Geheim no. 12: Maak vrede met sy vreemdheid

Dis makliker om ’n verhouding te hê met iemand wat dieselfde as jy is. Omdat julle eenders is, bedreig hy jou nie werklik nie. As hy egter anders as jy is, vra dit baie meer moeite en konsentrasie om met hom oor die weg te kom. Sy andersheid laat jou dikwels onseker of ongemaklik voel.

As hy jou lewensmaat is, word alles net soveel erger. Omdat hy fisies en psigies naby aan jou lewe, het sy andersoortigheid die potensiaal om jou dikwels om te krap. Soms omdat hy dinge op ’n manier doen wat vir jou vreemd of selfs verkeerd is. Ander kere doen hy dit deur dinge te versuim wat vir jou noodsaaklik voel.

Elke keer wat dit gebeur, kyk jy na hom deur die bril van jou eie verwysingsraamwerk. Vanuit jou eie prentjies van hoe die lewe werk. Vanuit jou eie drome oor die toekoms, vanuit jou eie agtergrond, vanuit jou eie verwagtings oor hoe hy as man moet wees en nie moet wees nie. En ook vanuit al die opgekropte ontevredenheid en aggressie wat reeds in jou hart lê. Dan word dit soms onmoontlik om hom te verstaan.

Trouens, dis dan dat allerhande negatiewe emosies in jou opstaan – emosies wat moeilik is om te verstaan en te verwerk:

  • teleurstelling omdat hy nie aan jou vereistes vir ’n goeie lewensmaat voldoen nie;
  • weersin omdat hy dinge doen waarvan jy nie hou nie;
  • woede omdat hy jou te na kom;
  • hartseer omdat hy julle kanse op geluk met sy andersoortigheid vernietig;
  • opstandigheid omdat hy egosentries optree;
  • en soms selfs die gevoel dat jy bedrieg is omdat dit voel asof hy voorgegee het om iemand te wees wat hy nie werklik is nie.

As vroue hierdie emosies beleef, probeer hulle meestal om iets aan die saak te doen. Ongelukkig probeer hulle die huwelik regkry deur hulle mans te probeer regkry. Hulle probeer om hom te verander. Hulle skimp. Hulle raas. Hulle stel ultimatums. Hulle blameer, manipuleer en argumenteer. Maar alles sonder sukses. Want hulle begin hulle program van verandering op die verkeerde plek.

Jy moet die lewe sien soos hy dit sien

Solank ’n vrou vanuit haar eie verwysingsraamwerk na haar man kyk, sal dit altyd vir haar moeilik wees om hom te verstaan. Dit sal elke keer voel asof sy in ’n doodloopstraat beland en dat hulle al meer van mekaar vervreem.

Jy moet eers leer om met empatie na hom te kyk. Empatie is ’n woord wat sê dat ek uit my eie skoene moet klim, in my maat se skoene moet inklim en dan sy patos (emosies/belewing van die lewe) saam met hom moet beleef. Ek moet die lewe begin aanvoel en sien soos hy dit doen.

Dis eers wanneer ’n mens dít regkry dat jy werklik kan ontdek wie jou maat is. Nie wie jy wou hê hy moes wees nie. En eers dan sal jy hom kan sien en aanvaar soos hy werklik is – sonder dat hy al die negatiewe emosies in jou wakker maak.

Die vraag is net: hoe kry ’n mens dit reg? Hoe leer jy om jou maat te verstaan en te aanvaar soos hy werklik is?

Jy kan net aanvaar as jy jou eise prysgee

Party mense meen dat aanvaarding skielik op ’n dag in jou hart gebeur. Dis soos ’n toweroomblik waarin jou oë oopgaan vir die werklikheid van jou maat se menswees. Ander meen dat dit ’n wilsbesluit is wat jy moet neem – dikwels uit gehoorsaamheid aan die Here. Die oomblik dat jy so ver kom om hierdie besluit te neem, lyk jou maat skielik anders en ervaar jy skielik positiewe emosies teenoor hom in jou binneste.

Vir my lyk dit egter nie asof aanvaarding sommer net in ’n oomblik gebeur nie. Aanvaarding is ’n groeiproses waarin ek geleidelik die werklikheid van my maat se uniekheid begin raaksien, erken en waardeer. Dis ’n proses wat in die eerste plek in my binneste gebeur – nie in my maat nie. Dis ek wat eers anders moet word sodat ek anders na my maat kan kyk.

Aanvaarding is nie ’n gebeurtenis nie, maar ’n proses

Wanneer jy jou eise teen jou maat prysgegee het, het jy hom nog nie aanvaar nie. Jy het net die grond voorberei waarin aanvaarding kan groei. Om jou maat werklik te aanvaar, is ’n proses wat oor ’n langer tyd gebeur. En dis iets wat net sal gebeur as jy die ses riglyne van aanvaarding ken, verstaan en toepas.

Kliek hier vir ekstra inligting oor riglyne vir aanvaarding.