HOOFSTUK 15

“Jess, Sussa, jy moet wakker word,” roep ek saggies en vee die hare uit Jess se oë. “Dis dan nog donker, Mamma,” mompel sy en trek die kombers oor haar kop. “Ons moet voor sonsopkoms ry,” sê ek.

“Waarheen?” vra sy en loer oor die kombers. “Jy sal nou-nou sien,” fluister ek. “Oukei dan,” glimlag sy nuuskierig. “Hier is jou koffie en beskuit,” sê ek en wys na haar bedkassie.

“Dankie, Mamma,” sê sy en sit regop.

Die wêreld slaap nog, maar iets in my is wakker – vasberade om my kind te gaan wys waar my happy place is. Dit kan moontlik ook haar plek van innerlike bevryding word. Oupa het my geleer, nou moet ek my kind leer.

“Waarheen gaan ons, Mamma?” wil Jess steeds weet. “Jy gaan nou sien,” antwoord ek en vat

’n afdwaalpaadjie deur die voetheuwels van die Kamiesberge. Jess begin rondkyk soos die son sy voorkop agter die berge begin uitsteek.

Ek ry al stadiger en stop voor ’n voetpaadjie. Jess lyk bekommerd. “En nou, Mamma?” vra Jess. “Nou gaan ek jou wys waarheen my oupa my gebring het as die lewe nie meer sin gemaak het nie. Hier leer ’n mens om rustig te raak en saam met die aarde asem te haal,” sê ek.

“Ma is weird,” sê Jess fronsend. “Kom, man,” sê ek en klim uit die motor. Jess lig haarself half onwillig op. “Ek wil nog slaap,” kla sy agter my. “Kom net,” sê ek en loop haastig teen die heuwelpaadjie op.

“Wow!” roep Jess in verwondering uit toe ons bo kom. “Dis mooi, nè?” sê ek en glimlag vir haar. “Dit lyk soos ’n skildery,” sê Jess. “Dit ís ’n skildery. Veral as die son so stadig die kleure in die blomme begin wakker maak,” sê ek en sit my arm om Jess se skouer.

Twee witkruisarende speel in ’n spiraalvlug. Dit raak al hoe stiller soos die nagwind gaan lê.

“Kyk, Mamma,” sê Jess en wys na die dassies se koppies wat nuuskierig bo die rotse uitloer.

“Maak jou oë toe,” sê ek sag en vou my hande voor haar oë.

“Kan jy die lewe in jou are hoor klop?” vra ek saggies. Jess bly vir ’n rukkie stil, haar skouers sak. Haar hele liggaam ontspan. “Ek kan my hart hoor klop!” sê Jess skielik en haar oë skiet oop.

“Wanneer ek die dood aan my binnekant begin voel, gaan soek ek ’n heuwelpaadjie en loop tot heel bo … om my hart te hoor klop en saam met die aarde asem te haal. Dit laat my weer lewendig voel,” sê ek.

Jess glimlag onseker en loop vorentoe tot sy op die punt van die heuwel staan. Sy sprei haar arms soos ’n arend se vlerke. “Ek wens ek kon vlieg,” sê sy en draai haar kop na my. “Ons gaan saam vlieg,” sê ek en staan agter haar en lig my arms saam met hare op.

“Soms maak die skoonheid my hartseer,” fluister ek in haar oor. “Hoekom, Mamma?” vra Jess en laat sak haar arms. “Nie omdat dit juis gaan ophou of verdwyn nie, maar omdat ek weet ek en jy gaan verdwyn,” sê ek. Jess kyk onseker af.

“Ek wou ook al my lewe neem. Maar elke keer as die gedagte lêplek in my kop kry, hardloop ek veld toe. Ek en jy het meer sulke oomblikke nodig,” sê ek ernstig en kyk na die wêreld wat om ons wakker word. Maar ek voel ook ’n nuwe wêreld wat binne in my wakker word.

“Dis ’n bietjie baie om in te neem. Hoekom praat Mamma nou so anders? Mamma het nooit voorheen so gepraat nie,” vra Jess en kyk na my. Is dit teleurstelling wat in haar oë brand?

“Sussa, jy het my laat skrik,” sê ek en gaan sit op die klip. Ek laat val my gesig in my hande.

“Ek dink ek het sommer heeltemal wakker geskrik en besef dat my bitterheid teenoor die liefde en die lewe op jou begin afsmeer. Ek is so jammer. Ek is regtig jammer,” sê ek.

