Deel 1: Hoe die denneboom die lewe ervaar

Kliek hier om die storie af te laai oor Herman – die klassieke denneboompie.

Navorsing in Oosterse lande het aan die lig gebring dat mense se spanningsvlak by die werk verlaag kan word deur denne-aroma deur die lugversorgingsisteem te versprei. Dit is een van die wonderlike eienskappe van ’n denneboom. Wie raak nie rustiger en haal dieper asem wanneer hulle deur ’n dennewoud stap nie? Die denneboomtemperament is van nature gelykmatig en het ’n kalmerende uitwerking op ons.  Denneboommense is sterk verankerd, hardkoppig op ’n stil manier en nie gretig om verplant te word nie.

Mense met ’n denneboomtemperament kan onder die radar vlieg, met die dekor saamsmelt en maklik misgekyk word. Hulle adverteer nie hulleself nie, vermy die kollig en is tevrede om op die agtergrond te bly. Mense met denneboomeienskappe is familievas, lojaal aan vriende en lief vir tradisies. Al is hulle nie so uitgaande soos palmbome nie, is hulle ewe graag tussen mense.

Die volwasse denneboom

Mense sê

  • jy is so stabiel soos die berge
  • jy dra nie jou hart op jou mou nie
  • ’n bomdreigement kan jou nie aan die gang kry nie
  • jy is liewer Bang Jan as Dooie Jan
  • wat jy sien, is wat jy kry
  • raak jy ooit opgewonde?

Liefde en die denneboom

Dennebome is by uitstek die mense wat baie waarde heg aan saamwees met hulle geliefdes. Dit hoef nie opwindend, duur of eksoties te wees nie – eenvoudige saamdoendinge kommunikeer liefde in hulle taal. Dennebome verbaliseer baie moeilik hulle behoeftes. Dit maak hulle moeilik om te leer ken. ’n Betekenisvolle liefdesverhouding met ’n denneboom verg baie tyd. ’n Mens moet langs hulle kan sit en sit en sit …  Dennebome is selde veeleisend, maar hulle het hulle gunstelinge. Dennebome is gewoonlik nie baie kreatief en opwindend in die slaapkamer nie, en verwag dit ook nie van hulle lewensmaats nie. Hulle borrel nie oor van romantiese woorde nie, maar wys eerder liefde deur lojaliteit en daar wees vir hulle lewensmaats. Die meeste dennebome lees mense soos ’n boek en is besonder goed daarmee om spesifieke behoeftes raak te sien. Hulle kan ’n mens op daardie manier baie “raak” liefhê presies soos jy liefgehê wil word. As jy egter opwindende romanse in gedagte het, mag ’n denneboom dalk nie heeltemal kan kers vashou nie …

 Emosies en die denneboom

Ons weet nou reeds dat ’n denneboom se reaksies stadig is. Hulle is nie impulsief nie. Wanneer hulle wel emosioneel raak, is dit van korte duur, want hulle rasionele heers oor hulle emosionele. Sodra hulle rede insien, beweeg hulle aan. Hulle aanvaar die dinge wat hulle nie kan verander nie. Hulle emosies mag intens voel, maar dit lyk of klink nie so van buite nie. Hulle is gewoonlik baie selfbeheersd. Min trane en min joligheid. Daar word egter spottenderwys oor hierdie egalige dennebome gesê: “Stille waters, diepe grond – onder draai die duiwel rond … ” Omdat dennebome moeilik oor hulleself en hulle gevoelens praat, kan dit lyk asof hulle nie gevoelens het nie. Dennebome moet moeite doen om te leer om hulle gevoelens te verwoord en te deel, sodat hulle dieper verhoudings kan smee met veral hulle lewensmaats en kinders.

Kommunikasie en die denneboom

Dennebome is waarskynlik die swakste openbare sprekers maar beste luisteraars uit die vier boomsoorte, met uitsondering van dié dennebome wat geseën is met ’n droë humorsin. Daar is nogal heelwat van hulle! Almal wat al ’n denneboom met ’n monotone stem as dosent of onderwyser gehad het, weet hoe lekker ’n mens in hulle klasse kan slaap. Tussen daardie goedige eentonigheid kom daar egter kort-kort skreeusnaakse kwinkslae uit om die wakkerblyers te beloon! Baie dennebome is egter in een-tot-een-gesprekke wonderlikegespreksmaats. Hulle het perspektief en die vermoë om net die regte woord op die regte tyd te sê. Hulle luister geduldig en kan dikwels goeie, objektiewe raad gee. Dennebome kommunikeer egter dikwels deur skimpe, kyke, gebare en ander tegnieke wanneer hulle nie lus is om te praat nie en ontevrede is.

Kyk nou die video: “Hoe luister mens na ’n kind”