HOOFSTUK 22

Raulene se kar staan voor my huis. Sy sit op die trappie voor die voordeur. Sy huil. “Ek is so jammer, Helena,” sê sy nog voordat ek haar kan groet. “En nou?” vra ek en raak yskoud.

Raulene sit kop-onderstebo en ruk soos sy huil. “Wat is fout?’ vra ek.

“Ek kon jou nooit alles vertel nie. Jy en Jess was op so ’n moeilike plek. Ek wou jou net beskerm. Ek is so jammer,” sê sy tussendeur die trane. “Wat is dit? Wat het jy my nie vertel nie?” vra ek en gaan sit langs haar op die trappie.

“Die bloedoorbelle … ” bewe Raulene se lippe. “Raak rustig,” sê ek en sit my hand op haar rug. “Ek wou een aand vir die madam vra of ek die naweek kon afkry, maar toe ek die huis binnestap, het sy en die baas baklei. Ek hoor hulle nog in my kop.

Dit was daai dag nadat jy by die dokter met jou steke was. Die madam het glo uitgevind wie jou pa was. Sy was so ontsteld. Ek het haar amper jammer gekry. Vir daai koue kat het ek nog nooit so sien huil soos daardie dag nie,” sê Raulene.

“Maar hoekom?” vra ek. “Oor jou Helena. Sy het oor jou gehuil. Danie se oupa en ouma het jou oupa vir ’n fool gevat. Danie se ma het jou lewe so moeilik as moontlik gemaak. Jy het niemand meer gehad nie … as gevolg van hulle,” sê Raulene. Die bitterheid begin in haar opstoot. Haar oë lyk kwaad.

“Ek verstaan nie,” sê ek. “Jou pa is doodgeskiet, Helena. Hy het nooit in ’n gat geval nie. Hy het diamante probeer steel en baas Herman het hom gevang en hom geskiet. Jou pa se bloed het gevloei en baas Herman het daardie diamante gevat en vir die madam daai helse groot oorbelle laat maak,” sê Raulene.

My asem voel vasgevang in my maag. My maag draai. “Ek is so jammer. Jy was reg. Dit was ’n vloek. Nog voordat jy Danie ontmoet het, het hulle al jou lewe verwoes,” sê Raulene.

“Maar daar is nog iets …” huiwer Raulene.

“Jou oupa het Danie se oupa doodgeskiet. Baas Herman en sy ma het alleen op daardie plaas gewerk,” sê Raulene. “Wat!” roep ek uit. “Ek het dit alles gehoor. Baas Herman het vir die madam gesê dat dit jou loon is, want jou oupa het sy pa geskiet. En daarom voel hy nie sleg omdat hy jou pa geskiet het nie,” sê Raulene.

“Gaan asseblief,” vra ek sag. “Ek is jammer. Ek is so bitter jammer,” sê Raulene en kyk vir my deur haar trane. “Sal jy asseblief nou gaan?” vra ek. My stem effens harder, maar Raulene bly net sit. “Gaan nou. Ry net!” skree ek.

Raulene klim in haar kar en ry weg. Oupa? Mý Oupa? Ek weet hy was kwaad oor sy droomplaas, maar nooit het ek gedink dat hy … “Pappa!” skree-huil ek.

Ek tel myself op en loop die straat af. Eers verby Ma en Myner se huis, dan tot voor Oupa en Ouma se huis. “Oupa het die vloek begin. Of het die mense wat van hom gesteel het als begin?” vra ek vir die maan wat helder oordag nog in die lug hang.

Ek wonder of Danie geweet het. Oupa het geweet. Dit maak nou eers sin. Hy het dan gesê Pa het die verkeerde goed gedoen. Hy het geweet vir wie Pa gewerk het. Hy het alles geweet, en steeds het hy gepraat soos die wysheid self. Is dit ’n wysheid wat sonde hom dan geleer het?

Ek draai om, loop stadig terug huis toe. Jess het laat weet sy is by ’n selgroep tot vyfuur. Sy kan my nie so sien nie. Ek is weer die bitterblom van Namakwaland. Die slagoffer van leuens.

“Oupa, hoekom lyk Oupa nooit regtig kwaad nie?” het ek Oupa een middag gevra. “Ek was al kwaad, Helena. Verskriklik kwaad. ’n Mens word deur jou eie dors en honger gemartel.

Dan sal jy selfs in die donkerste grotte kos gaan soek, en selfs van dooie water drink. En dan word ’n mens kwaad. Meestal vir jouself,” het Oupa gesê.

