Die sierden

Die jong sierdennetjie

Sierdennetjies is die dromerigste introverte in die woud. Hulle is ’n kombinasie van die twee lae-energieboompies en is dus die rustigste. Sonder enige twyfel is sierdenne die maklikste babas. Hierdie kinders smag na goedkeuring, vermy konflik en is daarom dikwels ons “ster”-kinders. Daarmee bedoel ek nie dat hulle vreeslik presteer nie, maar wel dat hulle baie voorbeeldig en inskiklik is. Sierdenne se

emosionele en rasionele kant balanseer mooi sodat hulle nie baie buierige kinders is nie. Sierdenne se perfeksionisme en rustige geaardheid maak dat hulle werktempo by verre die stadigste is. Sierdenne kan baie musikaal of kunstig wees (regterbreindominant), maar wil weens hulle denneboomgeaardheid nie graag hulle talent op die verhoog uitleef of hulle kuns openbaar vertoon nie. Sierdenne is dikwels skaam en skugter. Hulle sal dit later as die ander kinders ontgroei. Hulle kruip maklik weg wanneer daar kuiergaste kom. Sierdenne hanteer verandering en verrassings die slegste. Hulle het daarom dikwels vroegtydige kennisgewing en voorbereiding nodig.

Hulle is ’n kombinasie van die boompie met die swakste wil en die boompie wat die graagste tevrede stel, wat beteken dat hulle nie dikwels eiesinnig is nie. Hulle leer gewoonlik vroeg hoe om hulle te gedra en hulle ouers sê dikwels dat hulle kind amper nooit ’n pak slae nodig het nie.Sierdenne is die sensitiefste van al die kombinasies en kan daarom wel redelik pieperig wees. Sierdenne se sensitiwiteit maak egter ook van hulle die mees versorgende kombinasie. Omdat hulle sulke sterk introverte is, is hulle nie so sosiaal soos die ander boompies nie. Hulle het soms net een maatjie en kan selfs beweer dat hulle geen maatjies het nie.

Dit pla hulle nie noodwendig baie nie, want sierdenne is bekend daarvoor dat hulle hulleself kan besig hou. Sierdenne is selfsugtig en beskerm hulle besittings met mening. Hulle lyk altyd na die slagoffer, maar kan agteraf baie geniepsig wees. As ons kinders hierdie geaard¬heid het, moet ons baie seker maak dat ons hulle nie wegdryf deur die liefdevolle aandag te weerhou wat hulle so bitter nodig het, maar nie op aandring nie. Ons is geneig om net aandag aan die moeilikheidmakers te gee.

Die volgroeide sierden

Hierdie kombinasie is by uitstek ’n introvert en gewoonlik ’n denker of skrywer eerder as ’n prater. Sierdenne is sensitief en het besondere mensekennis. Hulle speel gewoonlik die rol van ’n trooster, berader, getroue vriend, siekeversorger of helper. Weens hulle passiewe geaardheid en lae energie, is sierdenne dikwels tevrede met ’n eenvoudige lewe met een beroep vir baie jare lank, een huis dwarsdeur hulle volwasse lewe en dieselfde handjie vol vriende vir dekades lank. Sierdenne is gewoonlik geneig om pessimisties of sinies te wees, en is daarom ongelukkig geneig tot swaarmoedigheid en negatiewe denkpatrone, as hulle nie uit hulle geloofhoop put nie.  Sierdenne lewe eerder na binne as na buite en kan baie suinig en selfgesentreerd raak. Hulle is die onwaarskynlikste vrywilligers en leiers, alhoewel daar natuurlik uitsonderings is.

As hulle nie ’n gesin het nie, kan sierdenne so asosiaal raak dat hulle amper ’n kluisenaarsbestaan voer. In ’n gesin kan hulle ook baie “afwesig” raak en in hulle eie wêreld wees sonder om behoorlik kontak te maak met hulle gesinslede. Hulle gesinne word kort-kort vir hulle “te veel” sodat hulle wil wegbreek vir ’n ruskansie. Baie van die mees geniale denkers en wetenskaplike akademici het hierdie temperament. Hulle is soms briljant, maar sosiaal onbeholpe. Sierdenne het die grootste behoefte aan privaatheid, stilte en rus van al die kombinasies.  Hulle praat moeilik oor hulle gevoelens en is daarom nie maklik om te leer ken nie. Sierdenne neem selde verantwoordelikheid vir dinge wat verkeerd loop in hulle lewens. Hulle voel maklik na ’n slagoffer van hulle omstandighede, en gebruik dit as skans sodat hulle nie hulle omstandighede hoef te probeer verander nie. Hulle het eenvoudig nie die wilskrag om hulle wêreld te verander nie – hulle kla liewer net daaroor, en hoop iemand anders doen iets daaromtrent.