HOOFSTUK 11

Die dokter het gisteraand gesê dat Jess eers oor ’n paar dae kan huis toe gaan. Hy het iets van nog observasies gesê. Vanoggend hang die wolke versadig. Opgeblaas soos my gedagtes. Die lug is koud. Die son val plek-plek deur die gapings tussen die wolke.

My gedagtes begin wandel … my hart en my kop onderhandel. Die musiek op RSG raak net

’n gedruis. Ek skakel die radio af en staar voor my uit na die lang reguit pad. Oupa het altyd gesê die reguit pad is die enigste pad.

Wel, die reguit pad is maar vervelig. Dit los my met geen vrae nie en gee geen antwoorde nie.

Eintlik oorweldig dit my met ’n eensaamheid. Dis asof vandag my wil wegvat na ’n ander plek.

Wel, hier kom ek Pella. Raulene se Pella het my vanoggend voor sonsopkoms geroep.

Raulene se bidplek … se plek van antwoorde en rustigheid. Sy het altyd met verwondering oor Pella en die nonne gepraat.

Pietertjie se prentjie lê op die sitplek langs my. Twee diamante in die veld. Bloedspatsels oor die sandveld. Raulene se woorde oor die bloeddiamante bly by my spook. Ek sit die motor in vierde rat en ry al stadiger.

My linkerhand voel na die prentjie. Ek draai dit om. Met een oog op die pad en een oog op die agterkant van die papier lees ek weer Pietertjie se woorde: Vir Helena. Die waarheid sal jou vrymaak.

Ek frons. My kind se bloed is amper deur my bitter waarheid opgesuig. Oupa se bloed was al donker droog toe ons op die ongelukstoneel afgekom het. Pietertjie se bloed was nog lank ná sy dood sigbaar teen die skurwe mure in Ma se huis. Bloed vlek.

Pietertjie het sy kop so teen die muur gestamp tot die bloed geloop het. Dan het hy met vinger en bloed prentjies teen die muur geteken. Ook sy kop teen die houttafel in die kombuis gestamp, oor en oor, totdat die bloed in die gleufies van die houttafel ingesyfer het. Dae later sou hy daardie selfde droë bloed met sy naels uitkrap totdat dit donker onder sy naels gaan sit het.

Pa? Pa se bloed het ek nooit gesien nie. Seker maar beter so. Maar ek kon sy dood voel. Van die dag wat sy bus verbygery het sonder om hom af te laai, kon ek die onheil voel.

Nou wonder ek wie se bloed moes vir daardie blerrie oorbelle vloei? En hoekom dit enigsins iets met my te doen het? Dis nie asof ek nou krag het nie. Jess is nou my prioriteit. Maar ek kon myself douvoordag nie keer om hierdie pad te neem nie. Ek moes Pella se stem volg.

Ek neem die reguit pad tot in Pella terwyl my gedagtes in my kop raas. “Dis die plek waar die engele kom draai vir aandete,” het Raulene altyd gesê. “Forwards Ever, Backwards Never,” lees ek die leuse wat by die ingang van die dorpie staan.

Die katedraal staan trots in die middel van die dorpie. Twee hoë dadelpalms staan aan weerskante van die toring. Die wit kerkie word omring met palmbome. Oral in die mense se erwe staan beddens onder die bome. Die vee wei sommer in hulle erwe. Dis ’n pragtige eenvoud, nes Raulene dit beskryf het.

Die son is steeds besig om op te kom, die dorpie nog besig om wakker te word. Ek parkeer voor die museum, maar bly in my motor sit. Waarheen nou? Ek soek na my foon. Dalk moet ek net vir Raulene bel.

Die foon lui net … kliphard in hierdie stilte. Dan antwoord Raulene net voordat ek wou dooddruk. “Môre, Sussie,” hoor ek haar stem. Ek voel verlig. “Haai Raulene. Jy sal nie glo waar’s ek nou nie,” begin ek.