“Dooie water?” het ek gevra. Ek het nie verstaan nie. “Ja, my kind. Dooie water. Maar om kwaad te wees, beteken nie jy is boos nie. Jy probeer op koers bly. Soos ’n skip sonder roer – wat doelloos op die see dryf. Maar steeds sink hy nie,” het Oupa met ’n hartseer glimlag gesê.

“Hoekom lyk Oupa so hartseer?” het ek gevra. “Helena, die kwaad in die wêreld maak my hartseer. Maar ’n mens moet die verhouding tussen goed en kwaad verstaan. Dit het ek op ’n bitter seer manier geleer,” het Oupa met ’n traan wat oor sy wang loop, gesê. “Oupa? Is Oupa oraait?” het ek gevra.

“Luister nou mooi, my kind. Jy moet weet dat ’n mens goeie mense kry wat altyd goed doen, maar dan ook goeie mense wat hulleself verloor. Hulle verloor hulleself in selfsug. Dan raak hulle soos ’n boom se wortel wat aan die aarde vashou en aan haar bors suig. Die goeie mense wat goed bly, is soos die vrugte van daardie boom. Die vrugte is ryp en gee altyd van hulleself. Vrugte gee, maar wortels neem, suip totdat hulle versadig is. Maar dit maak nie die boomwortel sleg nie,” het Oupa verduidelik.

“Dit maak hom nie goed nie, Oupa,” het ek gestry. “Helena, die waarheid sal jou nog vind. Jy is te jonk. Wag maar vir verlange wat jou soos ’n towerkrag see toe jaag. Hou aan soek, my kind. Die heuwels dra die geheime. Die bos self sing dan liedjies van goed en kwaad. ’n Mens se geluk kom ook nie uit dit wat goed is nie. Uit dieselfde put waaruit jou gelag kom, gaan jou trane kom,” het Oupa gesê.

Vandag weet ek dat my put van verlange en vreugde Danie is. Maar Danie is nie meer my Danie nie. Wie sou kon raai dat Oupa se woorde vandag soveel sin sou maak.

“Hoe dieper die smart wat uit jou uitborrel, hoe meer vreugde kan inkom,” het Oupa gesê. “Is dit hoekom Oupa soms huil? Om van die smart ontslae te raak, sodat die vreugde kan inkom?” het ek gevra.

Oupa het net geknik. Nog trane het oor die kreukels van sy gesig geloop. “Soms probeer ’n mens op bose maniere van die smart ontslae raak, maar dan vind jy dat jy nooit weer kan omdraai nie. Huil eerder voordat jy wraak neem,” het Oupa gesê.

“Wraak neem?” het ek gevra. “Dis wanneer ’n mens iemand anders seermaak sodat jy beter kan voel. Maar mense wat wraak neem se hartseer is groter as hulle vreugde. Dis onlosmaaklik van mekaar, verstaan jy Helena?” het Oupa gevra.

“Ek dink so. As ’n mens nooit hartseer is nie, gaan jy ook nooit bly wees nie. Jy moet hartseer wees om weer plek te maak vir vreugde?” het ek onseker gevra. “Oupa se kind verstaan so mooi,” het Oupa gesê en my teen sy bors vasgedruk.

“Ek is lief vir Oupa,” het ek gesê en diep in sy ligblou oë gekyk. “En Oupa is sommer baie lief vir sy nonnatjie,” het Oupa gesê en my hare deurmekaar gekrap. “Wanneer Oupa eendag nie meer hier is nie, moet jy onthou wat Oupa jou alles geleer het,” het Oupa op ’n ernstige noot gesê.

My hart voel swaar, my bors benoud terwyl ek net aanhou loop. Hoe het Raulene dit reggekry om so ’n groot geheim so lank saam met haar rond te dra? Aai, Vlooi, waar is jy nou? Nou dat ek jou so nodig het. Nou dat niks meer sin maak nie en die wraaksugtigheid verby die knop in my keel begin stoot.

My wraak sal op die liefde wees. Op die mense wat alles begin het, gesteel en bedrieg het.

Oupa van sy droomplaas beroof het. Oupa gedryf het totdat hy homself ook verloor het. My wraak sal die belydenis van my pyn wees.

Ek loop al stadiger en gaan sit op ’n klip langs die grondpaadjie. Ek wil bid, maar ek is bang ek baklei, eerder as om te bid. “Ag, my Skepper, waarom stuur Jy mense om my oë oop te maak? Dinge te sien wat ek nog nooit voorheen gesien het nie? Te verstaan wat nooit verstaan kon word nie?” begin ek onseker.

