Hoewel jou man se andersheid voor die troudag vir jou oulik mag wees, is dit dikwels dieselfde dinge wat jou na die troue teleurstel, irriteer, ontstel en selfs woedend maak.
As jy verstaan hoe jou eie behoeftes, verwagtings en ideale jou ervaring van jou maat se andersoortigheid kleur, sal dit jou vrymaak om gemakliker met hom saam te leef.
Daarom moet jy jouself sien soos jy is en soos jy funksioneer – ook in julle huweliksverhouding.
Maar jy moet ook jou man sien soos hy is en funksioneer. En dit sal jou help om begrip te hê vir sy andersoortigheid en om hopelik met nuwe (vonkelende!) oë na die man in jou lewe laat kyk.