het my dan oorreed om vir Jess die waarheid te vertel.

Ek dink aan Jess se skildery – die een van my gesig. Aan die ligter kant van my waarheid en aan die donker kant van die regte waarheid … of is dit andersom? Nou is dit my kans om vry te word. Ek moet vir Jess en Danie die waarheid vertel.

’n Klop aan die deur laat my gryp na my japon. “Ek kom,” roep ek. “Liewe hemel, Helena.

Die son is al versadig gedrink en jy’t nog jou japon aan. Jy antwoord nie jou foon nie. Jess sê jy lyk ellendig vandat jy teruggekom het van die Kaap af. En sy bly my vra wat jy in die Kaap loop doen het,” praat auntie Koekie sommer baie vinnig.

“Kom in,” sê ek en trek die deur oop. Auntie Koekie loop stadig in. Ek kan sien sy wil nog iets sê, maar sluk tog haar woorde. “Wil Auntie koffie hê?” vra ek. “Dit sal lekker wees,” sê sy en gaan sit op die bank.

“Auntie, ek wil Auntie iets vra,” sê ek. “Vra maar,” sê sy. “Wag, dat ek eers vir ons koffie maak,” sê ek en loop kombuis toe en wonder of ek haar moet vra.

“Het Auntie vir Vlooi van Fonteintjie geken?” vra ek tog. “Ja, ek het haar baie goed geken.

Ons was saam in die kerk toe ek nog kind was,” sê sy en huiwer ’n oomblik. “Sy laat my nogal baie aan jou dink,” sê sy.

“Hoe so?” vra ek. “Sy het nes jy die godheid in die natuur aangevoel … in die  teenwoordigheid van berge en velde,” antwoord sy. Ek wonder by myself hoe dit sou gewees het as sy my grootgemaak het.

“En wat kan Auntie my nog van haar vertel?” vra ek. “Hoekom stel jy so belang in haar, Helena?” vra sy. “Ek wonder maar net,” jok ek.

“Die kerk het haar later gevra om te loop. Ek het haar nooit weer gesien nie. Ek het baie skinderstories gehoor, maar of dit nou waar is, weet ek nie,” sê auntie Koekie. “Hoekom het die kerk haar gevra om te loop?” vra ek.

“Sy was anders as die res van onse mensies. Sy het snaakse goeters gedink en geglo,” frons auntie Koekie terwyl sy praat. “Soos wat?” vra ek. “Jy is darem baie nuuskierig, Helena,” sê auntie Koekie agterdogtig.

“Ek is nog altyd nuuskierig, Auntie. Toe, sê my,” pols ek. “Vlooi het geglo dat die wind eers

’n gewone mens was op wie daar eendag vere begin groei het. Sy het ook onder die volmaan die vreemdste dansies gedoen. Dominee het gesweer sy aanbid die maan,” sê sy.

Ek luister aandagtig. “Alhoewel sy nie ryk aan materiële dinge en boekekennis was nie, was sy ryk aan natuurkennis. Sommige van die Khoisan-mensies het haar bewonder,” sê sy. “Was sy dan ’n Khoisan?” vra ek.

“Sy was, ja. En dit was haar probleem. Die tradisies waarmee sy grootgemaak is, het begin bots met die kerk. Sy het veral in natuurgeeste geglo en altyd gesê dat haar lewenskrag aan die natuur gekoppel was,” sê auntie Koekie.

“Watter skinderstories was daar?” vra ek. “Dat sy kon toor … maar daar is een storie wat die dorp vol gelê het, wat ek nou regtig nie wil oorvertel nie,” sê auntie Koekie. “Ag nee, Auntie kan my nie so nuuskierig maak nie. Sê my asseblief,” smeek ek.

“Jong, ek twyfel baie sterk of dit waar is, maar daar het stories rondgeloop dat sy op soek was na ’n diamant. Jy sien, die mense het haar in die nagte sien ronddwaal op die diamantplase.

Sy moes glo net een diamant kry,” sê auntie Koekie.

