Geheim no. 5: Jou opinie oor jou maat word deur verskeie dinge gevorm

Die mens word gebore met die potensiaal om ’n sinvolle en vervullende lewe te leef. Die inset uit jou omgewing skep ’n verwysingsraamwerk wat jou help om jou leefwêreld te verstaan, om te weet wat om daarvan te verwag en om te kan besluit hoe om daarop te reageer.

Vir ’n vrou beteken dit dat sy van kleins af soek na ’n antwoord op die vraag: “Hoe moet ek ’n man verstaan? Wat is ’n man en hoe klop sy hart?” Na gelang van die ervarings wat sy in haar lewe met mans gehad het, sal sy verskillende brokkies inligting versamel en inbou in haar persoonlike prentjie van hoe mans is en werk. Hierdie oortuigings sal dan bepaal wat sy van mans verwag en hoe sy op hulle reageer.

Jou eie pa speel ’n belangrike rol in hierdie innerlike, onbewuste oortuigings oor mans. Die belewenis wat jy van hom gehad het bepaal in ’n groot mate jou idees oor hoe mans is en wat jy van hulle kan verwag.

Ander mense se opmerkings oor mans dra ook by tot hoe jou prentjies oor mans lyk. Hierdie insette kon mettertyd by jou die onbewuste oortuiging help bou het dat mans oor die algemeen egosentries is.

Wanneer ’n mens luister hoe ander vroue oor hulle mans gesels, help hulle negatiewe of positiewe kommentaar om jou prentjie van manwees te vorm. As jy dikwels gehoor het hoe vriendinne neerhalend van hulle mans praat, sal dit jou prentjie negatief beïnvloed.

’n Verskeidenheid ander ervarings vorm verder jou prentjie. Jy sou heel moontlik in boeke gelees het dat mans dikwels ongemaklik is wanneer hulle met emosies gekonfronteer word. Dit kon jou laat glo dat mans nie in staat is om vroue, wat emosionele wesens is, te verstaan nie.

Die eerste man op wie jy verlief was, het jou dalk seergemaak sonder dat dit gelyk het asof hy ook seerkry. Hieruit kon jy die afleiding gemaak het dat mans dit geniet om met vroue te speel en hulle seer te maak.

Wanneer die brein al hierdie stukke inligting bymekaar pas, bou dit in jou onderbewussyn ’n geheelprent van mans en manwees. Dit skep mettertyd by jou ’n bepaalde oortuiging van hoe mans is, ’n oortuiging wat uniek aan jou is en wat by niemand anders presies soos by jou bestaan nie.

Elke ondervinding wek ’n emosie by jou op

Elke stukkie inligting wat jy by jou legkaart voeg, het ’n bepaalde emosionele waarde. As die meeste stukke van jou legkaart oor man-wees ’n negatiewe gevoel dra, sal dit beteken dat jou hart negatief ingestel is teenoor mans. Hierdie prentjie wat jy van mans in die algemeen het en wat emosioneel baie negatief gelaai kan wees, beïnvloed noodwendig jou belewenis van en optrede teenoor jou eie lewensmaat.

Die proses verloop soos volg:

  • Omdat ’n mens in jou hart oortuig is dat die lewe volgens reëlmatighede werk, verwag jy dat dinge elke keer op dieselfde manier sal gebeur. Hierdie patrone bepaal dan hoe jy gaan verwag dat dinge sal verloop. Daarom help dit jou om jou voor te berei op wat gaan gebeur en hoe jy daarop gaan reageer.
  • Deel van die patrone in jou gedagtes het te make met man-wees en manlike gedrag. Jy skep ’n maatstaf waarmee jy jou lewensmaat se gedrag meet en waarmee jy bepaal of hy op standaard is en of hy tekort skiet. Jy meet in werklikheid sy gedrag aan jou eie prentjies van manwees.
  • Die teleurstelling wat jy dan beleef, word nie net deur jou lewensmaat veroorsaak nie – jy speel self ’n rol daarin. Dit is tog jou persoonlike prentjie wat veroorsaak dat jy hom nie kan sien soos hy werklik is nie, maar soos jy in jou hart glo hy moet wees.
  • Jy verwag dat jou lewensmaat op ’n bepaalde manier moet optree, dit wil sê, in ooreenstemming met die prentjie wat jy van mans oor die algemeen het. As jou innerlike, onbewuste prentjie van mans negatief is, sal jy verwag dat hierdie negatiewe eienskappe na vore moet kom.
  • Op dieselfde manier kan ’n baie positiewe prentjie van mans jou huweliksverhouding negatief beïnvloed. Wanneer hierdie inhoude deel is van jou prentjie van ’n tipiese man, sal jy noodwendig verwag dat jou lewensmaat net so teenoor jou moet optree. As hy dit nie doen nie, is die teleurstelling so groot dat dit vir jou voel asof jy hom nooit sal kan verstaan nie.
  • Die verwagtings wat jou innerlike oortuigings in jou skep, geld egter nie net vir spesifieke optredes van jou lewensmaat nie. Dit geld ook ten opsigte van jou ingesteldheid teenoor die verhouding as ’n geheel. Kom ons veronderstel dat jou prentjie van mans oor die algemeen negatief is. Gevolglik berei jy jou voor op ’n negatiewe ervaring. Jy gee jou man dan nie eers die kans om jou op sy unieke manier met sy liefde te verras nie.

Voordat jy nie vry word van jou eie prentjies van manwees nie, sal jy nooit jou lewensmaat kan ken en aanvaar soos hy werklik is nie. Die prentjies wat jy in jou hart oor mans dra en die uitwerking daarvan op die manier waarop jy jou man beleef, lê in jou eie binnewêreld opgesluit. Net jy kan kies om te keer dat dit jou onnodig negatief na jou man laat kyk.