“Dit lyk of die woord ‘slim’ in die oë van die twintigste-eeuse mens net verwys na die punte wat iemand op skool behaal het – en bitter min buite hierdie eng definisie. Wat ons egter wil benadruk, is dat ons ver verby die eng paradigmas van die verlede kyk,” sê die internasionaal bekende kreatiwiteitspesialiste Kobus Neethling en Raché Rutherford.
Dit is noodsaaklik dat ouers, onderwysers, opleiers, afrigters, bestuurders en elkeen wat betrokke is by die bemagtiging van ander, die spesiale vermoë ontwikkel om aan te voel waarheen dinge besig is om te ontwikkel en begrip te verkry vir wat werklik ‘slim’ of ‘dom’ is in die 21ste eeu.
Ja, die vaardighede wat die onderwys, sakewêreld, leierskap en net mooi elke ander faset van die lewe in die 20ste eeu gedomineer het, sal in bepaalde omstandighede nog steeds belangrik en selfs noodsaaklik bly.
Maar uiteindelik sal die slimmes dié wees wat hulle heelbrein kan gebruik om die moontlikhede en oplossings te skep wat hulle in staat sal stel om hulle droom te herwin en die sinvolle doel en passie weer terug te plaas in hulle lewe.