“Moenie vir my sê jy is by Danie nie,” sê sy. “Nee, nooit!” Die gedagte van Danie ontstel my. “Ek is in Pella,” sê ek. Dis stil aan die anderkant van die lyn. “Hallo?” vra ek. “Ja, ek is hier, Sussa. Wat soek jy in Pella?” vra sy.

“Ek soek daai vrede wat jy my altyd van vertel het. Jess het probeer om haar lewe te neem,” begin ek huil. “My lewe is op ’n vreemde plek, ek het antwoorde nodig. Die regte antwoorde.

Toe dog ek jy het mos altyd hiernatoe gekom,” probeer ek kalm word.

“Nee, wat vertel jy my nou! Is sy oukei?” vra Raulene geskok. “Sy is oukei. Dis my skuld.

Dis alles my skuld. Ek het hulp nodig,” erken ek.

“Sussie, word kalm. Ek gaan sommer vanmiddag by jou kom draai, dan vertel jy my alles. Ek het hoeka die vreemdste droom nou die dag van jou en Danie gehad. Maar laat ek jou nie verder ontstel nie. Vra vir suster Felisa,” sê Raulene.

“Dankie,” sê ek. “Aai, my liewe, liewe mensie. Ek is bly jy is daar. Ek sien vir jou later, hoor,” groet Raulene. Ek klim onseker uit my motor. Skoolkinders loop vrolik verby my. Ek loop onseker tot voor die kerk. ’n Paar nonne kom op ’n drafstap verby.

“Verskoon my,” sê ek. “Goeie môre,” groet hulle vriendelik. “Kan julle dalk vir my sê waar ek suster Felisa kan kry?” vra ek. Die oudste een glimlag. “Hoekom wil jy weet,” vra sy.

“Raulene, my vriendin, het gesê ek moet met haar kom praat,” sê ek onseker.

Die ander twee jonger nonne knik hulle koppe en loop verder. “Hoe kan ek help? Ek is Felisa,” sê sy. Ek sug van verligting. “Ek het hulp nodig,” sluk ek my trots.

Ek voel ontuis in my eie vel. Helena sou nooit skuld erken nie. Helena sou nie hulp soek nie.

Iets is besig om in my binneste te gebeur. Ek weet nie of ek daarvan hou nie.

“Jou oë lyk hartseer,” sê Felisa. “Kom ons gaan sit daar onder die palms. “Hoe ken jy en Raulene mekaar?” vra sy. “Ons het lank terug saam agter in ’n madam se erf gebly. Raulene het daar gewerk en ek moes daar bly,” sê ek.

“Helena?” vra sy. “Ja, skies man, ek het myself nie eers voorgestel nie,” sê ek skaam.

“Raulene het altyd gesê sy wens sy kon jou hiernatoe bring,” glimlag sy. “Raulene was baie goed vir my. In ’n tyd toe ek niemand gehad het nie, was sy daar,” sê ek.

“Sien, die Here sou nie Sy lewe vir jou gegee het om jou net weer weg te gooi nie. Hy kyk na jou, al dink ’n mens nie so nie,” sê sy. Ek glimlag onseker. Suster Felisa haal ’n

plastieksakkie met dadels uit haar sak en hou dit vir my uit. “Die natuur se toffies,” sê sy.

“Dankie,” sê ek.

Haar oë is sag en eerlik. Ek kan verstaan dat Raulene gereeld onder haar vlerk kom inklim het. “Helena, ek kan jou nie help nie. Jy moet jouself help. Ek kan jou wel wys hoe,” sê sy.

Ek knik in afwagting.

“Die Katolieke is geleer dat ’n mens met goeie werke ’n bydrae moet maak om gered te word. Maar dit sou beteken dat Christus se kruisdood nie genoeg was om ons te red nie. Die Protestante glo dat Christus genoeg gedoen het om ons te verlos … dat ons uit Sy goedheid en genade gered sal word en daarom nie iets hoef by te dra nie,” verduidelik sy, haar stem steeds rustig.

Ek knik net. “Al twee is reg, maar ook verkeerd. Helena. Die feit dat jy vandag besluit het om na ’n katedraal toe te kom, sê vir my dat jy op soek is na geloof?” vra sy. “Ek soek die waarheid,” sê ek.