“Ek het begin om elke oomblik saam met my dogter te geniet en het dit selfs oorweeg om kerk toe te gaan. In die liefde het ek weer begin glo. Maar nou voel ek weer blind van die pyn. Niks wat Vlooi, die hoogheilige non of Oupa gesê het maak meer regtig sin nie,” praat ek met die hemel terwyl die gal in my keelgat opstoot.

“God, mag ek wraak neem? Die wraak is dan myne,” sê ek driftig. Ek spring vasbeslote op en begin verder huis toe loop. Ek hoor voetstappe agter my en spring om. “Pietertjie?” Ek skud my kop in ongeloof.

“Helena, as jy hierdie pad van wraak gaan stap, kan jy nou al twee grafte grou – een vir jou vyand en een vir jouself,” sê hy. “Die Bybel sê dan self ’n oog vir ’n oog,” praat ek terug met Pietertjie se spookbeeld langs my op die grondpad.

“Die hele wêreld sal blind wees as ons in ’n oog vir ’n oog glo,” sê Pietertjie. “Die hele wêreld is in elk geval blind vir mekaar se pyn. Jy is onrealisties. Julle is almal mal, man!” skree ek.

“Weet net, wraak kan slegs op die pad van selfvernietiging gevind word,” gaan Pietertjie kalm voort. “Hou net op! Hoekom praat jy met my? Jy is dan ’n blerrie spook,” huil ek. “Ek wil jou help,” glimlag hy.

“Hulle gaan moet voel hoe ek voel. Ek wil hê hulle moet ook swaarkry,” oorheers die wraaksugtigheid my nugter denke.

“Gaan dit jou waarlik beter laat voel? Wraak is ’n bose ding. Hy het die vermoë om ’n sagte mens soos jy in ’n moordenaar te verander. Dis nie die moeite werd nie. Dink aan Jess,” sê Pietertjie sag.

“Natuurlik dink ek aan haar. Ek dink nog altyd aan haar. Maar iemand moet iets doen,” sê ek en kyk Pietertjie stip in sy yskoue oë. “Helena, slegs God kan iets doen en daaroor besluit,” praat hy nes ’n tonnelkop-predikant. “Moenie met my oor God praat nie,” baklei ek.

Pietertjie kyk af. “Ek is jammer,” sê ek dadelik en probeer aan hom raak, maar my hand gaan regdeur sy beeld. “Moenie self wraak neem nie. Oorwin die kwaad met die goeie … die goeie … die goeie,” eggo sy stem terwyl sy beeld al dowwer en dowwer word.

Jess kom aangery op haar scooter. “En nou, Ma?” vra sy en stop langs my. “Ag, ek wou maar net ’n bietjie stap,” antwoord ek. “Is Ma oukei? Dit lyk of Ma ’n spook gesien het,” sê Jess.

“Dalk het ek,” grap ek. Maar agter grappies lê soveel waarhede.

My kind is so besorg. Soms voel dit asof sy die sterker een is. “Klim op,” beduie Jess terwyl sy vorentoe skuif. Ek klim agter haar op en hou haar styf om haar maer lyfie vas. “Kom, ek vat Mamma vir ’n spin,” sê sy en maak ’n draai voor die huis en begin dorp-uit ry.

“Dit word donker, Jessie. Ons kan nie nou gaan rondry nie,” sê ek. “Ag, Ma, ons gaan net die sonsondergang vang,” sê sy en ry al vinniger die dorp uit.

“Die blomme is so mooi,” dink ek hardop. “Auntie Koekie sê mos die rede hoekom die plante so kleurvol blom, is omdat hulle dankie sê vir die reën!” roep Jess bo die geraas van die scooter.

Ek hou haar lyfie nog stywer vas terwyl sy op my en Danie se wandelpad ry. Jess stop.

“Kom, ons gaan dit mis,” skree sy en hardloop teen die koppie op. Ek hardloop agter haar kinderlike opgewondenheid aan.

Bo-op die heuwel buite Springbok gaan sit ons styf langs mekaar. Die dag is besig om te groet. Die dorpie onder ons is ook besig om rustiger te word. Ek staar in die rigting van Oupa se droomplaas. Ek word weer yskoud, maar dwing myself terug in die hier en nou saam met my lieflingkind.

