Geheim no. 3: Herskryf die drome vir julle toekoms

Daar is ’n rusteloosheid in ons wat ons voortdurend na nuwe ontdekkings, dieper ervarings, groter prestasies en hoër vlakke van ekstase laat soek. Dis asof ons diep binne-in ons glo dat die lewe meer inhou as wat ons tans beleef. Ons skep in ons gedagtes drome en ideale vir die toekoms. En hierdie drome beïnvloed die manier waarop ons nou leef. Ongelukkig is dit dikwels hierdie strewe wat probleme skep.

Sê vir mekaar hoe julle oor die verhouding voel

Elke mens wat trou, trou met die ideaal van ’n uitbundig gelukkige huwelik, sonder dat hy of sy vir hulleself uitwerk wat presies moet gebeur om hulle so gelukkig te maak. Gevolglik is ’n mens in jou huwelik dikwels op soek na vae, ongedefinieerde drome van geluk.

Hoewel ons vir mekaar kan sê dat dit ons droom is om ’n gelukkige huwelik te hê, kan ons nie vir mekaar uitspel wat die dinge is wat ons verwag moet gebeur om ons gelukkig te maak nie. Hierdie werklikheid kan minstens die volgende twee gevolge hê: Aan die een kant skep dit soms ’n knaende vermoede dat jou huwelik nie gelukkig is nie. Jy kan egter nie sê waar die probleem lê nie. Dis net asof jy gedurig dink dat daar iets anders en beters is. Wat jy soek, bly jou egter ontwyk. Hoe langer hierdie gevoel duur en hoe meer jy daarop konsentreer, hoe meer word dit ’n duidelike gevoel van ontevredenheid met jou huwelik.

Aan die ander kant kan dit gebeur dat jy baie graag ’n gelukkige huwelik wil hê en dat jy graag daaraan wil werk om dit ’n werklikheid te maak. Daarom verwag jy dat jou maat dieselfde moet doen. As dit vir jou lyk asof hy nie soos jy daaroor voel nie, begin jy vraagtekens oor hom plaas en vermoed dat hy nie ook ’n gelukkige huwelik wil hê nie. Om hierdie soort teleurstelling te voorkom, is dit belangrik om jou drome en ideale bewustelik uit te spel en te herskryf in realistiese prentjies van huweliksgeluk.

Jou idee van ’n gelukkige huwelik is anders as syne

Wanneer ek na vroue se drome oor geluk luister, hoor ek dikwels dat hulle graag lang ure in romantiese situasies saam met hulle lewensmaats wil wees en hulleself in hulle lewensmaat wil verloor. Dis ’n prentjie van twee mense wat so intiem bymekaar is dat hulle hulle diepste hartsgeheime met mekaar deel. Dis ook ’n prentjie waarin hulle so gefokus is op mekaar dat vriende, werk of aktiwiteite nie die veilige eiland van hulle nabyheid kan binnedring nie.

As hierdie prentjie van huweliksgeluk in ’n vrou se hart leef, wil sy graag geleenthede skep waar sy en haar man op hierdie manier bymekaar kan wees. Hoewel sy nie omgee dat hulle soms saam met vriende uiteet nie, wil sy graag hê dat hulle twee ook alleen moet uitgaan.

As haar man dan gedurig vriende of familie saamnooi, bots dit met haar idee van huweliksgeluk en skep dit dikwels onvergenoegdheid in haar hart.

Die probleem ontstaan dikwels omdat sy nog nie haar prentjie van huweliksgeluk vir haarself gedefinieer het nie. Dis net ’n behoefte wat sy het – een wat sy nie duidelik genoeg vir haar man vertel nie.

Wanneer dit een of twee keer gebeur dat ’n man op hierdie manier sy vrou se onuitgesproke drome verydel, is dit nie so ’n groot probleem nie. Hoe meer gereeld dit gebeur, hoe sterker sal haar vermoede word dat die huwelik nie vir hom belangrik genoeg is nie.

Terselfdertyd sal die weersin, die behoefte vir vergelding en die woede in haar begin groei. Sy sal ook oortuig wees dat sy die reg het om so te voel, veral omdat sy glo dat hy alleen verantwoordelik is vir haar gevoelens. Dit terwyl sy blind bly vir die manier waarop haar eie ideale haar interpretasie van die situasie bepaal.

Jou drome maak dit moeilik om hom te verstaan

Hoewel dit in sulke situasies mag lyk asof die man se optrede die probleem skep, is dit nie die volle waarheid nie. Sy bydrae is dalk net meer opsigtelik as hare. Daarom sal dit vir haar maklik wees om te dink dat hy nie (soos sy) aan hulle huweliksverhouding wil bou nie, dat hy nie so toegewyd aan hulle verhouding is soos sy nie en dat die probleem by hom lê. Die man se bydrae mag meer opsigtelik wees, maar die vrou se prentjie van huweliksgeluk is deel van die probleem. Haar droom oor huweliksgeluk is medeskepper van haar eie onvergenoegdheid.

Dis in hierdie sin dat die pad van aanvaarding in jou eie hart begin. Dit begin by die eerlikheid om jou eie drome, sowel as die teleurstelling wat jou drome in jou skep, op die tafel te plaas. Sodat jy die rol wat jou eie hart in jou ervaring van jou maat speel, kan raaksien en reg kan bestuur. Deur eerlik te wees hieroor, raak jy vry om hom te ontdek soos hy werklik is en hom nie langer te bly sien bloot in terme van die maniere waarop hy jou drome verydel nie.