“Ma, moet ons nie maar saam met auntie Koekie kerk toe gaan nie?” vra Jess. Die kerkklok bly lui. Ek hoor die mense kerk toe stap. “Trek aan Jess. Ons gaan Pella toe,” sê ek terwyl ek die kar se sleutels soek.
Jess sê niks en ’n paar oomblikke later kom sy uit die kamer. “Vir wat gaan ons Pella toe, Ma?” vra sy. “Ons gaan daar bid,” antwoord ek kortaf. My binnegoed is steeds omgekrap oor auntie Koekie.
“Ma, moenie dat sy Ma so ontstel nie. Sy bedoel eintlik net goed,” sê Jess terwyl ons ry. “Sy weet wragtig nie wanneer om te stop nie,” kap ek terug. Ná ’n rukkie se ry raak die stilte tussen my en Jess ongemaklik.
“Is jy reg om môre terug te gaan skool toe?” vra ek. “Ek sien vreeslik daarna uit,” antwoord Jess. “Mamma, kan ek nog vir Hano nooi om een aand by ons te kom eet?” vra sy versigtig.
“Ek het mos so gesê, ja,” sê ek en draai die venster oop soos ons verby die sandduin die dorpie binnery.
“Dis so mooi skoon hier,” sê Jess en kyk om haar rond. “Jess, ek is jammer dat ek so bitter is. Kom,” sê ek en stop voor die kerkie. Jess loop onseker agter my aan. Ek kry twee bergfietse agter die museum en gee vir Jess een.
“En dit?” vra Jess. “Hulle huur die fietse uit aan toeriste. Toe dog ek net ons kan bietjie fietstrap vandag,” sê ek. “Ek dog ons gaan na ’n kerk toe,” sê Jess half teleurgesteld. “Wou jy graag kerk toe gaan?” vra ek.
“Ma weet ek wou kerk toe gaan, maar Ma se kerk is mos in die veld. Dis mos net die blerrie bossies en blommetjies wat vir Ma preek,” sê Jess. Ek sug. “Die Vader in die hemel weet, ek weet nie meer nie,” sê ek en klim op my fiets en begin trap.
“Nou het ek vervlakste high heels en ’n kerkrok aan! Kon Ma nie net gesê het ek moet my tekkies saambring nie!” skree Jess agterna. Ek besef ek was vanoggend so gefokus op my eie hartseer dat ek nie eers gesien het dat my kind kerkklere aanhet nie.
“Ma, wag vir my,” skree Jess, skop haar skoene uit en klim op die fiets. “Wat gaan aan met Ma?” vra Jess. “Wat gaan aan met jou wat net wil kerk toe gaan?” skree ek. Jess begin al vinniger en vinniger trap. Sy vat my verby.
“Jess!” skree ek. Ek trap al vinniger. Jess stop voor my. “Ag, Jess, ek is jammer. Ek wóú kerk toe gaan. Ek was net nie lus vir auntie Koekie nie,” sê ek. “Sjt,” sê Jess kwaai vir my en wys na die klompie mense in die sandriviertjie.
“Julle is laat,” kom ’n stem van agter af. Ek en Jess ruk al twee soos ons skrik. “Die sandtrap is amper verby,” sê die ou Nama-oompie en beduie na die paartjie wat dans terwyl die ander Nama-dansers om hulle dans en sing. “Wat doen hulle?” vra Jess.
“O, ek sien julle is toeriste,” sê hy en wys na ons fietse wat agter ons lê. “Wat maak hulle?” vra Jess weer. “Ek weet nou nie hoekom julle hier is nie. Maar onse Pella-dorpie is bekend vir godsdiens en dadels, en natuurlik troues … Die beste troues in die land,” sê die oompie.
“Trou hulle?” vra ek. “Hulle het klaar getrou. Hulle dans nou,” sê die oom en begin sommer daar langs ons dans. “Ons dans mos altyd. Ons dans tot dit reën. Dan weet ons die Here is bly,” sê hy en wys na die paar wolkies.
“Gaan hulle dan daar staan en dans tot dit reën?” vra Jess. “Dalk … wie weet? Ons dans, want ons vertel die storie van vlerksleep. Soms dans ons die rieldans, want dis sommer ’n dans van pure lekkerkry,” vertel hy terwyl sy ou lyf dans.
