Wat is my sterk punte as denneboomouer?
Omdat jy ’n denneboomouer is …
Jou geaardheid kan egter ook vir jou kinders ’n frustrasie wees as hulle baie van jou verskil. Hulle gaan jou swak punte na die oppervlak bring! Hier volg raad vir sulke dae:
Wanneer ’n denneboom ’n denneboompie grootmaak
Omdat julle albei moeilik oor gevoelens praat, en in die algemeen nie julle hart op julle mou dra nie, kan dit moeilik wees vir julle om ’n diep verhouding te bou. Belê die nodige tyd om saam met hierdie kind te wees, en doen moeite met julle kommunikasie. Jou denneboomkind gaan die maklikste jou voorbeeld volg. Denneboompies doen wat jy doen, nie wat jy sê nie. Dalk het jou kind ook min belangstellings, soos jy. Omdat jy hierdie eienskap van jou kind die beste verstaan, kan jy ’n kragtige invloed wees as mentor in jou kind se soeke na sy passie in die lewe. Solank daar vrede is, glo jy alles is in die haak. Stilte beteken egter nie altyd vrede nie. Jy moet jou kind baie fyn dophou. Wees versigtig om nie jou kind se passiewe geaardheid te veel aan te moedig nie. Jy kan jou reeds passiewe kind meer passief maak deur lae verwagtings te koester, en passiwiteit te modelleer. Omdat jy geneig is om alles gemaklik en gerieflik vir jou kinders te maak, kan jy maklik tussen hulle en die gevolge van hulle optrede gaan staan. Onthou dat dit nie jou taak is om jou kind so te beskerm nie. Jou kind moet soms val en seerkry op pad na volwassenheid. As jy ’n denneboomouer is wat wegdeins van straf, moet jy weet dat kinders positief bly oor hulle ouers, selfs wanneer hulle gestraf word. Die straf moet dan egter soos volg plaasvind:
’n Denneboomouer en ’n palmboompie
Palmboompies vind gewoonlik hulle denneboomouers effens te rustig – selfs vervelig. As jy ʼn palmboompie het, sal jy soms jolig moet raak – iets wat natuurlik nie vir jou vanself kom nie! Jou kind het nodig om saam met jou pret te hê anders sal julle verhouding minder as ideaal wees. Palmboompies gebruik denneboomouers se vredeliewendheid teen hulle. Hulle weet dat jy konflik vermy en nie baie energiek is as dit by die deurvoering van dissipline kom nie. Wees bedag hierop en verras jou denneboompie deur ernstig te wees oor die belangrikste dissiplinêre doelwitte en dring aan op gehoorsaamheid. Jou denneboompie weet waarskynlik dat jy nie graag die pretbederwer is nie, en sal eerder na jou toe kom as na ’n strenger ouer toe. Jou allergie vir emosionele tirades maak jou die ideale slagoffer van jou palmboompie se melodrama. Moet jou nie daardeur laat manipuleer nie. Geniet jou kind se andersheid en speelsheid. Pasop om nie jou eng definisie van volwassenheid op hierdie soort boompie af te dwing nie. Denneboomouers wil nie graag hê hulle kinders moet enige pyn beleef nie. Hulle voel daarom verplig om hulle kinders te verdedig, te help, altyd aan hulle kant te wees en hulle so
gelukkig moontlik te hou. Palmboompies leer ongelukkig mos hoofsaaklik uit ervaring. As jy hulle dus nie straf en die gevolge van hulle verkeerde optrede laat beleef nie, kan hulle nie leer nie! Hulle het avontuur, waaghalsige spel en ruimte nodig. Dit is vir jou belangrik dat jou kinders gelukkig is. Jou palmboompie het elke dag jou aandag nodig. Palmboompies is afhanklik van baie fisieke kontak. Kom en bly naby aan hierdie kind.
’n Denneboomouer en ’n roosboompie
Omdat jy ten alle koste die vrede wil bewaar, is jy die manipulerende roosboompie se gunsteling. Hy weet sy woede waarborg dat jy sal toegee. As jy altyd konfrontasie met jou roosboompie probeer vermy, gaan jy niks met jou ouerlike taak vorder nie. Jou roosboompie het jou kalmte en voorbeeld van selfbeheersing nodig. Dit gaan egter niks beteken as julle nie ’n goeie verhouding het nie. Bly naby jou kind. Roosboompies respekteer net ’n ouer wat met oortuiging en durf optree. As jou roosboompie voel dat jy swak is, gaan hy of sy geen respek vir jou hê nie. Jy gaan dus soms baie fermer moet optree as waarmee jy gemaklik is. Jy sal moeite moet doen om jou roosboompie se woede te leer hanteer omdat dit ’n emosie is wat jy nie self dikwels beleef nie. Jy is waarskynlik van nature goed met die ontlonting van konflik en jou vredemakertemperament beteken gelukkig dat jy waarskynlik nie olie op die vuur gooi deur self emosioneel tot die konflik toe te tree nie. Moet egter nie die fout maak om roosboompies se uitbarstings te ignoreer nie. Roosboompies het altyd doelwitte en redes vir wat hulle doen. As jy wil hê hulle moet iets anders doen en jou eerder volg, moet jy gereed wees om jou doel en redes te verduidelik. Wees proaktief in die dissipline van jou kind. Dink vooraf oor die uitdagings wat voorlê en besluit hoe jy hulle die hoof gaan bied.
’n Denneboomouer en ’n sierboompie
Jou temperament voorspel dat jou sierboompie se emosionele – soms irrasionele optrede jou grootste uitdaging gaan wees. Hoe jy in sulke situasies met jou sierboompie kommunikeer, kan julle verhouding maak of breek. Werk aan jou kommunikasie met hierdie sierboompiekind van jou. Jy het die vermoë om die kern van ’n saak raak te sien. Jy kan jou sierboompie baie help om perspektief te behou wanneer hy oorweldig voel. Jy gee meer om wie jou kind is, as wat jou kind doen. Jou sierboompie moet egter baie erkenning kry vir wat hy bereik. Sierboompies is baie ernstig oor reg en geregtigheid, reëls en regulasies. Doen moeite om konsekwent op te tree sodat jou sierboompie jou kan vertrou. Baie denneboomouers sien nie kans vir hierdie intense sierboompies nie, en hou ’n afstand tussen hulle en hulle kinders. Dit is baie jammer, want as jy jou mensekennis en geduld, jou vergewensgesindheid en sensitiwiteit saamgooi, kan jy die beste ouer vir hierdie kind wees.
Kyk nou die video: “Waarom ouers dit verloor”.