“Die waarheid is dat geen geloof eie waarde het nie. Die kerkhervormers het selfs van geloof as “leeg” gepraat. Om te glo, beteken dat jy niks kan doen om jouself te help nie. Dat jy dus leeg is en heeltemal tot Hom aangewese is. Dat alles net van Hom af kom. Geloof is die leë hand wat uitsteek om deur Hom gevul te word,” sê sy en hou weer die sakkie natuurtoffies uit.

“Goeie werke is onontbeerlik deel van ons dankbaarheid,” sê sy. Ek vat nog ’n dadel en luister aandagtig. “En as ons nie waarlik dankbaar is nie, is ons nie waarlik gered nie. As ons lewe nie waarlik verander nie, is dit ’n teken dat ons nie werklik glo nie. Verstaan jy?” vra sy.

Sy glimlag so mooi. Haar oë steeds sag en nederig. “Ek verstaan, dankie. Maar wat moet ek nou doen?” vra ek. “Vind jou vryheid in jou geloof. Hou op om soos ’n slagoffer op te tree.

Droom van ’n voorspoedige toekoms. Werk hard en word deel van jou gemeenskap,” sê sy.

Haar woorde kry haakplek in my hart. Veral die slagoffer-gedeelte. Hoe hou ek op om soos

’n slagoffer op te tree, as ek ’n slagoffer is? Moet ek haar vra, wonder ek. Of gaan ek dan net weer lyk soos die Sannie-jammergat Helena wat almal ken.

“Maar ek is ’n slagoffer,” sê ek wragtig. “Maar dan is ek jammer as jy besluit het om ’n slagoffer te wees,” sê sy, steeds met ’n glimlag. “Slagoffers gee op. Hulle kan nie gehelp word nie,” sê sy. Ek weet nie wat om te sê nie. Daisy was reg. Ek is pateties.

“My ouers was in die oorlog. Hulle het alles verloor. Maar ten spyte van wat met hulle gebeur het, het hulle nooit slagoffers van hulle omstandighede geword nie,” sê sy. “Dis wonderlik,” sê ek en probeer baie hard om nie sarkasties te klink nie.

“Jy hoef nie meer ’n slagoffer te wees nie, kind,” klink sy vir ’n oomblik nes auntie Koekie.

“Hoe? Hoe besluit ek net om nie meer seer te kry nie?” vra ek. “Ons is mense, Helena. Ons kry seer, maar ons moet leer om te verander wat ons kan verander en te aanvaar wat ons nie kan verander nie. Dis die geheim,” sê sy.

“Die geheim? Hoe verander ek die krag van die vloek?” vra ek. “Die vloek?” frons sy vir die eerste keer. “Die vloek, die sondes en die onbeantwoorde liefde?” vra ek. Suster Felisa kyk vir ’n oomblik op na die lug.

“Ons susters glo in genade. Die teenoorgestelde van genade is nie sonde nie, maar die natuur.

Die menslike natuur moet deur die genade verhef en verbeter word – dáárin bestaan die verlossing,” verduidelik sy.

“Dankie, Suster,” groet ek. Wat weet sy in elk geval van die vloek? Sy leef nog haar hele lewe tussen die veilige mure van die klooster. En van die liefde weet sy tog niks. Van hartstog nog minder.

Ek moes nooit hiernatoe gekom het nie. En as ek ’n patetiese slagoffer geword het, so what!

Almal is seker die een of ander tyd ’n slagoffer van liefde … van onregverdigheid.

Toe ek net heuphoogte was, het Oupa my vertel dat ons hele familie slagoffers van die vloek is. Oupa wou my altyd ’n crash course gee as sy Vaal Japie leeggedrink was. Maar dan was hy vol speletjies – soms vol van wysheid, soms vol nostalgie – altyd vol verwyte, maar nooit vol wraak. Hy het Vaal Jaap gelos, seker so agt maande voor sy dood. Was hy dan ’n slagoffer?

