Geheim no. 2: Vind uit hoe julle albei se emosies werk

Kliek hier vir ekstra inligting oor die storie van die professor.

Die storie van die professor leer ons dis nie iemand anders of die situasie wat sekere emosies in ons wakkermaak nie. Ons emosies word in die eerste plek bepaal deur die waarde of betekenis wat ons aan ’n situasie gee. Die oorsprong van ons emosies lê daarom binne-in onsself. Ons gedagtes is elke keer die oorsprong van beide ons emosies en ons reaksies of gedrag.

Jy bepaal self hoe jy oor iets voel

As jy weet dat jou man laat by die huis gaan kom, maak dit jou nie onrustig of kwaad nie. Jy verwag dit en daarom is dit vir jou normaal. Dit rym immers met jou prentjie van hoe dinge gaan gebeur. Dan ken jy aan die situasie ’n waarde toe van: “normaal/voorspelbaar/in orde”. Gevolglik raak jy nie ontsteld of kwaad nie.

As hy egter laat uitbly sonder dat jy dit verwag, sal jy ’n ander waarde daaraan toeken en die situasie dan heeltemal anders beleef. Aanvanklik sal dit jou bekommerd maak, later geïrriteerd en nog later kwaad. Teen die tyd dat hy by die huis kom, sal jy so kwaad wees dat jy hom goed die leviete sal voorlees oor sy onbedagsaamheid!

In so ’n situasie is jy geneig om te sê: “Jy maak my woedend. Jy maak my seer.” Jy pak die skuld vir jou emosies vierkantig op jou maat se skouers. Dan is dit net een stappie verder om te veralgemeen en te sê: “Dis nes mans is!” Tog behoort hy nie alleen die skuld daarvoor te dra nie. Hy kan immers geen emosies in jou skep nie.

Die waarheid oor ’n mens se emosies is juis dat dit die gevolg is van jou persoonlike siening van die situasie. Dit is jou evaluering van die situasie –dat jou man jou nie in ag neem nie, dalk verongeluk het of by iemand anders kuier – wat jou bepaalde emosies laat beleef. Daarom is jou emosies eintlik net ’n openbaring van wat in jou eie hart aangaan.

Die verlede het ’n invloed op wat jy nou dink

Dis ook belangrik om te verstaan dat ’n mens altyd waarde en betekenis aan ’n situasie toeken volgens jou eie verwysingsraamwerk: jou verlede in houdings, waardes, prioriteite en ’n selfgevoel. Jy sien die gebeure en kleur die feite onbewus in deur alles wat reeds in jou binnewêreld leef. Jou oortuigings, behoeftes, waardes, prioriteite en selfgevoel word dan die filters waardeur jy na die situasie kyk.

Gevolglik verdraai jy die werklikheid in die lig van wat in jou eie gedagtes aangaan. Daarom sien elke mens elke situasie op sy persoonlik gekleurde manier. Hoewel jy die prosesse in jou binnewêreld kan ontrafel deur mooi daaroor te dink, gebeur dit nie in die praktyk as ’n bewuste proses nie. Dit gebeur eerder op ’n onbewuste vlak.

Dit gebeur ook onmiddellik en outomaties. Jy word eers daarvan bewus wanneer jy die emosie beleef. Dis juis as gevolg van die vinnige, onbewuste manier waarop hierdie prosesse plaasvind, dat dit soveel probleme in verhoudings skep.

Watter effek het dit nou op jou huwelik?

’n Mens sou die proses waardeur emosies in ons ontketen word, so kon opsom:

Stap 1: Ons innerlike oortuigings of denkpatrone bepaal die waarde of betekenis wat ons aan situasies gee.

Stap 2: Die waarde of betekenis wat ons self aan die situasie toeken, bepaal die emosies wat ons beleef.

Stap 3: Die emosies wat ons beleef, voorsien die dryfkrag of motivering om op ’n bepaalde manier op te tree (motivering vir gedrag).

Stap 4: Ons persoonlike, subjektiewe belewenis van die situasie laat ons op ’n bepaalde manier optree (gedrag).

Die verloop van hierdie proses impliseer dat die oortuigings wat in ’n mens se hart leef, jou ervaring van elke situasie in jou lewe bepaal. As jy wil hê dat jou huweliksverhouding op die waarheid gebou moet word, sal jy moet leer om die oorspronge van jou lewe te ontgin. Jy sal die werking van jou eie hart moet leer ken, sodat jy kan ontdek hoe dit ’n rol speel in jou waarneming van en reaksie op jou lewensmaat.

Jy sal veral moet leer om te erken dat jou hart jou prentjie van jou lewensmaat skeeftrek. Dat dit jou veralgemenings laat maak wat nie waar is nie en dat dit voorkom dat jy jou lewensmaat verstaan soos hy werklik is. Anders gestel: Jy sal moet kan verstaan hoe jy self daartoe bydra dat jy sukkel om jou lewensmaat te ken en te aanvaar soos hy werklik is.

Om hierdie pad te loop verg aanvanklik heelwat tyd. Dit vra dat jy alleen moet gaan sit en die situasie met die emosies wat daarin was, ’n entjie van jou af moet wegstoot. Jy moet probeer verstaan wat werklik gebeur het: tussen jou en jou lewensmaat, maar veral ook binne-in jouself.