HOOFSTUK 17

Om te lag is ’n voorreg. Maar vandag is ’n dag van suurgesigte wat lyk asof hulle nooit weer gaan kan lag nie. My vriendin is ontnugter. Dis Raulene se mammie se begrafnis. ’n Stukkie mensdom staan op ’n tobhoop langs die hopie grond. Ek, Jess en auntie Koekie staan eenkant.

“Die tyd is te stadig vir die wat wag, te vinnig vir hulle wat vrees, te kort vir die wat bly is en te lank vir die wat treur, het Henry van Dyke geskryf,” sê auntie Koekie. Ek ruik groen en grond. Die warm grond word uitgehol vir die koue lyf … Dan ruik ek die skerp reuk van bossies.

Ek kyk na Jess en wonder hoe kry ’n mens jou lewe betyds klaar geleef. “Tyd is wind,” sê auntie Koekie en vat my hand. Raulene kom aangeloop. “Dankie dat julle hier is,” sê sy.

“Natuurlik. Ek is hier vir jou,” sê ek en hou haar vas.

“Jou mammie het altyd saam met my gebid vir die mense. Ek weet sy’s daar bo. Maar nou los sy my om al die preekwerk en bidwerk alleen te doen. Dis okkie fair nie,” sê auntie Koekie.

“Auntie!” raas Jess.

Raulene gee auntie Koekie ook ’n drukkie en loop dan weer na ’n volgende groepie mense.

Die kis kom stadig aangery met ’n trekker terwyl die mense sing. Die liggaamlose taal van die sang praat saam met die wind totdat die kis afgelaai word.

“Die dood maak deel uit van ons bestaan. Ons almal weet Gertruida was nie bang vir die dood nie, ” begin die priester praat. Ek maak my oë toe en voel vir Oupa langs my. Ek hoor hom in die wind tussen die kerkhof se bome. Ek voel hom in my hart …

“’n Mens het nie geleef as jy nie sterf nie. Jou pa het geleef,” het Oupa langs Pappa se graf gesê. “Vreemd hoe ons net nou die dag hier was vir ’n troue en vandag vir ’n begrafnis,” fluister Jess in my oor.

“Die Pella-plek is so warm soos die hel,” fluister Jess weer. “Hou jouself in,” raas auntie Koekie. Jess het nie Raulene se mammie geken nie. My dogter het nog nooit langs ’n geliefde se graf gestaan nie. Sy ken nie daai pyn nie.

“Ek hou nie van begrafnisse nie,” fluister Jess en loop in die rigting van die katedraal. “Los die kind,” keer auntie Koekie my toe ek haar wil volg. Die Katolieke susters begin weer ’n onbekende liedjie sing.

“Ons gaan seker nie bly vir die ete nie,” fluister auntie Koekie. “Ons kan seker maar uit ordentlikheid bly,” sê ek. “Ek hou nie van die bloedgesmeerdery nie,” fluister auntie Koekie weer. “Die wat?” vra ek ongeduldig. Die paartjie langs ons kyk kwaai na my en auntie Koekie.

“Jy mag mos nie saam met hulle die dodekos eet sonder om gestreep te word nie. Die

Katolieke glo mos so. Hulle streep vir jou op jou maag en die mans op een arm. Ek het al hulle begrafniskos geëet, sonder die bloed-ding en ek was self amper dood. Ek was so siek van daai kos. Hulle grap nie. Ek sê maar net vir jou ek doen nie die bloed-ding nie en gaan nie saam eet nie,” verduidelik auntie Koekie saggies terwyl die priester weer praat.

“Sjt,” raas die paartjie langs ons. “Ek gaan ook nie die bloed-ding doen nie. Dan gaan ons maar terug,” fluister ek. Auntie Koekie knik haar kop tevrede.

Dis nou al amper twee weke ná die begrafnis. Raulene bel nie meer nie. Jess leer hard vir haar eksamen. Die lewe gaan aan. “Jy is blerrie bederf, man!” hoor ek auntie Koekie skel soos ek die winkel inloop. Die kliënt word uitmekaargetrek deur auntie Koekie.

