Geheim no. 8: Aanvaar dit dat mans en vroue regtig verskil

In plaas daarvan dat mans en vroue mekaar se unieke funksionering probeer verstaan het, het daar ’n kompetisie tussen hulle ontstaan. Wie van die man of vrou is die sterkste, die slimste, kan die meeste pyn verduur of is emosioneel die stabielste?

Mans en vroue weet nou hulle verskil baie van mekaar

Tans word al meer erken dat mans en vroue op baie terreine beduidend van mekaar verskil. Hulle is anders wat hulle benadering tot die lewe, hulle tipiese funksionering, hulle manier van kommunikasie, die faktore wat hulle motiveer en die manier waarop hulle hulle emosies bestuur, betref. Hulle is verskillend bedraad.

Om jou man te verstaan, moet jy hierdie verskille ken

Jy moet weet hoe julle van mekaar verskil sonder om hom daaroor te veroordeel of hom te probeer verander. Jy moet hierdie verskille leer raaksien met ’n hart wat ruimte het om dit te aanvaar; ’n hart wat reg voorberei is daarvoor.

As jy nie geleer het om met nuwe oë na jou man te kyk nie, sal jy hierdie verskille telkens beleef as blokkasies in julle verhouding. Wanneer jy egter ’n openheid ontwikkel het om vir jou man die ruimte te gee om homself te wees, sal hierdie verskille jou help om hom beter te verstaan.

Die doel van hierdie geheim is om jou bewus te maak van twee tipiese verskille tussen mans en vroue. Daar sal natuurlik altyd uitsonderings wees. Tog sal jy hierdie eienskappe in ’n mindere of meerdere mate in jou maat herken. As jy dit verstaan as deel van jou man se menswees, sal dit vir jou makliker wees om saam met hom te leef ten spyte van sy andersheid.

’n Vrou is besorg oor die mense om haar

’n Mens se gedrag word in ’n groot mate deur sy waardes bepaal.

’n Vrou is in haar wese eksosentries. Dit beteken sy is op ander mense ingestel. Daarom is persoonlike, oop verhoudings, liefde, kommunikasie en intimiteit vir haar baie belangrik. Sy vind as’t ware haar identiteit in die kwaliteit van haar naby verhoudings. En sy beleef haar vroulikheid op ’n spesiale manier wanneer sy moeite doen om iemand anders te ondersteun, te help en op te bou.

Nes ’n vrou leef ’n man ook eksosentries – hy is ook na buite gerig. Die verskil is net dat hy nie op mense gerig is nie, maar op die wêreld waarin hy leef. Dis vir ’n man belangrik om doelgerig en met selfvertroue besig te wees om ’n verskil te maak in sy wêreld. Hy maak egter hierdie verskil deur die dinge wat hy doen.

’n Man se identiteit word in ’n groot mate bepaal deur sy werkverrigting. Hy beleef dat hy homself verwesenlik wanneer hy sukses behaal en presteer. Die feit dat ’n man sy identiteit in werkverrigting vind, impliseer dat dit nie vir hom bloot oor werk gaan nie. Daar is baie maniere waarop ’n man se ingesteldheid op werkverrigting ’n rol in sy huweliksverhouding speel.

Kliek hier vir ekstra inligting oor hoe ʼn man se ingesteldheid op werkverrigting ʼn rol in sy huweliksverhouding speel.

Wys dat jy jou man verstaan

Om hierdie aspek van jou man se optrede in julle verhouding te verreken, is daar ’n paar dinge wat jy kan doen. Onthou dat dit sy manier is om die druk in sy lewe te hanteer. Dit wys nie dat hy glad nie in jou belangstel nie. Wanneer jy hierdie feit onthou, sal dit makliker wees om nie van hom te verwag dat hy met jou oor sy probleme moet praat nie. Jy sal hom rustig die kans kan gee om sy probleme uit te werk sonder om te voel dat hy jou die geleentheid ontsê om hom te help.

Moenie hom beskuldig van onbetrokkenheid by jou of by die gesin nie. Elke keer wat jy sê: “Jy luister nie na my nie! Dit voel of jy nie eens hier is nie. Jy gee nie vir my om nie.”, sal hy beleef dat jy hom nie werklik verstaan nie en dat jy onnodige eise aan hom stel. In plaas daarvan dat jy hom uit sy skuilplek lok, sal jy hom met hierdie beskuldigings al dieper in sy skuilplek jaag.

Wanneer hy in ’n onttrekkingsfase is, moet jy wag totdat hy weer vir jou wys dat hy beskikbaar is vir die verhouding voordat jy hom bombardeer met jou probleme, emosies en krisisse. As jou tydsberekening reg is, sal jy ontdek dat hy nie werklik onwillig is om na jou te luister nie. As jy egter jou eie angstigheid om te gesels toelaat om jou besluite te oorheers, sal jy jou vasloop in ’n bot man wat hom net al verder aan jou sal onttrek.

Herinner hom daaraan dat jy hom nie blameer nie en dat jy nie ’n oplossing soek nie. Verseker hom dat hy maar kan ontspan. Sê dat jy sommer net met hom wil gesels en dat jy net ’n oor soek om te luister.

Wanneer jy op hierdie maniere wys dat jy sy uniekheid as man verstaan, sal jy nie-verbaal kommunikeer dat jy hom aanvaar soos hy is. En hierdie boodskap sal hom juis laat ontspan en oper maak om ook na jou te luister. Dis hierdie boodskap wat hom sal laat beleef dat hy by die huis ’n plek het waar hy homself kan wees, sy probleme kan uitsorteer en sy vrou se teenwoordigheid kan geniet.