Denneboompies wil graag weet dat dinge tussen hulle en ander mense in orde is. Dit is dus effektief om vir hulle te sê hoe hulle gedrag jou of ander mense affekteer. Hulle is die boomsoort met die grootste “sosiale gewete”.
Denneboompies bars nie so maklik soos sierboompies in trane uit nie, maar ons woorde maak net so ’n impak op hulle omdat hulle ook sensitief is. Hulle wil nie graag sien dat ons kwaad of ontevrede is nie; daarom sal hulle soms net ’n “kyk” of twee woorde nodig hê om hulle terug te bring op die regte pad. Hierdie kyk en kwaai woorde moet versigtig gebruik word. Denneboompies beleef baie van wat om hulle gebeur as te vinnig, te hard, te besig en oorweldigend; daarom skakel hulle af en hoor en sien baie dinge glad nie. As ons hulle werklik wil aanmoedig en inspireer, moet ons ons spoed afbring, rustig by hulle gaan staan, sit of selfs lê, en kalm iets eenvoudigs en opregs vir hulle sê.
’n Denneboompie kan ’n rukkie lank stilbly en na rede luister. Hulle reageer ook nie so emosioneel op die geringste korreksie nie. ’n Vinnige gesprekkie eenkant is soms al wat nodig is. Die liberale idee dat ons net sag en mooi met ons kinders moet gesels, en kalm verduidelik wat ons verwag, geld daarom wel vir hierdie vredeliewendeboompies, maar nie die roos- en palmboompies nie!
’n Regte denneboompie word mos nie eintlik gesnoei nie. Hy het hoogstens ’n stutpaal nodig as hy in ’n winderige plek geplant word. Denneboomkinders is ook so. Hulle het soms net ’n “stut” of struktuur nodig, maar wanneer hulle om hulle ’n sterk voorbeeld in hulle ouers en gemeenskap sien, is dit dikwels voldoende. Denneboompies is navolgers. Hulle wil graag inpas, en doen graag wat hulle sien van hulle verwag word. Hulle aap nie so maklik ’n vinnige werktempo en stiptelikheid na nie! As dit die geval is
met jou denneboompie, gaan jy hulpmiddels en struktuur nodig hê. Wanneer daar geen roetine is nie en elke dag verloop anders, gaan denneboompies baie moeilik tydsberekening leer. Hou dinge so konstant moontlik, en knoop dit wat die denneboompie elke dag moet doen aan hierdie gereelde tye.
Denneboompies se ontspanningstyd is vir hulle geweldig kosbaar. Gebruik dit as motiveerder en beloning vir goeie gedrag. Pasop om hulle nie te veel tyd voor skerms te laat deurbring nie. Help hulle eerder van jongs af om ander gesonde rekreasiemoontlikhede te ontgin.
Individuele tyd saam met ouers is een van die beste motiveerders vir denneboompies. Dit hoef nie opwindend te wees nie – liewer rustig en ontspanne.
Spesiale pesbeheer net vir denneboompies
’n Kweekplan vir ’n denneboompie
Denneboompies is gewoonlik – soos die sierboompies – nie “stout” in die eng sin van die woord nie. Ons kla nie oor wat hulle aanvang nie, maar wel oor wat hulle nie wil doen nie. Hulle is gewoonlik ’n plesier totdat ons van hulle groot inspanning vereis. Baie van ons energie gaan belê word in die moeilike taak om ons denneboompies verantwoordelikheid, betroubaarheid en ’n goeie werksetiek te leer. Denneboompies is liewe kinders wat goeie verhoudings voorop stel. Hulle wil gehoorsaam wees ter wille van so ’n verhouding, want hulle sekuriteit lê daarin. Dit is gewoonlik straf genoeg vir ’n denneboompie om te sien of te hoor dat ons ontevrede is. Daarom is ons kweekplan vir ons denneboompies gebaseer op ons verhouding met hulle. Die rigiede dissiplinetegnieke werk nie met denneboompies nie. Hulle skram weg van militaristiese gesagsfigure.
Kyk nou die video: “Vyf ankers vir jou kind”.