“Dis vreemd, ek het haar nooit opgesom as iemand wat rykdom gesoek het nie,” sê ek. “Ken jy haar dan?” vra die auntie. “Nee, dis nou maar net dat ek ’n sekere prentjie in my kop het,” lieg ek weer.

“Ek weet jy was by haar huis. Die mense in Fonteintjie het gepraat …” sê auntie Koekie.

“Shandy het my oorreed om haar te gaan sien,” is al wat ek sê. Auntie Koekie frons.

“Het sy toe ’n diamant gekry?” vra ek. “Nee, sy het nie. Sy wou nie die diamant vir haarself hê nie. Sy moes dit vir ’n vrou op die dorp gee. Die vrou en haar man het Vlooi se geheim weggesteek en beloof dat hulle nooit die waarheid sou praat as Vlooi vir hulle ’n diamant bring nie,” sê sy. “Watse geheim?” vra ek, maar ek weet. My binnegoed begin ruk.

“Jy sien, kind, Vlooi het ’n man in die veld ontmoet. Hulle was baie lief vir mekaar, maar hy was ’n wit getroude man en sy was die bekende toordokter van Fonteintjie. Hulle verhouding was ’n gruwelike skande. Toe raak sy boonop swanger met die man se kind. Sy kon nie die kind self grootmaak nie, haar gemeenskap sou haar verwerp. So, die kind is vir ’n getroude paartjie gegee om groot te maak. Die geheim het uitgekom, want sy het nooit vir die vrou die diamant gegee nie,” sê sy.

Trane begin oor my gesig loop. “En nou, die trane? Dis net ’n storie wat jou ma my een aand vertel het. Ek dink nie dis waar nie.” Ek snak na my asem.

“Hoe betaal jy iemand met ’n diamant om jou kind te vat? Hoe maak ’n mens ’n kind groot wat jy nie eintlik wou gehad het nie? Al wat die vrou wou gehad het, was die diamant, Auntie,” snik ek.

“Die vrou se man het glo baie lief geword vir die kind. Hy het toe self vir die vrou ’n diamant gaan soek. Ek weet nie of hy dit ooit gekry het nie,” sê sy. Ek laat sak my kop.

“Die feit is, Vlooi het baie geweet van die natuur en hoe God daarin manifesteer. Meer as baie van ons. Maar haar vreemde tradisies het veroorsaak dat die mense geskinder het,” gaan auntie Koekie aan.

Soos die nate van my siel finaal losskiet, bars ek uit in trane. “En nou my kind?” vra sy. “My pa het die diamant gekry, maar hy is doodgeskiet voordat hy dit vir my ma kon gee. Ek is die geheim,” huil ek. Ek raak yskoud.

“Wat sê jy daar?” vra auntie Koekie. “Oupa Pyp was my regte pa. Hy is die wit man wat vir Vlooi lief geraak het,” sê ek sonder om ’n oog te knip. “Ek … ek … ek,” hakkel auntie Koekie.

“Auntie, ek weet vir die eerste keer hoekom my grootmaak-ma my nooit liefgehad het nie. Ek weet nou waar my liefde vir die veld vandaan kom. Vir die eerste keer weet ek wie ek regtig is,” sê ek trots deur die trane. Auntie Koekie begin ook huil.

“Sê iets, Auntie. Auntie het dan altyd iets om te sê. Sê asseblief net iets,” smeek ek. “Ek weet nie wat om te sê nie. Ek is jammer, kind. Ek is jammer dat ek jou ook nooit verstaan het nie.

Maar die Here weet, al het ek jou nooit verstaan nie, is ek bitter lief vir jou,” sê die auntie.

Sy gooi haar arms om my en hou my styf teen haar rukkende lyf vas. “My liewe kind. Die wêreld maak nie reg met jou nie. Ek is so jammer,” snik auntie Koekie en hou my stywer vas.