“Oupa lyk soos ’n seerower,” het ek een aand vir hom gesê toe hy so lekker in sy eie olies geswem het. Hy het die lepels uit ouma se messe-en-vurke-laai gaan haal en dromme op sy knieë gespeel.

Ná ’n ruk het hy sy trekklavier gaan haal en oor die leed van die lewe gesing. “En ek hou nie van seerowers nie, Oupa!” het ek parmantig met Oupa geraas. Oupa het ophou speel, ophou sing en hartseer na my kwaai gesiggie gekyk.

Ouma het haarself in haar kamer toegesluit. Sy was nie lus vir Oupa se verspotte wese nie.

Vaal Jaap het Oupa nooit kwaad of handgemeen gemaak nie, eerder lewenslustig en lekker laf. Maar soms net te laf. Vandag verstaan ek egter beter.

Oupa se waarheid het te veel geraak. Dit was een lang hartseer seisoen, swaardgevegte in sy gemoed. Onbeantwoorde liefde of dalk eerder die afgestompte liefde tussen hom en Ouma.

Die wind suis om die kar soos ek terugry Springbok toe. Blerrie nonne met hulle vooraf geoefende wyshede. Ek het nooit gekies om ’n slagoffer te wees nie. Of het ek … ?

Oupa het nooit gekies om hartseer te wees nie. Hy het wel aanhou soek na troos. Of dit nou in die bottel, in die veld of in die Bybel was. Hy het aanhou soek.

Ek loer weer na die prentjie op die sitplek langs my. Ek gaan ook aanhou soek. Ek voel bietjie stupid om net so te loop en soek na antwoorde. Eers by Vlooi, vandag by Raulene se suster Felisa.

Ek neem die afdraai na Fonteintjie. Iets in my verlang na Vlooi. Ek skop weer my skoene in die kar uit en loop tot voor Vlooi se deur. Dis baie stil. ’n Outjie kom verbygeloop en skud sy kop vir my. “Sy’s weg!” skree hy en loop verder. Maar ek hoor haar voetstappe nader kom.

“Helena, ek het gehoop jy kom gou weer,” groet Vlooi terwyl sy die sleutel sommer deur die traliehek aangee. Sy lyk moeg – nie lus vir sukkel nie. Verbeel ek my of lyk sy baie ouer … amper dood-oud? “Is jy siek?” vra ek, maar sy antwoord nie.

“Wat het jy daar?” wys sy na Pietertjie se prentjie in my hand. “Vlooi, jy weet baie van my.

Eintlik te veel. Jy weet goeters van my wat ek nog vir niemand vertel het nie,” sê ek en sit die prentjie op haar kombuistafeltjie neer.

“Hoekom het Pietertjie hierdie prentjie met die bloedoorbelle vir my geteken? Wat beteken dit?” vra ek. Vlooi lyk ontsteld.

Dan kyk sy lank na my sonder om iets te sê. “Helena, soms is dit beter om sekere goeters net te vergeet. Jy moet nou op Jess fokus. Sy het jou so nodig. Die duiwel wil ’n mens net verder omkrap wanneer jy reeds broos is,” sê sy.

Sy laat sak haar oë, asof sy iets van my wegsteek. “Hoekom wil jy nie vir my die waarheid vertel nie?” vra ek. “Hoekom vertel jy nie vir Jess die waarheid van haar pa nie?” kap sy terug.

“Dit gaan haar net omkrap,” antwoord ek. Ek wou haar al soveel keer van haar pa vertel, maar dit is beter dat sy dink hy is dood. “Dit gaan haar vrymaak, Helena,” sê Vlooi. “Hoe maak die waarheid ’n mens waarlik vry?” vra ek.

“Ek moet jou groet, Helena. Ek het net vir jou gewag, maar nou moet ek gaan,” sê sy.

