Geheim no. 4: Jy moet weet die liefde is nie blind nie

Daar is twee maniere waarop ’n mens se drome en ideale jou huwelik beïnvloed. Aan die een kant laat dit jou soek na ware geluk en aan die ander kant is jy geneig om jou drome oor huweliksgeluk om jou lewensmaat te bou.

Jy visualiseer hoe perfek jou maat gaan wees

Al die navorsing oor verhoudings wys dat ’n mens jou minnaar idealiseer. In plaas daarvan dat jy hom sien soos hy regtig is, sien jy net sy goeie punte raak. Tegelykertyd sluit jy jou oë vir die dinge wat jou pla. Op hierdie manier skep jy vir jouself ’n onrealistiese prentjie van jou man. In jou gedagtes voldoen hy aan al jou behoeftes – maar dit rym nie met die werklikheid van sy menswees nie.

Jou drome verander in verwagtings en eise

Hierdie ideale oor wat hy vir jou moet doen, bestaan aanvanklik net as vae wense in jou kop. Daarom praat jy selde daaroor. Sodra julle egter afspreek om te trou, is dit asof jy skielik aanvaar dat jou toekomstige lewensmaat die verantwoordelikheid het om al hierdie dinge wel te doen.

In plaas daarvan dat dit iets is wat jy graag sou wou hê moet gebeur, word dit iets wat behoort te gebeur. Dit word selfs op ’n onbewuste vlak iets wat jy van hom eis. Jou eie idees en ideale word dus die onbewuste en onuitgesproke eise vir die manier waarop jou lewensmaat sy liefde aan jou moet bewys. Dit word die maatstaf waaraan jy jou maat se optrede meet en waardeur jy bepaal of hy dit reg of verkeerd doen.

In plaas daarvan dat jy hom sien en probeer verstaan soos hy werklik is, weeg jy hom voortdurend in die lig van jou persoonlike verwagtings. Die gevolg is dat jy hom nie die ruimte gun om homself te wees of op sy eie, unieke manier sy liefde vir jou te wys nie. Daarom sien jy dikwels nie raak wat hy wel vir jou doen en hoe hy wel vir jou sorg nie.

Jy hou hom verantwoordelik vir jou eie geluk

Omdat jy spesifieke verwagtings aan jou lewensmaat stel, hou jy hom uiteindelik verantwoordelik daarvoor om jou gelukkig te maak. Sonder dat jy dit besef, begin jy glo dat jy net gelukkig kan wees as jou man op hierdie spesifieke maniere vir jou sorg. Die gevolg is dat jy altyd na hom kyk om geluk in jou lewe te bring terwyl jy self passief bly. As hy dan nie volgens jou riglyne optree nie, is jy teleurgesteld, neem hom kwalik daarvoor en jy laat toe dat weersin in jou groei. Sodoende vernietig jy self jou kans om hom beter te verstaan en ’n gelukkige huwelik te hê.

 

Jy stel dalk te veel eise aan jou maat

Jy sal byvoorbeeld verwag dat hy jou behoeftes moet ken sonder dat jy hom help om hierdie behoeftes te verstaan. As hy dit nie regkry nie, neem jy hom kwalik en bevestig dit vir jou hoe swak en onverstaanbaar hy werklik is.Jy eis basies altyd van hom om sy skuld teenoor jou, naamlik om jou gelukkig te maak, te vereffen – iets wat hy nie kan doen nie omdat hy nie oor die bronne beskik nie. Of omdat jou verwagtings glad nie rym met sy menswees nie. Of omdat jy hom nog nooit op ’n nie-bedreigende manier daarvan vertel het nie. Dit plaas hom in ’n situasie waar hy jou noodwendig sal moet teleurstel.

Jy begin hom sien as die probleem in die verhouding

Die gevolg is dat jy makliker vir hom kwaad word, selfs oor onbenullige dingetjies wat tevore nooit gepla het nie. Jy begin al meer in jou gedagtes en woorde uitsluitlik op sy negatiewe eienskappe fokus. Uiteindelik is dit vir jou onmoontlik om jou man te sien soos hy werklik is. Later begin jy jou ongelukkigheid met skimpe, eise, verwyte en woede op hom uithaal, en jy probeer hom op allerhande maniere verander om te word soos jy wil hê hy moet wees.

Jy raak blind vir jou man se liefde

Die verwagtings en vereistes wat jy in jou onderbewuste geskep het, is jou voorwaardes vir huweliksgeluk. Maar jou maat weet nie wat hierdie voorwaardes is nie en daarom maak jy dit vir hom onmoontlik om jou gelukkig te maak. Jy laat hom nie toe om jou op sy eie, unieke maniere met sy liefde te verras nie. En jy ontwikkel ’n blindheid vir die maniere waarop hy wel sy liefde vir jou wys.

Hoe meer gedetailleerd jou verwagtings is, hoe groter is die kans dat jy jou maat moedeloos sal maak. Hoofsaaklik omdat hy sal voel dat hy nooit goed genoeg sal kan wees om aan jou eise te voldoen nie. Jy soek geluk buite jouself en kan daarom nooit in jouself ’n gelukkige mens wees nie.

Uiteindelik is dit jou eie verwagtings wat die emosies van teleurstelling, verontregting en weersin in jou wek. Solank jy bly glo dat jou maat alleen die oorsaak daarvan is, sal dit vir jou onmoontlik wees om hom beter te leer verstaan. Of om gelukkig saam met hom te wees.