Kliek hier om die storie af te laai oor Dorette – die klassieke roosboompie.
Die soort boom wat in sy aard sterk, stekelrig maar ook produktief is, verteenwoordig hierdie temperament. Hierdie temperament kan aggressief, kwaai en onsensitief wees. Daar is egter wonderlike, positiewe eienskappe wat na vore kom wanneer ’n kind met hierdie geaardheid reg “gesnoei” word. Rose is sulke uitsonderlike blomme dat dit ’n goeie analogie is vir die besondere produktiwiteit en potensiaal van hierdie temperament. Roosbome verg konstante snoeiwerk en spesifieke sorg. Roosbome kan egter baie taai wees. Hulle sal oorleef sonder al daardie gespesialiseerde
aandag, maar die dorings word dan meer en die rose minder. Pestilensies neem ook oor en die roos se vorm word onaantreklik.
Die roosboomtemperament is nie afhanklik van ander nie. Hulle werk, al kyk jy nie oor hulle skouer nie, en hulle dryf hulleself aan. Roosbome het die vermoë om bo die res van ons uit te styg weens die sterk dryfkrag en kompetisiegees waaraan hulle geken word. Rose het ongelukkig ook dorings (tensy dit kunsmatig weggekweek is), en dit voorspel dat roosboompies nie die maklikste boompies is om te buig nie. Hulle moet met handskoene hanteer word, en die dorings gaan nie met volwassenheid weg nie.
Die volwasse roosboom
Mense sê
Liefde en die roosboom
Die meeste roosbome is mos maar stekelrig, en so is die persoon met ’n roosboomtemperament nie die touchy-feely-tipe nie. Roosbome het gewoonlik nie baie behoefte aan drukkies en soentjies, voetvrywery en rugmasserings nie, maar eerder aan liefde wat op meer verbale maniere gekommunikeer word. ’n Roosboom heg groot waarde aan bewondering, erkenning, waardering en aanmoediging. Dit bring ’n mens dus baie verder om roosbome te prys vir sukses en goeie besluite. Sê dat jy baie trots is op hulle en hulle as staatmakers beleef, dit tel meer as rose en sjokolade, en baie meer as drukkies. Lojaliteit is vir roosbome sinoniem met liefde. Hulle wil hulle vriende en lewensmaats onvoorwaardelik aan hulle kant hê. Die slegste ervaring vir ’n roosboom is om nie vertrou te word nie; daarom sal enige wantroue, verraad of ontrouheid ’n roosboom besonder ongeliefd laat voel. Roosbome het ’n troontjie nodig om geliefd te voel en wil voel dat die ander persoon hulle daarop gesit het. Maak die roosboom jou held.
Emosies en die roosboom
Omdat roosbome hulle emosies beleef as die verlies van beheer oor hulleself, probeer hulle gewoonlik hulle emosies onderdruk of minstens verbloem. Roosbome se grootste uitdaging rondom emosies is die beheer oor woede. Roosbome se woede is hulle swak punt. Hulle reaksies is vinnig en langdurig, wat beteken dat hulle vinnig kan kwaad word en dan lank kwaad bly. Roosbome is al beskryf as bomme waarvan die lonte reeds brand. Roosbome is nie bekend vir hoë emosionele intelligensie nie. Hulle het maar beperkte insig in hulle eie emosies en dié van ander mense. Hulle leer ook nie met die jare veel
by nie omdat hulle wye draaie om emosionele onderwerpe en situasies loop en voel dat emosies elke mens se eie saak is. Ongelukkig trap roosbome dus op mense se emosies omdat hulle nie daarop ingestel is om emosies te lees en te hanteer nie.
Kommunikasie en die roosboom
Roosbome is gewoonlik reguit, kragtige kommunikeerders. Hulle gebruik woorde vir resultate, nie vir geselsies nie. ’n Roosboom is nie iemand met wie ’n mens lekker kuier en ditjies en datjies bespreek voordat die taai sake aangevat word nie. Hulle is saaklik en kom selfs kortaf voor. Hulle mors nie tyd met formaliteite nie en kom gou by die punt. Hulle verwag dat ander ook so met hulle moet praat. Hulle kommunikeer nie baie empaties nie en kan onwetend baie taktloos en onsensitief oorkom. Hulle gee maklik aanstoot sonder om dit te besef. Hulle vra baie vrae wat hulle beantwoord wil hê, maar hou self nie daarvan om “ondervra” te word nie, want dit voel vir hulle na wantroue wanneer iemand iets bevraagteken. Wanneer roosbome verkeerd was, sal hulle dit baie moeilik erken. Roosbome geniet rusies en woordewisselings, mits hulle die laaste woord inkry. Hulle is ongelukkig ook nie wafferse luisteraars nie. Hulle is lief vir hulle eie stem en gee graag hulle opinie, maar luister nie graag na ander s’n nie. Soos die palmbome skakel hulle af wanneer die prater langdradig raak.
Kyk nou die video: “Hoe luister mens na ’n kind”.