Geheim no. 6: As twee mense trou, verander alles!

’n Mens stap met ’n geïdealiseerde prentjie van jou maat in ’n huwelik in. Jou prentjies van ’n wonderlike man en ’n wonderlike huwelik word gewoonlik aan skerwe gebreek wanneer jy skielik die werklikhede van ’n langtermynverhouding beleef.

In hierdie proses ontdek jy mettertyd die ander kant van jou maat. Elke nuwe krisis en konflik lê sy tekortkominge, swakhede en hulpeloosheid bloot. Dan word jy gekonfronteer met die fisieke, verstandelike, emosionele en ander eienskappe van jou maat wat jy bewustelik of onbewustelik as vreemd en onaanvaarbaar beleef.

Hierdie werklikhede dwing jou om na jou maat te kyk soos hy is. En dít bring jou tot die ontdekking dat julle nie so eenders is as wat jy graag wou glo nie. Julle dink nie eenders nie. Julle beleef situasies nie eenders nie. Julle ideale vir julle verhouding is nie dieselfde nie.

Julle is nou die hele tyd saam

Voor die troudag leef julle nie elke dag saam nie. Julle het net stukkies kosbare tyd saam met mekaar. Die oomblik dat julle trou, verander die hele situasie dramaties. Dan het julle skielik baie meer ure saam met mekaar. In hierdie ekstra ure wat julle saam deurbring, raak jou maat se andersoortigheid meer opvallend.

Op ’n onbewuste vlak konfronteer jou maat se andersoortige idees, gevoelens en optrede jou idees, gevoelens en optrede bloot omdat dit van mekaar verskil. In hierdie sin word jou maat se andersheid dan iets wat jou bedreig.

Albei partye in ’n huwelik moet aanpassings maak

Wanneer kundiges oor die eerste twee jaar van ’n huwelik skryf, sê hulle dat alle paartjies gewoonlik ontnugter word. Dit gebeur hoofsaaklik omdat verliefdheid ’n mens mislei om skeefgetrekte, geïdealiseerde prentjies van jou toekomstige lewensmaat te skep.

Die werklikheid is egter dat julle siening van mekaar die een of ander tyd moet normaliseer en dat dit noodwendig insluit dat julle dinge in mekaar gaan ontdek wat julle teleurstel of bedreig. Hoe hierdie proses gaan afloop, word in ’n groot mate bepaal deur die manier waarop julle dit benader. As julle dit beskou as ’n normale proses waarin julle nugterder met mekaar moet leer omgaan, is die kans goed dat julle dit sal kan deurwerk.

Julle kan dit egter sien as ’n proses waarin julle voortdurend verontreg word en waarin daar voortdurend van julle geëis word om iets van julleself prys te gee. Dan sal julle ingetrek word in ’n negatiewe spiraal waarin ontnugtering julle laat verskuif van bewondering na weersin en woede.

Jou houding verander van positief na negatief

Die eerste ding wat gebeur, is dat jy ’n hartsverandering ondergaan. Terwyl jy voorheen ingenome was met sy unieke manier van dink, voel en doen, begin jy dit nou as ’n probleem sien. Sodra jy jou maat se uniekheid as vreemdheid begin beleef, is dit asof jy jou gedagtes op sy andersheid fokus, met twee duidelike gevolge. Jy begin weereens om in jou gedagtes ’n karikatuur van hom te skep. Hierdie keer is dit egter sy sogenaamde negatiewe eienskappe wat so groot word dat jy niks anders in hom kan raaksien nie. Daarom kan jy hom uiteindelik net in die lig van hierdie andersoortigheid sien.

Verder begin jy sy vreemdheid op al meer plekke raaksien. Dis byna asof jy deur ’n bril kyk wat die ander dele van sy menswees uitfiltreer. Jy begin net meer en meer sien hoe omvattend sy andersoortigheid werklik is en hoe dit van jou eis om by hom aan te pas of dele van jouself prys te gee.

Die probleem ontstaan dus nie omdat julle verskil nie; daar sal immers altyd verskille tussen ’n man en ’n vrou wees. Die probleem ontstaan uit die manier waarop jy hierdie andersheid sien as die oorsaak van die teleurstelling en ontnugtering wat jy in jou huwelik beleef.

En hoe meer jy dít as die belangrikste oorsaak van hierdie probleme sien, hoe meer sál dit vir jou ’n probleem wees. Wanneer jou maat se andersoortigheid vir jou die oorsaak van julle probleme word, raak dit vir jou belangrik om hom te help om dit ook raak te sien.

Dikwels is jy so ernstig daaroor dat jy dit duidelik en hardop, selfs beskuldigend, aan hom oordra. In jou ywer om hom te oortuig dat hy die probleem is, veroordeel jy hom en eis jy dat hy moet verander. In die proses dryf jy hom egter net verder van jou af weg.

Jy begin glo dat julle moet skei

Die negatiewe spiraal van ontnugtering het noodwendig ’n effek op jou binnewêreld. Aanvanklik is daar net die teleurstelling in jou maat en die gevoel van verlies omdat jou drome nie bewaarheid word nie. Later begin die teleurstelling plek maak vir ’n gevoel van verontregting. Uiteindelik word hierdie gevoelens in jou hart vasgelê in ’n diepgesetelde weersin in die man met wie jy getroud is.

Hoe dieper jy in die spiraal van ontnugtering ingetrek is, hoe moeiliker sal dit wees om jou maat te sien soos hy werklik is. En hoe moeiliker sal dit wees om te glo dat jy hom kan leer verstaan en op ’n nuwe manier kan leer waardeer. Tog kan dit alles verander, mits jy kan leer hoe om die storms in jou eie hart te beheer.