“Die lyf van die slang,” sê hy en sleep sy voete in die sand terwyl sy heupe saam met die misterie in die lug beweeg. “Die oom lyk asof hy al sy varkies verloor het,” fluister Jess in my oor. Ek glimlag.
“Sjoe,” sê hy en kom sit langs ons, uitasem, maar die man wil praat. “Hoekom dans Oom hier so eenkant? Hoekom join Oom nie daai mense nie?” vra Jess. Ek gee Jess ’n ligte stampie.
“Ek’s nie welkom nie. Hulle soek my nie daar nie. Maar dis my dogter wat daar die mis in die sand moet dans. So, ek kom kyk maar net,” sê hy en ’n traan loop in ’n vou oor sy wang.
“Hoekom?” wil Jess verder weet. “’n Mens vra nie vir vreemdelinge so baie vrae nie,”
fluister ek in haar oor. “Vra maar, kind,” sê die oom. “Hoekom moet sy die mis in die sand in dans?” vra Jess.
“Die bokke wat Vrydag vir die bruilof geslag is, se mis word gebêre tot die Sondag ná die troue. Dan vat ons Nama-mense daai mis en gooi dit in die sand. Die bruid en bruidegom moet dan daardie mis in die sand in dans totdat die mis en die sand bind. So bind hulle dan as man en vrou. Hulle nuwe lewe saam bind soos daai mis en sand,” sug die oom.
Die mense juig en sing. Die paartjie soen mekaar en dan raak hulle rustig. “Ek moet maar my pad terug kry, die mense is nou amper klaar,” sê die oom en loop in ’n ander rigting as Pella.
“Totsiens!” skree Jess en kyk die ou man agterna.
“Kom laat ons ry,” sê ek en klim weer op die fiets. Die saal is warm en brand onder my. “Ek wil nie!” skree Jess. Die mense hou op dans en kyk na my en Jess. “Jess!” raas ek.
“Ek wil nie saam met jou in die son ry nie. Ek wil nie saam met jou in die woestyn ry nie. Ek wil nie lesse by sprinkane, dassies, miere en geitjies leer nie. Ek wil dit in die regte lewe leer, waar ek my kop stamp en my eie lesse leer. Wat weet sprinkane en berge in elk geval van die lewe?” skree sy.
“Jess, jy maak geraas,” probeer ek haar rustig maak. “Nee, Ma maak geraas met al Ma se vreemde sêgoed. Ma dink Ma gaan al die antwoorde in die veld kry … op die heuwels en kranse. Auntie Koekie is reg,” sê Jess en klim op haar fiets.
My hele lyf voel lam. Jess is reg. Alles wat sy sê is waar. Ek soek my antwoorde in die veld.
Terwyl my kind se rok agter haar fiets wapper, lyk die woestyn om haar dor, met klippies wat hier en daar blink. Alles hier is anders, maar ook so eenders.
“Ag, Here, help my,” huil ek soos ek agter my kind se wapperrok aantrap. Die droë wind droog my trane af. “Ek wil huis toe gaan,” sê Jess waar sy onder ’n koelteboom voor die kar wag. “Oukei dan,” sê ek en gaan gee die twee fietse terug.
“Hoekom het Ma my hiernatoe gebring?” vra Jess toe ons die dorpie groet. “Ek wou graag saam met jou tot by die Oranjerivier ry, dalk ’n paar dadels saam met jou geëet het en dan saam met jou onder die palmbome gaan bid het,” sê ek.
Jess sê nie ’n woord nie. Die pad terug voel lank en mislik. Die Here gaan my moet help. Ek weet nie wat ek doen nie.
Auntie Koekie … Sy staan met al twee haar hande in haar sye voor die huis, gereed om my kop weer te kom skrop. “O dooie dorie, jy is darem ’n regte veerlose pou, Helena,” sê sy en wys vinger na my tekkies, sweetpakbroek en oorgroot T-shirt.