“En moenie met my Engels kom praat nie,” sê auntie Koekie en wys skaamteloos na die

bordjie teen die muur waarop staan, “Hier praat ons net Afrikaans”. “Praat Afrikaans of hou jou bek van my af,” hou sy aan.

“Nee man, Auntie! Ons praat nie so met die kliënte nie,” sê ek en spring voor haar in. Die man loop woedend uit. Hy is duidelik ’n toeris. “So, hy mag arrogant kom wees oor body soap. Hy lag dan vir ons boereseep,” sê auntie Koekie en ruk verder haar nekkie.

“Jy weet, Helena, toe ek jou ouderdom was, het ek my eie seep en cream gemaak. Daar is niks beter as gliserien, paraffien en kerswas vir die skurfheid nie. Ek moes my eie seep kook.

Ons het nie goed soos julle uit winkels geken nie. Ons het als self gemaak,” sê auntie Koekie.

Ek sug. “Gelukkig leef ons nie meer in toentertyd se tyd nie,” sug ek weer. “Julle jong mense weet nie wat werk is nie. En nog minder van swaarkry,” sê sy. Ek gaan sit maar agter die lessenaartjie en begin met die boeke.

“My grootouma het vir ons koffie met akkerpitte gemaak,” sê sy terwyl sy vir my koffie ingooi. “Vandag se kinders weet nie eers hoe om ’n koei te melk nie. Ek onthou hoe trots ek op myself was as ek die koei kon melk dat die skuim so staan,” sê sy.

“Nie te veel melk nie, asseblief, Auntie,” vra ek, steeds met my oë in die boeke. “Hoe mis ek melk in glasbottels. Ons het nie in so ʼn plastiekwêreld soos julle geleef nie. Hoor jy wat ek sê, Helena?” vra sy en sit die koppie langs my neer. “Ja, Auntie,” antwoord ek.

Wat moet ek nou sê? Ek is net bly ons hoef nie elke oggend ’n koei te gaan staan en melk voor ons ’n koppie koffie kan drink nie. “En by the way. Ek ken van swaarkry. Auntie kan nie sulke goeters sê nie. Almal in die dorsland kry swaar, nie net Auntie nie,” sê ek en kyk op.

“Dankie vir die koffie,” sê ek en vat ’n slukkie. “Maar nou ja, ek is bly dat ons nie alles self hoef te maak nie,” erken ek en vat nog ’n slukkie.

“Skaam jou, Helena. Jy is blerrie lui. Jy stryk nie eers jou klere nie. En dan het jy nog die voorreg van ’n steaming iron. Ek moet my yster nog op my koolstoof warm maak,” baklei die Auntie al weer, of eerder nog steeds. Ek wonder party dae hoe hou haar bloeddruk dit.

“Ek sal vir Auntie ’n strykyster koop,” sê ek sonder om op te kyk. “Jy hoor ook niks wat ek sê nie. Is net gepla met jou geldsommetjies,” sê sy en tel my leë koppie op. “Ek is nie nou lus vir Auntie se geselsies nie,” sê ek en probeer op die syfertjies konsentreer.

“Jy’s nooit meer lus vir enige iemand se geselsies nie. Helena, jou bitterheid dryf mense weg.

Tot jou eie kind wens jy kon net weer ’n bietjie lag,” sê sy en loop kombuisie toe. “Ek probeer. Die Here weet hoe hard ek probeer om te verander,” sê ek sag en kyk hartseer op.

“Jy moet aanvaar wat jy kan verander. En bygones, bygones laat wees.” “Ja, Auntie kan maklik praat,” sê ek en byt op my onderlip. “Dink jy dan ek het dit altyd maklik gehad? Ek bedoel nou van liefde en kinders alleen grootmaak?” vra sy en kom staan reg langs my. “Ek het dit nooit gesê nie,” sug ek. Ek sal die boeke maar by die huis moet doen.

“Jy het nie ’n idee nie. Ek het ook my kinders alleen grootgemaak, al drie van hulle. Sonder man of man se geld. Ek moes huisvrou wees, vrugte inlê, beskuit bak en nog my day job doen. So met my laatlam op my rug. En deur die gestruggle moes ek nog met ’n getoordery ook sukkel! Jy weet niks, Helena!” sis sy.

