Geheim no. 1: Julle kán mekaar se harte verstaan!

Ons sukkel soms om ons eie binnewêreld te verstaan. Dis asof ons gedagtes, gevoelens en behoeftes ’n veraf wêreld is wat ons net deur ’n wasige mistigheid kan sien.

“Jy” raak weg in die geskarrel van elke dag

As jou lewe so volgeprop word met mense en aktiwiteite, gebeur dit maklik dat alles om die dinge in jou buitewêreld begin draai. Jy raak so besig dat daar nie meer tyd is om alleen met jouself te wees en jouself te probeer verstaan nie. Die gevolg is dat jy uit voeling raak met jou eie binnewêreld. As dit lank genoeg aanhou, bereik jy die punt waar jy chronies uit voeling met jou eie binnewêreld raak.

Jy vrees dalk die “donker kant” van jou lewe

Jy is bang om te ontdek dat jy, ten spyte van al jou aandag aan ander mense, eintlik selfsugtig is. Of dat jou drome en ideale meer van ongeloof as geloof getuig. Dis hierdie vrees vir jou donker kant wat jou agter maskers laat wegkruip. Maskers van ordentlikheid, takt, vriendelikheid, selfvertroue, gasvryheid en diensbaarheid.

Uiteindelik word die maskers wat jou moes beskerm, deel van die probleem. Aan die een kant begin jy jou eie voorkeure, eienskappe, funksioneringstyl en persoonlikheid ontken en is jy nie meer spontaan jouself nie. Aan die ander kant veroorsaak dit dat jy begin leef asof jou masker jou werklike self is. Die gevolg is dat jy sukkel om verby al die maskers tot in jou eie hart te sien, jou hart te verstaan of daaraan woorde te gee. Jou maskers verhoed later dat jy jou eie hart leer ken.

Jy soek op die verkeerde plek na jouself

Soms, wanneer jy dit nie verwag nie, word jy deur ’n krisis gedwing om jou hart onder die mikroskoop te plaas. Jy raak dalk onverwags daarvan bewus dat jy ’n negatiewe invloed op ander mense het of dat jy iemand wat jou liefhet, seermaak. Die lewe het ’n manier om ons soms, dikwels as gevolg van dinge wat in ons naby verhoudings gebeur, te dwing om weer na onsself te soek.

Ongelukkig soek ’n mens in sulke tye buite jouself. Jy skep nie alleentye om jou eie hart te ondersoek nie. Jy praat eerder met ander mense en vra hulle opinie oor jou. Of jy lok hulle uit om die negatiewe dinge wat jy vermoed, te weerspreek. Daardeur soek jy buite jouself na die waarheid oor jou binnewêreld. Daarom kyk jy ook makliker na jou lewensmaat om in hom en sy optrede die oorsaak vir julle verhoudingsprobleme te soek.

Watter effek het dit op jou huwelik?

Die kenmerk van mense wat van hulleself vervreem is, is dat hulle hulle emosies in terme van hulle buitewêreld verstaan en verklaar. In plaas daarvan dat hulle raaksien dat die woelinge in hulle binneste deel van die probleem is, sien hulle die probleem net in terme van ander mense, situasies en dinge.

Veronderstel jy is ’n persoon wat sukkel om jou gevoelens te verstaan en te verwoord. Indien jou behoeftes soms met jou lewensmaat s’n bots en daarom onbeantwoord bly, is dit mos makliker om jou aandag volledig op jou buitewêreld toe te spits. In plaas daarvan dat jy die teleurstelling in jou eie hart probeer raaksien, erken en verstaan, sien jy net jou lewensmaat se optrede raak. Hy word dan die enigste oorsaak van jou teleurstelling.

’n Tweede kenmerk van mense wat van hulleself vervreem is, is dat hulle die eerste rede vir hulle belewing sal aanvaar as die enigste en ware rede vir hulle gevoelens. Dit gebeur byvoorbeeld wanneer jy reeds sukkel om jou lewensmaat se andersoortigheid te aanvaar. As jou maat jou dan ontstel, ontketen dit ’n klomp emosies wat alreeds in jou binneste bestaan: teleurstelling, opstandigheid, woede, moedeloosheid.

Agter elke emosie lê die wye landskap van jou binnewêreld wat ’n invloed het op die emosies wat jy beleef. Jou oortuigings, behoeftes, verwagtings, waardes, houdings, eiewaarde en drome speel almal ’n rol. Hierdie aspekte van jou menswees kleur die manier waarop jy na jou lewensmaat kyk en sy optrede beleef.

As jy egter in die situasie is, probeer jy nie om die komplekse aard van jou belewenis te verstaan nie. Jy gryp eerder na die mees opsigtelike rede daarvoor en aanvaar dit as die enigste oorsaak van jou gevoelens. Daarom sal jy jou maat se kortsigtigheid maklik aangryp as die rede vir die woede wat jy beleef, terwyl daar ander dinge is wat jou vies maak. Miskien blokkeer sy optrede dinge wat vir jou belangrik is of jou behoeftes word nie vervul nie.

Dit kan ook wees dat jy reeds vooraf oor iets anders vir hom kwaad was. Omdat jy egter nie in voeling is met jou eie hart nie, gryp jy die mees voor die hand liggende rede vir jou gevoelens (jou maat!) aan en maak asof dit die enigste een is.

Op hierdie manier vervorm jy jou man se optrede in jou gedagtes. Jy kleur sy optrede in vanuit jou eie hart. En omdat jy nie sensitief bly vir hierdie effek van jou eie hart nie, maak jy dit vir jouself moeiliker om jou man werklik te verstaan.