“Ma weet, ná al die jare lyk die dorpie nog presies dieselfde. Die ou winkeltjies … die stofstraatjies. Dieselfde lorrie wat ons vuilgoed kom haal en dieselfde ou blommetjies in auntie Koekie se tuin,” sê Jess. Nostalgie hang oor die dorp.

“Maar die mense het verander,” hoor ek my eie eentonige stem in die windstil namiddag.

“Die begraafplaas het baie groter geword,” sê Jess en wys af na die kerkhof. “Amper was my naam ook op ’n klip uitgekerf. Wat sou Mamma op my klip geskryf het?” vra haar siniese stemmetjie.

“Nee, man, Jess. Ek het nie eers daaraan gedink nie. Jy is dan hier by my,” antwoord ek met my oë sag op haar. “Is Mamma regtig by my? Dit voel asof Ma deesdae … ag ek weet nie.

Ek weet nie waarheen Ma die heeltyd hol nie. Ma is deesdae so anders,” hoor ek die kommer in haar stem.

“Ek ís hier by jou. Mamma het net baie goed om oor te dink,” sê ek. “Is Mamma oukei?” vra sy weer. Haar oë brand in myne. “Ek is fine,” jok ek al weer.

“Sou Mamma vir my ’n mooi begrafnis gehou het … met baie blomme?” vra sy met ’n sekelmaanglimlag, amper boos. Haar vrae oor ’n blerrie begrafnis en grafsteen maak my binneste benoud.

“Ek gaan nie met jou hieroor praat nie. Verdomp man, jy lewe dan nog, Jess,” sê ek en kyk op na die verskillende skakerings van oranje, geel en rooi in die lug. “Ons lewe nie soos ons moet nie, Ma. Ons is soos twee arende in ’n hoenderhok,” klink sy nes Oupa.

“Waar kom jy aan hierdie nonsens?” vra ek. “Dis nie nonsens nie, Mamma. Dis die waarheid,” antwoord Jess fronsend. “Dis dalk jou waarheid, maar dis nie my waarheid nie.

En wat beteken dit in elke geval?” hoor ek weer die bitterblom binne my. Ek kyk skuldig af.

“Ek is jammer, Jess. Sê vir Mamma wat jy bedoel,” pleit ek.

“Ons is vasgevang in ons eie gemaksone. Ons vlieg nie hoog nie, ons bly net op die grond en eet die ou wurmpies. En in die middae kyk ons na die ander arende. Ons bewonder hulle, want hulle is die voëls van die lug en ons die voëls van die grond. Ons is nie so vry soos die ander arende nie, want ons kies om eerder voëls van die grond te wees,” sê Jess.

“Nou sê my hoe word ons dan voëls van die lig?” wil ek hoor. “Ons moet begin beplan hoe ons ons vlerke gaan klap. En dan moet ons aanhou en aanhou klap, totdat ons net so hoog soos die ander arende vlieg,” verbaas my kind my.

My oë versag in haar oë. Jess sit haar arm om my lyf. “Ek en Mamma is nie meer waar ons was nie. Maar ons is ook nie waar ons wil wees nie. Of wat dink Mamma?” vra sy. “Ek dink jy is hopeloos te slim,” antwoord ek met ’n glimlag en lê my kop op haar skouer neer.

“Maar jy gaan jou vlerke klap totdat jy uit hierdie plek kom. Jy het klaar keuring gekry vir jou verdere studies. Niks keer jou nie, my skat. Daar wag ’n hele nuwe wêreld daar buite vir jou,” sê ek en kantel my kop op na haar.

“Nee, Ma, ek hoef nie uit die plek te kom nie. Ek wil net hier bly. Hier kan ek net so hoog vlieg. Ek het besluit dat ek nie verder gaan studeer nie. Dis nie my roeping nie, dis Ma se droom vir my. Nie my eie nie,” tref haar woorde my tussen die oë.

Ek lig my kop van haar skouer. In ongeloof kyk ek na my kind. “Ek hoop Ma verstaan,” sê Jess rustig, maar selfversekerd. “Nee, ek verstaan nie! Ek verstaan glad nie. Hoe kan jy jou drome net so weggooi?” My eie stem klink ryp en donker.

Vir ’n oomblik lyk Jess kwaad, dan haal sy diep asem. “Ek gooi Ma se drome weg … om

plek te maak vir my eie. Verstaan asseblief,” sê sy en ’n enkele traan loop oor haar gladde gesiggie. Ek skud my kop.

“Ek gaan net hier in Namakwaland bly. Dis waar ek hoort. Ek wil nie medies gaan studeer nie,” sê Jess. “Nou wat wil jy met jou lewe doen?” wil ek weet.

