Deel 1: Hoe die sierboom die lewe ervaar

  • Kliek hier om die storie af te laai oor Luan – die klassieke sierboompie.

    Sierboompies is standaardboompies, snoeiboompies of lollipops. Hulle is stylvolle boompies wat dikwels vir versiering gebruik word. Hierdie boompies lyk sommer agtermekaar en onder beheer. Hulle is die perfekte voorbeelde van hulle spesie. Die temperamenttipe wat  hierdie boompie voorstel, is ewe voorbeeldig! Hulle het hoë standaarde en lyk vir ander mense na aan perfek. Hulle is maklik om te vorm

    soos ’n mens hulle graag wil hê en hulle hou van grense. Hulle kan, soos in ’n pot, baie maklik binne eng bakens en rigiede reëls floreer. Sierboompie-mense is juis die tipe wat hulleself kan dissiplineer, self kan besluit wat reg of verkeerd is en self kan toesien dat dinge glad verloop. Sierbome is tevrede om op die regte plek te staan en reg te lyk as dit ander sal tevrede stel.

    Die volwasse sierboom

    Mense sê

    • ons gee vir jou die werk wat ons rég gedoen wil hê
    • moenie so ernstig wees nie – live a little!
    • kan jy net eenmaal die blink kant raaksien?
    • is ons nie al voorheen (herhaaldelik) hierdeur nie?
    • jy is so georganiseerd!

    Liefde en die sierboom

    Sierbome wil voel dat hulle waardeer word. Hulle is dikwels dienaars en helpers, en as al hierdie moeite ongesiens as vanselfsprekend aanvaar word, beleef sierbome geen liefde nie. Hulle wil gereeld opreg bedank word. Sierbome wil ook begrip vir hulle emosies – veral die negatiewe emosies – hê. Wanneer hulle trane geïgnoreer word of niemand stel belang om te vra waarom hulle ongelukkig lyk nie, voel dit asof niemand hulle liefhet nie. Wanneer iemand daarenteen geduldig na hulle luister en begrypend en ondersteunend optree, ervaar hulle dit as liefde. Hulle is dikwels idealiste met drome en visies wat na aan hulle harte lê. Hulle selfbeeld is broos en hulle is gewoonlik in twee geskeur tussen hierdie ideale en die gevoel dat hulle dit nooit kan bereik nie. Wanneer iemand hulle drome deel, hulle aanhou aanmoedig en in die najaag daarvan ondersteun, ervaar hulle dit as liefde en kameraadskap. Sierbome het gewoonlik ’n groot privaat ruimte, selfbewustheid rondom liggaamlike gebreke of ’n vrees vir fisieke intimiteit. Hulle wil rondom die intieme aspekte van liefde met versigtigheid en respek benader word. Wanneer iemand aandring op aanraking of ongevraagd te na aan hulle kom, voel hulle bedreig en selfs verneder. Klein sierboompies deel nie hulle gunstelingspeelding nie.

    Emosies en die sierboom

    Sierbome beleef intense emosies oor die hele spektrum. Gewoonlik is hulle emosies ook baie sigbaar in hulle gesigsuitdrukking en liggaamshouding. Hulle loop daarmee op hulle mou. Sierbome se emosies is langdurend. Wanneer ’n sierboom teleurstelling beleef, kan die gevoel dae of weke lank op die krop van die maag bly sit. Dis baie moeilik om ’n sierboom op te beur. Hulle troetelemosies is wanhoop en skuldgevoel. Ongelukkig is albei hierdie emosies vir baie sierbome ’n konstante geestelike uitdaging.  Sierbome wil erkenning vir hulle emosies hê, anders voel hulle verwerp en misverstaan. Al verstaan ons

    nie hulle intense hartseer, radeloosheid, paniek of nood nie, moet ons hulle toelaat om daardeur te werk en nie probeer om met rasionele argumente te verduidelik dat dinge eintlik nie so erg is nie.  Deur saam met sierbome in die donker gat van emosie in te klim, help ons hulle om aan te beweeg. Wanneer ’n sierboom emosioneel is, is dit asof die rasionele sy afgeskakel is. Sierbome se brose selfbeeld maak dat hulle baie liggeraak kan wees. Hulle neem dinge persoonlik op en verval maklik in selfhaat en selfbejammering.

    Kommunikasie en die sierboom 

    Sierbome kommunikeer baie volledig – in groot detail. Hulle gaan haal gewoonlik ’n storie baie ver. Dis vir hulle belangrik om verstaan te word; daarom sal hulle aanhou praat totdat die luisteraars aandui dat hulle verstaan. Sierboomvrouens kommunikeer baie emosioneel. Sierbome kla maklik, is soms vol “ipekonders” en kritiek. Van al die boomsoorte is hulle ook die skuldigste aan ’n geskinder. Sierbome luister graag en kan baie empaties wees, maar hulle neem enige kritiek of teregwysing baie persoonlik op. Hulle onthou gesprekke woord vir woord, maar mis soms die totale bedoeling omdat hulle so agterdogtig en sensitief kan wees. Misverstande met hulle is baie algemeen as gevolg daarvan.

    Kyk nou die video: “Hoe luister mens na ’n kind”.