Moegheid en die denneboom
Enige groot uitset maak ’n denneboom moeg. Dennebome is lae-energie mense wat nie van een taak na ’n ander kan oorgaan sonder om tussenin te rus nie. Dennebome word ook moeg tussen lawaaierige mense. Hulle kan nie baie lank in ’n luidrugtige partytjie uithou nie. Prestasiedruk maak ook dennebome moeg. Hulle wil graag mense tevrede stel en wanneer die eise net aanhou opstapel, ervaar hulle dat hulle kop onder die water verdwyn. Dit kan hulle so moeg maak wanneer daar gekerm en gesanik word,
dat hulle byna verlam raak. Konflik is die grootste dreineerder van ’n denneboom se energie. Konflik in hulle koppe wanneer hulle met moeilike keuses gekonfronteer word, het dieselfde uitwerking op hulle. Dennebome word ook baie moeg wanneer hulle na te veel detail moet luister.
Herlaai en die denneboom
Alhoewel dennebome lief is vir mense, het hulle baie alleentyd nodig. Hulle moet dan iets baie passief doen. Hulle energievlakke is laag om mee te begin, en hulle herlaai dus beslis nie wanneer hulle aktief is nie! Wanneer ’n mens egter slapende dennebome wakker maak, stel jy net hulle slaaptyd uit – slaap gaan hulle slaap – baie en laat! Hulle moet op hulle eie tyd uitkom.
Vrees en die denneboom
Dennebome se drie grootste vrese is konflik, verantwoordelikheid en kritiek. Dennebome wil bo alles in vrede en rustigheid lewe; daarom is hulle bobaas konflikvermyders. Hulle sal eerder net vra of almal kan aanbeweeg en vergewe as om twispunte uit te sorteer. Hulle vrees vir kritiek maak dat dennebome net take aanpak wat hulle voel hulle met sukses kan deurvoer. Hulle is eerder toeskouers as deelnemers. Dennebome is die laaste om hulleself vir take te nomineer. Hulle doen nie vrywillig enige iets meer as die minimum nie. Hulle sal net voor loop wanneer daar absoluut niemand anders is om dit te doen nie. As ’n mens vir ’n denneboom waarsku dat iets seer of moeilik gaan wees, spoor dit hulle nie aan nie – dit skrik hulle af. Dennebome vrees ook skielike verandering omdat hulle sekuriteit vind in konstantes.
Woede en die denneboom
Die denneboom is die geduldigste van die boomsoorte. Maar mense wat nie wil aanbeweeg nie, die verlede kort-kort oopkrap en dan weer emosioneel raak daaroor, brand waarskynlik die vinnigste deur daardie lang lont. Dennebome haat dit wanneer dinge “ingevryf” word. Omdat dennebome bogemiddelde selfbeheersing het, maak onvoorspelbare, opvlieënde mense hulle ook kwaad. Hulle het dit veral teen die disrespek vir ander wat met sulke uitbarstings gepaard gaan. Wanneer so iemand boonop nie agterna dinge regstel nie, verloor ’n denneboom alle respek vir die persoon, en skryf hom maklik permanent af. ’n Denneboom kan ook so moeg raak vir die druk, gesanik en kritiek van veeleisende mense, dat dit uiteindelik in woede oorgaan. Dennebome se mensekennis en fyn waarneming maak dat hulle tweegesigte van ver af kan uitken.
Spanning en die denneboom
Dennebome se spanning is nie so sigbaar soos die ander temperamenttipes s’n nie omdat hulle al hulle gevoelens binnehou. Hulle onttrek egter meer as normaalweg wanneer hulle gespanne raak. Hulle wil spanning alleen hanteer. Wanneer spanning deur mense van buite veroorsaak word, kan ’n denneboom heeltemal afskakel. Wanneer die spanning uit konflik met ander mense voortspruit, verlam dit hulle. Dennebome onderdruk dikwels hulle spanning so lank dat hulle op ’n mooi dag kan ontplof.
Sukses en die denneboom
Dennebome meet sukses nie soveel aan uiterlike dinge of prestasies soos die ander boomsoorte nie. Hulle kyk na dieper dinge, gewoonlik op ’n interpersoonlike of intrapersoonlike vlak. Dennebome kyk ook eerder na kwaliteit as na kwantiteit wanneer hulle, hulle eie sukses meet. Hulle sien die lewe as ’n reis en die eindbestemming as bysaak. Daarom is dit belangriker hoe jy speel as dat jy wen; belangriker wie jy was, as wat jy bereik het en belangriker dat jy self tevrede is as dat ander jou lof besing.