“Waarvoor word ek so gestraf? Verdien ek nie ook happiness nie? Is dit vir die geheim wat ek dan self binne my dra?” vra ek vir auntie Koekie.

“Ek het nie die antwoorde nie. Daar is wel nie ’n inruilwaarde vir hierdie probleem nie. Jou geheim, die waarheid wat jy al so lank saam met jou dra, gaan oor die verwekking van jou kind. Dit gaan oor ’n pa wat verdien om te weet dat hy ’n pragtige dogter het. Dit gaan oor ’n dogter wat verdien om te weet dat haar pa nie dood is nie,” sê auntie Koekie.

“Ek weet hoe dit voel. Ek weet hoe dit voel om te wens dat ek nooit eers self die waarheid leer ken het nie. Ek verstaan my lewe beter, maar was dit die moeite werd, die bittere seer werd? Moes ek regtig weet?” vra ek.

“Die waarheid is wel belangrik, maar die waarheid staan nooit los van die vraag nie: Wat maak jy nou eintlik met die waarheid? Die Bybel sê die liefde bedek alles, en daardie alles kan ook die waarheid insluit,” sê die auntie.

“Hoe? Dit vreet aan my, Auntie. Ek het soveel mense vrygespreek en vergewe. Dink Auntie Danie en Jess sal my vergewe? Ek kan nie meer met die geheim rondloop nie,” sê ek. “Laat Auntie vir jou ’n Bybelstorie vertel,” begin sy. “Ag nee, nie nou nie, asseblief,” sug ek.

“Kom ek sê dan net dis ’n storie. Vergeet dat dit ’n Bybelstorie is,” sê sy. “Die storie gaan oor die waarheid, maar ook oor genesing,” sê auntie Koekie en lig weer haar een wenkbrou op. Luister jy?” vra sy kwaai. “Ek luister,” sê ek, al is dit teensinnig.

“Daar was ’n vrou wat aan bloedvloeiing gely het. Sy het twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely. Die lot van so ’n vrou was verskriklik. Sy was deur die volk as onrein gesien. Sy mag aan niks en niemand geraak het nie. Almal het geglo dat dit waaraan sy raak, onrein sou word. Sy kon nie na ’n winkel, ’n mark of ’n aanbiddingsplek toe gaan nie. Sy is van haar man geskei, want hy kon vir haar ’n skeibrief gegee het om daardie rede. Sy was deur almal verwerp. Helena, hierdie vrou was uitgestoot deur die gemeenskap. Sy het gevoel God is kwaad vir haar. Niemand kon haar genees nie. Maar toe het sy van Jesus gehoor. Sy het van agter gekom en Sy kleed net aangeraak. Sy het ’n groot kans gevat, want sy mag nie tussen mense gekom het nie. Haar genesing moes sy in die geheim kom steel het. Die oomblik toe sy Hom aanraak, het die fontein van bloed opgedroog. Die fontein is die bron, die oorsprong van haar siekte. Hy kan ook die oorsprong van jou seer stop. As die bron stop, sal die stroom ook stop. Hy sal jou nie wegdryf nie, my kind. Hy kan jou gesond maak. Hy kan die vloek breek,” sê auntie Koekie. Haar oë praat saam.

“Auntie, as ’n mens iets stop, kom dit op ’n ander plek uit,” sê ek. “Helena, jy verstaan nie.

Die oomblik toe sy aan Jesus gevat het, het Hy gevoel hoe Sy krag uit Hom gaan en sy het gevoel hoe sy nuwe krag ontvang. Ons moet nooit vergeet dat dit Jesus iets gekos het om ons van ons sondes en ons voorvaders se sondes te genees nie. Hy het nie aan die kruis gesterf om iets te stop wat op ’n ander plek weer kan uitkom nie. Hy het gesterf om ons volkome te genees. Om die bron van ons pyn en ons sonde finaal te stop,” verhef auntie Koekie haar stem soos ’n oordadige predikant.

