Min dinge werk beter met jong palmboompies, want hulle aandagspan is so vlietend. As ons vir ’n palmboompie sê “jy mag nie … ” behoort ons dit te volg met “maar jy mag … ” Alternatiewe help palmboompies om reg op te tree. Wanneer ons nie ’n plaasvervanger voorstel nie, sal hulle teruggaan na die verkeerde gedrag omdat hulle nie net kan sit en niksdoen nie. Soms moet ons, ons kind uit die situasie verwyder of die versoeking wegneem.
Palmboompies is een van die twee boomsoorte wat goed op ’n pak slae reageer. Hulle neem dit nie persoonlik op nie en voel nie gekrenk nie. Hulle reageer egter beslis nie na die eerste pak slae nie, maar met konsekwente gevolge dring die les wel tot hulle deur! Ouers maak die fout om gou op te gee met ’n pak slae wanneer dit nie onmiddellike resultate oplewer nie, want hulle vergeet dat ’n palmboompie ’n optimis is. Palmboompies se streke hou aan terugkom. Soms vinniger as die volgende dag! Om deur te druk met voelbare gevolge moet werklik ons eerste keuse wees. Ander voelbare gevolge sluit die verlies van lekkergoed of nagereg, die wegneem van speelgoed en die kansellasie van prettige uitstappies in. ’n Pak slae is nie vir alle kinders geskik nie, nie vir alle soorte stoutigheid bedoel nie en beslis nie ’n strafmetode wat elke ouer in liefde kan gebruik nie. Natuurlik moet pret ’n groot motiveerder vir palmboompies wees. Wanneer hulle self belonings kan kies, werk dit die beste. Palmboompies reageer baie goed wanneer ons gedrag beloon met fisieke plesier .
Hierdie twee tegnieke werk wonderlik met kleuterpalmboompies omdat dit hulle spoed so breek dat die wangedrag later net nie meer vir hulle die moeite werd is nie. Uitputting (partykeer ook uitwissing genoem) behels die onnatuurlike verlenging van gedrag sodat die kind moeg word daarvoor. Uitputting werk ook goed vir gewoontes soos neusgrawe of naels kou. Elke keer wanneer die outjie naels kou, word die hande byvoorbeeld met seep gewas, die naels word met ’n naelborseltjie geborsel en die tande word deeglik geborsel om seker te maak dat die kieme so goed moontlik aan die handjies en in die mond beheer word. Met neusgrawe moet die neusie natuurlik geblaas word of versigtig binnekant met ’n wattestokkie en verdunde Dettol ontsmet word, en die handjies en tande moet skoongemaak word soos met die naelskouery. Hierdie ritueel word sommer gou vir palmboompies so omslagtig dat hulle nie meer die gewoonte wil voortsit nie.
Oorkorreksie berus op amper dieselfde beginsel. Dit behels die herhaaldelike inoefening van die regte optrede elke keer wanneer verkeerde optrede kop uitsteek. Gestel ’n kind kom nie wanneer hy geroep word nie. Hy moet dan oefen om wel te kom wanneer hy geroep word. Hy moet nou een na die ander uit tien verskillende plekke in die huis luister wanneer jy sy naam roep, en dan gou kom. Oorkorreksie werk ook goed met impulsiewe gedrag soos die toeklap van deure.
Palmboompies leef in die oomblik; daarom moet hulle nie “verhoorafwagtend” wees nie. Tree dadelik op. Palmboompies sal net gedrag stopsit of herhaal wanneer daar onmiddellike gevolge is!
’n Palmboompie is waarskynlik die enigste boomsoort met wie ’n rukkie op ’n vervelige plek – weg van al die aksie, al die opwinding en al die mense – goeie resultate oplewer. Hy gaan nie oor sy sondes dink nie, maar gaan wel ervaar dat hy daar geen aandag of simpatie kan kry nie. Daar moet reëls wees dat hy nie van daar af mag roep of vra wanneer die tyd verby is of op enige ander manier deelneem aan dit waarmee die res van die mense besig is nie. Palmboompies wat aggressief is met maatjies, kan weggeneem word van die speelarea tot waar hulle net die spelery kan sien, maar nie kan saamspeel of saamgesels nie. Palmboompies kan baie effektief beloon of gestraf word deur gehok te word of ekstra kuierregte te kry.
Met jong palmboompies is die kleinste speeldingetjie ’n effektiewe wortel voor die neus en die verlies van ’n gunstelingspeelding is ’n groot afskrikmiddel. Geld is vir ouer palmboompies – veral die tieners – baie belangrik, want dit is sinoniem met invloed. Hulle reageer dus baie goed op die vermindering of vermeerdering van sakgeld.
Palmboompies wil baie sigbaar beloon word en reageer daarom fantasties op sertifikate, medaljes en trofeë.
Spesiale pesbeheer net vir palmboompies
’n Kweekplan vir ’n palmboompie
As ons ons palmboompie goed wil vorm, moet ons reg te werk gaan. Is ons eerstens regtig ernstig oor die gedrag wat ons vir ons kind wil leer, en is ons bereid om energie en tyd daarin te belê? Sonder toewyding sal ons nie slaag nie! Tweedens moet ons seker maak dat ons kind regtig weet hoe om die regte ding te doen. In die derde plek moet ek myself afvra of my kind dalk moedeloos is oor al my gekerm omdat ek nie die vordering wat sy soms darem wel maak, raaksien en beloon nie? Motiveer ek haar volgens haar geaardheid of is die wortels wat ek voor haar neus hou vir haar maar net ’n groentesoort wat sy in elk geval nie graag eet nie? Wanneer ons mooi hieroor nadink, kan ons gedrag baie vinniger en met minder trane verander! Wanneer ons dink alle gedrag kan “reggestraf” word, word ons ouerskap geweldig negatief. Wanneer ons palmboompies se gedrag probeer verander, is een van ons grootste foute om te veel verskillende doelwitte gelyk na te jaag. Palmboompies moet baie gefokus en met groot toewyding “afgerig” word as ons permanente resultate wil sien.
Kyk nou die video: “Vyf ankers vir jou kind”.