“Dis oukei, Mamma,” sê Jess, vat my hand en kom sit langs my. Die oomblik is stil. Hier tussen berge en vlaktes lê ons vergete drome en beloftes en ongelukkig ook ons geheime, dink ek terwyl ek na Jess se oë kyk.

Dis asof sy haar eie antwoorde in die vlaktes probeer soek. As ek my oë toemaak, is dit amper asof ek Oupa hier langs my sien sit. Die maan hang steeds moedswillig in die hemel.

Asof hy nie vir die son wil kans gee om uit te kom nie. Ek hoor Oupa se woorde in my kop.

“Die maan wil nog iets sê voordat die aarde sy rug op hom draai,” het hy gesê en ’n slukkie moerkoffie uit die koffiefles gevat. Ek het ook ’n sluk gevat. Ek wens Ouma het meer kondensmelk ingegooi, het ek gedink terwyl Oupa so die verte instaar.

“Helena, het jy geweet die stilte ken die geheime van die dae en nagte. Maar in woorde kan ons nie hierdie geheime verstaan nie. Dis ’n wysheid wat slegs gevoel kan word. En dan weet ons dis waar, dis alles waar. Dit wat ons nog altyd vermoed, is waar,” het Oupa gesê en die fles by my gevat.

“Kinders mag nie so baie koffie drink nie,” het hy gesê, ’n sluk gevat en die fles toegedraai.

“Wat het Oupa vermoed?” het ek versigtig gevra. “Die waarheid … of moet ek eerder ’n waarheid sê. Dis wat ek vermoed het, Helena,” het Oupa gesê en sy oë toegemaak asof hy wou bid. “Wat is hierdie waarheid, Oupa?” het ek gevra.

“Ek kon nooit my siel in hierdie lewe vind nie, maar ek het die paaie waarop my menswees wandel, gevind. Nie net op een pad soos die dominee altyd sê ’n mense moet loop nie.

Partykeer loop jy eers ’n ompad of ’n klomp paaie om by die waarheid uit te kom. Die dominee het vir my gejok,” het Oupa gesê en sy oë weer oopgemaak.

“Oupa het die dominee dalk nie reg verstaan nie,” het ek gesê en gestrek na die fles onder Oupa se blad. “Net nog een slukkie. Jou Ouma moet volgende keer eerder vir ons rooibos maak,” het Oupa geglimlag. “Met baie meer kondensmelk,” het ek gesê.

“Nee, my kind. Jy gaan roes in jou maag kry van al die suiker,” het Oupa gelag. Ek het saam met Oupa gelag. Toe het hy weer stil geraak.

“Dalk wou ek nie verstaan nie?” het Oupa gewonder. “Hoekom sal die dominee nou net vir Oupa jok?” het ek gevra. “Nee, my kind, hulle jok vir ons almal,” het Oupa gesê. “Sê, Oupa,” het ek gesê. Ek wou hom nie beledig nie, maar wat wou hy nou eintlik sê?

“Hulle wil ons bangpraat – ons bangpraat vir ons eie drome, begeertes en verlede. Ons moet seker bang wees, maar ons moenie in vrees lewe nie,” het Oupa gekug.

“Ek voel bang as ek ’n nagmerrie kry,” het ek gesê. “Dis ’n anderste bang wat die kerk wakker maak, my kind. Hulle verstaan nie altyd nie,” het Oupa gesug. “Aai, Oupa praat so deurmekaar vanoggend. Wat verstaan hulle nie?” het ek weer gevra.

“Slegs wanneer jy vrede gemaak het met die menslikheid in jouself, en net as jy weier om in vrees te lewe, slegs dan kan jy jou drome met jou vingers aanraak … die naakte liggaam van jou drome streel,” het Oupa gesê.

“So, ons moet nooit bang wees nie?” het ek gevra en probeer sin maak van Oupa se woorde.

“Helena, daar is dinge waarvoor jy bang moet wees, maar moenie bang wees vir jouself nie. Moenie bang wees vir dit wat in jou brand nie,” het Oupa gesê.

“Mamma, waar dwaal Mamma se kop?” ruk Jess my terug uit die verlede. “Ek dink sommer aan hoe ek en Oupa ook hier gesit het,” sê ek met ’n traan onder my glimlag. “Is Mamma oukei?” vra Jess. “Ek is oukei,” sê ek en sit stywer teen Jess.

“Ek is bly Mamma het my hiernatoe gebring. Ek wil nie meer bang wees vir die lewe nie,” sê Jess. “Die lewe is dodelik en die dood is ’n doodgewone deel van die lewe. Maar jy mag nooit self besluit wanneer dit jou tyd is nie,” sê ek.