“Is die storie klaar?” vra ek. Iets in my wil die storie glo … glo dat ek ook genesing kan ontvang. “Dis amper klaar, Helena. Weet jy wat is jou probleem?” vra auntie Koekie nog kwaaier as ’n paar oomblikke terug. “Ek het baie probleme. Ek is nie seker na watter een Auntie verwys nie,” spoeg ek ’n bietjie sarkasme uit.

“Jy is desperaat vir die verkeerde goed. Jy smag na dinge wat nie ewigheidswaarde het nie.

Verander jou gesindheid. Jy is aan die einde van jou krag. In die vlees kan jy ook Sy kleed aanraak. Jesus het baie meer omgegee as om net haar liggaam te genees. Al was sy genees van die bloedvloeiing, moes sy steeds die letsels van verwerping binne-in haar dra. Maar sy het Hom die waarheid vertel. Dit was die sleutel tot haar genesing, haar volkome genesing.

Vertel die waarheid. Jy gaan nooit gesond word met ’n geheim in jou nie. Laat Hy jou lei, Helena,” hoor ek die desperaatheid in auntie Koekie se stem.

“Dankie, Auntie, dit was ’n mooi storie, of altans preek” sê ek. “Wil Auntie saam met my veld toe gaan?” vra ek. “Om te gaan veldvat?” vra sy. “Ja. Dis ’n deel van my wat ek graag met Auntie wil deel,” sê ek.

“Ja, ek sal graag wil saamkom, maar dan moet jy Sondag saam met my kerk toe kom. Jy en Jess. Jy hoef nie eers ’n hoed op jou kop te sit nie, kom net saam,” smeek my auntie al weer.

“Dis ’n deal,” sê ek.

Terwyl ek die wind in die takke hoor, groet ek my auntie. Ek loop terug in die huis en sien vir die eerste keer kans om die huis skoon te maak.

Twee dae later is ek en auntie Koekie wragtig saam die veld in. Auntie Koekie het haar staptekkies en sonhoed aan. Sy lyk baie opgewonde om hierdie deel van my te leer ken.

Ek het besluit om haar Gifberg toe te bring. Aan die voet van die berg staan plate en plate jakkelsblomme, hongerblomme en blousporrie. Hier en daar staan ’n pers skilpadbessiebos.

Soos ons loop sien ek glasoogmagrietjies en knoppiesopslag. Die blomme maak my bly.

“Dis net velde en velde blomme,” sê auntie Koekie verstom. “Nie altyd nie. Hierdie jaar is ’n besondere blommejaar. ’n Paar maande terug was hier niks. Ná die paar druppels reën wat geval het, glo ek gaan ons sommer baie toeriste hierdie jaar kry,” sê ek.

“Dit sal goed wees,” sê auntie Koekie. “Hoe is dit dat Auntie hier grootgeword het en nog nooit in die veld gaan stap het nie?” vra ek. “Ek was nog altyd te besig om te probeer oorleef,” antwoord sy.

“Kom, ek wil vir Auntie iets gaan wys,” beduie ek in die rigting van die rotse. “Ek hoor water,” sê auntie Koekie. “Dis die spoelgat-rivierstroom,” beduie ek in die rigting van die water.

Auntie Koekie gaan sit op een van die rotse en kyk na die misterieuse waterval. “Oupa het my baie hiernatoe gebring,” sê ek. “Dis ’n fees vir die oog en goed vir die siel,” trek auntie Koekie haar skouers op, asof sy self nie kan glo sy sê dit nie.

Ek glimlag vir haar en gaan sit op die rots langs haar. Ons raak stil. Oupa se woorde kom weer na my toe. Ek sien hoe ek en hy hier langs die rustige waterstroom gesit het, opgestaan en net ’n bietjie verder af geloop het. Die water was nie meer so stil nie, maar wild en kolkend.

