HOOFSTUK 24

’n Maand terug het die waarheid na my toe gekom. Ek kon myself nog nie kry om dit met iemand te deel nie. Ek sug en loop op teen die skerp helling van die droomplaas se koppie.

Die son is so warm. My klere plak sweterig teen my lyf. Hier het ek die waarheid ontvang.

Ek trek my klere uit – alles. Vir die eerste keer sien ek die plate blomme agter die plaas. In die stilte van hoop en begeerte, lê bevryding. ’n Ewe skielike kennis van die anderkant. Met hierdie kennis is ek nie meer bang vir die dood nie, maar eerder vir die lewe. Want hier moet ek vrygemaak word, hier moet ek vrymaak.

Soos die blomsade wat onder die droë grond droom, droom my hart van die lente. Ek voel die wind saggies oor my hele lyf. Ek sprei my arms oop, asof ek wil vlieg. Ek sal my beelde, my drome en my boodskapper vertrou.

Hy neem my na die verborge poort wat na die ewigheid lei. Hy wys my die mense wie nie die ewigheid mag betree nie. Ek staan naak in die wind. Die son smelt my sonde. My Skepper fluister: “As ek jou vrymaak, is jy inderdaad vry, Helena.”

In Oupa se woorde wou ek geloof vind. In Vlooi wou ek hoop vind. In Danie wou ek liefde vind. Maar hulle glo elkeen in hulle eie waarheid. Selfs die maan se fluister het my laat twyfel en nie meer sin gemaak nie.

Oupa se woorde was gebruik om my te genees. Vlooi se wyshede het my tog insig gegee.

Maar hulle is nie vry nie. Hoe voel dit om op te hou asemhaal? Bevry te word van hierdie swaarkry?

“Oupa van my hart, Pa van my rustelose siel, ek spreek jou en Vlooi vry,” praat ek met die hemel. In die stilte kan ek vir die eerste keer waarlik asemhaal. “Oupa … Vlooi, ek vergewe julle. Ek spreek julle vry,” sê ek weer en voel al hoe ligter.

“Ag, Vader, asseblief vergewe hulle en ontvang hulle in liefde.” Die plaashuisie se deur gaan stadig oop. Oupa en Vlooi loop uit in die rigting van die son. Hulle beelde raak al dowwer.

Net voordat hulle heeltemal verdwyn, draai Oupa om en kyk vir my wat steeds naak op die koppie staan en bid. Hy lig sy hoed op in eerbied. Ek glimlag. Hy draai om en loop verder.

Vlooi se beeld het heeltemal vervaag.

“Nee!” begin ek huil toe Oupa alleen teruggestap kom. Ek het hom dan vrygespreek.

“Hierso,” sê Pietertjie en gee my klere aan. Hy kyk anderkant toe. “Jy is nie die enigste een wat hom moet vryspreek nie. Hy het ’n vrou se man vermoor, ’n kind se pa en ’n ouerpaar se seun,” sê Pietertjie. “Ek weet,” sê ek sag en sien weer die bloedspatsel teen die muur.

Soos ek terugloop na my kar toe, sien ek Danie se bakkie aangery kom. Hy ry tot langs my kar. “Helena, wat op aarde doen jy so alleen hier?” vra Danie. “Ek het na jou kom soek. Ek wou hoor hoe dit met jou ma gaan,” jok ek.

“Dit gaan nie goed met haar nie. Ek moet terug Kaap toe. Kom asseblief saam. My ma het nie meer baie tyd nie. Haar laaste wens is om jou te sien. Asseblief, Meisiekind,” smeek hy. “Dis reg,” sê ek kortaf.

Auntie Koekie kyk na Jess. Ek en Danie is op pad Stellenbosch toe. Die kar is stil. “Ons kan nie so aanhou nie,” waag ek. “Ek wil by jou wees,” sug Danie. “Jy kan nie alles waarvoor ek gejok het, net so weggooi nie,” sê ek.

“Waarvan praat jy, Helena?” vra hy en draai sy kop na my toe. “Kyk vir die pad!” raas ek.

“Maar ek verstaan nie wat jy sê nie,” sê Danie en draai sy venster bietjie oop. “Ek het seker gemaak jy kry die lewe wat jy verdien. Jy moet teruggaan na jou vrou en kinders,” snik ek.