Jess klim uit en groet. Ek klim sommer weer terug in die kar. “Die lewe is nie ’n groentjiekonsert nie. Jy moet begin lyk soos ’n waardige vrou … ’n ma … nie soos ’n tomboy nie,” gaan auntie Koekie aan.
“Was Auntie nie dan nou net in die kerk nie?” vra ek terwyl ek my venster afdraai. “Ek was, ja. Iemand moet kerk toe gaan om vir jou siel te bid,” sê sy. “Auntie kan nie die een oomblik polsende psalms en vlerkieliedjies sing en the next moment vir my kom slegsê nie,” sê ek terwyl ek die venster weer toedraai en voor my kyk.
“Jy moes ’n actress geword het, wie’t jy dit?” sê sy terwyl sy aan my venster klop. “Los my!” skree ek. “Ek wil jou net help, maar jy verbeel jou mos jou lewe is ’n sepie,” sê auntie Koekie. “Gaan Ma nou die heeldag in die kar sit?” vra Jess. Sy staan langs auntie Koekie.
Ek besluit om tog uit te klim. Rek of vrek. Auntie Koekie is altyd in die agtergrond. Nes die blerrie kokerboom in Pietertjie se prentjies se agtergrond. Nes Danie in my kop se agtergrond. Altyd net daar … soos Namakwaland se volmaan my drome bly omkrap.
“Aitsa! Loop soek Auntie nou man dat Auntie nou soos ’n warm vlam in die rooi rok kerk toe gaan?” vra Jess. “Nee, Sussie. Ek het klaar my kerkklere loep uittrek. Dié rok is my bloedrok.
Ek trek die rok aan as ek bloed ruik,” sê sy baie ernstig.
Jess frons. Ek sug. Ek ken haar bloedrok. Sy dink mos sy kan die dood ruik. Elke keer as sy die rok aantrek, preek sy vir ons oor ons sake met die Liewe Vader. Dat ons seker moet wees ons lewe is reg, want netnou is dit een van ons.
“Wie se bloed ruik Auntie nou weer,” vra Jess. “Ek weet nie,” antwoord sy. “Het Auntie nie
’n huis nie?” vra ek. “Ek moet dieselfde vir jou vra, Helena. Of toemaar, ek het vergeet jy bly mos in die veld saam al die ander veldblomme,” sê sy en kyk my lank in die oë.
Ek verstaan nie wat auntie Koekie teen my veldvat het nie. Dis mos ons Namakwalanders se voorreg, maar sy dink seker sy is beter as dit. “Wat soek Auntie?” vra ek. “’n Bord kos. ’n Ordentlike bord Sunday lunch,” sê sy. “Ek gaan nie nou kook nie,” sê ek.
“Vandag gaan ek jou leer ordentlike kos maak,” sê auntie Koekie. Jess lag en loop die huis in.
“Be my guest,” sê ek. Maar auntie Koekie verstaan mos nie sarkasme nie, of dalk kies sy om dit te ignoreer. “Ek en Jess gaan vandag net lui wees,” sê ek.
“Toe ek ’n jong vrou was, was daar nie tyd vir lui wees nie. Ons het hard gewerk. Vrugte ingelê, beskuit gebak. Ons het wasgoed met ons hande gewas. Ons was nie so bederf met ’n automatic nie. Jy stryk nie eers jou wasgoed nie, Helena,” sê sy en wys na die bondel gekreukelde klere in die hoek van die kombuis. “Dalk moet Auntie net gaan,” sê ek.
Die foon lui. Jess spring op om te antwoord. “Hallo. Haai, auntie Raulene. Ja, Mamma is hier. Hou gou aan,” sê Jess en gee die landlyn vir my. “Raulene?” antwoord ek. “Wag, ek kan nie hoor nie … wat sê jy?” vra ek. “Ontspan, ek kan nie hoor as jy so huil nie,” sê ek.
Auntie Koekie se bloedrooi rok bloei terwyl ek na Raulene se snikke aan die ander kant van die lyn luister. Die foon gaan dood. “En nou?” vra auntie Koekie. Sy en Jess kyk al twee na my.
“Raulene se mammie is doodgesteek. Auntie was reg. Nou kan Auntie maar daai rok gaan uittrek,” snik ek.