Geheim no. 10: Leer om jou maat se gedragspatrone te verstaan

Neem kennis dat daar in dié geheim weer ‘n vraelys is – wat jou maat moet invul asook ‘n oefening aan die einde van die geheim. Hierdie geheim neem dus ook tyd om volledig ontdek te word.

Dink gou terug aan wat ons oor konflik gesê het in die vorige geheim.

Ons sal geneig wees om konflik op ’n sekere manier te hanteer

Dié konflik word as volg uiteengesit deur Pieter en Riëtte se verhouding.  Hierdie konflik was vir Riëtte verskriklik. Al waaraan sy kon dink was die effek wat dit op hulle verhouding gehad het. Dit het vir haar gevoel asof daar skielik ’n reuse storm in hulle verhouding ontstaan het … asof alles skielik omgekrap was.

Hierdie belewenis was in ’n groot mate die gevolg van die feit dat sy ’n Berader is. Omdat haar funksioneringstyl haar ingestel maak op verhoudings, haat sy enige konflik en skep dit in haar ’n drang om die vrede in die verhouding te herstel.

Dis ook presies wat sy gedoen het. Sy het aanmekaar by Pieter aangedring dat hulle dit voor kerk moes uitpraat. Omdat dit vir haar as Berader belangrik voel. Sonder om in ag te neem dat Pieter ’n Bestuurder is wat maklik gefrustreerd en kwaad raak. En hierdie omgekrapte gevoelens eers op iets moet gaan uithaal voordat hy die konflik met haar sal kan deurwerk.

Dit was trouens haar aandrang dat hulle moet gesels wat Pieter meer ontstel het. Juis omdat hy eers tyd en afstand nodig gehad het om die situasie te verwerk en ’n plan te vind om hierdie uitdaging te hanteer. En omdat hy nie in ag geneem het dat sy ’n Berader is wat in so ’n mate deur konflik geaffekteer word dat dit dringend hanteer moes word nie.

In werklikheid is die konflik vererger omdat hulle mekaar se unieke funksioneringstyl nie verstaan en in ag geneem het nie. Daarom is dit nie genoeg dat jy net jou eie funksioneringstyl identifiseer en verstaan nie. Jy moet ook jou maat s’n identifiseer en leer verstaan.

Verduidelik aan jou maat dat hierdie meetinstrument jou sal help om hom beter te verstaan. Vra hom dan om hierdie geheim saam met jou deur te werk en die vraelys te beantwoord:

Hoe die vraelys werk

In die vraelys wat volg is daar eerstens  ‘n aantal stellings wat in pare gerangskik is (a en b) en jou maat kan help om beter te bepaal of hy ’n inisieerder of ’n bestuurder is.

Onthou dat dit nie gaan oor absolute gedrag nie. Dit gaan oor neigings. Dit gaan daaroor dat hy geneig is om meer dikwels op ’n sekere manier op te tree as op ander maniere. Wat nie beteken dat hy dit altyd so doen nie. Hy is byvoorbeeld geneig om vinnig besluite te neem, maar hy doen dit nie altyd nie. Hy is nie ’n slaaf van hierdie eienskap nie. Tog is dit ’n eienskap wat in die algemeen waar is van hom.

Tweedens volg ’n aantal stellings wat in pare gerangskik is (c en d) en jou maat kan help om beter te bepaal of sy innerlike kompas meer op take of mense ingestel is.

Onthou dat dit nie gaan oor absolute gedrag nie, maar oor neigings. Dit gaan daaroor dat hy geneig is om meer dikwels op ’n sekere manier op te tree as op ander maniere. Dit beteken nie dat hy dit altyd so doen nie. Hy is byvoorbeeld geneig om sy emosies vir homself te hou, maar hy doen dit nie altyd nie. Hy is nie ’n slaaf van hierdie eienskap nie. Tog is dit ’n eienskap wat in die algemeen waar is van hom.

Wanneer julle die vraelys afgelaai het, merk by elke paar die stelling wat hy voel die beste beskryf hoe hy is.

Kliek hier om die funksioneringstyl vraelys vir jou maat af te laai.

Wanneer hy klaar is, kan julle die volgende oefenining doen

Vra hom wanneer hy die vraelys voltooi het om die resultate daarvan met jou te deel. Die eienskappe van die funksioneringstyle word uiteengesit in die vraelys wat jy ingevul het – jou maat kan dit daar lees na hy sy vraelys voltooi het.

Maak seker dat jy (wanneer hy dit met jou deel) luister met die oog daarop om hom te verstaan soos hy werklik is – nie om te luister waar hy nie vir jou onaanvaarbaar is nie. Doen dan die volgende oefening saam:

  1. Neem die lys van eienskappe wat vir jou besondere funksioneringstyl gegee word (op die vraelys wat jy ingevul het) en oorweeg in watter mate dit jou persoonlike funksionering reg beskryf. Gee by elke eienskap vir jouself ’n punt uit die volgende:
    5  =         byna altyd waar van my
    4  =         dikwels waar van my
    3  =         onseker hoeveel dit waar is van my
    2  =         nie eintlik waar van my nie
    1  =        glad nie waar van my nie
  2. Neem daarna weer die lys van vooraf en skryf vir jouself voorbeelde neer van situasies (in jou werk, verhouding met kinders en in jou verhouding met jou lewensmaat) waar hierdie eienskappe tot uitdrukking kom – veral díe wat jy ’n 5 of 4 voor gegee het.
  3. Kyk nog ’n keer na die eienskappe wat byna altyd of dikwels waar is van jou. Probeer jouself indink hoe jou man dit beleef as jy so optree.