Denneboompies het soms ’n ferm stootjie nodig wanneer hulle nie hulle regverdige deel doen nie. Ons moet soms vir hulle verduidelik hoe ander mense voel wanneer iemand in die groep op ander se rug ry en nie sy of haar kant bring nie. ’n Denneboompie is baie soos ’n opwenspeelding – bereid en in staat om te beweeg, maar nie vanself nie! Denneboompies sien altyd die taak voor hulle as ’n berg. Ons moet hulle leer dat hoe gouer jy die eerste tree gee, hoe gouer kom jy bo uit. Dit help om hulle te leer om ’n taak in kleiner takies op te deel en ’n tyd aan elkeen toe te ken. So maak hulle seker dat die taak nie hulle hele dag bederf, soos hulle vrees dit kan nie. Denneboompies fokus so op die mense dat hulle die werk miskyk. Hulle moet soms net vriendelik gewys word op maniere om by te dra, en dan sal hulle dit graag doen.
Wanneer ons denneboompies voor ’n taak vassteek, moet ons hulle help om motiveerders te vind wat hulle sal aanmoedig om die taak uit te voer. Ons mag maar openlike vrae oor motiveerders vra. Aanvanklik beteken dit dalk dat ons ’n tasbare beloning gaan moet gee, maar ons kan dan onderneem om dit te doen vir die volgende week of twee, waarna hulle self met ’n ander voorstel moet kom. Om sy eie motiveerders te leer ken, is ’n vaardigheid wat regdeur jou denneboompie se lewe van waarde gaan wees om hom deur sleurwerk te help.
Denneboompies se emosionele woordeskat bestaan dikwels uit ’n baie klein Repertorium. Ons moet ons denneboompies leer om meer waarde te heg aan hulle emosies, en om dit meer akkuraat te verwoord. Beskryf hulle emosies wanneer jy dit waarneem. As ons met ons denneboompies konfidensiële
gesprekke wil hê, gaan ons moet leer om stadig en geduldig met hulle te gesels. Ons moet min sê, en baie luister, versigtig trap op daardie dun ys. ’n Denneboompie klap die hartdeurtjie blitsig toe wanneer ons veroordelend, te nuuskierig, onsensitief of ondervragend oorkom. Die sleutels wat daardie deurtjie oopsluit is rustigheid, aandag, tyd en ’n oopkop-ingesteldheid. Hulle kan ontwykend en vaag wees wanneer ons probeer uitvind wat hulle behoeftes is.
Ons denneboompies heg soveel waarde aan vrede dat hulle ter wille daarvan sal stilbly wanneer ’n groep kinders iets doen wat teen hulle waardes indruis. Denneboompies gee nie so maklik onder groepsdruk in as die palmboompies nie, maar hulle staan ook nie openlik daarteen op nie. So word hulle ongelukkig onskuldige slagoffers van die gevolge van ander kinders se stoutigheid. Denneboompies word saam met die kwaaddoeners gevang en raak dan baie ontsteld wanneer niemand wil glo hulle was regtig heeltemal onskuldig nie!
Denneboompies vlug weg van bakleiery, verdedig nie hulleself nie, tree nie selfgeldend op nie en bly dikwels tjoepstil al gebeur lelike dinge met hulle. Dit is alles die resultaat van hulle vrees vir konflik of hulle onvermoë om konflik te hanteer. Ons moet hulle die waarde van konflik leer. Dit het baie
positiewe aspekte.
Denneboompies is meesterskimpers. Soms is hierdie lang aanloop snaaks, maar dit maak ’n mens ook ongeduldig met tye! Sy moes leer dat dit veilig is om sommer te sê: “Mamma, het Mamma lekkertjies in daai sakke waarvan ek nou mag eet?”
Dennebome kan ander mense se gevoelens in ag neem – beter as die roos- en palmbome. Daarom kan hulle gehelp word om te verstaan hoe belangrik stiptelikheid is vir hulle verhoudings met ander mense. Laatkommery dra ’n boodskap van disrespek, ongeërgdheid of swak selfdissipline oor, en kan mense baie negatief teenoor jou maak. Om tydbestuur te leer gaan denneboompies vroeg in hulle lewens wekkers en horlosies moet kry wat hulle verplig moet word om te gebruik.
Ons moet ons denneboompies leer hoe om hulleself aan te skakel. Hulle kan nie vir altyd afhanklik wees van ’n hond wat op hulle hakke blaf of ’n polisieman wat oor hulle skouer loer nie. Hulle moet dus innerlike motivering leer. Dit is ’n uitdaging wat tyd gaan neem; daarom moet ons vroeg begin. Leer vir denneboompies ’n strategie om die take wat voor hulle lê in kleiner dele op te deel sodat hulle nie so wegskram van daardie eerste tree nie.
Dennebome is bang vir keuses omdat hulle wonder of hulle nie dalk ’n fout gaan maak of dalk nie aan alle invalshoeke gedink het nie en ’n beter keuse kon gemaak het. Dit maak outomaties van hulle stadige besluitnemers. Soms maak dit dat hulle hoegenaamd nie kan besluit nie. Wanneer denneboompies ’n besluit geneem het, moet ons hulle aanmoedig om dadelik te begin werk aan die plan.
Om konflik te vermy gaan lê denneboompies maklik sodat ander oor hulle kan loop. Ons moet ons denneboompies daarop wys dat dit mense respek vir hulle laat verloor. Hulle mag vriendelik maar ferm aandring om regverdig behandel te word. Denneboompies word maklik geboelie. Die rede daarvoor is ondere andere dat die boelie weet dat hulle waarskynlik nooit sal terugveg nie vanweë hulle verdraagsame passiwiteit, behalwe wanneer hulle tot by hulle berugte breekpunt gedryf word, natuurlik! As ons uitvind dat ons denneboompies deurloop, kan ons hulle op ander maniere leer selfgeldend wees:
Denneboompies sê graag agterna dat hulle kon sien iets gaan nie werk nie, maar wou nie betrokke raak nie. Hulle dink dalk leierskap beteken altyd om jou kop in die bynes te druk. Leer hulle dat leierskap verskillend kan lyk in verskillende situasies. Verduidelik vir jou denneboompie haar unieke leierskapstyl, naamlik dat sy mense kan laat saamwerk en die groter prentjie kan sien, kalm kan bly en nie in die klein dingetjies bly vaskyk nie.
Ons moet dit leer doen sonder om te druk. Dit beteken dat ons al ons kinders se pogings moet aanvaar, al misluk hulle. Help hulle om te verstaan waarom veranderinge en risiko’s hulle so bang maak sodat hulle beheer kan neem oor daardie emosies.
Denneboompies kan soms sit en wag dat die lewe met hulle gebeur, en wanneer hulle dan nie hou van wat gebeur nie, raak hulle baie morbied. Hulle voel gou dat die lewe hulle iets skuld, en neem dan ’n slagofferhouding in. Denneboompies moet verstaan dat niemand hulle iets skuld net omdat hulle “daar” is nie. As hulle sukses wil behaal, gaan hulle hard daarvoor moet werk.
Ons denneboompies leer die beste:
Kyk nou die video: “Wat jou kind kan kelder”.