Voor jy begin … Julle het gekies om vir altyd saam te wees

’n Goeie huwelik word nooit gebou op ’n feëverhaal wat met die swaai van ’n towerstaffie werklikheid word nie. Dit word gebou wanneer twee mense die volheid van hulle andersoortigheid uitleef. Wanneer hulle die konfrontasie en konflik wat dit skep, deurleef en ’n manier vind daarom saam te weef in ’n unieke eenheid waarin al twee hulleself mag wees.

Daarom is dit normaal om vies te raak vir jou maat se eiesoortigheid. Daar kan verwag word dat jy op die een of ander tyd sal sê: “’n Mens sal mans nooit kan verstaan nie!” Die feit dat jy jou maat se andersoortigheid so beleef, is nie die probleem nie. Die probleem ontstaan wanneer die proses waardeur julle andersoortigheid in ’n nuwe eenheid ingebou moet word, ontspoor.

Mettertyd begin dit vir jou lyk asof die probleem heel eenvoudig is: jou man! Jou hele hart skreeu dit uit: “Hy is die probleem! As hy my net in ag, wil neem! As hy net minder vreemd wil optree! As hy net kon verander!”

Geluk word bepaal deur hoe jy jou lewe sien

Dit is egter nie net ’n mens se omstandighede wat jou lewe bepaal nie. Jy is nie bloot ’n slagoffer van jou omstandighede nie. Die ingesteldheid waarmee jy jou situasie benader, bepaal ook hoe jy dit beleef en hoe jy daarop reageer.

Dis hoe dit in Paulus se geval was terwyl hy in die tronk was. Hy het nie teen die bedreigings vasgekyk nie. Hy het ook nie sy aandag toegespits op die dinge wat onmoontlik gelyk het nie. In plaas daarvan het hy gekyk na wat hy wel kon doen en hoe hy anders kon leef binne sy moeilike situasie.

Gevolglik het hy sy gevangenskap heeltemal anders beleef as die Christene van Filippi. Hy het nie weerloos of geblokkeer gevoel nie. Inteendeel, hy het in sy omstandighede gesien watter verskil hy kon maak – en dit gedoen.

 Dit hang af hoe jy na jou man kyk

Hoewel dit moeilik is om te erken, geld presies dieselfde vir jou. Hoe jy jou man se andersoortigheid beleef, word ook bepaal deur hoe jy na hom kyk. Die bril waardeur jy sy optrede waarneem, veroorsaak dikwels dat jy sy andersheid negatief beleef.

Dan is dit jou eie bydrae tot die situasie wat jou teleurstelling en pyn groter maak, sonder dat jy dit bewustelik doen of besef dit gebeur. Daarom is dit nie genoeg om meer inligting oor mans te kry of te probeer ontrafel hoe hulle harte en koppe werk nie. Dis nie genoeg dat jy net weet op watter maniere hulle anders is nie.

Wat nodig is, is dat daar in jou hart ruimte moet wees vir die uniekheid van jou man. As jou hart nie voorberei is om jou man te aanvaar soos hy werklik is nie, sal al die kennis oor manwees jou niks baat nie.

Jy moet weet hoe jou eie hart werk. As jy verstaan hoe jou eie behoeftes, verwagtings en ideale jou ervaring van jou maat se andersoortigheid kleur, sal dit jou vrymaak om gemakliker met hom saam te leef. Dit sal jou help om te sien watter dinge jy alleen, en watter dinge julle saam moet uitwerk.

Dis nie genoeg om net jouself te verstaan nie. Jy moet ook die inisiatief neem om jou lewensmaat beter te probeer verstaan. Dit het nie net met sy manwees te make nie, maar met sy totale menswees.

 Jy moet heel eerste die volgende dinge weet:

  • Hierdie is ’n kursus wat soms sterk emosies by jou gaan wakker maak. Tog kan dit nie anders nie. Dit gaan immers nie oor wie die skuldige en wie die verontregte een is nie. Dit gaan net oor die werklikheid dat jy self ’n groot rol speel in hoe jy situasies beleef.
  • Dis ’n proses waarin jy soms sal voel asof sekere dinge oor en oor aan jou opgedring word. Die werklikheid is egter dat dit uit verskillende hoeke en met betrekking tot verskillende sake gedoen word. Die groei wat dan binne-in jou gebeur, sal jou vry maak om voluit te lewe – ook in ’n verhouding met iemand wat heeltemal anders as jy is.
  • Sodra jy die eerste keer beleef dat jy nie meer so negatief op jou lewensmaat reageer of ’n slagoffer is van sy optrede nie, sal jy ontdek dat hierdie nuwe vryheid al klaar ’n groot verskil maak. Jy sal agterkom dat dit jou vry maak van die leuen dat alles net kan verander as jou buitewêreld, en spesifiek jou lewensmaat se gedrag, verander.

Terwyl jy hierdie kursus deurwerk, sal jy weer jou eie uniekheid as mens begin ontdek. Dit sal jou help om jouself te sien soos jy is en soos jy funksioneer – ook in julle huweliksverhouding. Maar dit sal jou ook help om jou lewensmaat te sien soos hy is en funksioneer.

Dit sal jou help om hom te sien as man met sy eiesoortige lewensbenadering as gevolg van sy manlikheid. En dit sal jou help om begrip te hê vir sy andersoortigheid, om maniere te vind om daaroor te gesels en om op ’n genesende manier vrede daarmee te maak. Nadat jy die kursus deurgewerk het, sal dit jou hopelik met nuwe (vonkelende!) oë na die man in jou lewe laat kyk.