“Ek wil ’n galery oopmaak. Ek wil verf en die kinders in die dorp leer om eerder in

kunswerke as in dwelms te ontsnap. Dis wat ek wil doen, Mamma,” sê Jess. Dis die eerste keer wat ek die passie vir iets in my kind se oë sien opvlam … maar nee!

“Nee, nee, nee! Jy kan nie,” sê ek dit voordat ek myself kan keer. “Wel, dan gaan ek maar dood … aan die binnekant,” sê Jess terwyl sy opstaan en haar hande in die lug gooi. “Jy is nou sommer simpel,” sê ek.

“Ons kan ’n mooi begrafnis vir my drome hou. Dan kan ek soos die res van julle onvervuld hier rondloop. Krom en moeg soos auntie Koekie. Bitter soos die bitterblom wat in jou hart groei,” sê Jess. Haar stem raak al hoe donkerder.

Die skadu’s onder die koppies is al pikswart. Die son gaan nou enige oomblik deur die aarde ingesluk word.

“Nee, Jess. Ek wil hê jy moet doen wat jou gelukkig maak, maar om te skilder en verfklassies vir kindertjies te gee wie se ouers nie eers altyd geld het om ’n brood te koop nie, gaan jou nie in ’n veel beter plek as jou Ma sit nie. Ek wil net nie hê jy moet sukkel nie,” begin ek huil.

“Moenie huil nie, Mamma,” troos Jess. “Jy verdien net soveel beter,” sê ek. “Ek verdien dit om gelukkig te wees. Al is dit in die eenvoud van my eie drome,” sê Jess sag.

“Jy is die een wat sê ons moet ons vlerke sprei en hoog vlieg! Nou wil jy soos die res van ons in ’n verdomde hoenderhok bly. Ek verstaan jou nie,” snik ek.

“Om my eie passie uit te leef, sal my manier wees om my vlerke te sprei. En buitendien gaan ek en Hano saam leer vlieg,” sê Jess. Sy laat my dink aan myself toe ek nog jonk, verlief en vol drome was. Sy moet nog leer dat die liefde alleen vlieg.

“Ek moes geweet het dit gaan eerder oor daai blerrie mannetjie,” begin die bitterblom in my bloei. “Ek is lief vir hom, Ma,” sê Jess. Sy lyk broos. Ek gaan sit weer plat en beduie dat sy langs my op die klip moet kom sit.

’n Vreemde rustigheid kom saam met die aandwind aangewaai. Die huisies in die dorp se liggies gaan een vir een aan. Ek en Jess sit steeds op die koppie.

“As jy wil lief wees, moet jy weet dat liefde geen ander doel het as om homself versadig te hou nie. Nes die wortels van die bome die aarde leegsuip, so is die liefde,” sê ek ernstig en draai na Jess toe. Ek vou haar sagte handjies in myne toe.

“Mamma is so lief vir jou. Moederliefde is anders. Dis altyd daar. Maak nie saak wat nie. En moederliefde wil jou beskerm teen die liefde wat jou seer kan maak. As jy nie sonder die hartstogtelike liefde van ’n man kan leef nie, weet net dat jy bereid moet wees om soos kerswas te smelt. Jy sal jouself ook moet voorberei vir die pyn van sagmoedigheid. ’n Harde hart kan nie liefhê nie, ’n sagte hart wel. Maar te veel teerheid maak jou soveel meer vatbaar vir pyn. En laastens moet jy weet dat die liefde ’n letsel los. Ek kan nie die sluise van hartstog toedraai nie. So kan ek ook nie die vuur in jou bloed blus nie. Ek kan jou nie keer om hierdie man lief te hê nie. Maar wees bereid om te bloei,” waarsku ek. Dis al wat ek kan doen.

“Wie het Mamma so seergemaak?” vra Jess hartseer. “Ek het myself seergemaak. Ek is

gewond deur my eie idee van wat dit is om lief te hê,” antwoord ek. Ek kan sien Jess soek na woorde, maar probeer eerder met haar oë praat.

“Ons moet nou regtig huis toe gaan,” sê ek. Op pad huis toe, agter op die scooter in die gesing van die nagwind, hardloop my kop wye draaie. My Jess se nuwe drome … Oupa wat deur wraaksugtigheid self opgevreet is, dalk self die vloek begin het? My pa se bloed op Klaskat se oorbelle … Danie wat my weer wil sien …