“Jou huis is waar jou hart is, my hart is leeg geween. Vandat sy verdwyn het, wandel ek oral alleen. Sing oor somer briese, jou weemoed sleep weer oor, saam die lowerstruike, sing my

’n hemelse koor. Liefde, liefde’s ’n stille rivierstroom wat vloei deur die woestynland. Droog die rivier weg, dan sal al die klein vissies sterf,” het Oupa gesing terwyl ons langs die spoelgat-rivierstroom gesit het.

“Oupa sing mooi,” het ek gesê. “Ek stap deur stille strate, die eggo’s maak my seer, my hart is soos my hande, soekend maar altyd leeg. Woestyne kan my nie keer nie, baan deur storms my weg, ek sal die rivier weer terugvind voor hierdie klein vissie sterf,” het Oupa verder uit volle bors gesing.

“Sing Oupa dit vir Ouma?” het ek gevra. “Ek sing dit vir hemelse liefde,” het Oupa met ’n groot glimlag gesê. “So, Oupa sing vir die liefde oor die liefde?” het ek gevra.

“Dis korrek, my kind. Maar nie enige liefde nie. Hemelse liefde sê ek mos. Sommige mense se liefde is soos ’n stille rivierstroom – of soos die geur van die blomme. Die mense wat die voorreg het om waarlik lief te hê en ware liefde te ontvang, bring lig vir mekaar as die pad donker voel. Daardie liefde is nie vir almal beskore nie, Helenatjie. Maar tog het ek dit al ervaar … ongelukkig net vir ’n kort rukkie. Dis die tipe liefde wat jou ’n bietjie koelte gee as 222

die lewenson jou skroei. As jy ooit iemand ontmoet by wie jy langer wil bly en keer op keer weer na terugkeer, sal jy weet hoe hemelse liefde voel,” het Oupa weer met hartseer oë gesê.

“Helena,” hoor ek auntie Koekie se stem terwyl Oupa se stem al hoe sagter word. “Ja, Auntie?” vra ek. “Wat gaan tussen jou en Danie aan?” vra sy. “Ek weet nie, Auntie,” sê ek.

“Jy weet armoede is niks, maar onnoselheid is onverskoonbaar,” sê sy.

“Wie is nou onnosel?” vra ek. “Jy is. Die man is lief vir jou. Hy het nog nooit opgehou lief wees vir jou nie. Kan jy dit nie sien nie?” vra sy. “Ek weet darem nie … dalk,” glimlag ek vir haar. “Maar eers moet jy jou geheim met hom deel,” sê sy. “Dit weet ek,” sê ek.

Die dag is mooi, maar my hart bly onrustig. Ons sit in stilte, elkeen met ons eie harte, ons eie sondes, ons eie drome. “Ons moet definitief hierdie meer gereeld doen, my kind. Ek wil sommer moenie-worry gospels begin sing. Vir die eerste keer verstaan ek hoekom jy jou troos in die veld kom soek,” sê auntie Koekie.

“Auntie kan maar sing,” lag ek. “Moenie worry nie, daar’s ’n Saviour. Moenie worry nie en wees ’n bietjie bly. Moenie worry nie, the King is on his way,” sing my auntie vreeslik mooi.

“Ek weet nie presies wat dit is nie, maar wanneer ek hier in die veld is, kan ek dit voel. Ek voel iets wat baie groter as ek is. Iets wat lief is vir my,” sê ek.

“Dis ons Here Jesus wat jy voel, Helena. Ek voel Hom ook. Ek sing dan nou sommer vir Hom. If you feel blue, know that it’s true, moenie worry nie, the Lord loves you,” sing sy weer, maar dié keer met ’n opgewondenheid wat ek nog nooit voorheen in my auntie gesien het nie.

“Dis lekker om Auntie so bly te sien,” glimlag ek skaam. “Jy kan ook so bly wees. Gee Hom net ’n kans. Laat Hy jou genees,” sê sy en vryf oor my wang.

Dit word ’n dag wat ek vir ewig sal onthou. Auntie Koekie verstaan my. Ek verstaan haar. Ek dink ek wil haar Here Jesus leer ken, dink ek terwyl die son in die water se reënbogies speel.