Geheim no. 9: Leer om jou eie gedragspatrone te verstaan

Neem kennis dat hierdie geheim jou langer gaan neem om te ontdek – daar is langer beskrywings van spesifieke terme wat jy kan aflaai om later met aandag te lees asook ‘n volledige vraelys. Maak dus seker dat jy genoeg tyd het om deur hierdie geheim te werk.

Jy het ’n ingeboude funksioneringstyl – ’n konstante patroon van gedrag. Hierdie funksioneringstyl is deel van wie jy is. Dis permanent, dit maak dat jy dieselfde bly en dit bepaal hoe jy onder sekere omstandighede sal optree. Selfs al het jou opvoeding en lewenservaring ’n effek op jou, bly jou funksioneringstyl dieselfde.

Daarom sal jy geneig wees om konflik op ’n sekere manier te hanteer. Dalk is jou funksioneringstyl een waarin dit vir jou belangrik is dat jou verhoudings glad moet verloop. Dan sal jy swaarkry om dit te hanteer as jou maat nie dadelik die konflik wil uitpraat nie.

Jy sal eerder aandring dat julle dit gou moet uitsorteer. Jy sal ook makliker toegee en om verskoning vra vir jou gedrag – net om die verhouding weer gemaklik te maak. Dis wie jy is. Dis hoe jou funksioneringstyl werk.

Op dieselfde manier is jou maat ook volgens ’n unieke ontwerp gebou – ’n ontwerp wat beduidend van joune verskil. Jy sal meer van jou maat se funksioneringstyl leer in Geheim no. 11. Maar weet nou al dat jy dit nie kan verander nie, al wil jy ook hoe graag. Want dis wie hy is. Dis wie God hom gebou het om te wees.

Elke keer wat jy hom probeer verander, sal jy jou teen intense weerstand en aggressie vasloop. Daarom is dit beter om te begin soek na die unieke ontwerp wat God in hom ingebou het en dit in ag te neem in die manier waarop jy saam met hom leef. Sodat julle ’n verhouding kan bou waarin al twee van julle vry is om volledig te wees wie God julle gebou het om te wees.

Jy moet jou eie styl identifiseer en leer verstaan

Wanneer ’n mens jou funksioneringstyl probeer bepaal, moet jy veral na twee dinge kyk:

  1. Die manier waarop jy aan die lewe deelneem

Aan die een kant is daar mense wat dinge in die lewe laat gebeur. Hulle is die inisieerders. Aan die ander kant is daar mense wat meer ingestel is op die manier waarop dinge gebeur. Hulle is die bestuurders.

  1. Die prioriteite wat bepaal hoe jy aan die lewe deelneem

Net soos jy ’n innerlike ingesteldheid het om dinge te inisieer óf om dit te bestuur, het jy ’n innerlike kompas wat wys waar jy aan die lewe moet deelneem.  Hierdie innerlike kompas laat jou byna outomaties fokus: óf op take óf op mense (en verhoudings).

Daarom bepaal hierdie kompas wat in jou binnewêreld die voorkeur sal geniet: take of mense. En op grond van hierdie innerlike voorkeur sal jy in jou praktiese funksioneringstyl meer geneig wees om jou tyd en aandag te spandeer: óf aan take óf aan mense.

Kliek hier vir ekstra inligting oor ’n diepgaande beskrywing van die kenmerke van innerlike voorkeure.

In die vraelys wat jy kan aflaai en voltooi, is daar eerstens  ‘n aantal stellings wat in pare gerangskik is (a en b). Hierdie stellings kan jou help om beter te bepaal of jy ’n inisieerder of ’n bestuurder is.

Onthou dat dit nie gaan oor absolute gedrag nie. Dit gaan oor neigings.Dit gaan daaroor dat jy geneig is om meer dikwels op ’n sekere manier op te tree as op ander maniere. Wat nie beteken dat jy dit altyd so doen nie. Jy is byvoorbeeld geneig om vinnig besluite te neem, maar jy doen dit nie altyd nie.

Jy is nie ’n slaaf van hierdie eienskap nie. Tog is dit ’n eienskap wat in die algemeen waar is van jou.

Tweedens volg weer ’n aantal stellings wat ook in pare gerangskik is (c en d). Hierdie stellings kan jou help om beter te bepaal of jou innerlike kompas meer op take of mense ingestel is.

Onthou dat dit nie gaan oor absolute gedrag nie, maar oor neigings. Dit gaan daaroor dat jy geneig is om meer dikwels op ’n sekere manier op te tree as op ander maniere. Dit beteken nie dat jy dit altyd so doen nie. Jy is byvoorbeeld geneig om jou emosies vir jouself te hou, maar jy doen dit nie altyd nie.

Jy is nie ’n slaaf van hierdie eienskap nie. Tog is dit ’n eienskap wat in die algemeen waar is van jou.

Wanneer jy die vraelys afgelaai het en uitgedruk het, merk by elke paar die stelling wat jy voel die beste beskryf hoe jy is. Volg dan die verdere instruksies op die vraelys.

Kliek hier om die funksioneringstylvraelys af te laai.