“Helena, hoe het jy seker gemaak ek kry die lewe wat ek verdien?” vra Danie fronsend. Ek antwoord nie. “Jy maak nie sin nie!” praat hy harder. “Vra jou ma. Vra jou ma om vir jou die waarheid te vertel. Die regte waarheid. Haar waarheid is nie my waarheid nie,” antwoord ek.

“Jy praat in sirkels. Sê net iets wat sin maak,” smeek Danie. “Jy kan nie by my wees nie, Danie. Ek kan dit nie doen nie. Ek is so jammer,” sê ek en kyk by die venster uit.

“Jy het my gelos en swanger geraak met ’n ander man se kind! Onthou jy dan nie? Ons sou saam gaan leer het, getrou het en kinders gekry het. Wat het ek aan jou gedoen?” begin Danie huil.

Ek kan my trane nie meer keer nie. “Ek wou nie net gaan nie. Ons kon oor alles gepraat het, maar jy het nie eers my briewe gelees nie!” raas hy. “Ek het nie jou donnerse briewe gekry nie! Hoeveel keer moet ek dit nog sê?” skree ek en haal diep asem.

“Ek wil net weet hoekom jy so kwaad is vir my,” sê Danie. “Wil jy regtig weet wat jy aan my gedoen het?” vra ek. “Ek wil alles weet,” sê Danie en kyk weer vinnig na my.

“’n Mens het lief. Niemand kan dit verander nie. Niemand kan die liefde stop nie. Dit kan slegs gestop word as ’n mens dit vernietig. Ek moes dit vernietig, maar in die proses het ek self ook seergekry. Danie, my liefde vir jou het my lewe baie moeiliker gemaak as wat dit sou wees sonder jou,” huil ek.

“Help my dan om op te hou lief wees vir jou,” sê Danie. “Dis al sestien jaar, Danie. Daar bestaan niks meer vir ons nie. Liefde is net ’n woord, ’n paar letters wat in ons verlede lê,” antwoord ek.

“Die Vader in die hemel weet hoekom jy so hardkoppig is,” sê Danie. “Ja, Hy weet,” is al wat ek kan sê. “Eintlik moet ek vir jóú kwaad wees!” baklei Danie. “Die liefde is ’n tronk, Danie,” sê ek.

“Ek weet nie wie jou so seergemaak het nie, maar dit was nie ek nie. Ek sou jou nooit wou seermaak nie,” sê hy toe ons by die groot privaat hospitaal indraai. “En ek ook nie vir jou nie,” sê ek sag en vee my trane af.

Die onsekerheid bly in my opstoot. Oom Herman kom aangeloop na my en Danie toe. Hy kyk net vir my en knik, dan loop hy en Danie ’n entjie aan en praat ernstig oor iets.

Danie se niggie kom aangeloop. Haar gesig helder op toe sy my sien. “Sjoe, Helena, jy word ook nie oud nie,” groet sy en gooi haar arms om my. “Dag, Madelein,” groet ek die mooi vrou wat ek nie van ver af sou herken nie.

“Danie se ma gaan so bly wees om jou te sien. Kom,” beduie sy. Danie en sy pa is steeds besig met hulle ernstige gesprek. Ek loop agter Madelein aan.

Klaskat lê in ’n privaat kamer vol blomruikers. “Tannie, kyk wie is hier,” wys Madelein na my. Klaskat lyk geel en swak. Die kamer ruik soos amandels, ’n bitter reuk. Amandels ruik soos die dood.

Ek stap versigtig nader. “Dag, Mevrou,” groet ek. “Helena,” prewel sy en maak haar oë stadig oop. Ek kyk haar net aan sonder om ’n woord te sê. “Madelein, sal jy asseblief die kamer verlaat. Ek wil alleen met Helena praat,” vra sy.

“Ek is so bly jy het gekom,” sê sy. Haar oë probeer my gesig vind. Haar asemhaling is swaar en moeilik. “Danie het gesê Mevrou wil my graag sien,” sê ek en gaan sit op die lang smal houtbankie langs die bed.

“Helena, ek wil vir jou jammer sê. Ek is jammer dat ek jou en Danie se verhouding gekeer het. En dat ek jou kind van jou wou wegneem. Ek is regtig jammer,” sukkel sy.

