Deel 1: Hoe die palmboom die lewe ervaar

Kliek hier om die storie af te laai oor Belinda – die klassieke palmboompie.

Om hierdie temperament te waardeer, moet jy dalk eiland-palmbome visualiseer. Afgeëts teen die sonsondergang laat hulle ons almal verlang na die volgende naweek of vakansie. Hulle is joviale, pretliewende bome – ver verwyder van die erns van die res van ons! Hulle basuin dit uit: “Leef vir die oomblik, geniet die son, die lewe is ’n fees!” Palmbome verander nie baie soos hulle groter word nie. Hulle onderste takke of blare verdroog maar net, en die stam word al langer, maar die wuiwende blaredak bly dieselfde. Mense met hierdie temperament behou ook hulle kinderlikheid, lewenslus en sprankel tot in hulle oudag. In ’n sekere sin word hulle ook maar net langer. Hulle is verrassend, vreemd, wonderlik, van ’n ander planeet. Hulle bring die kleur in wat dikwels ’n swart-en-wit situasie is. Hulle humor kan met tye ons asem wegslaan.

Die volwasse palmboom

Mense sê:

  • jy is die lewe van die partytjie
  • niks kry jou onder nie
  • jy is ’n adrenalien-junky
  • jy kan woestynsand aan ’n Arabier en ys aan ’n Eskimo verkoop
  • kan jy net een maal dink voor jy doen?
  • is jy ooit ernstig?
  • wat is jou nuutste scheme?

Liefde en die palmboom

Die meeste palmbome is baie sintuiglik en sensueel ingestel, en fisieke betoning van liefde is dus vir hulle baie belangrik. Hulle is kreatief en romanties, en het behoefte daaraan dat hulle lewensmaats ook die opwinding sal aanblaas! Hulle floreer op aanraking en vertroeteling. Omdat palmbome so op aandag en die kollig floreer, smag hulle ook na erkenning uit die mond van die mense vir wie hulle lief is.

Komplimente en bewondering tel vir hulle baie punte, selfs al word net uiterlike aspekte erken. Omdat mooi en nuwe besittings vir ’n palmboom belangrik is, is ’n geskenk ook ’n goeie manier om liefde te betoon aan die palmboom in jou lewe. Baie palmbome is besonder spandabel en vrygewig, wat beslis aandui dat hulle liefde en geskenke met mekaar assosieer.

Emosies en die palmboom

Palmbome beleef niks in klein skeppies nie. Daarom is die positiewe belewenisse amper eufories en die blou dae potblou. Palmbome hou nie emosies binne nie. Hulle emosies is baie sigbaar en hoorbaar, geen geheim nie. Hulle is passievol maar nie sentimenteel nie. Palmbome se emosies is meestal positief, en hulle gemoedstoestand is gewoonlik sonnig, maar die intensiteit van palmbome maak dat hulle dieptes baie diep en donker kan wees.  Melodramaties is beslis ’n woord wat gereeld met palmboom-dames geassosieer word. Palmbome se emosionele reaksies is blitsig, maar flietend. Dit maak hulle onvoorspelbaar. Negatiewe emosies by palmbome is van korte duur. Hulle bons terug met ’n glimlag, vergewe maklik, beweeg aan en vind hulle vreugde in ’n japtrap terug.

Palmbome sukkel egter met die hantering van emosies wat dieper strek as alledaagse woede, teleurstelling, opwinding en verliefdheid. Emosies soos dié wat gepaard gaan met uitgerekte trauma is nie ’n palmboom se koppie tee nie. Hierdie emosies weerlê palmbome se lewenskredo dat die

son môre weer sal skyn; daarom vind palmbome hulleself magteloos daarteen. Dis vir hulle ’n krisis dat hulle dit nie kan weglag, wegpraat of wegspeel nie. Palmbome hanteer dus dikwels hierdie dieper emosies baie sleg deur daarvan te probeer weghardloop. Hulle sal selfs weghardloop van die mense in hulle lewens wat hierdie emosies by hulle wakker maak. Hulle deins ook terug van ander mense se intense emosies. Wanneer hulle byvoorbeeld verlief is, en die ander persoon raak te gou ernstig, skrik dit hulle af.

Kommunikasie en die palmboom

Palmbome het altyd iets om te vertel, by te voeg en in te kleur. Hulle het ’n opwindende ervaring wat met elke onderwerp verband hou. Dit maak hulle wonderlik om na te luister, maar gevaarlik om jou geheime mee te deel. Palmbome se gladde tong maak dubbel en dwars op vir enige tekortkomin wat hulle mag hê. Amper alle motiveringsprekers is sterk palmbome. Daar kom egter nie net inspirasie uit hulle monde nie! Palmbome is berug vir humor wat die grense van ordentlikheid oorsteek.

’n Palmboom kan niks byleer uit How to win friends and influence people nie, want die ware palmboom word met hierdie gawes gebore. Hulle kyk jou vas in die oog met hulle innemende uitdrukking, en dit voel of niemand anders as jy in hulle wêreld bestaan nie. Hulle styl van warm, oop en effektiewe

kommunikasie maak dat hulle ’n kitskennis van almal word. Hulle stralende geaardheid maak dat almal wel húlle name onthou! Die passiewe deel van kommunikasie is egter ’n probleem. Palmbome luister nie graag na ander nie. Hulle maak selde goeie beraders, want hulle luister moeilik na mense se leed en klagtes omdat die negatiewe emosies daarvan hulle so afsit.

Kyk nou die video: “Hoe luister mens na ʼn kind”.