Dit is vir vroue belangrik om finansiële leiding en ondersteuning te kry om finansiële vertroue op te bou en slim geldbesluite in hulle alledaagse lewe te neem.
Hoewel geld nie geluk kan koop nie, kan dit ’n gevoel van sekuriteit bring as jy weet hoe om jou geld korrek te bestuur.
Hoe dink jy oor geld? En dan, watter emosie ontlont daardie gedagtes? ’n Mens moet gereeld dink oor hoe jy jou geld bestuur. Gaan jy net voort om dit soos in die verlede te doen? Óf beplan jy om dit beter te doen, met nuwe doelwitte in gedagte. Dit is baie interessant dat die meeste kykers van die TV-program Kuns met kontant vroue is.
En die gewildste onderhoude met die akteurs of aktrises, sportsterre en ander glanspersoonlikhede wat die meeste kykergetalle gelok het, is dié onderhoude wat met ’n vrou gedoen is. Die program skep ’n goeie platform vir Evas om hulle hart oop te maak, veral oor hulle drome oor en struikelblokke met hulle geldsake. ’n Vrou is gewoonlik onmiddellik eerlik as ’n mens oor finansies en geld gesels. Want ’n vrou het nie ’n ego wat in die pad staan, soos met ’n man nie.