“Toordery?” vra ek nuuskierig. Dis nou ’n storie wat ek wil hoor. “Ek kan sien hoe spits jy jou ore. Maar dis iets waaroor ek nie graag praat nie, of aan wil dink nie,” sê auntie Koekie en kyk af.

“Ag nee, Auntie kan mos nie so maak nie. Ek wil graag hoor,” sê ek terwyl ek omdraai en die boek toemaak. “Nee,” sê sy ferm. Ek sug en maak die boek weer oop. Dalk gaan sy nou bietjie stilbly.

“My vantevore man, die pa van my kinders, het my gelos vir ’n vrou, ’n vrou wat ’n hele stuk jonger as ek was,” sê sy en sleep haar stoel tot langs my. Sy het tog besluit om my te vertel … maar haar oë is nie so opgevlam soos altyd nie. Haar mondhoeke hang afwaarts en haar oë is tranerig. Ek maak my boeke toe en vat haar gekreukelde hand in myne.

“Jy weet, Helena, daai begrafnis van anderdag het my net weer laat besef dat tyd te kort is vir hulle wat bly is. Maar vir hulle wat liefhet, is daar nie tyd nie. Die liefde maak darem alles net mooier, maar in my geval was dit ongelukkig nie so nie, jong,” vertel sy hartseer.

“Aai, Auntie, ek het nooit besef nie,” sê ek en druk haar hand saggies. “Nou daai jong vroutjie kon vir jou toor. Sy was nie bang vir vreemde goeters nie. Elke keer as ek my kinders se pa geld gevra het vir school fees, het sy kom toor,” vertel sy terwyl haar oë begin opvlam.

“Hoe, Auntie? Hoe het sy Auntie getoor?” wil ek weet.

“Met ’n bobbejaan. Daai bose bobbejaan sou in die nagte met kettings op my dak kom hardloop. En in die dag sou daai einste bobbejaan saam Feitjie touspring. Die kinders het gelag, maar ek het geweet daai ding was boos. Tot die een dag toe ek die swarthaarding weer so sien touspring saam met my kinders, toe hol ek en loop haal kookwater,” vertel sy al hoe vinniger.

“En toe?” vra ek en sit skoon regop. “Toe gooi ek daai verdomde bose ding met die kookwater. Daai ding verander toe in ’n mensekind, ’n Eva – die einste flerrie wat my man gesteel het. Die dorp se mense het my vertel sy was nooit weer dieselfde nie en haar gesig en lyf was vol brandwonde,” vertel sy. “Nee, nooit! Rêrig, Auntie?” vra ek.

“Die Here weet, ek sal nie oor sulke goeters jok nie … Nadat ek daai heks met die kookwater gegooi het, het sy botteltjies hare en naels en bloederige goetertjies in my tuin geplant. Die botteltjies het sommer sulke rokies in hulle gehad. My seun het daarop afgekom toe hy tuingemaak het. Sy het ons almal getoor, Helena,” vertel auntie Koekie. “Ek kry sommer nou koud,” sê ek en staan op om die venster bo my kop toe te maak.

“Ons was van onse beddens afgeruk in die middel van die nag. Dan sou daar so bloeddorstige dik hond voor ons beddens kom staan en as iemand skree, was hy net weg. Dit was eers nadat daai botteltjies gevind en weggegooi is en die dominee my huis kom salf het, wat daai duiwels weggegaan het. Ek het ook nooit weer gaan vra vir school fee geld nie. Het maar self sien kom klaar, maar dit was nie maklik nie,” loop ’n traan oor die auntie se gesig.

“Ek is jammer, Auntie. Dankie dat Auntie my vertel het,” sê ek sag en ons oë vind mekaar in

’n oomblik. “Die lewe gaan aan, maar man-vat sal ek nooit weer nie. Ek het self daai drie bekkies gevoer,” sê sy met ’n glimlag en staan op.

“Ek moet seker gaan kosmaak. Jess eet so baie in die eksamentyd. Maar sy leer hard. Ek is trots op haar,” sê ek en pak my goedjies op. “Auntie kan ook maar huis toe gaan. Die winkel is stil,” sê ek vir haar.