“Waarheen moet jy gaan,” vra ek. Sy antwoord nie my vraag nie. “Helena, die waarheid gaan jou vrymaak, maar vir nou moet jy op jou dogter fokus,” sê sy

Ek gooi my hande moedeloos in die lug, sug en skud dan my kop. Vlooi loop tot voor my. Sy druk haar voorkop teen myne. Sy’s yskoud. Ek ruk weg, maar bring my kop dan weer nader.

“Mag jy gereed wees vir die waarheid en sien hoe die wolke terugrol na gister. Maar mag jy verstaan dat gister verby is. Mag jy dan met stilte omring word, sodat jy die hemele kan hoor praat, kan hoor kraak en voel hoe die druppels van genade op jou val. En mag jy weet alles is verby … verby,” word haar woorde al sagter.

Sy trek haar kop weg en kyk my in die oë. “En as die laaste donkermaan verby is, mag jy nuwe klanke en geure ontdek. Mag jy jou skoene uittrek en in die modder dans. Mag jy die oomblik beleef waarin jy van rigting verander, waarin jy wakker word, waarin jy verlief raak, ’n skat ontdek en die waarheid leer ken,” glimlag sy.

“Totsiens, Helena, ons tyd is klaar,” draai sy haar rug op my. Net voordat sy die vertrek verlaat, draai sy ’n laaste keer om.

“Voor ek vergeet. Die geitjie verdien dit nie om in die paleis te bly nie, maar hy bly daar. Hy soek skuiling by die Koning. Die geitjie se boodskap aan jou is om te volhard teen die sonde en die duiwel. Moenie moedeloos word nie. Moenie uit die paleis van jou Koning gaan nie.

Wanneer jy uit swakheid val, staan op en gaan dadelik terug na jou Koning toe. Bly naby Hom. En die sprinkaan … Die sprinkaan saai verwoesting, maar sprinkane beweeg in ’n vaste rigting. Is daar orde in jou lewe? Het jou lewe ’n vaste rigting?” vra sy en los my alleen met die vraag en loop uit.

“Vlooi!” roep ek agterna, maar sy kom nie terug nie. “Verdomp man!” skree ek. “Vlooi! Hoe weet jy Oupa moes my nog vertel het van die geitjie en die sprinkaan?” roep ek effens bang, terwyl ’n onbekende aardigheid my hele lyf laat ril.

Ek loop deur haar huisie, maar sy is nêrens. Voor haar kamervenster lê die hopie klere wat sy nou net aangehad het. Die wind waai vars deur die venster, al voel ek die teenwoordigheid van die dood om my. Dit kan tog nie wees nie.

Ek hardloop uit en soek haar klein lyfie langs die huis. “Vlooi! Vlooi!” hou ek aan met roep.

Die vroutjie in die huisie langsaan kom uitgeloop. “Haai nonnatjie, weet jy dan nog nie?” vra sy. Haar gesig is ingevou … empatie sit in haar oë.

“Weet ek nie wat nie?” vra ek ontsteld. Die vroutjie kom nader geloop. “Ek sien jou kar gereeld hier voor Vlooi se huis staan. Dan het ek gesien hoe jy in haar huis instap. Sy is al ’n maand terug oorlede.”

“Oorlede? Maar dit kan tog nie wees nie. Ek het dan nou net met haar gepraat. ’n Maand terug? Ek was dan net verlede week hier. En eergister. Sy het my dan gehelp en met my gepraat. Sy het aan my gevat,” begin ek huil.

“Ek weet jy was hier. Ek het gewonder wat soek jy hier. Maar Vlooi is nie meer hier nie,” sê sy. Die vrou kyk my aan asof ek mal is. “Sy was oud, jong. Dit was haar tyd,” sê die vrou.

“Ek verstaan nie,” sê ek. Dit voel asof ek droom. Ek loop terug in die huisie in en gaan haal Pietertjie se prentjie wat steeds op die tafeltjie lê. Soos ek uitloop kom die vroutjie van langsaan weer aangeloop.

“Moet ek iemand bel om jou te kom haal?” vra sy. “Nee, dankie. Ek het self tot hier gery en ek kan self weer terugry,” sê ek. Ek klim in die kar en bly ’n oomblik net sit. Is ek dan mal?