Roosboompies se grootste doel is om in beheer te wees. Hulle tweede grootste doel is om groter te wees as wat hulle is. As ons egter vir hulle gereeld areas van beheer kan gee, hou hulle op om ons op elke terrein tot ’n tweegeveg uit te daag. Beheer oor klein dingetjies is die sleutel! Gee vir roosboompies verantwoordelikheid wanneer jy inkopies doen.
Die ander boomsoorte is nie so lief vir hulle werkies nie, maar roosboompies vind eiewaarde, trots en bewyse van grootword in hulle verantwoordelikhede. Elke takie bied geleentheid om hulleself te bewys. Hulle moet dus so vroeg moontlik hulle eie werkies in die huis hê. Verantwoordelikhede kan ’n baie negatiewe roosboompie omkeer
Keuses is eintlik maar sinoniem met beheer, verantwoordelikheid en besluitneming. Roosboompies haat dit om te voel hulle het geen keuses nie. Dit maak hulle onnodig rebels. Soms kan ons net opdragte anders verwoord sodat ons roosboompies ervaar dat hulle ’n keuse uitoefen, en sodoende konflik drasties verminder. Geleenthede om daadwerklik besluite te neem, laat enige kind meer bekwaam voel. Dit beteken dat ons dikwels opdragte kan gee met ’n keuse aangelas.
Roosboompies is rasioneel en logies. Hulle wil verstaan, en móét verstaan, waarom hulle iets moet doen voordat hulle hulle samewerking kan gee. Wanneer hulle rede insien, doen hulle graag wat nodig is. Maar wanneer ons van hulle verwag om te doen wat ons sê net omdat ons so sê, is dit vir hulle verskriklik moeilik. Wanneer hulle redes vra, word ons soms onnodig woedend omdat dit voel asof hulle ons oordeel in twyfel trek, ons gesag uitdaag of ons probeer manipuleer. Wanneer ons kalm en kortliks redes verskaf, gaan ons baie beter samewerking kry.
Roosboompies wil liewer hulle eie grense bepaal as om ons s’n te aanvaar, en sal gedurig probeer om die drade om te stoot. Roosboompies moet herhaaldelik met ’n onbeweeglike grens te doene kry voordat hulle sal ophou stoot. As hulle een keer voel dat die grens wel verskuif kan word, sal hulle met al hoe meer vuur teen daardie grensdraad aanstorm totdat hulle aanslag slaag. Roosbome haat aanvanklik die grense, maar wanneer hulle presies weet waar die grense is, en dat dit nie verskuif kan word nie, help dit hulle. Grense help hulle met selfbeheersing en uiteindelik met selfbeeld. Dit baken ook vir hulle die gebiede af waarbinne hulle “mag” het.
Roosboompies moet resies hardloop, kompeteer, vasgevra word, kragte meet met ouer kinders en op talle ander maniere uitgedaag word. Hulle wil gerek word! Moet hulle nie onderskat nie. Hulle verbaas ons dikwels, en in die proses verbaas hulle soms hulleself.
Roosboompies het, soos palmboompies, baie energie. As hulle nie van die bondels energie ontslae raak nie, sit dit in aggressie om en ons wat die naaste aan hulle is, beland ongelukkig aan die ontvangkant daarvan. Wanneer ons nie gepaste vorme van hierdie aktiwiteite vir hulle fasiliteer nie, raak hulle kreatief op stoute maniere. Moedig roosbome aan om te oefen en aan sport deel te neem.
Laat hulle van vroeg af oefen om aan die stuur te wees.
Roosboompies is van nature goed met besluitneming, probleemoplossing en keuses. Ons moet hierdie gawes aanmoedig deur gereeld ons roosboompies by probleemoplossing te betrek en terugvoering te gee oor hoe hulle hiermee vaar. Gebruik soms probleemstellings in die plek van ’n opdrag of teregwysing.
Roosboompies gaan leiers wees – goeies of slegtes, maar nietemin leiers. Dit is eenvoudig hoe hulle bedraad is. Iemand gaan hulle altyd volg. Ongelukkig is baie roosbome hard en onsensitief. Ons moet ons roosboompies daarom blootstel aan sterk, sensitiewe mense sodat hulle kan leer dat ’n mens ’n baas kan wees sonder om boos te wees! Wanneer ons ons gesag as ouers kalm maar ferm afdwing, is dit natuurlik die allerbeste voorbeeld.
Ons oorbeskerm roosboompies maklik omdat hulle ons verbouereer met hulle waaghalsigheid. Hulle wil altyd vinniger, hoër en verder. Ons maak dan die fout om heeltyd tussen hulle en hulle toertjies te staan. Ons moet eerder ’n veilige plek en goeie tyd kies waar hulle hulle vermoëns kan toets.
Ons vermy konfrontasie met roosbome omdat dit so elektries kan raak, maar ons doen nie vir hulle of onsself ’n guns wanneer ons dinge oorsien wat eintlik onaanvaarbaar is nie. Hulle moet elke keer die gevolge dra van hulle keuses, want as hulle een maal met ’n ernstige oortreding weggekom het, sal hulle aanhou om ons te toets.
Vryheid en ruimte is vir roosboompies belangrik, want dit is waaraan hulle meet hoe groot hulle is. Wanneer hulle agterkom dat ons hulle met al hoe meer tyd, geld en keuses vertrou namate hulle hulleself betroubaar bewys, verras hulle ons dikwels met gedrag wat verbasend is vir hulle ouderdom.
Roosboompies is ten spyte van hulle rebellie en hardkoppigheid meer verantwoordelik as die palmboompies en denneboompies. Laat hulle toe om dit te bewys. Moenie oor hulle skouers loer nie tensy hulle die vertroue skend. Gebruik geld, tyd en besittings om sulke geleenthede te skep. Gee vandag vir jou roosboompie ’n kans om ’n keuse te maak, ’n besluit te Neem, ’n probleem op te los, ’n opinie te gee, iemand te lei, ’n taak onafhanklik uit te voer, betroubaarheid te bewys en ’n uitdaging aan te pak.
Kyk nou die video: “Taboes met roosboomkinders”.