Die jong palmrosie
Palmrosies is die ywerigste praters en daarom gewoonlik van die oulikste kinders – vol grappies en oorspronklike sêgoed en daarmee saam nogal vrypostig ook. Hulle het die beste selfbeeld van al die kombinasies. Hulle prys graag hulle eie stert. Hierdie outjies het die ergste woede-uitbarstings van almal en neem baie lank om beheer oor hulle emosies te leer. Palmrosies het die meeste energie en lewenslus en word baie maklik met hiperaktiwiteit en ander aandagstoornisse gediagnoseer. Hulle is altyd op ’n missie. As ons nie op die positiewe daarvan fokus en besef dat hulle op pad is om produktiewe, aktiewe, vindingryke volwassenes te word nie, kan ons hulle te ferm vasvat en die vlammetjie blus.
Pasop vir medikasie om hierdie outjies “rustig” te maak. Party mense is nie geskep om rustig te wees nie! Palmrosies is by verre die “stoutste” weens hulle gekombineerde drang om te ontdek en te verower. Hulle het baie ruimte en vryheid nodig en net die nodigste onbeweeglike grense wat hierdie groot gebied afbaken. Onnodige reëls en beheer maak hulle erger! Hulle moet baie aktief onderrig word as hulle akademies gaan uitstyg. Palmrosies is nie besonder leerbaar nie. Maniere kom by hierdie outjies net so stadig soos selfbeheersing. Hulle is nie so gepla oor wat ander dink nie, en ook nie of ander hulle eetlus verloor oor hoe hulle aan tafel te kere gaan nie. Palmrosies is van die outjies wat die vinnigste fisiek ontwikkel omdat hulle heeltyd nuwe uitdagings soek en permanent hulle eie vaardighede toets en verbeter. Gewoonlik is hulle dus op datum of voor met hulle motoriese mylpale soos sit, kruip, loop, staan, huppel en balvaardighede.
Hulle blink dikwels uit in sport omdat hulle alles met soveel energie en waagmoed aanpak en so baie speel dat hulle hulle motoriese vaardighede vroeg al slyp. Kontaksport sit hulle nie in die minste af nie. Hulle geniet beheer en aandag ewe veel. Daarom is hulle besonder uitdagend, onderhandelend en manipulerend as hulle nie ferm gedissiplineer word nie. Palmrosies wil alles doen en aan alles deelneem. Hulle wil natuurlik ook in alles die beste wees! Ongelukkig het hulle nie dieselfde deursettingsvermoë as byvoorbeeld die sierrosies nie; daarom wissel hulle belangstellings geweldig vinnig. Sodra hulle nie meer aandag kry, wen of elke oomblik geniet nie, kan hulle belangstelling verloor.
Palmrosies is luidrugtig en impulsief, en het min selfbeheersing. Palmrosies kan sosiale situasies totaal oorneem omdat hulle leiertjies is met baie sjarme. Hulle kan egter nie altyd onderskei tussen baasspelerigheid en samespel nie, en hulle gewildheid kan skielik afneem wanneer hulle te dominerend word. Hulle het hulp nodig om ’n balans te vind. Baie boelies is palmrose wat ongelukkig verkeerd hanteer word.
Die volgroeide palmroos
Hierdie bome is die grootste ekstroverte, die grootste optimiste, die mees entoesiastiese sprekers en die mees meesleurende leiers. Hulle is dus onmoontlik om te ignoreer, en is altyd op die voorgrond. Palmrose kan geweldig gedrewe wees, en op ’n groot aantal terreine gelyktydig die leer klim. Hulle hou gewoonlik daarvan om so wyd moontlik betrokke te wees by allerhande groot dinge. Hulle vernaamste struikelblokke op pad na die hoogste sport is hulle menseverhoudinge en gebrek aan fokus. As ’n palmroos nie gedissiplineer is as kind nie, is dit die naarste kombinasie denkbaar, want dit beteken daar is ’n bedorwe kind en ’n diktator saamgegooi in een selfgesentreerde mens. Palmrose se grootste swakhede is gewoonlik ongeduld of humeur en onsensitiwiteit, want hulle het gewoonlik die laagste emosionele intelligensie van al die kombinasies. Hulle is blind vir hulle eie swakhede en onverdraagsaam wanneer dit by ander se swakhede kom. Palmrose is die swakste luisteraars. Palmrose het gewoonlik die beste selfbeeld. Hulle kan selfs arrogant wees omdat hulle soveel vertroue in hulleself en hulle standpunte het. Palmrose is bobaas-manipuleerders omdat hulle soveel dryfkrag sjarme gelyktydig het.