Roosboomouers en hulle saailinge

  • Wat is my sterk punte as roosboomouer?

    Omdat jy ’n roosboomouer is …

    • bestuur jy jou gesin en al hulle aktiwiteite suksesvol
    • tree jy met gesag en selfvertroue op
    • neem jy jou ouerlike verantwoordelikhede ernstig op
    • maak jy jou kinders doelgerig groot
    • spoor jy hulle aan om te presteer
    • hou jy jou beloftes en voer jy jou ondernemings deur
    • werk jy hard om jou gesin te onderhou en te versorg
    • is jy betroubaar en verantwoordelik met die gesin se finansies en besittings.

    Jou sterk punte kan  ’n struikelblok wees omdat jou kinders so anders as jy is. Die kuns van ouerskap wat nou ter sprake kom, is om jou optrede so aan te pas dat julle verskille nie julle verhouding vernietig nie.

    Wanneer ’n roosboom ’n roosboompie grootmaak

    Wees baie spesifiek oor elkeen se areas van beheer, anders gaan daar van die môre tot die aand haangevegte wees. Jy moet areas van beheer oorgee, hoe moeilik dit ook al vir jou mag wees. Onthou dat jou roosboompies vinnig grootword, en moet dus nie aanhou om alles te probeer beheer in hulle lewens nie – hulle sal geweldig rebels raak. Julle kompetisiegees kan maak dat julle vreeslik lekker speel, maar onthou wie die volwassene en wie die kind is. Moenie jou kind uitdaag vir kragmetings of moeilike speletjies waar jy gewaarborg is om te wen nie. Dit kan vir ’n roosboompie verpletterend wees. Wees versigtig om nie te rigied te wees nie. Jy kan jou kind geweldig baie leer deur wel vrae te beantwoord,

    deur jou beter redenasies ook op die tafel te sit en deur te wys watter dinge onderhandelbaar is, en watter nie. Jy is sterker as jou kind, maar die manier waarop jy dit wys, is baie belangrik. Behou selfbeheersing, liefde en geduld sover jy kan, want dit kom vir jou natuurlik om oor ’n “opponent” te stoomroller. Kommunikeer al jou bevele so kort en kragtig moontlik, en vermy redenasies daaroor. Dit sal jou kind respek vir jou gee as jy selfversekerd en kalm kan bly.

    ’n Roosboomouer en ’n denneboompie

    Onthou dat jou denneboompie nie baie waarde aan kompetisie heg nie. Moet daarom nie alles aan wen en verloor meet nie. Dit sal jou denneboompie moedeloos maak.  Oefen om nie druk uit te oefen op jou denneboompie nie. Dit gaan een van jou moeilikste uitdagings wees! Aanjaag, kritiek, harde woorde, dreigemente en beskuldigings kom vir jou natuurlik. Ongelukkig is dit presies die dinge wat jou denneboompie ongeliefd, onveilig en ongelukkig laat voel. Jy is so taakgerig dat dit moeilik gaan wees vir jou om sommer maar net by jou denneboompie te wees. Moenie in die strik trap om te dink kwaliteittyd is genoeg vir hierdie boompie nie! Jy verwag onmiddellike, onvoorwaardelike gehoorsaamheid sonder teëpraat. Jou denneboompie kan amper niks onmiddellik of vinnig doen nie. Laat grasie toe sonder om

    jou opdrag ongeduldig te herhaal. Jy sê nie maklik jammer wanneer jy verkeerd was nie. Dit wond enige kind, maar waarskynlik ’n denneboompie meer as enige ander kind. Hulle konflikhantering is swak; daarom kan hulle nie aandring op verskonings van jou kant of kommunikeer dat hulle ongelukkig is oor jou optrede nie.  Omdat denneboompies nie in beheer hoef te wees nie, en jy wel, gaan jy geneig wees om vir jou denneboompie meer as die gesonde hoeveelheid verantwoordelikheid te neem. Pasop om nie alles vir jou denneboompie te doen nie. As jy nie geleer het om spanning buite die huis te ontlaai nie,

    gaan jou denneboompie waarskynlik die swaarste daaronder deurloop. Dennebome beleef uitbarstings en woede meer intens as die ander boompies, en kan dit moeilik verwerk.

    ’n Roosboomouer en ’n palmboompie

    Jy is ongelukkig van nature nie mal oor pretmakers nie; daarom kan dit vir jou moeilik wees om te aanvaar dat jou palmboompie nie altyd die taak of doelwit in die oog kan hou nie. Jy gaan moet leer om ruimte te laat vir speel en ontspanning. Pasop om nie jou palmboompie se behoefte aan aandag te ignoreer nie. Jou erns is vir hulle uitputtend – gee ruimte vir lag. Jy glo in jou manier as die enigste manier. Jou palmboompie is bedraad om altyd ander maniere te ontdek. Moenie hierdie kreatiwiteit altyd as ongehoorsaamheid sien nie. Jou palmboompie bly lank ’n kind in die kern van sy wese. Herinner jouself gereeld daaraan dat jou kind ’n kind is, en nie ’n kort grootmensie nie. Jou geduldige, volgehoue

    opvoeding gaan wel eendag vrugte afwerp. Moenie opgee nie. Jy is nie geneig om baie fisieke liefde te wys nie. Jou palmboompie gaan verdroog daarsonder. Jy mag dalk hulp en raad nodig hê om te leer hoe om koesterend en versorgend te wees.

    ’n Roosboomouer en ’n sierboompie

    Jou onsensitiwiteit vir emosies is die grootste uitdaging. Jy gaan waarskynlik nie eers agterkom wanneer jou sierboompie jou op hierdie terrein nodig het as jy nie ’n punt daarvan maak om uit te kyk vir tekens van emosionele behoeftes nie. Wanneer jy jou sierboompie se emosies vertrap het, is dit noodsaaklik dat jy doen wat jy bitter moeilik doen – om vergifnis vra. Jou sierboompie het ’n privaat ruimte nodig waarin jy nie instorm nie. Julle is albei baie taakgerig, en jou sierboompie voel gewoonlik veilig onder jou sterk hand. Die botsings kom egter wanneer julle elkeen dinge op julle eie manier gedoen wil hê. Sierboompies hou van riglyne, maar nie van iemand wat oor hulle skouer loer nie – net soos jy! Gee dus ruimte eerder as om hulle aan die kortste leibandjie vas te hou. Jou sierboompie is wel taakgerig en selfgedrewe, maar het nie jou stamina en optimisme nie. Julle het albei ’n groot privaat ruimte, en dit is moontlik dat julle verhouding nie baie aanraking insluit nie. Vind ander maniere om ’n nou band met jou sierboompie te smee. Dit beteken om te leer luister sonder kritiek, om emosies te leer akkommodeer en om waarderend te wees eerder as veeleisend.

    Kyk nou die video: “Waarom ouers dit verloor”.