“Ek weet … ek weet,” sê Jess sag. Die son is al bo die bulte, die sonbesies begin die stilte wegsing. “Wil Ma gaan swem?” vra Jess en wys na die ou plaasdam onder die heuwel. Ek sien Danie se terg in haar oë.

“Moenie simpel wees nie. Dis te koud,” sê ek. “Laaste een in, is ’n vrot pampoen!” skree Jess. Sy spring op en hardloop teen die heuwel af. Sy lyk soos die ou Jess. Die kind wat sy nog moet wees. Ek kan nie glo dat sy al vrou wil wees nie.

“Hier kom ek!” skree ek terug, spring op en hardloop versigtig teen die heuwel af. Ek sien hoe my kind haar klere uittrek en met haar onderklere induik. “Dis heerlik!” roep Jess.

“Dis yskoud! Jy is lekker laf, man,” sê ek terwyl ek my toon in die water druk. Jess klim uit en loop na die hopie klere, steeds met die terg in haar oë. “Ma is die vrot pampoen!” lag sy en stamp my van agter af in.

“Nee, Jess!” ril ek van die koue. Jess lag uitbundig, dan help sy my uit. Ons lag saam en loop hand om die lyf terug kar toe. “Dit was nou lekker, Mamma,” glinster Jess se oë terwyl ons terug kar toe loop. “Dit was lekker,” sê ek. Ek stop in my spore en kyk na Jess. “En nou?” vra Jess.

“Elke keer as jy weer kwaad, hartseer of omgekrap voel, of net voel dat die lewe jou te na gekom het, moet jy net ’n oomblik neem en om jou kyk. Vra jouself of die lug se blou verdwyn het, die son ophou skyn het, die voëls ophou sing het en die blomme hulle geur verloor het. Al voel ons harte hoe seer, gaan alles om ons aan. Die lewe gaan aan,” sê ek.

Jess gee my ’n stywe drukkie voor ons in die kar klim. “Ma is baie anders,” sê Jess. Ek hoop nie ek is te veel vir haar nie. “Is daar van auntie Koekie se brijani oor?” vra Jess op pad huis toe.

Auntie Koekie staan wragtig voor die hek met haar mandjie tamaties en wag ons in. “Waar in die vlaktes lê julle rond? Kry jy nie genoeg van die berge en dale nie, Helena?” groet auntie Koekie.

“Môre, my auntie!” groet ek. “Waar was julle?” vra sy weer nuuskierig. “Mamma het my bietjie veld toe gevat,” sê Jess. “Nè, en hoekom is jy so sopwaternat, Helena?” vra sy met groot oë.

“Ons het bietjie geswem, Auntie,” antwoord ek selfbewus. “Jy gedra vir jou soos ’n kind. Dis tyd dat jy ’n ma en ’n vrou van die huis word,” sê sy en sit die mandjie tamaties langs haar neer.

“Genade vader, besef Auntie nie ek kan self gaan tamaties koop as ek tamaties wil hê nie?” vra ek. “As ek nie daaraan dink nie, sal jy ook nooit iets in jou huis hê nie. Jy lê mos net in die bosse. Kom julle nog môre kerk toe?” vra sy.

“Ek moet eers my hoed gaan soek,” sê ek. “Jy was so lanklaas in die kerk, geen wonder jy weet nie waar jou hoed is nie,” mompel sy by haarself.

“Ek kom saam, Auntie,” sê Jess. “As jou ma eers begin hoed soek, weet ek, ek sien haar nie in die kerk nie. Dis ou maniere daai. Verskonings, verskonings. Gelukkig is daar nog hoop vir jou my kind, maar vir jou ma … aikôna. Die veld gaan haar mos hemel toe vat,” sê sy.

Ek ignoreer haar net. “Kom, ek gaan maak vir ons tee,” nooi sy haarself in. “Koebaai, Auntie,” slaan ek die deur in haar gesig toe. “Dankie vader! Jess los daai hoed. Jy hoef nie kerk toe te gaan nie,” sê ek.

“Ongeskik! Daar is geen hoop vir jou nie, Helena!” skree auntie Koekie voor sy loop. “Ma kan mos nie die deur so in haar gesig toeslaan nie!” sê Jess. “Genoeg is nou genoeg. Ek sien haar elke dag in die winkel. ’n Mens kan nie die pap so dik aanmaak nie,” sê ek.