Moegheid en die palmboom
Roetines, begrotings, beplanningsvergaderings, administrasie, skedules, verslae, reëlboeke en enige ander beperkings of grense. Die palmboom word verveel en uitgeput deur alle onpersoonlike take waarby net rekenaars en dokumente of horlosies en kalenders betrokke is. Hulle sukkel om binne gestelde grense te funksioneer omdat hulle vrydenkend, kreatief en vol energie is. Dit druk hulle dood om volgens protokol op te tree wanneer hulle nie die sin daarvan insien nie, en gewoonlik kán hulle dit nie insien nie of juis sien dat dit sinneloos is! Hulle funksioneer optimaal wanneer hulle nie net verre horisonne kan sien nie, maar ook toegelaat word om tot daar te beweeg, sodat hulle selfs die verder horison kan sien.
Herlaai en die palmboom
Palmbome herlaai tussen mense. In plaas van uitgeput te word deur sosiale geleenthede, word hulle al vroliker en sterker namate die partytjie voortduur! Palmbome herlaai so omdat hulle hulle waarde in die oë van ander vind. ’n Palmboom herlaai ook deur aan die een of ander avontuur deel te hê. Hulle
is áltyd gereed vir pret, kattekwaad of mal waagstukke, en floreer op die adrenalien wat daarmee saamgaan. Spoed, hoogtes, risiko’s en noue ontkomings laat die palmboom se bloed weer soos sjampanje bruis. In elke palmboom is daar ’n kind wat nooit heeltemal grootword nie, en daardie kind moet gereeld pret hê! Hulle kry ook nuwe lewe wanneer hulle besig is. Palmbome kan nie stilsit nie. Hoe meer dinge hulle gelyk mee besig is, hoe blinker hulle oë.
Vrees en die palmboom
Omdat palmbome so afhanklik is van mense om hulle, vrees hulle eensaamheid of isolasie. Palmbome sonder vriende word sommer treurwilgers. Palmbome vrees ook verwerping en afkeuring. Hulle kan baie gespanne raak wanneer mense te min mooi dinge oor hulle sê. Hulle vrees ook die ouderdom en alles wat daarmee saamgaan omdat hulle hulle liggame so belangrik ag. Palmbome het afwisseling, opwinding en nuwighede bitter nodig; daarom vrees hulle ook stagnasie. Hulle is agente van verandering wat glo dat stilstaande water gou begin stink … Daar moet altyd rimpelings en stromings wees, anders skep hulle dit! Ongelukkig is verveling in die huwelik vir baie palmbome ’n probleem.
Woede en die palmboom
Hulle kan nie funksioneer saam met pessimiste en klaers nie. Ook nie saam met ouens wat eerste by die probleme wil stilstaan nie. Hulle versamel entoesiaste en doeners om hulle, en pes die passiewe, vervelige ouens wat net “realisties” na alles wil kyk, en nooit kan droom of waag nie. Omdat palmbome die gawe het om mense te laat opstaan en saamhardloop, frustreer die ouens wat aan hulle stoele vasgeplak is ’n palmboom verskriklik. Dit spreek vanself dat hulle enige pretbederwer sal vermy.
Wanneer hulle wil speel, en iemand wil hulle keer, kan hulle aggressief reageer. Mense wat hulle inhok, maak hulle ook boos. In huwelike gebeur dit dikwels wanneer ’n palmboom nie ruimte gegun word om buite gesinsverband saam met vriende of vriendinne te kuier nie.
Spanning en die palmboom
Omdat palmbome emosioneel eerder as rasioneel funksioneer, dink hulle nie baie graag na oor die bronne van hulle stres en die moontlike oplossings nie. Hulle kies eerder om dit te ontvlug of daaroor grappies te maak. Dit beteken gewoonlik dat die hantering van probleme eerder uitgestel word. Wanneer die hopie onoopgemaakte rekeninge die palmbome begin pla, druk hulle dit in ’n laai waar hulle dit nie hoef te sien nie. Palmbome het wonderlike mensvaardighede, en die helfte van hulle probleme gaan gewoonlik weg deurdat hulle hulle sjarme aan die dag lê om ander mense te kry om dit vir hulle op te los. Hulle kan vanaand lekker slaap, want hulle het die vermoë om alles wat pla agter ’n digte gordyn toe te trek totdat hulle gereed is om daaroor te dink (of totdat dit agter die gordyn uitspring, en hulle aan die gorrel gryp).
Die palmboom en sukses
Plesier is een van die belangrikste maatstawwe van sukses in ’n palmboom se lewe. As daar nie vreugde en genot in ’n baie konkrete sin van die woord is nie, is daar iets fout. ’n Palmboom kan nie glo dat sy lewe op die regte spoor is wanneer dit vol pligte sonder plesier is nie. Palmbome kyk baie moeilik verby die uiterlike maatstawwe van sukses. Hulle streef na die nuutste, die mooiste, die blinkste. Populariteit, bekendheid en roem is nog maatstawwe van sukses. As hulle gereeld na sosiale geleenthede genooi word, as almal hulle dienste of produkte wil bekom of hulle naam verskyn iewers in groot letters, het hulle dit gemaak. As hulle maatskappye op die aandelebeurs gelys kan wees of as hulle die een of ander bestaande rekord kan laat spat, was hulle suksesvol.