“Ag dankie, kind. Ek’t amper vergeet om jou te sê. Danie was weer vanoggend hier,” sê auntie Koekie terloops. “Ek wil hom regtig nie sien nie, Auntie. Sê asseblief vir hom hy moenie weer hiernatoe kom nie,” sê ek.

“Wie moenie hiernatoe kom nie?” hoor ek ’n donker manstem agter my. Danie … Danie is ’n groot man. Steeds met die kenmerkende terg in sy oë. “Totsiens,” groet auntie Koekie en vat haar handsak.

“Dag, Helena,” groet Danie. “Wat soek jy hier?” vra ek. My hele lyf voel lam. “Jy lyk moeg?” sê Danie en stap nader. Hy vat aan my wang, maar ek draai my kop weg. “Die

winkel lyk mooi,” sê hy. “Dankie,” sê ek.

“Hoekom is jy hier, Danie?” vra ek weer. “My ma het my alles vertel,” antwoord hy. Sy woorde laat my hart vinniger klop.

“Alles?” vra ek met ’n knop in my keel. “Ja, Helena. Sy het my vertel hoe swaar jy gekry het nadat die pa van jou dogtertjie jou gelos het. Hoe sy jou ingeneem het en vir jou en die dogtertjie gesorg het,” sê hy. Ek begin lag.

“Wat is so snaaks,” vra Danie met ’n frons. “Ek vra jou weer, wat soek jy hier?” vra ek. “My ma lê op haar sterfbed en het gevra om jou te sien,” sê Danie. “Vir wat sal sy my nou wil sien? En hoekom het jy al die pad hiernatoe gekom om dit te sê? Jy kon die winkel gebel het,” sê ek.

“Ek weet nie hoekom sy jou wil sien nie, maar dis my moeder se laaste wens,” sê hy en daar loop ’n traan oor sy gesig. Ek maak my oë toe en byt my onderlip. “Ek kon jou gebel het, maar ek was in die omgewing vir besigheid,” sê hy.

“Ek sien,” sê ek. “Ag, Helena, ek mis jou. Ek mis jou nog elke liewe dag,” sê Danie skielik.

“Ek kan nie … ek kan nie weer hierdeur gaan nie. Jy is getroud, Danie!” sê ek en stoot hom weg toe hy nader aan my beweeg.

“Ek is nie gelukkig nie,” sê hy. Ek sug. “Sal jy asseblief vanaand by my kom eet? Ek wil net met jou gesels,” sê hy. “Ek is jammer oor jou ma, maar ek kan nie,” sê ek en kyk af.

“Ek sal nooit ophou lief wees vir jou nie. Hoekom het jy my nie vertel jy sukkel nie?

Hoekom het jy nooit teruggeskryf nie?” vra Danie. “Jy het nooit vir my geskryf nie,” sê ek.

“Ek hét, Helena!” sê Danie en gryp my vas.

“Jy was nie meer lief vir my nie. Ek het gesien hoe jy mooi meisies huis toe bring en hulle onder die maanlig soen en uittrek. Ek het dit alles gesien,” begin ek huil.

“Dit was om my te help om van jou te vergeet, Helena. Verstaan jy nie?” sê hy sag en vee my trane af. “Ek het nooit geweet dis jou kind wat so huil in my ma se agterplaas nie. Ek het nie geweet nie,” sê Danie en druk sy voorkop teen myne. “Ek is jammer,” sê hy en vat my hand.

“Asseblief, gaan nou,” smeek ek en wikkel uit sy arms. “Kom vanaand na die plaas toe,” vra hy weer. “Wat dink jy van my? Ek kuier nie by getroude mans nie,” lig ek my stem. “Sal jy my dan asseblief net toelaat om jou na my ma toe te vat?” vra hy.

“Ek sal daaroor dink,” antwoord ek. “Ek sal altyd lief bly vir jou, Meisiekind,” sê hy en draai om. Soos sy breë skouers sak en hy by die deur uitloop, smag my hele wese na sy aanraking.

Maar my Danie is al lankal nie meer myne nie. En ek begin hartstogtelik huil.