“Dalk moet Mevrou eerder vir Danie jammer sê. Hy verdien ook die waarheid,” sê ek. “Nee, asseblief, moenie vir hom sê nie. Ek wil nie hê hy moet my so onthou nie. Asseblief, moenie vir my kind sê wat sy ma gedoen het nie,” smeek sy.

Ek staan op en loop op en af in die amandelreuk. “Vergewe my, Helena. Asseblief, vergewe my. Helena, jy is ook ’n ma. Jy het tog nie vir Jessica die waarheid vertel nie … of het jy?” vra sy.

“Nee, ek het nie. Maar ek gaan. Ek gaan haar alles vertel, want ek kan nie meer met die geheim saamleef nie,” sê ek en gaan sit weer op die bankie. “Jy mag nie, sy sal jou nooit weer vertrou nie,” sê Klaskat.

“So, het Mevrou my hiernatoe laat kom om jammer te sê of om seker te maak dat die waarheid nooit uitkom nie?” vra ek. “Watter waarheid?” vra Danie wat al ’n ruk in die deur staan.

Klaskat begin roggel, asof sy sukkel om asem te haal. Ek druk die knoppie. Danie vat sy ma se hand. “Ek vergewe jou, Mevrou,” sê ek en loop uit.

Danie bly langs sy ma se bed. Die verpleegpersoneel kom aangedraf. Ek hou net aan met loop. Klaskat het net vir my gewag om haar te vergewe voordat sy haar laaste asem uitgeblaas het.

Blomme en bloed. Stof en reën. Vandag is rissierooi. Klaskat is toegegooi.

“Skielik was daar ’n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het.

Maar in die wind was die Here nie,” kom staan Pietertjie se spook langs my terwyl ek aan die einde van die lang hospitaalgang staan.

“Ná die wind was daar ’n aardbewing, maar in die aardbewing was die Here nie. Ná die aardbewing was daar ’n vuur, maar in die vuur was die Here nie. En ná die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte. Die Here het die sondaars vrygespreek,” praat Pietertjie langs my.

Klaskat se liggaam word uitgestoot. Danie en Herman loop aan weerskante van die bed met die toegegooide liggaam. Oom Herman huil. Danie snik. “Ek spreek jou vry, mevrou Klaskat,” maal die woorde in my kop. Dit raak stil in my binneste.

Danie kyk terug na my terwyl hy langs sy ma se lyk loop. Ons oë ontmoet soos verlore vrede die koelte onder ’n boom ontmoet. Soos muggies ’n helder stroom water ontmoet. Danie lig die laken op en soen sy ma se voorkop. Ek draai om.

“Jy kan nie nou gaan nie, Sussa. Gaan praat met die oubaas oor jou Oupa,” wys Pietertjie na Oupa wat langs die doodsengel staan. “Jy moet nóú met hom gaan praat,” hoor ek die dringendheid in Pietertjie se stem.

“Nie nou nie,” sê ek en kyk na Oupa wat al agter oom Herman aanloop. Oupa lyk so hartseer.

“Ek weet nie hoe die lewe vir jou op die oomblik voel nie. Maar vir my voel dit soos ’n kind wat in die veld speel en homself met die blommetjies en goggatjies vermaak. Hy speel al in die rondte terwyl die kranse op hom afkyk en die vlaktes vol geheime langs hom lê,” sê Pietertjie.

“Nee, ek weet nie wat in jou spookkoppie aangaan nie, maar ek voel alles behalwe so. Ek trek my asem in en stap na oom Herman waar hy op ’n bankie in die gang gaan sit het. Danie staan steeds en huil voor die toe deure waardeur sy ma nou net gestoot is.

“Die lewe is ’n uitnodiging om te lewe. Die dood ’n uitnodiging na die ewige lewe. Ek vergewe julle. Sal Oom asseblief my oupa vergewe? Hy is ook uitgenooi na die ewige lewe, maar die deur bly toe. Asseblief, vergewe my oupa,” smeek ek.

Oom Herman byt sy onderlip vas en laat sak sy kop. Hy kyk weer op met trane in sy oë.

Sonder ’n woord, sonder om weer na my te kyk staan oom Herman op en loop na Danie toe.

“Jy het gedoen wat jy kon,” sê Pietertjie.

Oupa gaan staan langs die doodsengel en loop die lang gang af. “Oupa,” fluister ek, maar hy hou net aan met loop. Die engel sprei sy vlerke oop. Oupa gaan huis toe.